DIE ENGELSE SLOOT IN DORSET COUNTRY
Ons kuier te lekker hier in die dorpie, Wareham, in die Dorset distrik. Interessant hoe hulle ook die naam Dorset ' brand name' om sekere landbouprodukte te promoveer. Bv. Dorset lam of Dorset Pork.
Waar val ek nie vanoggend hier in Engeland nie ! Net hier, so 100 m van die huis , loop daar ʼn riviertjie en al langs die rivier ʼn stappaadjie met ʼn groot diep watersloot langsaan. Dit is regtig baie mooi en nogal ruig langs die paadjie af en daar is selfs ʼn laning appelbome vol appels. Met die wat ek my nou so verkyk aan alles trap ek in gat in die gras en swik my linker enkel en begin struikel ek in die rigting van die sloot. Nou begin ek beheer verloor want my enkel kan my glad nie ondersteun nie en ek begin nou momentum optel. Toe ek weer sien is ek op die rand van die sloot en dis vreeslik ruig met al die lang grasse , brandnetels en braambosse. Maar dis soos ʼn wegholtrein. Ek wil nog aan iets gryp maar daar is nie tyd nie want toe is ek al klaar op die skuinste van die sloot. Die volgende oomblik toe gly altwee my voete onder my uit en val ek met my nuwe Jeep Broek wat ek spesiaal by die S Mall gekoop het op my gat en gly ek soos ʼn koekie Sunlight seep tussen die plante tot onder in die sloot ! Gelukkig was die water nie te diep nie maar my paar Merrells wat ek by Friedman en Cohen gekoop het en waarop ek baie heilig is maak nou kennis met al daai visgoeters wat in so ʼn kanaal lewe. Ek skat die kanaal is so twee meter diep. Nou wonder ek of ek vir hulp moet skree . Nee, dink ek , dit sal darem bleddie sleg lyk as een van daai Engelse anties met die kolliehonde my moet uitsleep en hulle vra waar kom ek vandaan en dan sê ek South Africa en hulle sê nou kan hul sien hoekom ons nie die Great Boer War kon wen nie. Nou begin ek wonder hoe lank my Merrells so onder die water kan bly want dis my enigste skoene wat ek Engeland toe saamgebring het. Die ander ding is dat niemand my kan sien daar onder die plante nie en ek sal moet skree om aandag te trek. Ek dink toe so: Kyk Vlooi, jy gaan darem gereeld gym toe en kan nie so kaksleg wees om nie self uit ʼn Engelse sloot te probeer uitkom nie. Wat van daai spiere wat jy al opgebou het ? Nou het ek ʼn ander probleem. Met die afglyslag het ek aan alles probeer gryp om my vaart te stop en dis alles braambosse.( Iemand in die Ou Testament het mos ook met ʼn braambos deurmekaar geraak ? ) Nou is my hande vol dorings en ek kan nie lekker vat nie en onder by my bene brand die brandnetels my as ek net roer ! Ek het nie geweet daar is so baie onvriendelike plante op hierdie eiland nie.
Op ʼn manier is ek deur die pyndrumpel en trek ek my self bietjie vir bietjie met daai einste braambosse tot bo. Gelukkig sien niemand my nie want hulle kon my verwar het met ʼn oversize barber wat kom lug soek ! Toe ek weer in die paadjie staan toe lê daar ʼn tien pond noot. Ek dog dis nou darem ʼn geluk by die ongeluk maar dis toe my eie tien pond noot wat ek skoon uit my gatsak geval het !
Toe ek weer by die huis aankom was daar gemengde gevoelens. Francois wil sy gat aflag en Martie is kwaad want my Jeep broek lyk nou soos ʼn Land Rover broek en sy was nog nooit ʼn Land Rover fan nie. Ek moet sê sy het nogal baie moeite gedoen vandag om die broek skoon te kry. My Istanbul hempie wat ek daar by die Grand Bazaar gekoop het,was nie so erg vuil nie. My Merrells is tans in die droogdok.
Toe ek vir Francois en Carmen gaan wys waar ek geval het, was sy woorde : " Ballie , jy sal vir ʼn week hier gelê het voordat die Britte met ʼn reddingspan en honde jou hier kom uitsnuffel het "
Ek is toe so verlig dat almal so bly was om my weer te sien dat ek toe sommer saam met Cois na die naaste Old English Pub is en twee van daai groot glase donker bier uitdrink.
Another tough day in Engeland !
Groete uit die Empire
Danie du Toit
8 September 2013