Die Kaap is nat toe ons Donderdag ,28 Julie, vertrek en ons ry omtrent die heel tyd in die reën. Ons eerste stop is Colesberg waar ons in een van die Karoohuisies oornag. Lekker kaggelvuur met baie hout en elektriese komberse want dis goed koud. Die aand eet ons by die Plattelander waar ek n bloutjie loop met n skaapafval wat R115 kos. Hoekom word toeriste altyd ingeloop? Een ding : n mens koop nie n pastei langs die pad nie en ook nie n skaapafval op n Karoo dorp nie.

 

Na n paar dae se kuier by Jan in Pretoria vat ons op,Stemdag, 3 Augustus,die pad met die Prado en Fendt Noorde toe. Pretoria is deesdae n besige plek met n ' Mall ' om elke draai en almal ry blink karre. Opvallend is die voorheen agtergeblewendes se groot nuwe blinkes met hoofsaaklik die mammas wat bestuur. Ons in die Kaap is nou die nuwe agtergeblewendes ! Gelukkig het ons darem nog die wyn en die Suidooster.

 

Die snelweg noorde toe is die een tolhek na die ander en n man is net op spoed dan moet jy weer afslek en dertig Rand uithaal. Ons kom die agtermiddag op Tshipise aan en hou sommer dadelik van die plek. Ek dink die helfte van die mense daar is swaeltjies wat sommer n paar maande staan. Van hulle het selfs permanente huiswerkers wat die plek aan die kant hou. Ek is verbaas om ex profesionele mense te sien wat hierdie leefstyl verkies. Hulle trek die wêreld vol met goed toegeruste karavane .

 

Tshipese is deel van die Forever groep en word professioneel bestuur. Die swembaddens is mooi skoon en word goed versorg en die tuine is pragtig. Die plek beslaan n paar hektaar met n wildsplaas langsaan.

 

Ons gaan die wildtuin by die Pafuri hek binne. Dis n deel van die Kruger wat ek nie ken nie maar dadelik hou ek van die omgewing. Die Punda Maria kamp is klein en lê aan die voet van die berg met mooi bome en baie koelte. Daar is n mensgemaakte watergat met n uitkyk sodat mens die wild wat kom water drink kan besigtig. Daar is ook n kolonie lastige ape wat jou lewe kan versuur as mens nie jou goed toehou nie. Ek merk dat die kolonie soggens aanmeld en dan die heel kleinjies in n boomstruik injaag met n oppasser wat n oog oor hulle moet hou. Dit is aardigheid om hulle te sien speel. Die grotes doen dan hul rondtes om te sien wat hulle kan aas. Hulle is goed bekend met die kampery en sien dadelik as nuwe kampeerders opdaag en nog nie ingestel is om eetgoed toe te maak nie. Ook wanneer jy oppak is hulle bedrywig en gryp hier en daar iets.

 

Ons was eendag Crookes Corner toe waar die Limpopo en Levuvhu saamvloei. Baie geskiedkundig veral in die tye van die grootwildjagters met Bvekenya (Cecil Barnard) as die mees berugste van almal. Die pragtige bome van die area sal my altyd bybly -- koorsbome en kremetatte veral. Op pad kry ons n volstruis wat alleen in die middel van die teerpad soos n verkeerskonstabel staan. Ons stop en hy kom aangstap en kom klop hier teen die venster vir eetgoed ! Toe ons niks gee nie stap hy na die ander kar en klop weer daar. Iemand moes hom die toertjie geleer het. Hy is nogal astrant ook.

 

Verder af teen die pad staan n groot Kremetat waar daar vroeë dae n uitspan was vir die trekspanne met Mosambiekse werkers vir die myne. Baie van die mense was te voet. Die kampbestuurder van Punda Maria , Garth Holt,wat die geskiedenis van die wereld ken , vertel dat die ou trekroete van die jagters oor Punda Maria( wat toe n ander naam gehad het) , Klopperfontein en Crookes Corner gegaan het. Dis fasinerend dat die mense met waens en trekdiere deur hierdie wilde wêreld kon trek. Punda het ook die mooiste rypaadjies veral l die berg om. Die plantegroei en veral die bome is iets besonders. Dis n mooi deel van die bosveld en ek sal dit graag weer wil sien in n normale reënjaar. In die somer word dit blykbaar n voëlparadys met n groot verskeidenheid voëls. Hier is groot troppe olifante en buffels. Die besonderse en pragtige kuifkoptarentaal loop hier in die kamp rond.

 

Shingwedzi is een van my gunsteling plekke veral met die pragtige ou bome al langs die Shingwedzi rivier en ander kleiner riviere. Hier is ook baie olifante en buffels en ons sien leeu en jagluiperd asook troppe bobbejane . Die wildtuin is baie droog en die diere , veral die grasvreters kry swaar. Ek sien hoe sukkel die rooibokke en die buffels lyk nie vet nie. Die veldwagter sê die leeus het baie kos en kan maklik n verswakte buffel plat trek. So daar is saans baie steak op die tafel. Dit lyk of die kameelperde regkom want hulle blare sit hoog. Die bobbejane is ook maer en soek ook iets om te eet. In die kamp staan daar lang palmbome met trosse vrugte wat soos rooi appels lyk. Dis glo baie hard. Die kamppersoneel pluk die trosse vrugte en gooi dit net buite die hek van die kamp op n hoop vir die bobbejane om te vreet. Nou gaan staan ek daar en hou die spulletjie dop. Julius, die heel grote, sit bo-op die hoop en al die ander sit in n kring buite om waar hulle met die randeiers tevrede moet wees.So nou en dan waag een hom te na aan die hoop en dan jaag Julius hom die bosse in. Dis wanneer die ander nader storm en soveel vrugte vat wat n bobbejaan met twee hande kan dra. Dan kom Julius weer terug en gaan sit in die middel op die hoop totdat hy weer een moet gaan pak gee. So gaan dit heeldag. Julius kan nie verstaan hoekom die hoop kleiner word nie.

 

Soggens is daar n langbeen bobbejaan wat probeer inbreek vir kos. Kampopsigters loop met ketties om die bojane uit te hou maar so nou en dan verloor iemand n brood of iets. Die diere is honger. Daar is heelwat dwergmuishondjies en klein boomeekorings wat kom kos bedel en hulle het al baie mak geword het. Ook is daar rinkals duiwe, blou spreeus en neushoring voëls wat in jou oë kom kyk vir kos. Ek het een middag in my stoel ingedut en n klein eekoring het op my skoot kom sit!

Ons kamp tans in Letaba maar dis hier heelwat droër as die noorde. Tog is daar water in die rivier. Letaba is n pragtige kamp met sy groot bome , grasperke en stappaadjies. Hier is ook n Mug & Bean met goeie koffie en heerlike lemon meringue koek. Die Kruger se winkels hou goeie voorraad en mens kan feitlik alles hier koop. Hier is ook n klompie mak bosbokkies wat gereeld kom kos bedel.

 

Ek dink as mens werklik die Kruger wil ervaar moet jy kamp. Die chalets is baie mooi maar mens is baie op jou eie. Kamp jy, is dit n heel ander ervaring. Die goue oomblik is wanneer die son ondergaan en die kamp so n rustige atmosfeer kry met almal se vure wat brand en die rook van braaivleis wat in die lug hang. Die aande is windstil en dra by tot die spesiale atmosfeer. Daar is min kampeerders wat nie al nege uur die ligte afskakel nie. Tog kry jy die uitsondering. Ek moes nou die aand tienuur oorstap na n klomp Hollandse toeriste in n Camper wat sit n drink en lawaai . Hulle verstaan nie hierdie kampkultuur nie en is nie welkom hier nie.

 

Dis opvallend hoe die kwaliteit en verskeideheid van kamptoerusting die laaste jare verander het. Hier staan boswaens te kies en te keur , so ook karavane. Baie karavane het selfs ingeboude lugreëlaars. Elke man sweer by sy toerusting. Hier onder staan n 1969 Sprite Elpine met n 1985 Nissan 2.8 GLX Skyline as sy sleepmaat. Ek stap nader en gaan groet die 83 jare Oom Fanie en tant Marie Geldenhuys van Belville. Oom Fanie sê hy het die Sprite destyds vir R950 gekoop en die GLX het nou 255000 km gedoen. Hulle kom nog gereeld Kruger toe. Wie kan nog daai dreuning van die ' staight six' onthou ?

 

Wat die kampery interessant maak is die mense wat jy hier omtmoet. In elke kamp kry jy nuwe bure en almal is so vriendelik en behulpsaam en gou word mens goeie vriende. So kom dit dat ons tweekeer langs Des en Ann White van Plettenbergbaai kamp en word ons groot vriende. Des het 28 jaar vir SAL gevlieg en was n senior loods wat ook die opleinding vir die 747's verskaf het. Voorheen was hy 16 jaar verbonde aan die Lugmag. Daar in min vliegtuie wat hy nog nie gevlieg het nie. Toe ek hom vertel van my dae by die Estcourt Glider Club was hy baie verbaas en sê dis iets wat hy nog wil vlieg. ( Hy is 70).

 

As daar nou een ding is in n karavaankamp wat baie vermaak kan verskaf dan is dit om mense dop te hou wat vir die eerste keer n karavaantent opslaan. Menige kere praat die ou en sy vrou vir n week daarna nie met mekaar nie !

 

Die Fendt van Jan is van Duitse afkoms en alles werk so bietjie anders, bv., die deur sit aan die teenoorgestelde kant van ons SA karavane en maak ook na die verkeerde kant toe oop. Dis waar die opslaan van die tent ook anders is. Ek en Martie het vooraf besluit dat as dinge te warm word met die opslanery vat ons eers n teebreek want ons het vir Jan belowe ons kom nog steeds getroud in Pretoria aan. Maar dit gaan moeilik met die Duitse logika van tentopslaan en die handboek is in Duits. Daar waar die lang pale bv. hier teen die karavaan druk, is daar so n snaakse megefter met n lussie waar die langpaal , met n krom bek, moet inhaak.

 

By Tshipese was dit ons eerste probeerslag en na n uur of wat toe staan die tent en moes ons, natgesweet, eers gaan stort. Op n foto kan jy sien die spulletjie is nie lekker haaks nie. By Punda Maria was daar so baie koelte dat ons nie die tent opgeslaan het nie. By Shingwedzi slaan ons die tent sonder enige probleme op. Hier by Letaba loop die dinge verkeerd. Die Fendt het n apparaat wat hulle in Engels ' self movers' noem. Met n afstandbeheer kan jy die karavaan laat loop net waar jy wil. Dit werk van die battery af en is baie gerieflik veral as jou kragte nie meer daar is om die karavaan rond te stoot of aan te hak nie. Om die karavaan waterpas te kry , kan jy met die self mover die karavaan op een van daai plastiekblokke laat loop , wat ek toe ook doen.

 

Ons haal die tent uit en pak die pale almal netjies uit en begin die tent inryg. Geen probleem. Met die pale begin dit neuk. Vir een of ander rede kan ek nie lekker by die hoë punte bykom nie en moet ek op n plastiek stoel staan. Het ek dan nou die afgelope paar dae korter geword wonder ek. Nes ek die middel paal deur sy lus gesteek en styfgetrek het en aan ander kant wil begin, neuk die hele spul inmekaar en jy hoor net pale val. Goed, ons moet kalm bly en weer probeer maar dit kos tandekners om nie op mekaar te skree nie veral toe die spul die derde keer inmekaarneuk. Op n keer het die bleddie stoel ook onder my uitgeglip en amper was dit hospitaal sake. Nou moet jy onthou alles gebeur hier onder die tent wat bo-oor jou hang. Maar ons beur voort en ek sukkel om daar bo by te kom.

 

Dis toe dat ons Engelse bure van Durban ingryp. Drie vrouens en twee mans en tjop- tjop staan die tent. Hulle kon nie meer die gesukkel verduur nie. Dis wat ek bedoel met die kamaradie van die kampeerders. Ek sit later met n koue bier in my hand en toe sien ek hoekom ek nie meer daar bo kon bykom nie. Met diè wat ek die karavaan op die blok gery het , het die hoogte natuurlik verander. My verligting dat ek nie gekrimp het nie was groot!  

 

Vanmiddag kyk ons die rugby in die saal hier op Letaba en langs my sit Piet en Annamarie Botha van Gansbaai en agter sit twee manne van Baardskeerdesbos. Almal het kom leeus kyk want al wat in daai wêreld oorgebly het ,is grootwithaaie.

 

Môre ry ons vir die laaste vyf dae Satara toe.

Ons groet die mense op Letaba en toe ons die middag by Satara insleep staan die kwik op 37 grade Celsius. Dis toe wat ons die lugreëling van die karavaan waardeer. Ons slaan eers laatmiddag die tent op en skakel die Jost ysmasjien aan. Satara het min bome en mens moet sorg dat jou karavaan met sy rugkant na die Weste wys sodat jy agtermiddae koelte kry. Die kamp is droog en stowwerig maar die voëls wat om jou in die bome kwetter verskaf groot plesier en die pragtige sonsondergang en die soel en windstil aande maak daarvoor op. ʼn Goue reël as jy kamp: slaan altyd jou tent die eerste keer reg op en moet nooit kortpad vat nie. Slaan hom op asof jy ʼn storm verwag al is dit windstil, ʼn mens weet nooit wat die natuur maak nie. Dit het ek weereens beleef. Toe ons die tent opslaan is dit windstil en ek dink by myself hoekom sal ek nou die tent anker want dis ʼn geneuk om die penne in die harde grond in te slaan – ons staan tog net vir vier aande. Gelukkig slaan ek maar ʼn paar penne in maar ek merk die toue wat die Duitsers saam met die karavaan gee is nie vir ons wêreld nie.

Ons word genooi om by mense te gaan eet wat so 300 meter van ons kamp. Sesuur se kant stap ons oor. Dis windstil en warm en ek los die Fendt se lugluike en van die vensters oop. Toe ek weer opkyk merk ek ʼn donker bruin wolk wat aan die Suidweste kant hang en ek vra nog vir ons vriende waar brand dit dan nou. Die volgende oomblik klink dit soos ʼn stoomtrein wat aankom. Binne oomblikke waai daar ʼn orkaanwind met stof dat jy nie twee tree voor jou kan sien nie. Ek probeer teen die wind na ons karavaan toe hardloop maar verloor half my rigting want die stof en sand is hier in my oë, buitendien wil my knieë ook nie meer nie. By die karavaan aangekom hang die tent halfpad uitgehaak. Ek probeer nou die pale weer in posisie kry maar die wind is te sterk. My buurman, ʼn oom van Harrismith met ʼn groot wit baard en kruisbande, kom my help maar tevergeefs. Al raad was om maar die tent af te breek. Was dit nie dat ek die tent darem so halfhartig geanker het nie sou ek hom die volgende dag op Letaba moes gaan haal!

 Dis hartseer om die Wildtuin so droog te sien. Veral die seekoeie kry mens jammer want daar is regtig niks vir hulle om te vreet nie en baie van hulle gaan nie die droogte oorleef nie. Die vlakvarke staan op hul knieë en skoffel maar kry nie veel nie. Lusteloos swaai hul hul stertjies. Die vleisvreters is almal vet. ʼn Ding wat my pla is die baie olifante en hul vernielsugtigheid. Op sommige plekke lyk dit asof ʼn orkaan die plek getref het soos hulle die bome omstoot. In die Kakaoveld het ons gesien hoe die woestynolifante die blaartjies versigtig agter die botpunte afpluk sodat die boom kan aanhou groei en dus kos verseker. Nie hierdie lot nie. Hulle stoot sommer die bome om sodat hulle by die sappige boonste blare kan uitkom. Daar is groot troppe olifante met ʼn verskeidenheid kalwers van verskillende ouderdomme. Hulle bly egter manjifieke diere.

Ons het eendag ʼn bobbejaantrop van oor die honderd gesien. Hulle bly darem interessant veral as mens kyk hoe die trop bestuur word --- die verkenners wat voor loop en in die hoë bome sit, die kinders en wyfies in die middel en die grotes wat die agterhoede vorm en seker maak dat niemand agterbly nie. Daar is altyd rooibokke wat saam met hulle loop want die bobbejane waarsku hulle teen roofdiere. Snags brul die leeus by Satara en die volgende oggend kry jy hulle langs die S100 pad aan ʼn karkas vreet. Luiperds is ook dikwels gesien.

 

Ons laaste aand is op Berg ʼn Dal maar eers ry ons by Skukuza aan om vriende te onmoet. Dis net so goed jy sit in die Somerset Mall. Soveel mense ! Hulle blokkeer die paaie met hul motors al lê ʼn leeu ʼn kilometer daarvandaan, almal druk vir ʼn staanplek. Die ergste is die oop bakkies met toeriste wat soos besetenes rondjaag en met radio’s mekaar inlig waar wild te sien is. Nee, gee my die rustigheid van Punda Maria.

 

Berg ʼn Dal is ʼn pragtige kamp met mooi groot bome maar selfs hier is die veld baie droog. Daar is ʼn probleem met die bobbejane wat kom kos soek, veral een groot mannetjie wat hom glad nie aan die kampreëls steur nie. Ek hou hom dop. Vroegoggend hardloop hy met sulke lang treë al langs die draad af. Klim in ʼn boom en spring oor die draad. Die mense begin nou wakker word en dis ontbyttyd en Jano kyk rond wat daar te aas is. Hy hol vinnig en kyk skerp, veral daar waar ʼn broodrolletjie los lê. Ek het al baie gewonder hoekom ʼn bobbejaan so lief vir brood is. Oorkant ons kamp ʼn ou met ʼn wilde baard in een van daai Oz tente. Op sy stoepie staan tamatiebottels en ander goeters op ʼn tafeltjie soos hy nog die vorige aand vleis gebraai het. Ek sien Jano mik vir die tafel maar wat hy nie weet nie is dat die ou van binne af hom dophou. Toe hy aan die bottel tamatiesous vat, steek baardman sy kop deur die gleuf in die tent en brul soos ʼn leeu. Daai bobbejaan skrik dat hy sommer so half in die lug omdraai soos hy probeer wegkom. Eers tien tree verder kyk hy oor sy skouer en skree so ʼn flou boggom !

Nou is dit so dat die Kruger Wildtuin ʼn plek vir gesels is. Ons staan langs Binky en Lois du Preez en die stories loop. In die jare sestig was ons saam in Eendrag koshuis op Stellenbosch, hy van Patensie en ek van Hopefield. Ons praat van hoe ons as kinders met Engels gesukkel het. Binky vertel : Hy en sy maters stap een Saterdagmiddag op Jeffreysbaai teen die pad af toe ʼn groot blou Mercury met ʼn Rhodesiese nommer langs hulle stilhou. Die bestuurder het ʼn blinksteelpyp in sy mond en een van daai check kepse wat alkant ʼn voorkant het. ( “Deer Stalker”). Die tante dra ʼn wit wyerand hoed met ʼn pink roos en aan haar arms hang ʼn verskeidenheid bangles. Hulle vra die pad Humansdorp toe maar praat Engels !

 

Binky- hulle skrik hul vrek. Ten spyte van die feit dat hy in standerd nege is en sy vriende almal in matriek stoot hulle hom vorentoe om die pad te beduie. Daar is net een pad Humansdorp toe en dis al met die grondpad tot bo by die teerpad waar jy links draai. Maar hoe beduie ʼn man dit in Engels? Hy staan die pad so en kyk en sê : “Ju see dis road ? Ju goes up dis road”, en hy beduie die rigting. Nou moet hy vir die Engelsman beduie dat hy tot by die teerpad moet ry maar hy weet nie wat teer in Engels is nie. Hy draai om vir hulp maar sy vriende het lankal die pad gevat. Nou moet hy vinnig dink : kyk, ʼn veer is ʼn feather, dus moet teer dan teather wees. “ Now ju goes up till ju come to de teather road “. Maar wat is links in Engels? Hy dink hard maar die woord wil nie kom nie. Oplaas sê hy : “Ju sommer draai laaik dis” en hy beduie met sy linkerhand so krom agter sy rug om. Toe is Binky se Engels op en hy draai om en hardloop dat dit so bars in die rigting van die strand.

 

Vroeg die Sondagoggend ry ons by die Kruger se hek uit. Ek voel hartseer oor die diere wat so swaar kry met die droogte. Ek lees egter in die Ivory Trail van BP Bulpin dat dit in 1912 net so droog was. Barnard die olifantjagter, vertel dat hy op ʼn Shangaanstad in die bos afgekom het waar die mense amper sterwend van die honger was. Hy sê die hond was so maer dat die geringste windjie dit omgewaai het. Die Shangaans was so swak dat hulle nie kon jag nie. Hy skiet toe ʼn bok en kook ʼn sopbrousel wat hy die mense laat drink. Die hond moes hy vashou sodat hy kon eet want hy kon nie alleen staan nie. Mettertyd het hy vir die mense vleis en vaste kos gegee en almal het oorleef. Hulle het die hond vir hom as geskenk gegee. Die hond het al wat ʼn been is gaan begrawe. Die dag toe Barnard weer vertrek wou die hond nie saamgaan nie. Hy het op sy hoop bene bly sit en vir almal gegrom wat naby kom. Hy sou nie weer honger ly nie ! Ons hoop maar vir reën in Oktober.

 

Net voor mens op die N4 klim is daar ʼn groot padstal met baie vrugte. My lus vir lekker Laeveldse vrugte is toe hoeka al groot. Piesangs, nartjies, advokadopere en die soetste papajas. Ek eet sommer net daar eers twee papajas voordat ons verder ry. Malelane en Nelspruit is woelige plekke en mens kry die indruk dat hier besigheid is. Eers moet ʼn man gewoon raak aan die verkeer en teen die spoed wat mense ry, veral as jy vir 20 dae slegs teen 50 kmh aangekruie het. Ons ry deur Schoemanskloof en verkyk ons aan die pragtige boerderye. Ek het al vergeet van al die bulte om ʼn karavaan uit die Laeveld tot bo op die plato te sleep. Nes jy dink dis die laaste bult dan lê daar net ʼn langer een voor. Oplaas is ons op die Hoëveld en draai af by Millys vir iets om te eet. Die plek lê langs ʼn 10 ha foreldam en dis die moeite werd om een van hul foreldisse te eet. Ek het vroeër gesê ek eet nie ʼn pie langs die pad nie maar hier moet ek my woorde terugtrek. Ek het lanklaas iets so geurig en lekker geëet. Koop toe sommer ʼn hele boks gevriesde pasteie om by die huis te gaan eet.

 

Dit het ons ʼn hele dag gevat om Jan se Fendt karavaan weer skoon te kry want 20 dae se stof gaan lê mos orals. So neem Jan ons eendag na Marble Arch in Midrand. Dis die nuwe Suid Afrika en is vergelykbaar met die beste in ander wêreldstede. Daar is tot parkeerplekke vir elektriese motors wat jy kan laai terwyl jy ʼn ete in een van vele restaurante geniet. Die plek het ʼn baie spesiale vibe. Wit en swart lyk hier almal baie welvarend en modern. Gelukkig het ek nie my kampklere aangehad nie !

 

So stel ons die GPS vir Potchefstroom en vertrek te midde van die Vrydagoggend spitsverkeer via JHB. Ek voel later skoon duiselig soos ek moet konsentreer tussen al die voertuie in vier lane en boonop voel dit asof die antie met die blikstem jou in die verkeerde rigting laat ry. Ons ry onderdeur daai oorhoofse tolhekke maar niemand stop ons om te betaal nie. Einde ten laaste sien ons ʼn bord wat Potchefstroom aandui. Toe ons die dorp binne ry sê die antie hou links, wat ek toe ook gehoorsaam, want sy sal ons na die N12 vat. Ons merk later die padwysters beduie Viljoenskroon maar ek laat waai tussen die mielielande deur. Tussen Viljoenskroon en Bothaville raak die pad vol slaggate maar die omgewing is mooi. By Bothaville trek ons by die Spur af vir iets om te eet. Die ryk mielieboere van toentertyd het destyds die hotel gebou en vandag huisves die groot eetlokaal die Spur. Ons ry by Makwassie verby. By ons in die koshuis op Stellenbosch in die sestigs, was daar ʼn ou van Makwassie wat veërs in sy bril ingebou het vir die reëndae. Ek het altyd gewonder waar die plek is.

 

Uiteindelik sluit ons weer by die N12 aan. Die arme dorpies in die Vrystaat het baie agteruit gegaan en veral Bloemhof lyk nie te goed nie. Ons sien die afdraai Orania toe en besluit ons sal volgende keer daar aanry. Kimberley lyk ook nie so vars nie en mens sukkel om deur die plek te kom. Ons is by die Kambro padstal inbespreek en koop die lekkerste springbokpasteitjies vir aandete. Dis die tweede keer dat ek my woorde moet sluk oor pasteitjies langs die pad koop. Hemels, met so ʼn dun deegbeslaggie.

 

Die volgende oggend ry ons eers deur Britstown maar ai, die ou dorpie het ook sy goeie dae gehad. By Victoria-Wes draai ons links in die rigting van Loxton. Ook hier het dinge agteruit gegaan sedert ons laaste besoek. Wat het

gebeur ? Dit was almal substansiële dorpe met ʼn sterk boeregemeenskap en goeie skole.

 

Loxton is ʼn mooi klein dorpie met die lamppale wat so in die middel van die dorp se stofstraat in ʼn ry staan. Die kerk staan in die middel met ʼn pad rondom. Hoekom lyk hierdie dorpie nie vervalle nie ? Langs die kerk op die hoek is die Rooi Granaat waar ons ʼn heerlike ontbyt eet teen R35 per ete ! Dis baie rustig en almal is vriendelik. Heelwat toeriste met reiswaens en boskaravane wat daar aanry.

 

So ry ons met die 60 km grondpad Beaufort Wes toe en verkyk ons aan die pragtige plase en natuurskoon van die diep Karoo. ʼn Vinnige koffie by die Wimpie op Beaufort Wes voordat ons die N1 aanvat Kaap toe. Oral langs die pad sien ons pragtige veldblomme. By Worcester moet ons eers baadjies aantrek want die wind is koud en die winter in die Kaap is nog nie verby nie. Alles is groen en die Du Toitskloof berge pragtig. Dit bly maar ʼn mooi gedeelte van die wêreld en ek dink terug aan die droogte in die Kruger.

 

Die volgende dag braai ek ʼn Weskussnoek wat ek spesiaal vir die geleentheid gebêre het. So lank kan mens darem nie sonder vis bly nie - - - ʼn hele maand en 5600 km vêr.

 

Danie du Toit

 

September 2016