Danie du Toit is op Saldanha gebore en in die Weskus omgewing groot geword. Hy gaan op Hopefield skool en sy vandaankomplek is Koperfontein, ʼn klein gehuggie, 8 km duskant Hopefield met ʼn spoorlyn en boerekoöperasie.
Sy ma bedryf ʼn klein plaaswinkel en sy oupa die enigste koringmeul in die distrik. Hier word hy groot in die Sandveldkultuur met sy besonderse mense en hul geite -- storievertellers en omgeemense.
Hy studeer Landbou – ekonomie op Stellenbosch en later aan die Universiteit van Natal op Pietermaritzburg. Hier maak ʼn nuwe wêreld vir hom oop toe hy skouers skuur met die kulture van Engelse, Zulu’s en die Indiër mense van daardie provinsie. Sy werk by ʼn nasionale suiwelkoöperasie bring hom in aanraking met boere reg oor die land en natuurlik al hul stories.
Hy trou met ʼn jong onderwyseres, Martie Boshoff van Marandellas Rhodesië. Sy seun Jan woon in Pretoria terwyl sy ander seun, Francois met sy vrou Carmen en hul twee dogters, Isabelle en Eloise, in Cornwall, UK, bly.
Danie is gek oor motors, honde, kosmaak en kamp. Hy bly in Somersetwes en het sy “rowwe” kampgoed vir ʼn Ducato reiswa verruil waarmee hy en Martie gereeld die pad
vat.
Sy stories is nie vir taalpuriste nie. Dis ongekunsteld met taal- en grammatika foute en soms soos die mense van die Weskus ʼn ding sê.
Hierdie tuisblad sal gereeld met nuwe stories aangevul word.
(Laaste opdatering: 17 Desember 2021)