Die plekkie Koperfontein, waar ek grootgeword het, lê langs die Malmesbury/Hopefield pad met die treinspoor wat parallel aan die anderkant loop. Koperfontein was net n”siding” met ʼn laaibank, goederestoor of ‘goedset ’en n ekstra rangeerlyn vir die trokke om koring by die koöperasie te laai. Dan was daar die koöperasie se graanstore en geboue asook my ma se winkel en my oupa se meulhuis. Verder op teen die pad was oom Klaas Koch se winkel. Tussen die groot blikstoor van die koöperasie en my Ma se winkel, het die gruispad na Koringberg ʼn tee-aansluiting met die hoofpad gemaak.
My ma het die winkel by oom Kosie Smith oorgeneem maar ek wil eers die gebeure ʼn bietjie terugdraai: Oom Kosie en sy vrou Algina en vyf kinders was interessante mense en behalwe die winkel het hulle ook ʼn garage met ʼn Pegasus hand petrolpomp bedryf. Toe die seuns later uitbeweeg besluit oom Kosie hy wil ʼn verandering maak en gaan kuier vir ʼn jaar in die Laeveld. Hy verhuur die winkel en garage aan ʼn rou Engelse egpaar en hul familie. Skielik was Koperfontein nie meer dieselfde nie want toe moes jy in Engels by die winkel koop en niemand kon Engels praat nie! Dit was veral ongemaklik om iets by die winkel te koop as daar ander klante teenwoordig was want hulle lag vir jou Engels (nie dat hulle beter kon vaar nie !) Ek moes eendag ʼn blikkie ertjies gaan koop en het met ‘êtjies’ begin omdat dit vir my Engels geklink het maar die Engelse oom skud net sy kop. Ek het later oor die toonbank geklim om die blikkie ertjies self van die rak te haal. Die bruinmense het ook erg gesukkel maar aia Betta sê die Engelsman het later verstaan as hul ‘mêtjies, twak en syker’ beduie. Tog was die Engelse dierbare mense.
Na ʼn jaar in die Laeveld het oom Kosie teruggekom met ʼn plan. Antie Algina het weer die winkel bedryf en oom Kosie het vir hom ʼn ‘motorhome’ op die onderstel van ʼn Ford lorrie in sy garage begin bou en dit later ‘ Perridot Green’ geverf. (Dit was die eerste ‘motorhome’ in die Sandveld) Hy het ook ʼn swart 1949 Triumph Roadster uit die Laeveld saamgebring maar iets wat ʼn groter opskudding veroorsaak het, was die groot mannetjie bobbejaan, Kaspaas, wat soos ʼn ‘ mascot’ op die linker voorste modderskerm met sy arm om die groot hooflig van die Triumph gesit het! Hoe vinniger oom Kosie ry hoe platter trek hy sy ore maar hy sit asof hy daar gebore is. Oom Kosie het ʼn stewige paal met ʼn slaapkis bo-op, vlak voor die winkel staangemaak en so het Koperfontein beroemd geword. Almal het stilgehou om na Kaspaas te kyk en terselfdertyd iets in die winkel te koop. Selfs van die passasiers het middae uit die trein geklim om gou eers bobbejaan te kyk. My vriend Lex Conradie vertel dat as hulle vanaf Worcester na Velddrif oppad was, het sy pa spesiaal op Koperfontein gestop sodat hul kinders eers bobbejaan kon kyk. Die mense het soms vir Kaspaas geld gegooi en in die radius van sy ketting het daar gereeld pennies en tiekies gelê. Terwyl Thys Kiepies vir Kaspaas eenkant besig hou moes ek die geld gryp maar dit was ʼn gevaarlike speletjie want daai bobbejaan was erg oor sy geld. Dit was egter die risiko werd want met ʼn tiekie kon jy een van daardie lang borssuikers koop wat in sulke wit, krakerige sellofaanpapier toegedraai was.
Terwyl ʼn werker eendag besig was om die winkelmure af te kalk het Kaspaas losgekom en teen die leer opgeklim waaraan die emmer wit kalk hang. Met die opklimslag gooi hy die hele emmer wit kalk oor hom uit ! Skielik is dit ʼn wit bobbejaan! Toe skrik daai bobbejaan vir homself en hy begin sulke wye draaie gooi soos hy van die wit bobbejaan af probeer wegkom terwyl al wat mens is vir hom staan en lag. Hy beland later bo-op die dak van die winkel en daar moes oom Kosie hom met mooipraat en ʼn stukkie brood aflok. Na ʼn goeie bad en skrop was hy weer die oorspronklike bobbejaan.
Een Vrydag middag stop oom Lampie Lambrecht van die plaas Vondeling met sy splinternuwe Dodge bakkie voor die winkel maar kom nie agter hy is ʼn bietjie na aan die bobbejaan nie. Terwyl hy gou iets in die winkel koop wag sy vrou en twee kinders in die bakkie. Intussen klim Kaspaas op die enjinkap en beloer die mense deur die voorruit met sy neus platgedruk teen die glas. Net toe kom oupa Koos om die hoek, en plaatjie wat hy was, beduie vir die vrou om die toeter te druk. Maar skrik daai bobbejaan! Ons weet almal as ʼn bobbejaan skrik het hy nie brieke nie. Hy trap teen die ruitveërs vas en slaan agteroor bollemakiesie en sproei terselfdertyd die bakkie met so ʼn geel streep. Terwyl ouma Lenie tee skink en die kinders rooi Exa koeldrank drink laat oupa die bakkie was.
Eendag het Kaspaas sy plek op die Triumph se modderskerm ingeneem en oom Kosie is weg Kaap toe met hom. Die storie loop dat hy vandag as ʼn opgestopte bobbejaan êrens in ʼn museum sit. Dit was glo ʼn hele affêre toe die 1949 Triumph Roadster in Adderleystraat afry met die bobbejaan op die bonnet ! Die mense sê hy het glo vir al wat ʼn girl is met ʼn kopdoek gewaai !
Oom Kosie het eendag die ‘Perridot Green motorhome’ opgestart en die langpad Graskop toe gevat. Jare later het hy weer teruggekeer en op Hopefield ou dokter Smit se pragtige Victoriaanse huis oorkant die Soutrivier gekoop.
My ma het die besigheid en eiendom oorgekoop en so het dit Miss Girlie se winkel geword. (Sy was eintlik Helena Johanna maar almal het haar Girlie genoem en onder die bruinmense was sy bekend as Miss Girlie). Vir ons as familie was dit ʼn nuwe ervaring. My pa het nog steeds sy werk by Langebaanweg se lugmagbasis behou en het net naweke huis toe gekom. Gelukkig was oupa Koos en ouma Lenie daar vir ondersteuning. Met ʼn £500 lening by oupa Koos het my ma haar winkel opgesit. Sy het Kaap toe gery om met die groothandelaars te gaan onderhandel oor voorraad om die winkel te ‘stock’ en ʼn week of wat later het alles het met die trein gekom. As jong seuntjie kon ek nog die opgewondenheid onthou toe ons die eerste bokse met kruideniersware oopmaak en op die rakke begin uitpak. Om die winkelrakke vol te laat lyk het ons alles voor in die rak gepak ! My ma se winkelassistent was Adam Clifas, die oudste seun van Piet Vlooi en sy vrou Sanna van die plaas Leliefontein van Pieter Slabber.
Die foto is geneem van die winkel winkel op die hoek met die pad na Koringberg. Die rooi deure is die ou garage en die wynkelder.
Daardie dae het produkte nie klaar verpak gekom nie en alles moes in kleiner hoeveelhede afgemeet word. Bruinsuiker( wit suiker was nog nie beskikbaar nie ) het in ʼn suikersakkie gekom en moes uitgeweeg word in bruin papiersakkies soos bv. ʼn tiekie of sikspens se suiker. Dit was ʼn heel taai affêre. Dadels het in houtkissies gekom en die moes ook in kleiner pakkies uitgeweeg word – terwyl jy uitweeg het daar so nou en dan ʼn dadel mond toe gegaan. Paraffien kom in ʼn houtkis met twee viergelling blikke. As iemand ʼn bottel paraffien koop word dit uit die blik gepomp. Rooibostee het in sakke gekom en dit is ook uitgemeet in papiersakkies. Pruimtabak was in ʼn rol gedraai en op die toonbank was ʼn koper maatband waarmee ʼn sikspens of sjieling se tabak afgemeet is.
Dit is interessant hoe die houers waarin goed gekom het ook terselfdertyd as maateenhede gebruik is. Byvoorbeeld, ʼn suikersakkie skorsies, parrafienkissie druiwe of ʼn paraffienblik meel. Die bekende ronde eengelling blik( Coopers dip ) was ook ʼn gewilde maateenheid.
In die pakkamer agter in die winkel waar Adam al die goed uitgeweeg het, was ʼn aroma van geure wat my vandag nog bybly. Die soet geur van bruinsuiker gemeng met die reuk van lampolie en rooibostee en roltabak asook die reuk van droëvrugte in suikersakkies. Eenkant staan ʼn deurgesnyde Pegasus drom gevul met strooi waarin die aangekoopte hoendereiers lê.
Die winkeltjie op die hoek was nie baie groot nie. Dit het ʼn toegeboude stoep gehad met groot glasvensters en veral Saterdae was dit ʼn gewilde bymekaarkomplek van die bruinmense. Binne het die winkel ʼn geboude toonbank met ʼn hout blad gehad wat regom geloop het. Die deur het regs aan die voorkant van die stoep gesit . Die rakke aan die regterkant, soos mens instap was vir die hardeware en asook die paraffien yskas en enige seisoenale vrugte wat soms daar uitgestal was. Op die rakke agter die lang gedeelte van die toonbank was die kruideniersware en soos jy links beweeg was die lekkergoed op die toonbank in daardie bekende skuins potte uitgestal asook die geldlaai wat onder die toonbank uitgly. Die geldlaai het uit sulke ronde koper bakkies bestaan vir die verskillende soorte kleingeld. In die hoek van die toonbank was ʼn glaskas waar messe, horlosies en allerhande fyn goed uitgestal was. Verder aan met die toonbank was die rakke met die sagte goed soos rolle materiale en klerasie. Dis ook waar my ma se sitplek was. Teen die dak en balke was hakke en lang spykers waaraan die veldskoene met die motor tyres as sole, gehang het. Dit was ook die hangplek vir fietswiele en bande. ʼn Lang stok met ʼn haak het behendig die regte nommer skoen daar bo afgehaak. Met waatlemoentyd het die winkel se vloer vol waatlemoene gelê. Dis die dae voor die metrieke stelsel en daar is handel gedryf in ponde, sjielings en pennies.
ʼn Pond was 20 sjielings
ʼn Genie was een pond een sjieling
ʼn Kroon was vyf sjielings
ʼn Halfkroon is twee sjielings en ses pennies
ʼn Sjieling is twaalf pennies
ʼn Sikspens is ses pennies
ʼn Tiekie is drie pennies
ʼn Pennie, ʼn Halfpennie en ʼn Oortjie (kwart pennie). Vir ʼn pennie kon jy vier Wilson toffies koop en vir ʼn oortjie het jy een gekry!
Klante kon ʼn hoender, eend of makou asook hoedereiers ruil waarmee kruideniersware gekoop kon word. Die hoenders is op die toonbank in ʼn skaal geweeg en dan het die verkoper ʼn “good for” papiertjie gekry waarmee hy kon koop. Elke ding wat ingeruil word, het sy prys gehad. My ma het weer die eiers en hoenders aan reisigers van die Kaap verkoop. Hulle het elke Vrydag verbygekom om die ‘plaasprodukte’ te koop en dit weer in die Kaap gaan verkwansel. Die kwitansies wat uitgeskryf word, is ʼn ‘voldaantjie’ genoem.
Daardie dae was ʼn knipmes ʼn belangrike ding. In die glaskas het hulle gelê: ʼn Hillbrow met ʼn staal hef, ʼn Paul Kruger, ʼn Best en dan die Joseph Rodgers met die bakeliet handvatsel.
Bekfluitjies( mondfluitjies) was ook baie gewild en my ma het ʼn groot verskeidenheid aangehou wat veral goed hier voor Kersfees verkoop het.
Dan was daar Lennon’s Medisyne uit Holland vir elke kwaal onder die son. Hier is ʼn paar wat ek kan onthou :
Jamaikagemmer : koliek en maagpyn
Kamferolie : spierpyne ,borsmoeilikhed vir kinders
Kraamdruppels: maagkrampe en koliek
Lewensessens :maagtonika ( wie sal ooit daai bitter smaak vergeet! )
Oogsalf : karkatjies
Staaldruppels verryk bloed en gee lewenslus
Witdulsies keer verkoue en verlig koors
Galpille : sterk purgeermiddel
Duiwelsdrek : senuweeagtigheid en slaaploosheid
Groen Amara : tonika
Kasterolie : wie sal dit kan vergeet – oumense het dit gebruik om kinders mee te straf !!
Saterdae het die plaasmense dorp toe (Hopefield) gegaan en was dit heel bedrywig by Miss Girlie se winkel veral as daar ʼn kannetjie of twee ( ʼn “varkie “) vanaf Hopefield se bottelstoor saamkom. Dan speel my ma dansmusiek op ʼn grammefoon wat met die hand opgewen word en ek is die “disc jocky “ ! Die toegeboude stoep word ʼn dansvloer . Al daardie ou plate met die konsertina musiek : “ Oom Jannie het gaan jag in die middel van die nag, ʼn duiker voorgelê, ʼn springer het gedag !” Dan skree die konsertina en die vrouens gooi ʼn riel en die manne trap hul broekspype vas ! Maandag kom koop hulle weer twak, mêtjies en suiker op die boek. Goeie mense wat maar ʼn armoedige geldjie as plaasarbeider verdien het maar altyd blymoedig gebly het. Baie mense kritiseer hulle omdat die voggies so mildelik gebruik word maar watter ander afleiding was daar vir hulle en was en is dit nie maar ʼn manier om van jou elende te vergeet nie ?
Daardie dae was Vaaljapie deel van die rantsoen wat plaaswerkers gekry het en elke boer het ʼn wynvat gehad. So bou my pa twee wynkuipe in die garage langs die winkel en word my ma ʼn agent van Porterville wynkelders. Dit was ʼn storie om wyn te voorsien want elke boer moes ʼn permit kry om die wyn te vervoer . Die permit is deur my ma uitgereik en moes deur die verbruiker geteken word. Dis vir my nostalgies om deur die ou wynboek te blaai en al die handtekeninge van die ou boere daarin te sien – almal rolmodelle in my lewe.
Die Vaaljapie moes sorgvuldig hanteer word want as die wyn in die kuip suur word, is dit jou skade. Boere koop ook nie suurwyn nie want sommige van hulle het self saans ʼn loopdop gevat! Aan die einde van elke dag word die deksel van die kuip oopgemaak en word die kuip geswael deur ʼn brandende swaelpit in te steek en die deksel sorgvuldig met was te seël. Die swael verhoed dat die wyn suur word.
Nou is dit so dat sommige mense swak beplan en eers op ʼn Saterdagnamiddag ontdek dat sy vat leeg is as die werkers hul naweekrantsoen moet kry. Dan is daar ʼn klop aan die agterdeur en Miss Girlie word gesmeek om die kelder oop te sluit. My ma het nooit nee gesê nie en ʼn man in nood moes gehelp word. Ek het dit gehaat want die wynkuip moes weer van vooraf geseël en die toerusting gewas word. Gewoonlik was dit Marthinus Bontheuwel ( Slabber ) se vat wat wyn kort.
Een so ʼn Saterdagmiddag moes ek weer oom Marthinus se vat volmaak. Hy kon sien ek is ʼn bietjie dikbek en vertel my ʼn storie oor hoe hulle in die Kalahari gaan jag het. Sy stories moes mens met ʼn knippie sout vat ! Hy vertel : “ Ons gaan jag mos toe in die Kalahari want daar is die springbokke so groot soos beeskalwers. Later lê die F100 se bak gelyk met springbokke. Toe ons weer oor ʼn rooi sandduin jaag stamp ʼn klip die bakkie se sump oop en jy sien net rooi ligte op die dêshbord soos die olie uitloop. En daar staan ons! Ek sê nee wag manne ek het ʼn plan. Ons skroef die sump af en met ʼn rondekop hammer klop ons die skeur netjies toe teen die Ford se voorste bumper. So dig klop ons hom dat toe ons water in die sump gooi toe lek dit nie eers nie ! Nou kort ons net olie. Ek sê wag manne ek het nog ʼn plan . Het julle gesien hoe vet is die Kalahari se volstruise vanjaar? Ons loop en skiet vier volstruise, slag hulle af, maak ʼn groot vuur en braai die vet uit. Ons skroef die sump weer aan en die volstruisvet is net genoeg dat die dipstick vol wys. Maar toe loop daai Ford bakkie hoor ! Dis asof alles net gladder werk. Toe ons die volstruisvet ʼn jaar later aftap vra die mekêniek by Bennie se garage op Hopefield wat se olie is dit wat nog so skoon is na ʼn jaar !”
Elke jaar met oestyd verander Koperfontein in ʼn miernes van aktiwiteite. Dis wanneer die boere hul koring kom lewer by die koöperasie met sleepwaens, trekkers en vragmotors. In daardie dae is koring in sakke geberg en dit was ʼn tydrowende proses om ʼn vrag af te laai want nadat dit geweeg en geskepel is,moes werkers sak vir sak op hul rug “steek” en dan in ʼn stapel pak. ʼn Sak koring het 200 lb geweeg! Met piektyd kon jy maklik ʼn halfdag in die ry jou beurt afwag.
Die jaarlikse lewering van die oes was eintlik ʼn sosiale geleentheid deurdat dit al die boere bymekaar gebring het. Miss Girlie se winkel was ʼn gewilde bymekaarkom plek want ʼn man kan darem ʼn yskoue Cream Soda uit die paraffien yskas koop. Die stories en grappe het net nie opgehou nie ! Die dag as Sollie Bester van Doornboom met sy DKW motorfiets voor die winkel stilhou was daar ʼn samedromming om na sy stories te kom luister. Hy het ook soms met sy stompneus Thames lorrie met die ingeduikte dak koring gelewer. Toe hy uitgevra word oor die duik in die dak vertel hy : “ Nee kyk ek koop mos die Thames by Johnnie Kat op Moorreesburg want ek soek al lankal na ʼn goeie lorrie. Met die wat ek op die plaas aankom wil ek hom in die waenhuis trek maar sy dak is net te hoog vir die waenhuis se deur. Buite wil ek hom nie laat staan nie. Ek dink maar dan moet ek die deur hoër maak maar ek is bang die dak val inmekaar as ek daar kap want my pa het dit nog gebou en die kleistene is maar swak. Dis toe dat ek die plan kry. Ek sit die Thames in reverse en gaan haal uit. EK ry hom netjies tot voor in die waenhuis laat jy net hoenders sien hardloop ! Ek kan wel nie meer met my hoed op my kop ry nie want die dak is nou heelwat laer en nou dra ek maar ʼn keps.”
Oom Sollie het ʼn manier gehad as hy praat om so deur die eenkant van sy mond deur sy tande te suig , so asof daar iets tussen sy tande vassit, maar dan moet jy weet hy is op sy stukke. Hy sê : “ Ek koop mos vir my een van daai holrug Mercury’s by Johnnie Kat , glo ʼn kar wat uit die Karoo kom met min roes. Maar ek het aanmekaar ʼn probleem met die linker agterwiel wat loskom. Die moere wil net nie meer die rim vashou nie en die boute is gestrip. So kom ek eendag weer van die dorp af en so wragtag toe ek weer sien kom die wiel van agteraf verby ! Ek gaan soek die tyre en met ʼn groot gesukkel jack ek die Mercury op maar toe ek die wiel terugstoot sien ek die boute is nou blink gestroop en die moere is weg. Ek is gelukkig nie ver van my buurman se werf af nie en gaan haal sy tienpond voorhamer uit sy werkwinkel want hy is nog by die koöperasies op die dorp. En ek stoot die wiel terug en klink die boute netjies om met die voorhamer, haal die voorste linkerwiel se hubcap af en sit dit op. So het ek die Mercury verkoop !”
“ Daai Mercury het nog ander probleme ook gehad. Ek, die vrou en kinders kom eendag van die dorp af en so ʼn entjie nadat ons deur die laaste plaashek is , sê ek vir die vrou maar wat se wind trek dan nou so deur die kar ? Tel die kinders ! Wragtag daar kort een. Toe ek stop kom hy aangehardloop, vaal van die stof! Die agterdeure maak mos verkeerde kant toe oop en die knippe is al uitgewerk en so nou en dan druk die wind die deur oop “. ( hierdie deure het nie verniet bekend gestaan as die “suicide doors nie!” )
Thys Stap ( du Toit ) was ook iemand wat ander mense kon vermaak met sy stories. Hy het so effens gehakkel en kon ʼn storie mooi vertel. In 1961 koop Thys ʼn Studebaker Lark , vinnige kar vir daardie jare. Hy sê vir my ma : “Ant Girlie , daai lhe-lhe-Lark se spede-spde-speedomotor loop net so ving-vng-vinnig soos ʼn horlosie se sek-sek sekondewyser !
Kamas Smit van Smitsvlei, op die Koringbergpad, het ʼn droë sin van humor en kon altyd ʼn interessante gebeurtenis mooi beskryf. Hy vertel hoe die familie se kinders uit die Kaap een vakansie kom kuier en hy maak vir elkeen ʼn kettie om mossies mee te jag. Voor hy die oggend dorp toe ry sê hy vir sy vrou, Mêwie, om ʼn oog te hou oor die kinders en noem dat die boomkampie ʼn goeie plek is om te gaan mossies te skiet. So halfpad dorp toe sit hy en wonder of ou Willem, sy voorman, daai kwaai Jersey bul al uit die boomkampie gejaag het na die groot kamp met die koeie. Die ding pla hom die hele oggend en hy haas terug plaas toe. Met middagete stap hy die kombuis binne en daar sit die kinders rustig om die kombuistafel en eet. Kamas kan nouliks sy verligting wegsteek en vra hoeveel mossies hulle geskiet het. Die dogtertjie sê nee hul moes heel oggend na ʼn siek koei in die kamp omsien ! Sy sê net toe hulle deur die draad klim kom daar koei na hulle aangehardloop dat die stof so staan. Die koei brul en skop stof op en is later op sy knieë voor hulle en die skuim staan om sy bek. ‘Wat maak julle toe ?” vra Kamas. “ Foeitog oom ons stap toe nader en gaan vryf haar kop ! Die koei het heeloggend saam met ons gestap en van ons broodjies geëet want sy was tog so honger.”
Dan was daar Jan “Brag” van Darling. Sy stories was legendaries. Hy vertel hy kom eendag by die kroeg op Darling en is baie lus vir ʼn dop maar het nie geld nie. Daar sit drie jong manne en bier drink en Jan bedink ʼn plan. Op die kroegtoonbank lê ʼn gemmerkat en slaap. Hy begin ʼn gesprek aanknoop met die manne en vra of hulle lus het vir ʼn weddenskap. Almal ken vir Jan “Brag” maar is tog nuuskierig. Hy sê hy wed hulle sy besigheid is langer as die kat se stert ! As hy verloor koop hy vir elkeen ʼn dop maar wen hy, moet elkeen vir ʼn dubbel brandewyn betaal. Die kroegman gaan haal die maatband en die kat se stert word gemeet. Toe is dit Jan se beurt en hy laat sak sy broek. Die kroegman meet sorgvuldig en so wragtag daar kom oom Jan kort. Hy sit so ʼn bietjie agteroor en sê “Wag ʼn bietjie manne hier is ʼn fout. Waarvandaan het julle die kat se stert gemeet ? “Van sy halfkroon af oom Jan”. “Nou toe, meet myne ook vandaar !” Die manne moes elkeen ʼn dubbel uithaal !
Jan “Brag” vertel hoe hy die oggend na sy koring gaan kyk en dit nog nooit so mooi welig gesien nie. Hy loop al langs die land af , in sy hand het hy taaiboslatjie. ʼn Veldmuis spring uit die bossies langsaan en probeer tussen die koring inhardloop. Die koring staan egter so dig dat die muis net nie ʼn plek kry om sy kop in te steek nie. Jan sê hy loop al agter die muis aan en piets sy gat sopnat maar die muis bly vassteek!
Een namiddag help ek my ma om die winkel toe te sluit. Net toe ons om die hoek van die winkel stap , sien ons oom Piet Brand met sy navy blou 1960 Plymouth Savoy ( daai met die vlerke ) van Malmesbury se rigting aankom en ons weet hy gaan nou regs draai op die Koringberg pad. Kort op sy hakke is ʼn groen Vauxhaul Cresta. Net toe oom Piet begin draai gee die Vauxhaul vet om verby te steek. Ons hoor net ʼn slag soos die groen kar oom Piet se Plymouth op die voorste modderskerm tref en dit pyl reguit op ons af. Gelukkig gee ons betyds pad maar die Vauxhaul tref die telefoonpaal voor die winkel en ry dit skoon uit die grond uit en kom ʼn meter van die winkel se voordeur af tot stilstand. Jy sien net stoom staan en ʼn witgeskrikte man van die Kaap beur die deur tussen die telefoondrade oop. Die telefoonpaal het die Vauxhaul se Cresta wapentjie, wat reg voor in die middel van die bonnet sit, sekuur getref. Hierdie ou van die Kaap kon goed mik !
Oom Piet se Plymouth had nie veel skade nie maar die Vauxhaul kon nie verder ry nie en sy baas is erg omgekrap. Hy spreek ʼn bewerige oom Piet aan omdat hy geen teken gegee het dat hy gaan regs draai nie. Oom Piet sê hy het twee vingers bo deur die effens afgedraaide ruit gesteek om te wys hy draai en bowendien weet almal mos hy draai hier af want sy plaas lê in daardie rigting ! My ma gee almal suikerwater en die gemoedere kalmeer. Ons was ʼn week sonder ʼn telefoon.
Miss Girlie se winkel was meer as net ʼn plek waar jy iets kan koop. Dit was ʼn soms ʼn kliniek, kuierplek, halfwegstasie , koerantleesplek asook ʼn plek waar my ma moes raadgee vir sommige mense se huweliks- en emosionele probleme. Sy het die vermoë gehad om fyn te kan waarneem en kon mense moed inpraat en raad gee in moeilike tye. Ook het sy nooit uitgepraat nie en mense kon haar vertrou. Tydens ʼn re-unie ʼn paar jaar gelede op Hopefield, gesels ek met Juriaan Schreuder en Philbert Melck . Ons praat oor my ma en haar winkel en Juriaan sê haar diens aan die gemeenskap was van ontskatbare waarde. Ek wens sy kon dit hoor.
Die klein plattelandse winkeltjies het meestal verdwyn met die ontvolking van die platteland maar as jy op die klein dorpies soek kry mens nog hier en daar een. “ Magda se Winkel “ op Sutherland is een van hulle. PG du Plessis se “Koöperasie Stories” is nogal ʼn getroue weergawe van daardie era.
As jy vandag op Koperfontein kom staan die geboue toe en vervalle en kan mens jou nie indink dat dit eens op ʼn tyd ʼn bedrywige mikro sakesentrum was nie.
Koperfontein is egter vandag bekend vir sy windplaas . ʼn R3.2 biljoen projek met 38 reuse windlaaiers wat dit een van die grootstes in Suid Afrika maak. Wat sal die oumense tog gesê het ?
Danie du Toit
Augustus 2014
Girlie met Jan en Francois.
Haar Bougenvilla's