Ons laaste besoek aan die toe Kalahari Gemsbokpark was in 1987. Dis nou tyd om weer te gaan kyk.
Donderdag 21 April.
Dit sous behoorlik hier in Somersetwes toe ons met die Ducato reiswa by die hek uitry maar dit skeel my min. Die Kalahari sal droog wees. Eet eers ietsie by die Potbelly duskant Klapmuts voordat ons afdraai by Windmeul kelder vir ʼn boksie vars Chenin Blanc. By Wellington draai die R44 links in die rigting van Porterville. Duskant Saron en Riebeeckkasteel maak die wolke oop sodat mens die ruitveërs op dubbel sterkte moet stel om iets voor in die pad te sien. Ons draai by Gouda in en maak ʼn draai voor die hotel maar die plek is verlate.
Anderkant Porterville trek dit oop en toe ons die Piekenierskloof pas op ry sien mens hoe die reën uitsak daar na die see se kant toe. Piketberg se rooi Karoo kan doen met reën. Die N7 vanaf die onderkant van die pas tot by Clanwilliam is nou pragtig oorgebou en dis net ʼn plesier om so al langs die Olifantsrivier te ry.
Drink ʼn Wimpie koffie by Klawer se Eenstop en draai later regs af na Vanrhynsdorp rigting Nieuwoudtville. Maar eers moet jy oor die agt kilometer lange Vanrhynspas tot bo op die plato kom. Ons ry Calvinia ongeveer 16h00 binne. Mooi skoon dorp met tekens van welvarendheid van vervloë dae. Die karavaanpark in die middel van die dorp is verlate. Ons gaan kry ʼn staanplek by die Klipwerf gastehuis wat ook drie staanplekke vir karavane het, elkeen met sy eie ablusie geriewe.
Met die verbyry het ek gesien daar is ʼn rugbywedstryd by die laerskool. Ons stap soontoe en so ver soos mens stap groet mense jou wat met hul motors en bakkies verbykom. Plattelandse vriendelikheid. By die skool is dit Calvinia en Lutzville wat kragte meet. Die seuns speel almal kaalvoet. ʼn Mens sal sweer dis die Springbokke teen die All Blacks soos die toeskouers te kere gaan. Hier word rugby ernstig opgeneem. Die spanne verteenwoordig die samestelling van die streek en almal speel as ʼn span saam. Daar word min geskop en dis ʼn plesier om te sien hoe die mannetjies die bal rondgooi. Alister Coetzee moet hier kom talent soek ! Die eindtelling is sewe vyf in Lutzville se guns. Toe die eindfluitjie blaas maak hulle een groot kring en praat saam. Ek wens ons land se politici kan so iets aanskou en ophou om verdeeldheid te saai.
Vrydag 22 April
Dis ʼn koue 17 grade vanoggend op Calvinia en ʼn geniepsige westewindjie laat mens baadjie aantrek. Ek het nog altyd Calvinia se museum gemis maar vanmôre ry ons eers daarlangs. Die ou Joodse sinagoge wat in 1920 gebou is en toe in 1968 deur die Joodse gemeenskap aan die munisipaliteit geskenk is, vorm deel van die museum. Dit is werklik een van die mooiste plattelandse museums wat mens kon besoek en beeld die eertydse Calvinia uit. Wat ʼn wonderlike dorp was dit nie in sy gloriedae nie. Daar was nie minder as 170 Joodse gesinne oor ʼn tydperk op Calvinia woonagtig nie. Ekonomies moes dit ʼn sterk dorp gewees het. Vandag bestaan Joodse besighede nie meer nie.
Die Klipwerf gastehuis waar ons laasnag oorgebly het, is vernoem na die plaas Klipwerf. Die huidige eienares vertel dat die bekende Klipwerf boereorkes sy onstaan op die stoep van die ou plaashuis gehad het en dat haar oupa die konsertina gespeel het.
147 km verder ry ons Brandvlei binne. My pa se familie kom daarvandaan. Ai, maar die ou dorpie haal ook net-net asem. Die ou groot wit NG kerk staan eensaam en waghou oor die dorpie. Elke werf is skoongevee en nêrens sien mens ʼn groenerigheidjie nie. Wat is die oorsprong van die dorp ? Met die uitry stop ons eers by die Voorsorg slaghuis om biltong te koop.
Kenhardt het darem ʼn bietjie meer lewe en dis hoeka Vrydagmiddag. Voor die bottelstoor sit ʼn koek manne onder ʼn peperboom. So ʼn entjie verder aan sien ons die verskeidenheid blikborde en ou goed wat teen die mure van die OMA MIEMIE kafee en snuistery winkel uitgestal word. Dis ʼn goeie plek om die lekkerste melktert en koffie te geniet. Ons trek af. Op die stoep sit ʼn groot ou met tatoes op sy voorarms en oorbelle in albei ore. Om sy polse dra hy Afrika armbande. Ek stap nader en stel my voor en vra of ek my melktert en koffie saam met hom op die stoep kan geniet.
Hy sê hy is Groot Flip Huyser, oorspronklik van Coligny in die Wes Transvaal waar hy jare lank ʼn myner was. Daarna was hy vanaf 1968 tot 1974 ʼn stoker op die stoomtreine en nou is hy die eienaar van OMA MIEMIE. Ek vra hom uit oor die lewe op die ou stoomtreine. Na ʼn rukkie loop die trane teen sy wange af. Hy sê dit was die wonderlikste masjiene ooit en raak so nostalgies dat hy die trane nie kan keer nie. Flip is ʼn groot man en sal enige Springbok stut soos ʼn dwergie laat lyk. Ek wens ek kon die res van die dag daar saam met hom op die stoep sit. Hy vertel van die stoomlokomotiewe en hul geite. Die groot Garret 4068 en 4079 ‘s het hulle die “Kombuis “ genoem omdat die kajuit so warm was. Dan was daar die 19D Klas met die bynaam “Nineteen Dollie “( Iets te doen met die baie voorwiele ). Die ander 19D met die lang tender (kole en waterwa) was die “Buck Eye”. Die NC 25 Klas was die “Gonsdonkie” weens die manier wat hy sy stoom uitblaas. Die klein S-Klas was die “Makkedas”. Hy vertel my hoe hulle een vroeg oggend ʼn skerp lig gesien het wat soos ʼn pluimbal horisontaal oor die aarde beweeg het teen ʼn verbysterende spoed. Dit was beslis nie ʼn trein nie. Ons groet vir Groot Flip daar op die stoep en ry aan. Ek voel so effens weemoedig.
Op Keimoes ry ek eers by Tekkies Geldenhuys aan om te groet. ʼn Ou universiteit vriend van my. Sy winkel se naam is: TEKKIES, en onderaan staan ”Kom loer bietjie in”.
So 25 km duskant Upington draai die pad regs af Kanoneiland toe. Ry oor twee lope van die Oranje en draai dan links by die T- aansluiting om 1.8 km verder weer links te draai na Oranje Rust. Dis waar ons vanaand uitspan, spoegafstand van die Groot Rivier. Dis pragtig hier met die voëls wat in die rivier kwetter en die diep groen water wat rustig vloei.
Saterdag 23 tot Dinsdag 26 April.
Ons arriveer by die Kgalagadi Lodge so om ʼn by 14h00. Elke karavaan staanplek het sy eie private ablusie fasiliteit met ʼn afdak vir koelte asook ʼn braaiplek. Pragtig en luuks so tussen die rooi sandduine. Ons het vanoggend in Upington eers by die Wickens slaghuis aangery om vleis en wors te koop. As daar nou een ding is wat ʼn gewone Suid Afrikaner nie kan weerstaan nie dan is dit die vroegoggend reuk van gebraaide skaaptjops en gegeurde sosaties. Op die stoep van die slaghuis is ʼn jongman juis besig om te braai. Vir ontbyt eet ons sosaties, boerewors en gebraaide repe van ʼn vet skaapribbetjie. (Eers die aand ontdek ek dat my cholesterol pille by die huis agtergebly het!)
Die Kalahari is pragtig groen en na die goeie reën sien mens veldblommetjies en plate pink katsterte tussen poele water. Ry jy in die rigting van Mata Mata oorweldig die natuurskoon jou, groen grasvelde tussen die sandduine en bome. Ek vermoed mens sien minder diere by die watergate omdat kos en water so volop is. Tog sien ons baie gemsbokke, rooi hartebees en natuurlik troppe springbokke. Die voëllewe is uitstekend en dis verstommend hoe baie voëls daar in die veld is. Ons was gelukkig om leeus te sien wat ʼn kameelperd platgetrek het asook ʼn jagluiperd familie wat ʼn springbok gevang het. Terwyl die jagluiperds vreet, staan die gemsbokke slegs twintig meter verder en wei.
In ʼn karavaanpark ontmoet mens die interessantste mense. Ons ontmoet drie gawe jong mense van Nieu Zeeland wat met ʼn gehuurde Land Rover van Kaapstad tot in Tanzanië wil ry. Hulle is William Buchanan, Danny McIldowie en Becca Hood. Hulle het besluit om teen die Weskus tot in Namibië te ry, Etosha , Chobie in Botswana en verder deur Zambië en Malawi. Dit was baie interessant om te hoor wat die Chinese alles in Nieu Zeeland aanvang en hulle bekommernisse as inwoners. Blykbaar koop die Chinese groot dele landbou grond op, veral suiwelplase en voer dan jong verse uit na China waar hulle dan self groot melkerye vestig om so onafhanklik te word van invoere. Ook voer hulle baie water uit veral in die vorm van koeldranke wat hulle self vervaardig. Blykbaar sien jy meer Chinese in Auckland as egte Nieu Zeelanders. Dit lyk my nie of ons alleen staan met die soort probleme nie. Hier in die Kaap koop die Chinese weer wynplase.
Die Dinsdag ry ons tot by die piekniekplek net anderkant Melkvlei en besluit dis hoe vêr ons vir die dag gaan. Ons parkeer die reiswa onder ʼn groot boom en haal die kampstoele uit. Dit is een van die plekke waar mens toegelaat word om uit die motor te klim. Dis ʼn heerlike dag en ʼn koel 25 grade. Ons geselskap is Jim en Evelyn Smith van Noordhoek in die Kaap. Jim sê ons moet kyk daar lê ʼn leeu so 100 meter van ons onder ʼn boom en slaap. Die bossies is egter te ruig en mens sien net so nou en dan sy stert of poot soos hy omdraai. Die leeu het egter die hele tyd lê en slaap terwyl ons vir drie ure daar onder die boom gesit het.
Die laaste keer wat ek so in die wildernis sit en ontspan het, was saam met die Geyser’s, Boonstra’s en die Hartman’s in die Moremi daar doer in Botswana waar ons ook so langs ʼn watergat in die oopte gesit het. Onvergeetlik.
Oorkant die pad is toiletgeriewe. Toe ons laas in 1987 hier besoek afgelê het, was die toilette baie basies maar die moderne gebou het tot selfs ʼn traliehek wat self toeskuif om die wilde diere uit te hou. Jan Beukes, my ou buurman van Pietermaritzburg, vertel hoe hy saam met sy swaar, Chris Hattingh , tans woonagtig in Pongola, ook eendag op pad Nossob toe by die einste ou geriefie moes stop weens Chris se maag wat nie lekker was nie. (Jan Beukes kan egter ʼn storie vreeslik aandik) Hy vertel : Toe hulle stop is Chris eerste uit die bakkie en stap vinnig met sulke kort treetjies na die toilet. Hulle hoor skielik ʼn bloedstollend gil en die volgende oomblik kom Chris uitgestorm met sy broek halfpad oor sy knieë. Hy spring soos ʼn ou wat aan ʼn sakreisies deelneem en skree net “Tier! Tier!” Jan sê hy sien net hoe ʼn groot mannetjies luiperd na die anderkant toe hardloop dat sy agterpote eintlik hier hy by sy ore verbykom!
Chris sê toe hy die toilet binnestorm, lê daar ʼn luiperd op die toiletbak en slaap. Hy sê hy weet nie wie die grootste geskrik het nie. Daai geel oë van die luiperd bly hom by. Die luiperd moes self geskrik het toe hy in Chris se oë gekyk het want ʼn man met ʼn “maag” se kyk is ook anders. Jan sê hulle moes die res van die dag sonder drinkwater klaarkom soos daar gewas is. Hy sê van daardie dag af ry hy nooit weer sonder ʼn spaar onderbroek nie!
Die Kgalagadi Lodge waar ons oorbly, is deur ʼn boer van die omgewing gebou. Baie goed beplan en goeie alternatiewe verblyf as Twee Rivieren vol is. Die bestuurder se Jack Russel, Juco, het nou die aand tienuur aan ons deur kom klop sodat hy die nag saam met ons die bed kon deel ! Die Lodge het ʼn oulike restaurant met ʼn klein winkel wat selfs elke dag vars brood bak.
Ons staanplek het al die gereiwe wat ons nodige het en op Woensdag 27 April neem ons swaar afskeid van die Kgalagadi en besluit om weer langs die Oranje te gaan oornag.
Wat mens opval is die vriendelike mense van die Noord Kaap. Vanaand eet ons ʼn Kaapse Pienang gemaak met skaapskenkels van hierdie wêreld.
Donderdag 28 April.
Dis weer een van daardie helder sonskyn dae soos mens net hier kry. Eers stop ons weer by Groot Flip se Oma Miemie op Kenhardt vir koffie met ʼn broodjie. Flip vertel hy was ʼn groot motorfietsryer op sy dae en wys my sy bikers baadjie met al die medaljes. Hy het nooit ʼn Buffalo Rally oorgeslaan nie maar moes sy bike verkoop om te kan oorleef. (hy huil eers ʼn bietjie en Martie huil sommer saam !) Ons ry deur Kenhardt se agterstrate en kom tot die besef watter substansiële dorp dit in sy dae moes gewees het, veral die skool en koshuis se geboue. ʼn Mens besef nie hoe afhanklik die plattelandse dorpe van die boerdery is nie. Vandag gaan dit swaar met die mense daar.
Ons ry weer by die Voorsorg slaghuis op Brandvlei aan om die biltong voorraad aan te vul.
Op Calvinia stop ons by die historiese Hantam Huis vir koffie en vars botterbroodjies met botter, rooi konfyt en opgeklopte vars room. Die ou huis beeld die lewe uit van vergange dae. By ons reiswa staan Jan ons en inwag. Hy loop met ʼn kruk en sê dit gaan swaar met hom. Ons maak die yskas leeg van al die oorskietkos en sit dit in ʼn leë roomysbak en gee hom ʼn geldjie vir elektrisiteit want dis “saans donker in my huis “.
Op Vanrhynsdorp maak ons die Ducato vol en ʼn jongman van Tsumeb Namibië is die petroljoggie.
Die boerdery langs die Olifantsrivier lyk belowend en die wingerde staan geil. Ek wonder wat is die opbrengs per hektaar ?
Eers ry ons Doringbaai toe want dis al amper vieruur en miskien vang ons nog ʼn snoekbakkie (foto regs). Ons is net betyds en kry die laaste skuit. Eers wil hulle nie verkoop nie maar op die ou einde kry ek ʼn vet snoek vir R50.
Dis ʼn vrolike lot mense wat agter op die bakkie en in die skuit sit. As mens nog so blymoedig kan wees ten spyte van die feit dat jy elke dag so hard moet werk om te kan oorleef. Hoe bepaal mens die prys van ʼn snoek ? Dit kan mos nooit te duur wees nie al kos dit ook R150.
Ons kry ʼn staanplek onder teen die see by die kampplek op Strandfontein. Daar staan heelwat ander karavane en tente en mense sit buite op die gras en gesels met hier en daar ʼn vuurtjie wat brand. Dis ʼn idilliese namiddag en die plek word nie verniet die “Juweel van die Weskus” genoem nie. Op die horison lê ʼn dik misbank soos die kouefront naderkom maar YR wys dit gaan eers vannag begin reën. Hierdie wêreld het egter dringend reën nodig. Ek steek my vuur vroeg aan want my lus hang nou skoon uit vir die vet snoek. Ek sny die snoek mooi op in mote en hou die pensgedeelte en die kop eenkant vir die braai. Die res vries ek. Is daar dan ʼn lekkerder ding wat die Liewe Heer gemaak het as vars gebraaide Weskussnoek ? Ek hoor hoe sif die reën neer op die reiswa se dak en trek die bokhaarkombers net so ʼn bietjie stywer vas.
Vrydag 29 April
Dis toegetrek van die mis en die reën sif in sulke vlae oor die see. Die see is rof en groot branders breek teen die rotse. Dis beslis nie ʼn dag om uit te gaan om snoek te vang nie. Ons het doelbewus besluit om nie vandag in die reën terug te ry nie en lê laag. Lees boek, luister musiek en drink ʼn wyntjie.
Saterdag 30 April
Ons word wakker met ʼn helder sonskyn dag en die branders wat rustig breek. Die Weskus op sy beste ! Eers ry ons weer Doringbaai toe om ʼn paar gevriesde snoeke te koop. “Met of sonder koppe meneer ?” Natuurlik moet ʼn snoek ʼn kop aanhê want dis dan die lekkerste deel !
Ry Vredendal om want die grondpad sal te modderig wees na die reën en eet ʼn laat ontbyt op Klawer voordat ons die N7 aanpak. Dis langnaweek en die hele wêreld kom verby met 4x4 ‘s en karavane, sleepwaentjies met tente en swaargelaaide bakkies. Die hardebaard manne met hulle BMW 1200’s is rooi van die modder!
Die pad is stil en toe ons by die huis aankom wil die skuifhek nie oopmaak nie. Martie klim oor die hek en maak dit meganies oop. Die reën het veroorsaak dat al wat ʼn gecko en mier in die warm hekmotor gaan skuiling soek het met die gevolg dat die elektroniese goeters nie meer wil saamwerk nie..
Die reis was weereens ʼn lekkerte en die mense van die Noord Kaap besonders. Gaan kuier vir hulle.
Danie du Toit
Mei 2016