30 Julie 2015
Chris Steyn het so pas vir ons by die lughawe afgelaai. Die wind sny koud maar dis gelukkig warm binne in die gebou. Ek het ʼn liter Bell's in my handbagasie vir ingeval mens dors word daar in Engeland. Dis ook sommer medisyne vir my verkoue. Nou wag ons vir 18h30 om die 747 te klim. Carmen bel daar uit Plymouth om te sê dis alles is gereël by die ' My Place Hotel ' in Earl's Court waar ons vir drie nagte gaan bly om eers London saam met Jan deur te loop. Ons kry hom môre oggend op Heathrow, hy vlieg vanaf JHB.
Die 747 is stampvol en ons kry ons sit. Martie teen die venster en ek met ʼn Engelse vrou aan my linkerkant. Ek hou nie van vliegtuig ry nie, veral die oornag sit en slaap is ongemaklik, dus bestel ek vroegtydig vir my twee botteltjies whiskey en help Martie om haar bottel wyn uit te drink. Dit het niks gehelp nie want ek het die hele nag in die vliegtuig rondgeloop om die tyd om te kry. ( soos ʼn Papiesperd sou my ma gesê het ) Gelukkig het ons met die Engelse vrou geruil sodat ek teen die paadjie kon sit.
Dis nogal ʼn goeie tydverdryf om so snags in die vliegtuig rond te loop want jy sien interessante dinge. Elke mens se geite kom mos uit as hul slaap ! Hoekom val ʼn mens se mond oop as jy slaap ? En die winde wat sommige mense los ! En dit sluit die ou anties in. Hoe kry sommige dit reg om heel nag net in een posisie te bly sit sonder om te roer ?
Toe ek uiteindelik dit regkry om in te dut maak die lugwaardin my wakker vir ontbyt. Waarom wil hul altyd ʼn mens in die middel van die nag kos gee ? Nou lyk die ou spul in die vliegtuig darem heel anders as die mense wat ʼn paar ure gelede ingeklim het. Die vrouens se haarstyle lyk nou heel funky.
31 Julie
Heathrow is elke keer ʼn belewenis. Die groot getalle passasiers wat hier aankom en wat gehanteer moet word. Hier leer mens sommer vroeg al om geduldig te wees en dis oral so in Londen. Ons is deur doeane en wag vir Jan by die Costa koffiewinkel want sy vlug van JHB is ʼn halfuur na ons. Weereens ʼn goeie tydverdryf om al die mense wat verbystap te bestudeer. Is daar dan ʼn ander plek op hierdie aarde waar mens al die mensspesies gelyktydig kan sien ? ʼn Mens se kultuur sleep jy saam met jou --- jou taal, gewoontetjies en kleredrag. Hoekom slaap die mense van Afrika altyd op banke ? En hoe dik is daai anties met die burkas onder daai lang swart rokke?
Ons koop elkeen ʼn Oyster kaart vir £5 en laai dit met £20 en neem die Piccadilly lyn Earls Court toe. ʼn Moltrein se slag moet jy eers agterkom maar as jy hom eers het, werk die stelsel fantasties. Jy moet net seker maak dat jy die tasse met wiele vashou want Jan se tas het amper by die deur uitgehardloop met die wegtrekslag. Ek weet ook van iemand van Hopefield wat nie vasgehou het met die skielike wegtrek nie en toe vir haar ʼn pad oopgeval het tussen die mense met bene in die lug sodat almal kon sien waar hul nie mag kyk nie. Niemand het egter eers gelag nie.
By Earls Court klim ons af en stap om die hoek na die ' My Place Hotel' waar ons baie vriendelik deur ʼn Italiaanse meisie ontvang word. Later vat ek en Martie die '74' rooi dubbel dekker bus tot by Hyde Park Corner om die wêreld te gaan verken terwyl Jan agterbly om met sy werk op te vang.
Die aand gaan soek ons ʼn Indiese restaurant en eet Rogan Josh en drink ʼn Indiese bier.
1 Augustus
Ons ry met die rooi bus 74 tot by Parlement Square waar ons met ʼn begeleide toer deur die sentrale deel van London stap. Die toergids is ʼn baie interessant jong man wat verskillende staaltjies vertel ,oa, toe ʼn dronk Ier een aand by Buckingham Palace oor die muur geklim het, ʼn venster breek en toe so vinnig deur die alarms in die gange hardloop dat die sekuriteit dit as ʼn vals alarm registreer en nie verder ondersoek instel nie. Intussen het die Ier in die wynkelder beland en homself goed gehelp en daarna ʼn slaapplek gesoek en per toeval in die Queen se slaapkamer beland. Sy was egter heel kalm en hulle twee het lekker gesels. Hy vra toe later vir ʼn sigaret en sy bel ewe koel die
butler om ʼn sigaret te bring. Hy sê toe " But Madame you don't smoke " Sy antwoord: "No, its for the drunk Irishman in my bedroom !" Die Ier is toe wel ʼn boete in die hof opgelê.
Ongelukkig was daar beide Saterdag en Sondag ʼn groot fietswedren in London en baie van die strate was toegemaak. Ek het nog nooit soveel mense bymekaar gesien Ons toer het by Trafalgar Square geëindig en ons het vir die res van die middag Churchill se ondergrondse bomskuiling besoek. Dis in ʼn museum omskep en is seker een van die bestes in London. Dit is merkwaardig om te sien wat Churchill alles gedoen het.
Ons drink ʼn paar lang biere in ʼn Engelse pub en gaan eet die aand iets in Kensington by ʼn bekende Italiaanse restaurant.
2 Augustus
Dis Sondag en weereens ʼn mooi warm dag. Ry met die moltrein tot by die Thames en stap oor die brug in die rigting van die London Eye. Orals is net mense en met kinders op uitstappies. Ons ry met verskeie moltreine tot in Greenwich waar ons die Royal Maritime Museum besoek. Nie ver daarvandaan lê die Cutty Shark, n Engelse Clipper wat in 1869 gebou is om tee te vervoer. Dit hou ook die rekord as die vinnigste seilboot ooit. Toe ons 18hoo by die hotel aankom wag Maynard McLaren en sy vriendin Kelly al vir ons. Die opwinding van die dag het ons uitgeput en ʼn goeie plek om te ontspan is die Engelse kroeg oorkant die pad. Hierdie kuierplekke is meer as net ʼn drinkplek en die atmosfeer is lekker. Die groot 'pints' kos omtrent R100 elk maar dis so lekker dat ons tot die gevolgtrekking kom dis elke keer ʼn ' bargain'!. Maynard het gelukkig betaal.
London bly ʼn interessante plek. ʼn Mens hoor al die tale in die wêreld hier en moet soms mooi luister om Engels te hoor. Die plek is totaal oorbevolk en dis iets wat mens aan gewoon moet raak. Dit maak jou moeg! Die publieke vervoerstel hier in London is seker die beste in die wêreld en die gerief van die treine en busse is fantasties. Dit is ook maklik om te gebruik en die hele stelsel is kontantloos. Dis hoekom mens dadelik ʼn Oyster kaart moet aanskaf as jy hier aankom. As die geld opraak laai jy hom net weer en daar gaat jy.
3 Augustus
Vroeg die oggend neem ons die moltrein Heathrow toe en vandaar na die Europcar vir ons huurkar. Met die era van die GPS het motorbestuur in ʼn vreemde land ʼn plesier geword want die kanse dat jy verdwaal is nou iets van die verlede. Dis ook baie maklik om hier in die UK te bestuur want jy ry aan die linkerkant van die pad en die padtekens is baie goed. Ek sit agter enJan bestuur.
Ons ry by Stonehenge aan en is teleurgesteld om te sien hoe klein dit is. Dit lê op ʼn kaal grasbedekte heuwel met skape wat rustig wei. Hoekom die mense daar ʼn klomp baie groot klippe kom opstapel het bly steeds ʼn raaisel. Hoe hulle die klippe daar gekry het is ʼn ander vraag.
Ons ry by die dorp Bath aan om by die beroemde Sally Lunn se huis te gaan koek eet. Dis ʼn besonderse eetplekkie en dateer uit 1680 toe Sally Lunn, ʼn Franse Hugenoot by ʼn baker in Lilliput Alley, naby die Abbey katedraal begin werk het. Sy begin die Franse brioche tipe brood bak wat later sinoniem met haar naam word en ook bekendheid vir Bath verwerf. Sally se Franse naam was egter Soli (Solange) Luyon..Bath is ʼn pragtige historiese plek en ons sou graag meer tyd daar wou spandeer.
Dit was ʼn aanpassing om van die hoofpaaie af te draai en op die klein paadjies van Cornwall te beland. Op n kol het ons gedink ons is verdwaal maar vertrou die GPS ! Toe ons die dorpie Tavistock binne ry weet ons St Ann's Chapel, waar Francois en Carmen bly, is nie meer te ver nie.
Ons ry St Ann's Chapel binne en kry maklik Cois se huis. Hy bly in ʼn moderne kompleks en sy huis lyk klein as jy dit met die SA huise vergelyk. Die tweeslaapkamer huis is egter baie slim ontwerp en is heel gerieflik met genoeg leefruimte en die tuin groot genoeg om ʼn bal in te skop. Wat mens opval is hoe die huis geinsuleer is teen koue en met sentrale verhitting in elke vertrek. Hier sal jy nie koud kry nie.
Dis lekker om die kleinkinders te sien ,veral Eloise wat ons nog slegs op Skype gesien het. Sy is nou ses maande oud en is die mooiste ding met haar lewendige ogies. Isabelle is nou twee jaar oud en ʼn regte dogtertjie. Sy praat Engels en Afrikaans deurmekaar !
6 Augustus
Ek en Martie het vandag die Dartmoor Nasionale Park besoek. Dit is ʼn interessante plek met tipiese hoëveld ' moorland' en dan weer pragtige boomryke areas met outydse klein dorpies. Wat mens gewoond aan moet raak is die baie nou paadjies/lanings waar jy soms vir aankomende verkeer moet wag. Hier ry jy baie versigtig en moet jy geduldig wees --- iets wat ons Suid-Afrikaners min van het. Wat my egter verstom is die kilometers en kilometers klipmure oor die landskap. Dit moes baie harde werk gewees het want sommige van die klippe is groot en swaar. Ons het ook ʼn Middeleeuse brug gesien wat goed bewaar is. Verstommend is die groot plat klippe wat bo-oor die klippilare lê om die loopvlak te vorm. Hoe het die mense dit daar gekry ?
As mens na die harde landskap kyk en jy sien wat die eertydse inwoners hier verrig het, kan jy nie anders as om respek te toon vir die voorouers van die Engelse nie. Hulle was harde mense en doelgerig.
Die dorpie Princetown was veral interessant, blykbaar een van die hoogste dorpies in die UK, met die Dartmoore Prison wat baie oud is. Dit was bekend as die mees gevreesde tronk in Engeland en het al die geharde misdadigers gehuisves. Vandag is daar steeds 600 prisoniers .
In die dorpie Moretonhampstead is daar ʼn ou kerk met die eerste priester reeds in die 1243 ! Binne in die kerk word verskeie mense gedenk oa ʼn dokter van die dorp wat op 13 Des. 1901 tydens die slag van Nooitgedacht deur die Boere geskiet is.
By die dorpie Ashburton gooi ons £38 se brandstof in net om te ontdek dat my kaart al in Julie verval het ! Hoe dom kan mens wees. Gelukkig het ek darem kontant gehad.
Vanaand maak ons ʼn tamatie stoofkossie.
7 Augustus
Ek stap hier in die kompleks en ontmoet vir Steve Randell, ʼn marine in die Britse weermag. Hy het al oral diens gedoen en was al baie in Afganistan. Dis glo maar rof daar. Hy is ʼn motor fanatikus en ons het baie in gemeen. Hy het twee vinnige BMW 's en ʼn omgeboude VW waarin hy rond toer.
8-10 Augustus
Ons besoek die Eden Projek hier in Cornwell naby die dorp St Austell. Dis ʼn projek wat in 2000 begin het toe ʼn ou uitgediende kalksteengroef omskep is in ʼn fantasie wêreld waar die biosfeer gesimuleer word in groot koepelvormige plastiek koepels Verskeie plante van oor die wêreld word hier gegroei in ʼn kunsmatige beheerde klimaat. Daar is ʼn tropiese stelsel asook ʼn droër klimaat. Selfs die plantegroei van Suid- Afrika word uitgebeeld. Dit is regtig iets besonders en die omvang daarvan is moeilik om te beskryf.
Kuier in die ou dorp Launceston, besoek die gronde van die ou kasteel en drink koffie in die middedorp. Cois koop vir hom ʼn lekker Weber en ons toets dit uit met die braai van ʼn peri-peri hoender.
Die Cornwall omgewing is regtig pragtig, heuwelagtig , groen met mooi plantegroei en oulike outydse dorpies. Hier is baie om te doen en sien. Die infrastruktuur hier in Engeland is Eerste Wêrelds en alles werk baie goed. Die mense is ook baie geduldig beleefd en hulpvaardig. Die nou paadjies tussen die lanings bome en heinings genoodsaak mens om stadig te ry en geduldig te wees. Daar is egter een ding wat my pla en dit is dat mens nie kan sien wat langs die pad aangaan nie weens die hoë heinings . Die paaie is oor die jare diep uitgery deur perdewaens dus die kante is hoog en dan groei daar boonop ʼn heining ook nog -- jou uitsig na die kant toe is zero want mens ry die hele tyd in ʼn tonnel.
Ek is nou- al ʼn gereelde klant hier by die plaaslike Tesco. Die Suid Afrikaanse wyne hier is die goedkoopste en ook die lekkerste(£3.50). Die wyne van Chili beïndruk my nie. Rooivleis hier is duur en mens eet maar vark of hoender. Ek verlang na daai groot steaks wat mens in Fruit & Veg en Checkers Hyper in Somersetwes kry !
As jy hier kuier moet jy nie in Rande dink nie want teen R20 per £ lyk alles duur. Vir die gemiddelde Engelsman is £2.50 ʼn bier seker nie baie nie. Koffie is dieselfde prys. Petrol kos egter £1.19 per liter dus ons moet nie kla nie. ( R23.80 per liter )
Augustus 11-13
Ek en Cois braai weer van n peri-peri hoender. Die Weber werk goed en ons eet lekker.
Cois se een buurman, John, trek na 17 jaar en is baie bewoë om van Isabelle afskeid te neem. Hy kom oorspronklik van Liverpool maar het vir baie jare in Cornwall gewerk en toe afgetree. ʼn Interessante karakter en kon miskien selfs ʼn bietjie rof in sy jong dae gewees het. Hy vertel my van sy Porche en ʼn Evo wat hy besit het maar dit verkoop het voordat hy sy lisensie verloor. Glo te veel gejaag ! Sy seun het ʼn interessante versameling slange wat hy as troeteldiere aanhou.
Die ander buurman, Jim, is ʼn stil amperse introvert. Ek stap nader waar hy besig is om sy motor te was en stel myself bekend. Die gesprek is effens strammerig totdat ek hom uitvra oor die Kawasaki oorpak wat hy aan het. Hy is ʼn groot motorfiets entoesias en wys my se motorfietse. Onder andere ʼn Royal Enfield wat in Indië volgens die oorspronklike ontwerp en onder lisensie gebou word. Die vergasser is met elektroniese brandstof inspuiting vervang. Dit was weer lekker om die 500 cc enkel silinder te hoor brul.
Die Cornwall distrik was bekend vir sy mynaktiwiteite van vroeë dae toe daar hoofsaaklik koper gemyn is. Oral sien mens nog die ou ' furnace towers' van die myne. Ons leen Cois se motor en ry na Morwellham Quay, n gerestoureerde Victoriaanse myndorp. Op sy dag was dit Queen Victoria se grootste uitvoerhawe van koper asook die rykste kopermyn. Dit is vandag ʼn Wêreld Erfnis gebied. Die seilbote van destyds het met die Tamar rivier opgeseil en met spanne sterk manne om die draaie gesleep om erts by Morwellham te laai. Later het stoombote die seilbote gesleep. Die koms van die spoorweë het die vervoer oorgevat.
ʼn Kykie in die verlede laat mens besef hoe gehard die ou Engelse mense was as jy die werkstoestande in ag neem. Dis koue en nat wêreld en hul moes baie ontbeer. Tot voor 1930 was skoolgaan nie verpligtend nie dus kinderarbeid was aan die orde van die dag. Nà 1930 het kinders tot 10-12 oud skool gegaan en daarna begin werk.
Ek ry saam met Carmen na die hospitaal ʼn Plymouth vir haar roetine ondersoek en is beïndruk met die gesondheidstelsels van die UK. So professioneel en ordelik.
Die mense is almal vriendelik en gemoedelik maar een ding val my op en dis die tatoe kultuur. Daar is min mense wat nie een of ander tatoe het nie en van die jong mense het nog ander ' body modifications'. Die Engelse is ook nie uiterlik mooi mense nie en trek ook anderste aan, miskien is dit die weer.
Engeland is egter ʼn mooi land en was dit nie vir die weer, die duur rooivleis en gebrek aan mooi meisies nie, kon mens dit oorweeg om hier te bly. Maar ai, my verlange na ʼn vet weskus snoek of ʼn dik rump steak sal swaar weeg.
14 - 19 Augustus.
14 - 19 Augustus
Ons was Sondag vir die dag Plymouth se ' seafront ' toe. Dit was ʼn pragtige dag en die res van Engeland was ook daar. Dis mooi daar met pragtige vistas oor die baai en omgewing. Gelukkig was daar ook ʼn motoruitstalling en mense het hul ou en klasieke motors kom uitstal. Daar was ook so ʼn regte Engelse laventelhaan met sy nuwe swart Rolls Royce coupe. Hy was te gretig dat ek ʼn foto van hom neem. Ek moet sê dis darem ʼn baie grênd ryding.
Cois se ou skoolvriend van PMB wat in Sheffield bly het Saterdag kom kuier en terwyl die vrouens binne oor babatjies praat sit Cois, JP en ek om tipiese boerebraai in die tuin met ʼn Stella Artois ( Belgiese bier) in die hand. Hulle noem dit hier in Engeland die "wife beater".
Maandag ry ek en Martie na St Ives en die plekkie Marazion waar ons die kasteel op St Michael's Mount besoek. Dit lyk baie soos die bekende Franse Mont-Saint-Michel net kleiner. Dis nogal vêr soontoe en terug, vier ure se ry, en die aand is ons moeg. Die UK se paaie is egter ʼn plesier om op te ry en die snelweë het ʼn spoedbeperking 70 mpu .(120 km/h ).
Dinsdag kuier ons in die omgewing en spandeer die oggend in Tavistock nadat ons vir Isabelle by die bewaarskool afgelaai het. Eet ontbyt en loop deur die mark in die dorp en besoek die museum. Tavistock is ʼn baie ou plek en is ook ʼn wêreld erfenis gebied. Die Cornwall streek was mos bekend vir sy myne, hoofsaaklik koper, maar arsenik, tin en ander metale is ook hier gemyn en deur Lord Bedford besit. Dit het hulle 14 jaar geneem om ʼn kanaal uit die Tamar rivier te grawe om die erts te vervoer. Perde het die bote al langs die kanaal getrek. Die kanaal is deur ʼn tonnel gevat tot by Morwellham waar die erts op seilbote gelaai is. Die ou Engelse was formidabele mense.
Sir Francis Drake is die eerste Engelsman wat om die wêreld geseil het en ek ry elke dag om sy standbeeld in Tavistock. Sy herehuis , Buckland Abby, lê so ses myl van Tavistock op ʼn pragtige landgoed wat tot 1946 in besit van sy familie was. Vandag behoort dit aan die Nasionale Trust. Die plek is in 1278 gebou en deur die Katolieke priesters bewoon totdat ou Henry V111 die katolieke daar uitgejaag het - hy het nie van katolieke gehou nie. Drake het Buckly Abbey in 1580 gekoop. ʼn Skildery van Rembrandt is daar ontdek (selfportret) en almal het gedink dis deur iemand anders geskilder totdat ʼn kenner bepaal dis deur Rembrandt self gedoen ! ʼn Mens wonder net wat so iets werd is.
Woensdag en dis dit regte eendeweer net soos dit hier in Engeland kan wees. Martie maak sop. Hier kry mens mos nie sopvleis met bene nie en toe Martie vir die vrou by Tesco vra wat gebruik hulle dan vir sop toe sê sy "skirt". Toe ons by die huis kom sien ons dis ʼn lieslap van ʼn bees. Dit maak lekker sop!
20 Aug.
Ek vat vir Isabelle elke dag Tavistock toe, dis so 15 min. se ry met die tipiese kronkelpaadjie al met die lanings langs. Op party plekke is die pad nou en veral as daar motors geparkeer staan moet jy eers vir die aankomende verkeer wag. Die geduld en bedagsaamheid van die Engelse bestuurders is pryssenswaardig. As jy hier nie geduld het nie was jou kar al lankal afgeskryf. Die strate in die klein dorpies is baie nou maar almal wag vir almal en almal waai met die hand om dankie te sê. Voetgangers kry voorkeur en as jy net mik om ʼn straat oor te steek stop die karre sommer.
Dis vanoggend nog steeds mistig met ʼn ligte reëntjie en Martie ry saam Tavistock toe om vir Isabelle by die dagskool af te laai. Die weer laat my baie dink aan die mistige weer van Hilton Natal en ek voel sommer tuis. Die ander ding wat my na PMB verlang is die Engelse mense wat ek daagliks hier ontmoet. Ek is seker gewoond aan die Engelse geite van jare se gebly in Natal maar die mense hier is maar net dieselfde. Miskien is dit die platteland want in London kry mens dit nie, inteendeel jy moet soek vir n Engelsman.
Dis lekker om so in Tavistock rond te stap en die plaaslike mense hulle normale gang te sien gaan so in die doureëntjie. Dis ʼn ou dorp en in die meeste geboue kry mens nog die winkeltjies wat al oor baie jare kom. So koop ek vir Chris Steyn ʼn paar Clark Nature Three skoene op spesiale versoek. Die wisselkoers is R21.16 vir ʼn pond ! Ek loer by die slaghuis in en werk uit ʼn kg rump steak kos ongeveer R400. Ek soek vir ʼn stukkie boerewors en sien net sulke bleek varkworse.
Die Cornish Pasty is bekend in diè wêreld en ek soek ʼn bakkery wat dit spesiaal maak. Die vriendelike antie in die bakkery wys my en ek koop twee vir R176. Met middagete maak Carmen dit lekker warm en elkeen kry ʼn halwe. Wat ʼn teleurstelling ! Nadat ek die deeg weggewerk het lê daar ʼn klein stukkie vleis en sulke halfgesnyde aartappels in ʼn smoorsousie, dis al. Skoon boereverneukery. ʼn Cornish pie sien my nie weer nie, veral as mens aan daai antie van Riviersonderend se tuisgemaakte pasteie gewoond is. ( die pasteiwinkel met langs die Shell Garage as jy die dorp van die Kaapse kant inry )
21 Augustus.
Dit reën nou sedert Woensdag en die weervoorspelling sê dit sal eers volgende week opklaar. Ek sien die son skyn in London waar hul krieket speel. Dit lyk my dis tipiese Cornwall weer hierdie. Die plek lê mos heel onder aan die Westekant van die UK met n stuk land wat in die see inloop en vang dus al die kouefronte. Die huis is goed ingerig en die weer buite pla nie maar ek sal darem graag weer sonskyn wil sien.
Ons was vanmiddag in Morrisons, ʼn ander groot supermark in Tavistock. Ons winkels steek nie af nie, inteendeel, die nuwe Checkers op Somerset-Wes is baie verder gevorderd. ʼn Mens vind egter ʼn groter verskeidenheid produkte in die kosafdeling met die klem op maklike kosmaak, soos voorafbereide kosse. Ons vleisrakke, veral rooivleis , se gelyke sal jy nie sommer hier kry nie. Ek hou die mense dop by die vleisrak : hulle sal ʼn pakkie vat en dit sorgvuldig bestudeer en dan weer ʼn ander pakkie optel en weer die pryse vergelyk voordat hulle iets koop. Klein bietjies op ʼn slag. Ou Deryck Hurter sal nie hier regkom as hy op ʼn Saterdag wil steak braai nie !
Hier het die mense darem ʼn verskeidenheid van gebak en alles lyk so lekker!
Die ander ding hier wat my interesseer is dat jy alles aan lyn kan koop en dit word by die huis afgelewer. Carmen koop haar weeklikse kruideniersware so, tot selfs kruieplantjies. Ek wil nog warm kole vir ʼn braaivleis vuur bestel maar nou reën dit en sal ek maar vir ʼn volgende keer wag !
22 Augustus
Die reën het opgeklaar en ons ry saam met Cois- hulle Tavistock toe en vandaar na Plymouth waar ons in die middedorp rondstap. Die sentrale deel het mooi gedeeltes waar mense kan rondstap met bome en tuintjies. In die vroeë dae was dit seker strate want dis ʼn ou stad. Ek verneem dat die Duitsers gedurende die oorlog Plymouth redelik met bomme gepeper het weens die vlootbasis daar. Die plek het ʼn lekker atmosfeer en die mense lyk ontspanne.
23 Augustus
Dit is ons laaste dag en ons moet groet, die drie weke het omgevlieg. Ons neem swaar afskeid van die kleinkinders en hoop hulle kom gou kuier.
Cois en Isabelle gaan laai ons by die stasie op Plymouth af. Dis ʼn drie en half uur rit na Paddington stasie in London en baie gerieflik, ook vinniger as met ʼn motor. Vandaar neem ons die Heathrow Expres na Heathrow -- dit neem net 20 min. Dis amper iets soos ons Gautrein.
Ek dink dis goed om so nou en dan ʼn ander wêreld te sien. Om te reis het maklik geword met al die moderne hulpmiddels tot ons beskikking. Mense wat dit nie gebruik nie sal verlore wees. In ʼn land soos Engeland is die openbare vervoerstelsels baie gevorderd en tog baie eenvoudig om te gebruik. Vir ons mense is dit aanvanklik vreemd maar mens word dit gou gewoond. Dit laat mens net weereens besef hoe vêr agter ons in RSA geraak het. Hier in die UK is egter so baie mense dat daar nie ʼn ander manier is nie. Wat my beïndruk is dat alles soos klokslag loop.
Die weer hier staan my egter nie aan nie. Sonskyn is skaars en op ʼn mooi dag loop almal buite. Ten spyte van die weer is hier groot gebiede en natuurparke waarheen mense hulle families vat vir ontspanning.
Daar is baie te sê vir Engeland en London moet nie as ʼn maatstaf gebruik word nie. Die plattelande Engelse is eintlik wonderlike mense en hulle vriendelikheid en hulpvaardigheid beïndruk my.
Ons het lekker gekuier maar nou staan my lus huistoe.
24 Augustus
Dis ʼn koel Maandag oggend in die Kaap en ons drink eers koffie saam met Chris Steyn voordat ons die N2 Somersetwes toe vat. Skielik voel alles so oop en die lig is intens en helder.
Die middag loop koop ek die dikste, vetste skaaptjops plus ʼn lengte boerewors en dit braai dit sommer vroegmiddag al want my lus is groot ! Dis darem lekker om ʼn Boer te wees !
Danie du Toit
Augustus 2015