Reisverslag : Namibië / Botswana
So besluit ek en Martie om ʼn bietjie weg te kom van die Kaapse koue en nat weer en pak die Ducato reiswa . Ons wil ry tot waar dit droog en warm is en besluit Namibië en Botswana is net die plek. Daar word nie vooraf enige besprekings gemaak nie en ons wil ry tot waar dit lekker is.
17 Junie 2014
Vertrek vandag uit Somersetwes om 9hoo . Eet lekker ontbyt op Malmesbury by Cherry Lane. Toe vat ons die pad verder. Langs die pad naby Citrusdal koop ons eers van die lekkerste lemoene en nartjies. By Klawer trek ons weer af en 26 km verder ry ons by Vanrhynsdorp in om na die vetplante by die Kokerboomkwekery te kyk --- blykbaar wêreldbekend, Besluit om nie verder te ry nie en boek in by die Vanrhynsdorp Karavaanpark net buite die dorp. Klein en privaat met honde wat saam gaan stap. Ons stap na die ou begraafplaas saam met ʼn hond genaamd Simpson. Een van die ou grafstene beskryf die Keet kinders wat altwee in die Doringrivier verdrink het in 1926. Die ander jong broer het in die slag van Delville Wood gedurende die Eerste Wêreldoorlog omgekom.
Langs ons sleep mense van Hermanus in met ʼn kortwiel Ssanyong Musso Korando. Hulle is oppad terug van Namibië. Eers breek die Korando se ratkas op Springbok omdat daar nie olie ingegooi is tydens die diens op Hermanus nie. Hulle wag 7 dae op Springbok om die ratkas te laat vervang ! By Solitaire , anderkant Sossusvlei , breek die jockey pulley wat die waaierband aandryf. Hulle bly 5 dae daar oor terwyl ʼn mechanic dit met Bostic probeer regmaak. By Swakopmund vertoef hulle ʼn verdere 5 dae om die pulley te laat regmaak. Toe hulle uiteindelik reg is om te ry sluit hulle die sleutels in die kar toe en moes ʼn locksmith R350 betaal om dit te laat oopsluit ! Hulle was oppad Caprivi en Vic falls toe maar besluit om liewer terug te keer en volgende jaar weer te probeer !
Ons beoog om môre aand langs die Oranje te slaap.
18 Junie.
Laasnag, op Vanrhynsdorp, hoor ons ʼn leeu brul. Ek staan op om te kyk en vir ʼn oomblik dink ek ons is al in Etosha ! Heelnag brul die leeu. Vanoggend loop vind ek uit oor die leeu. Nee, sê hulle by die kantoor, dis die boer langsaan se bul wat nes ʼn leeu brul ! Daar het jy dit !
Ons ry eers by Nuwerus aan om na die ou kerk te kyk. By Bitterfontein hou ons verby. Ons draai by Garies af en koop die lekkerste skaaptjops , wors en biltong en drink tee.
By die grensposte is almal vriendelik. Ons draai links en ry al langs die Oranje af om by Amanzi River Lodge kamp op te slaan, reg langs die rivier. Baie mooi plek. Mens kan roei op die rivier ook.
Garies se skaaptjops lê op die vuur en die glas rooiwyn sit in my hand. Ai,waarom is Afrika so ʼn wonderlike plek !
Dis so stil snags dat jy die Oranje saggies hoor verbyvloei.
19 Junie
Dit was so lekker rustig vanoggend langs die Oranje dat ons eers 9 vm. daar weg is. By Grünau afgetrek vir tee en ontbyt . Daar is padstal met die naam ‘Eat some more’ net as jy die Karasberge binnery wat die lekkerste Springbokbiltong verkoop. Op Keetmanshoop maak ons vol en merk dis heel te vroeg om daar oor te bly en besluit om eerder by Rehoboth oor te staan. Stop eers weer by Mariental. Klok in by Oanob Resort naby Rehoboth om 5h30.Dit was ʼn lang pad en ek kom toe agter ek het nog heel tyd te stadig met die Ducato gery. Teen 130 km/h loop hy net lekker ! Daar is darem iets aan stadig ry of "cruise" want dit voel mos asof jy die hele tyd ʼn video sit en kyk soos die landskap verby gly. Die veld is mooi en dit is ʼn prentjie om te sien hoe die son sak oor die wuiwende geel gras. Môre ry ek net weer 100 km/h. Die son is onder en ons skink ʼn glasie wyn. Buite waai so ʼn skraal windjie wat dit koud maak om buite te sit.
Die Oanob is ʼn mooi plek met goeie fasiliteite. Ons staanplek het sy eie private badkamer.
20 Junie
Die GPS vat ons tot voor Renette Smuts se woonstel waar ons beoog om twee dae oor te bly. Ons was laas in 1987 in die middestad van Windhoek en is werklik verras om te sien hoe dit verander het. Dis ʼn pragtige moderne, skoon stad met vriendelike mense. Dit het egter ook baie kosmopolities geword en het ʼn lekker gevoel as jy daar rondstap. Dis interessant dat al die plaaslike mense Afrikaans praat ,maak nie saak of dit ʼn Nama, Damara Herero, Himba of ʼn Duitser is nie !
Wat my egter baie geïnteresseer het, is die voertuie. Ek dink 50 persent van die karre is 4x4's en bakkies. Gebruikte motors kan hier invoer word, dus kry mens hier voertuie wat nie in RSA beskikbaar is nie. Ek ontmoet ʼn ou met die naam van Werner Cilliers in die parkeerterrein en hy wys my sy Dodge Ram DC met ʼn vyf liter supercharge enjin. Die bakkie het ook ʼn hoë suspensie wat dit laat lyk asof dit op steriods loop.
Gaan eet iets ligs saam met Renette by die lekker kafeteria van die Super Spar. Ons bestel Brötchens met Rouhak en Mettwurst. Gemaak net soos die Duitsers kan ! Kyk hier kry mens darem ʼn verskeidenheid van al daai Duitse worse. Ek koop oa egte ingevoerde Duitse ham. By ʼn Duitse slaghuis gaan haal die slagter ʼn groot stuk Rump en sny steaks wat hy vir my vakuum verpak. Net vir ingeval, laat ek ook ʼn gemarineerde skaapribbetjie inpak. Ons sal nie honger ly nie want die droë wors, Springbokbiltong, beesbiltong is ook nog daar om tussenin aan te peusel. Ek hoop daar is genoeg hout in die Etosha!
21 Junie
Ek ontdek vanoggend dat ek my konneksie vir die iPad by die huis vergeet het ! Moes vanoggend een gaan koop en besluit toe dat ons nog ʼn dag by Renette gaan oorbly want dan kan ons rugby kyk. Het gisteraand gaan uiteet en dis ʼn ander ervaring om te merk dat die wit ouens in die minderheid in die restaurant is ! Dis iets wat ons nie in die Kaap ervaar nie .
My horlosie is op Namibiese tyd ingestel , ʼn uur na SA , met die gevolg dat ek eers na die begin van die tweede helfte van die wedstryd inskakel! Dit nadat ek heeldag beplan het om die game te kyk !
Ek dink die Springbokke was gelukkig om te wen.
22 Junie
Neem swaar afskeid van Renette nadat ons twee dae by haar in Windhoek oorgestaan het.
By Okahandja draai ons in want ek wil Jonker Afrikaner se graf gaan opsoek. ʼn Merkwaardige man , gebore in Tulbagh in die Kaap en voortvlugtige omdat hy ʼn sendeling vermoor het en vlug met sy aanhangers oor die Oranje die dorsland in. Hy voer ʼn skrikbewind in die ou Suidwes onder die plaaslike bevolking en is die stigter van Windhoek. Hy bou ʼn kerk, huise asook die pad deur die Komashooglande na Walvisbaai om handel te dryf met die skepe. Hy skiet onder die Namas, Damaras, Herero en Ovambo’s en steel hul beeste. Oor n tydperk van 25 jaar verower hy die gebied noord van die Oranje tot in die hart van Ovamboland teenaan die grens van Angola. Hy sterf op Okahandja in 1861 en word daar begrawe. Sy kop verskyn ook op die Namibiese muntstukke.
Hy lê saam met ʼn paar Ovambo hoofmanne in ʼn helde akker begrawe. Met ons aankoms is ses mense besig om ʼn graf uit te messel van ʼn Ovambo hoofman wat onlangs oorlede is. Die grafgrawers is Ovambo,Damara en Herero maar kommunikeer met mekaar in Afrikaans ! Ek vertel hulle van die geskiedenis van Jonker Afrikaner wat hul baie interesseer.
Vandaar is ons oor Otjiwarongo en Outjo tot by die Etosha Game Lodge ,net so 9 km van Etosha se Anderson hek af. Pragtige kamp. Ons braai vanaand skaaptjops met mopanie stompies.
23 Junie
Arriveer omtrent 10h00 in Oukaukuejo. Die mense by ontvangs is vriendelik en ons kry staanplek 25 meter van die watergat af. Dis maar stofferig en die Ooste windjie waai die wit stof oral rond.
Die laaste keer wat ons hier gekamp het was in 1987 saam met die McLarens toe die seuns nog klein was. Francois en John James was agt jar oud! Bruce en Jan - Christiaan het omtrent die hele nag onder komberse langs die watergat gesit ! Die plek het baie verander en is nou ʼn kamp met uitgebreide fasiliteite. Die watergat is darem nog dieselfde. Ons het heeldag in die kamp gebly en die diere by die watergat dopgehou. Om 11h30 was daar baie aktiwiteite om die watergat met ʼn groot trop sebras, koedoes, springbokkies, olifante, vlakvarke, gemsbokke en voëls. ʼn Mens hoef eintlik nêrens heen te ry nie want die diere kom na jou toe !
Vanaand was daar weer olifante, kameelperde en jakkalse.
Toe ek my selfoon wil laai ontdek ek die laaier is weg. Het dit seker by Renette laat lê! Een van die dames by ontvangs sal dit vanaand huis toe neem om te laai.
ʼn Hier is baie gehuurde DC bakkies met oorsese mense wat rondtoer. Sommige het ook ʼn toergids wat bestuur, kamp opslaan en kos maak. Martie is my toergids !
24 Junie
Vandag is die eerste verjaarsdag van my kleindogter, Isabelle du Toit.
Ons het vroeg vanoggend in die rigting van Halali gery en eintlik baie min gesien. Hoofsaaklik Sebras en Springbokke en baie jakkalse. Later het ons ook Gemsbokke en volstruise gesien.
Omtrent 16h00 kom daar ʼn trop van 26 olifante met kalwers hier by die watergat aan. Wat ʼn verrassing toe ons sien daar kom nog ʼn kleiner teeltrop met kalwers aan. Ons sit nog so en kyk na die manewales van die jong olifante toe kom daar nog n derde trop met baie kalwers aan. Skielik is daar omtrent 60 olifante om die watergat en hul raas en praat met mekaar ! Dit was nou regtig iets besonders. ʼn Trop blouwildebeeste staan nader maar hulle waag nie om te kom drink terwyl al die olifante daar is nie.
Ons ontmoet vir Paul en Elsa Els van Potchefstroom met hul 1997 Land Cruiser. Watter interessante mense . Hulle het omtrent al die hele Namibiese wildernisgebiede deurgereis en is ook oppad via die Koudom na die Caprivi en Botswana.
Paul het in die Tzaneen distrik op ʼn plaas grootgeword en ken die diere en veld. Hy is ook blykbaar deur die land bekend vir sy gaarmaak van enige soort wilde diere soos, krokodil, renoster, pofadder, grond eekhorings ens. Braai toe saam ʼn lekker vet skaapribbetjie en dis duidelik Paul weet van kosmaak. Sit tot laatnag om ʼn hardekool mopanie vuur en gesels.
25 Junie
Weer vanoggend uitgery om na die diere op die groot pan te kyk. Groot troppe gemsbokke, volstruise, springbokke, blouwildebeeste jakkalse en later ʼn troppie kameelperde.
Naby ons staanplek bly daar ʼn groot familie grond eekhorings en hul verskaf baie vermaak . Sodra die ligte saans afgaan kom daar ʼn klompie jakkalse en dop die vuilgoeddromme om. Dit laat my dink aan die aand op Sossusvlei toe die jakkals Tertius Slabber se duur gemsbok fillet langs sy kop uit sy tent gesteel het !
So skuins langs ons staan ʼn goudgeel ouerige Landrover ( daai met die liggies wat so naby mekaar sit ). Dis twee jong mense van Kanada wat die Landrover in SA gekoop het en hulle toer SA, Namibië, Mosambiek,Malawie Botswana en Zambië en gaan die kar weer verkoop as hul klaar getoer het. Dis interessant om hul kommentaar oor SA te hoor. Hul sê toe hulle die Wes Kaap binnery toe voel dit soos Kanada want alles werk en dis skoon . Dis behoorlik asof hulle by ʼn ander land inry !Hulle het toe gaan uitvind hoekom dit so is ! Mooi so DA !
Later vanaand stap ons weer watergat toe. Daar is vyf groot olifantbulle en twee renosters wat water drink.
26 Junie,
Dis ons laaste dag in die Etosha. Ons ry in die rigting van Namatomi tot by ʼn mooi watergat en eet ontbyt en drink koffie. Daarna ry ons tot by Halali, die kamp in die middel van die Etosha en drink eers ʼn koue bier. Dis net Duitse toeriste om ons . Ons loop na die watergat so ʼn entjie daarvandaan maar behalwe dat dit mooi is , is daar geen diere nie. Dis ʼn pragtige kampplek met mooi fasiliteite en baie rustig en nie so woelig soos Okaukuejo nie. Eet eers iets vir middagete.
So 70 km verder is Namatomi waar
die ou Duitse fort eers was. Hulle is besig om die plek op te gradeer en alles is deurmekaar. Ons besluit om nie daar te bly nie maar eerder buite die Etosha te slaap waar dit ook goedkoper is.
By die uitgang sê die vrou ons moes al uitgewees het en omdat ons die paar uur langer vertoef het moet ons die R130 per dag toegangsfooi betaal ! Ons kry ook nie ʼn kwitansie nie !
Die Etosha is relatief duur in vergelyking met bv. die Kruger. Hier kos ʼn staanplek R420 per dag plus ʼn daaglikse toegangsfooi van R130. By die Kruger betaal jy ʼn eenmalige toegangsfooi.
ʼn Mens moet ook nie die twee parke probeer vergelyk nie. In die Etosha gaan soek jy nie die wild soos in die Kruger nie want hier kom die wild na jou toe as jy geduldig by die watergate wag. Hier is die wêreld oop vlaktes met groot troppe wild. Soms is dit net ʼn bietjie te vêr om behoorlik te sien.
Die plek is baie gewild onder die Duitse toeriste en orals sien mens gehuurde 4x4 's of groot busse vol toeriste. Stof is daar baie !!! Die kampplekke is nie op gras nie en die wit stof waai orals in.
Die Ducato is nou goed getoets op die grondpaaie en ek is heel beïndruk. Ek ry die banddruk op twee bar en dit maak ʼn groot verskil. Die paaie in die Etosha word nie goed onderhou soos die res van die paaie in Namibië nie en is plek- plek baie sleg. Wat my egter die meeste beïndruk is dat die reiswa heeltemal stofdig is , selfs teen die fyn wit poeierstof van die Etosha.
Vanaand slaap ons op ʼn gasteplaas met die naam Sachsenheim so 26 km buite die Etosha hek.
Dit kos R290 vir ons twee. Die Duitse eienaar sê die plaas is 10 000 ha groot en hy boer hoofsaaklik met beeste. Nogtans sukkel hulle en het hy die gasteplaas om sy inkomste aan te vul. Ai die arme wingerdboere van Stellenbosch wat met slegs 100 ha of minder moet klaarkom !
27 Junie
Lekker geslaap gisteraand. Ons was alleen in die kamp.
Ry vanoggend in die rigting van Tsumeb want ons wil die bekende Lake Otjikoto besoek. ʼn Merkwaardige plek. Dis ʼn sinkgat met ʼn onbekende diepte en loodreg kranse regrondom . Tydens die Eerste Wêreldoorlog toe SA die ou Suidwes Afrika binneval, het die Duitsers al hul kanonne, gewere en ammunisie in die sinkgat gegooi. Na 68 jaar is van die toerusting uitgeduik en is kan dit in die museum op Tsumeb gesien word. Dis ʼn baie interessante museum om te besoek. Daarvandaan ry ons na die Hoba meteoriet net duskant Grootfontein. Dit het 80000 jaar gelede neergestort en is blykbaar 160 miljoen jaar oud. Dis die grootste meteoriet in die wêreld en weeg ongeveer 80 ton.
Die swart ou by die kantoor sê jy het net Ovambo’s en Damaras sien hardloop toe die ding val! Ek het nie sy feite nagegaan nie , maar dit moes seker ʼn helse slag gewees het. Dink jou in jy sit nog so lekker en vleisbraai in die stilte van die bos en die volgende oomblik val ʼn warm klip hier langs jou die vuur dood ! Ek het aan hom gevat en dit voel ene yster.
Net voor die Hoba meotriet die vuur doodgeval het !
Vanaand slaap ons in Roy's Bush Camp , 55 km noord van Grootfontein oppad na Rundu. My mopaniehout vuur brand al klaar. Ek is vanmiddag vreeslik deur Martie uitgetrap omdat ek nie behoorlik kyk as ek onderdeur die bome ry nie. Eers wil ek nog stry maar toe ek die afgebreekte tak van die dak af moes trek, was die evidence daar ! Gooi toe vir Martie ʼn dubbel Gin en Tonic!
Hier is ʼn internet kafee in die middel van die bos ! Sal vir ou Nic Mostert daar op Velddrif moet laat weet hulle raak nou agter. My reisverslag tot dusver sal ek kan aan stuur.
28 Junie
Ry in die rigting van Rundu. Daar is ʼn kaplynbeheerpunt vir bek en klouseer en dieresiektes so 80 km van Rundu. As mens by daardie punt verby is voel dit skielik asof jy nou in Afrika is. Die mense, hul huise , die plantegroei is skielik anders. Dis nie meer Namibië nie ! Dis Saterdag en ons sleep Rundu binne oppad Shoprite toe om die voorrade aan te vul . Koop maar Shoprite aandele want Whitey Basson lees Afrika reg ! Ek dink ons was die enigste wit ouens in die winkel en moes stoei vir ʼn plek by die till.
Ek ontmoet Pieter Peyper in Shoprite. Hy is die eienaar van nKwazie Lodge so 20 km Noord van Rundu . Dis waar ons vanaand oorstaan. Reg op die Okovango met die son wat sak oor Angola. Hy het nog ʼn Lister wat water uit die Okavango pomp. Ai, dis lekker om daai doef - doef van die Lister te hoor.
Dis 27 grade en ons sit buite. Ek het nou-al amper ʼn bottel wyn uitgedrink want die atmosfeer inspireer mens. As mens in hierdie wêreld sit besef mens hoe gejaagd ons lewe daar onder in die Kaap is. Nou praat ek nie eens van Gauteng nie !
Ek kyk oor die Okavango en ʼn mens kan jou nie voorstel dat ons jong manne hul lewe daar oorkant in die bosse opgeoffer het nie. Ek was nie in die weermag nie en praat miskien uit my buurt.
Ek voel rustig.
28 Junie
Vanoggend ry ons al langs die Okavango af tot by Divudu.
Ons sit hier in die Ngepi Kamp met ʼn drankie en die Okavango wat rustig verbyvloei. Wat ʼn pragtige plek. Ons het nie bespreek nie en die kamp is vol maar hulle het vir ons plek gemaak in die area waar die 'Overlanders' oorstaan behalwe dat ons op die grasperk staan en die hele plek vir onsself het. Die rustigheid hier is besonders . Oorkant die rivier, aan Divudu se kant was blykbaar die hoofkwartier van die ou 32 Bataljon van die bosoorlog. Hier stop ʼn groot DAF army lorrie met n Nederlandse registrasie wat omgebou is in ʼn moerse motorhome. Dit behoort aan Sjorts en Monique Helderman van Nederland en hulle toer al vir twee jaar deur Afrika. Hulle het al langs die Weskus van Afrika afgekom en wil eventueel Kaapstad toe. Sjorts het dit self gebou en dit is iets om te aanskou. ʼn Vriend van hom het ʼn soortgelyke wa gebou en hul wedervaringe verskyn in een van die 'off road' tydskrifte.
Ons loop vir Francois en Tanja de Waal en hul twee kinders raak. Hulle is van die Paarl .Tanja se pa was Prof. Günter Gerischer van die bosboufakulteit en hulle ken vir Hennie en Hermien Vermaas.
Francois weer ken vir Louis Steyn want hy was jare gelede ʼn student van Louis. Hy is nou mede vennoot van Quality Projects Paarl.
Hier is baie voëls en mens hoor ook gedurig die visarende.
Die swembad hier is ʼn swemhok in die rivier met ʼn dek rondom. Jy hoef dus nie te worrie oor die seekoeie en die krokodille nie !
Vannag kompeteer ons met die gesnork van die seekoeie.
29 Junie
Vandag het ons nêrens heen gery nie en net rondgesit en die omgewing geniet. Dis nogal lekker om in so ʼn oop stort te bad met die blou lug en die voëls om jou. Die plek het die mees interessante storte en toilette tussen die bosse.
Ons het ook saam met Sjorts en Monique Helderman gekuier en al hul stories gehoor. Dit het hom drie jaar geneem om die camper te bou. Hulle het alles in Holland verkoop en toer voltyds met hul camper . Ons word genooi om binne te kyk . Dit is so goed ingerig dat hulle vir twee weke sonder enige bystand alleen kan bly. Die DAF is ʼn ou army lorrie van die Hollandse weermag. Daar is geen elektronika in die voertuig nie en is dus maklik om aan te werk. Die voertuig gebruik 3 liter per 100 km en die tenk vat 800 lt.
As mens met hierdie camper toer moet brandstofverbruik jou nie pla nie !
30 Junie
Ons bly nog ʼn dag oor in Ngepi.Laai die selfoon en ipad en stuur ʼn paar eposse. Braai ʼn lekker skaapribbetjie.
1 Julie
Vertrek vanoggend na Kongola, 189 km verder om by die Namushasha River Lodge oor te staan. Dis omtrent 20 km van Kongola langs die Kwandorivier.
Vanaf Rundu tot by Divudu , waar die Ngepi kamp is , word dit die Kavango streek genoem. Van Divudu tot by Katima Mulilo is dit die Caprivi.
Namushasha lê op die walle van die Kwando, nog ʼn groot rivier wat in die Okavango Delta uitloop. Dis ʼn pragtige Lodge met ook kampplekke. Hier is egter nie elektrisiteit in die kampplek nie maar warm water word in donkies gestook.Die man wat na die kamp omsien se naam is Olifant. Ek het vanaand ʼn warm stort geneem in ʼn oop stort met net ʼn klein flitsliggie en die sterrehemel. Ons sit om ʼn Mopanie kampvuur en luister na al die naggeluide. Die besonderse groot bome is iets om te aanskou.
Ek het vandag die toeriste ding gedoen en op ʼn riviervaart gegaan saam met die de Waal familie van die Paarl wat ons weer hier raakgeloop het. Martie het nie saamgegaan nie en het gesorg dat die kampvuur brand toe ek terugkom. Die krokodille hier is nogal groot en het sulke geel sterte.
Die gids vertel my hier is ongeveer ses verskillende swart stamme , elk met sy eie taal maar dat hul Lozie praat sodat almal mekaar kan verstaan. Dis die taal wat hulle oorkant die rivier in Zambië praat want die Caprivi was eers deel van Zambië voordat die Duitsers dit destyds geannekseer het.
Ons braai skaaptjops en dit voel of mens in die middel van Afrika in die bos sit -- geen ligte om jou nie, net die kampvuur en die naggeluide. Toe ons die ligte afsit om te gaan slaap is dit so donker dat mens beswaarlik jou hand voor jou oë kan sien. Die baie klein sekelmaantjie help ook nie veel nie.
Ek het op 27 Junie verslag gedoen oor die Hoba meteoriet daar naby Grootfontein maar het nie my feite reg gehad nie. Jacobus Brits het dit in 1920 ontdek toe hy in die veld gestap het en die swart klip tussen die wit kalkklippe gewaar. Toe hy met sy mes daaraan krap toe blink dit. Hy beitel toe ʼn stukkie af en neem dit na n geoloog by die Grootfontein myn wat dit toe identifiseer as ʼn meteoriet. Die Smithsonian Institute van Amerika het dit bevestig. Die meteoriet bestaan uit 82.3 persent yster en 16.4 nikkel.
In 1955 is die Hoba meteoriet tot monument verklaar omdat dit gevaar geloop het om as skrootyster verkoop te word ! Yskor het ʼn kwartmiljoen pond daarvoor aangebied weens die hoë gehalte yster. Die 80 ton ruimteklip is nie alleen die swaarste nie, maar ook die grootste bekende meteoriet op aarde.
2 Julie
Vanoggend kom die son op oor die Kwando delta en ek voel nie lus om verder te ry nie.
Vertrek na Katima Mulilo , die hoofdorp van die Caprivi. Dis nogal ʼn woelerige plek met verskeie verkeersligte. Koop voorrade by die Pick ʼn Pay en ry na Ngoma , die grenspos, waar ons Botswana binnegaan. Orals vriendelike mense. Min papierwerk aan die Botswana kant. By Kasane aangekom is dit ʼn ander storie. Ons het nie besef dat die begin van die skoolvakansie ook die hoogseisoen inlei nie. Ons kry darem ʼn staanplek by die Toro Lodge , in die rigting van Gazungula nadat ons aanvanklik gemik het vir die Chobe Safari Lodge. Die Chobe is ʼn populêre plek en hier is baie toeriste. Ons mis dadelik die rustigheid van die Caprivi. Die kampplek is nou vol en oral brand die vure en ruik dit na braaivleis. Ons eet vanaand een van Namibië se rump steaks tesame met n Windmeul Sauvignon Blanc.
3 Julie
Vanoggend vroeg ry ons na die Chobe wildpark net om by die hek te hoor dat slegs 4x4's toegelaat word. Ons wag totdat een van daai oop wildkykvoertuie met min mense verby kom en vra of ons kan saamry,natuurlik teen ʼn fooi. Die Botswana park toegangsfooie is nogal hoog. Jy betaal R100 per persoon . Het nie veel wild gesien vir die R600 nie maar nou kan ons darem ten minste sê ons was ook toeriste op een van daai oop bakkies! Twee oop voertuie met Japannese toeriste kom aangery en almal het die wit maskers oor hul mond en neus. Dit lyk kompleet soos n hospitaal se teaterspan op safari ! Het dit nou snaaks gelyk ! Arme mense,dat die lug nou so besoedel in die bos kan wees.
Daarna eet ons middag by die Chobe Safari Lodge en lees die eposse.
Die namiddag gaan ons op ʼn drie uur lange bootreis in die Chobe op en keer eers donker terug. Dit was baie spesiaal want die dierelewe langs die rivier is besonders. Daar is verskeie eilande in die rivier en die olifante en buffels swem deur die rivier om daar te wei. Die hoogtepunt vir Martie was om te sien hoe ʼn groot olifantbul deurswem. Die rivier is diep en soms raak hy skoon weg onder die water dat net sy slurp uitsteek. Dis seker sy manier van snorkel! Ons het ʼn trop van oor die 60 olifante op die eiland sien wei. Die voëllewe is ook ongelooflik.
Die toeriste bedryf hier is egter baie bedrywig en ek dink Julie maand moet mens hier wegbly.
4Julie
Ons vertrek vroeg en wil op Nata gaan slaap. Eers ry ons na die Gazungula grenspos om te kyk hoe die twee ponte die voertuie en mense oor die rivier na Zambië vervoer. Daar is ʼn ten minste ʼn 4 km ry swaar voertuie wat wag om oor te gaan. Hul gee ons spesiale toestemming om tot voor by die pont te ry om foto’s te neem. Martie sê sy het lanklaas so iets aanskou. Ek vra ʼn bestuurder van een van die swaar voertuie hoe lank hy al wag : Drie dae !! As jy nie hier die Afrika geduld het nie sal dinge nie vir jou werk nie. Met die verbyry merk ek ʼn klompie bobbejane wat tussen die lorries rond beweeg om al die oorskietkos van die bestuurders te aas. Hulle lyk nie eintlik gepla deur al die mense nie . Ek merk ook olifantmis lê.
Dis ʼn mooi stuk oorgeboude pad Nata toe met heelwat wild te sien oor die 200 km roete, veral olifante. Ongeveer 50 km duskant Nata is ʼn bek en klouseer beheerpunt. Hier moet jy uitklim en jou skoene dip en jou motor ry ook deur ʼn dipbad. Geen vleis, groente of vrugte mag hier deurgeneem word nie. Die paar stukkies vleis wat ons nog oor het , het Martie versteek. Die amptenaar wil nou die yskas deursoek en ek sê dis reg maar hy moet sy skoene uittrek as hy in my huis wil inklim. Dit het hy nie verwag nie en steek net daar vas ! Hy kyk by die deur in en sien twee skorsies lê wat ons daar vergeet het. Ek moes vanaand sonder my skorsies klaarkom maar het darem vleis gehad om gaar te maak.
Ons vind die klein dorpies in Botswana het nie rêrig winkels nie en nêrens kan mens vleis koop nie.
Die bekende Nata Lodge lê so 7km buite Nata en ons slaan daar kamp op. Dit lê in die bosveld met sanderige kampplekke. Martie hou nie van sand nie veral as dit so effens swarterig van kleur is. Ek haal my ysterpot uit en maak ʼn potjie. Sit totdat die kole nie meer gloei nie. Ai, dis lekker so in die bos.
5 Julie
Die 300 km tussen Nata en Maun is maar eentonig met ʼn pad vol slaggate.
Ons bly vanaand by die Island Safari Lodge , 9 km buite Maun , met die rivier nie meer as vier meter van die reiswa nie. Dis pragtig hier en die voëllewe is besonders. Die mooiste bome met reusagtige wilde vye . n Mens hoor ook die beeste met die klokke om die nek in die verte. Dit laat my mos dink aan die keer toe ons saam met die Geysers en Boonstras in die negentigs by Etsha 6 aan die onderkant van die Delta langs die rivier gekamp het. Daardie nag toe raas die donkies met die klokke om die nek so dat ek en Jack Geyser hul met ʼn flitslig gaan jaag maar beland toe tussen ʼn klomp seekoeie! Jy het nog nooit mens so sien hardloop nie! Ek het nog altyd gedink ou Jack is ʼn brawe ou omdat hy so groot is maar vir elke een tree wat hy gee moes ek vyf insit om by te bly! Ons gaan vanaand slaap met ʼn paddakoor in ons ore. Môre vat ons die pad Gobabis toe.
6 Julie
Ons staan 6hoo op want ons wil deurry tot op Gobabis. Die voëls word saam met ons wakker en dit is iets om te hoor. Toe ons om 7hoo vertrek moet jy die voëls hoor. Ek sal maklik nog ʼn dag daar bly net om na die voëls te luister. Ons was laas in 1996 in Maun en toe was dit ʼn klein plekkie. Dit het geweldig uitgebrei en daar bly baie mense.
Die pad van Maun na Ghanzi het geen drade langs die kant om die vee in te hou nie. Dit lyk ook asof Botswana se hele donkiebevolking daar bly. Dis interessant dat mens nie Nguni beeste daar sien nie maar dit lyk soos ʼn Brahmaan kruising. Nes mens lekker op spoed is moet jy stop vir beeste of donkies wat oor die pad loop. Op een plek lê ʼn donkie in die middel van die pad, gekwes. Iemand het hom raakgery en ek hoop hy word uit sy ellende verlos.
Die Trans Kalahariehoofweg is ook die hoofaar van Namibië na die noorde van Afrika. Die swaar padvervoer eis sy tol en die pad is vol slaggate.
Vanaf Ghanzi is daar weer drade en kampe langs die pad en dis duidelik dat die boerdery hier meer gestruktureerd is. Plase het ook naamborde.
By die grenspos, Mamuno, aan die Botswana kant loop alles vlot maar by Buitepos aan Namibië se kant is dit ʼn ander storie. Ongeveer 50 mense drom saam in bondel met net een amptenaar om die paspoorte te stempel. Ek loop later na ʼn ander kantoor om die voertuig heffing te betaal en los Martie in die bondel. Toe ek terugkom staan Martie sowaarlik tweede van voor ! Sy het blykbaar vir die ander mense rondom haar gesê sy is oud en kan nie so lank staan en wag nie. Kan jy dit oorvertel !
By Gobabis aangekom ry ons na ʼn oorstaanplek met die naam ' Die Dam '. Dit lê op die rand van die dorp langs die dam wat die dorp se water voorsien. Ons ontmoet die eienaar , Paul Ackerman, ʼn boer van die distrik van die plaas Keitsas, waar hul besig is om te braai en vis te vang. Later kom Johnny die bestuurder aangery en bied aan dat ons langs een van die chalets staan sodat ons die badkamer en krag kan gebruik. Ons staan langs die dam met ʼn klompie eende wat kom kos bedel. Net gister nog sê ek dis die laaste keer wat ons langs water staan.
Dit was weer lekker om in ʼn dorp in te ry en die gevoel te kry hier werk dinge. Botswana se dorpe en infrastruktuur laat veel te wense oor. Dit lyk net deurmekaar en baie morsig om die minste te sê.
Ons is ook deur die laaste bek en klou beheerpunt en my taktiek van “as jy my camper wil binnegaan moet jy jou skoene uittrek” , werk beslis. Hulle wil nie skoene uittrek nie !
7 Julie
Gisteraand voel ons vir die eerste keer die koue wat uit die Kaap hier in Namibië optrek. Ek dink die feit dat ons so na aan die dam staan , het ook die temperatuur laat daal. Gobabis was vanoggend ses grade.
Ek koop die heerlikste rump steak, biltong en droëwors. Toe vat ons die grondpad oor Leonardville na Stampriet en vandaar na Mariental. Ek het die banddruk verlaag na twee bar want dis amper 300 km grondpad. Is dit nou mooi daar al langs die Kalahari af. As jy regs draai nà Leonardville ry mens op en af oor die groot rooi sandduine. Die veld is pragtig met die doringbome en die geel gras tussenin.
By Mariental draai ons af en ry vir 35 km weer suid oos op ń grondpad na Lapa Lange Lodge. Dis ʼn pragtige plek met baie wild. Die Lodge self is baie luuks met net die beste --- pragtige dekor met duur leer meubels. Daar is ʼn groot mensgemaakte dam vir die diere om te kom water drink. Twee wit renosters kom vreet ʼn bietjie voer wat vir hulle uitgesit word.
Ons ontmoet drie gesinne van Worcester , tafeldruiwe boere, wat saam kuier. Die een gesin het hul hele sleepwa met goed verloor toe ʼn konstruksie lorrie die sleepwa van die Land Cruiser afgeruk het. Daar was blykbaar baie stof en die bestuurder van die lorrie het hulle nie gesien nie . Lekker gesellige jong mense . Ek sien hulle dra ʼn 5 L plastiek kannetjie rond en skink daaruit. Dis toe hul brandewyn voorraad wat hulle as petrol by die doeane verklaar ! ʼn Mens leer altyd iets.
Vanaand gaan dit baie koud word hier in die ooptes. Gelukkig het ons reiswa ʼn lugreëling wat ook warm maak. Ek maak ʼn vuur van Mopaniehout wat ek nog op Maun gekoop het ,en braai een van daai dik Rump steaks wat die slagter van Gobabis spesiaal vir my gesny het . Wat is dit dat die vleis van daardie wêreld net anders smaak?
Met die rooiwyn en te veel steak sal ek seker vannag onrustig slaap maar wie gee om !
8 Julie
Vannag was werklik koud want toe ons vanoggend opstaan is die skottelgoedwater gevries. Ons ry die 35 km met die grondpad terug Mariental toe waar ons volmaak en ʼn Wimpie koffie bestel. Daar waai so ʼn koue Ooste windjie skuins van agter teen die wa en ons laat waai . Mariental het baie plaaslike inwoners en hul praat meestal Damara en Nama en Afrikaans. Gisteraand vra ek een van die werkers daar by die Lodge om vir my ʼn braai nader te sleep en ek vra hom wat se taal praat hy. Hy sê net Ovambo en Afrikaans ! Waar val ons uit in Suid Afrika ?
Ons sleep Keetmanshoop om 13h00 binne en koop vars gebakte broodjies by die Spar want die koue steak van gisteraand saam met dik gesmeerde botter op die vars brood is mos lekker middagkos.
Iets wat mens ook in Namibië sien is die mense wat rondstaan en nie werk het nie. Hulle lyk honger en verwaarloos. Keetmanshoop is skoon en daar lê nie papiere of rommel in die strate nie. Ons het dieselfde in Gobabis gesien en die dorpies in Botswana steek sleg af teen die skoon Namibiese dorpe.
By die grensposte loop alles glad want ons was omtrent die enigste mense wat deurgaan.
Die 120 km verder na Springbok vlieg verby. Ons ry eers weer by die Spar aan om hoender te koop vir ʼn stoofkossie want na amper drie weke van steak eet soek mens ʼn bietjie afleiding. Oorkant die straat staan ʼn seuntjie van nie ouer as tien nie en vra kos . Ons gee hom ʼn brood en hy is daar weg met ʼn dankbare : " Dankie Tannie ! "
Ons soek die Springbok karavaanpark en word verras met ʼn netjiese plek met goeie geriewe teen ʼn baie billike tarief en weg van die N7 af. Dit is in privaatbesit en word blykbaar goed bestuur.
Die hoenderstofie word getoor met ʼn bietjie Maleise kerrie, knoffel en groente . Vanaand lê ek rustig hier tussen die koppe van Springbok .
9 Julie
Laasnag was weer ʼn koue nag hier op Springbok. Vanoggend kry ek die 59 jare Paul Gouws by die opwasplek. Hy lyk goedversorg maar het ʼn hartseer trek op sy gesig. Hy vertel hy is oppad terug Potch toe nadat hy gaan werk soek het op Vredenburg en dat hy vanaf September aangestel is. Blykbaar in konstruksie. Skollies op Vredenburg lê hom voor by die bushalte ,steek hom met ʼn mes en besteel hom. Nou het hy niks en moet ryloop en bedel om weer by die huis te kom. Ons maak die koskas leeg en gee hom geld sodat hy kan aangaan. Hoe weet mens wat is die waarheid ?
Op Garies hou ons stil by die slaghuis om ʼn halwe lam en twee skaapribbetjies te koop. By Klawer trek ons af vir ʼn Wimpy koffie . Dis ook daarvandaan tot by Citrusdal waar mens geduld moet hê want jy moet kort- kort stop weens die padverbouings . ʼn Mens spandeer maklik ʼn ekstra uur op die pad.
Ry mens vanaf die noorde Bitterfontein in en jy kyk regs is daar ʼn klein begraafplaas daar doer in die veld, seker nie meer as tien grafte nie. Ek draai af en ry met die grondpad in ʼn westelike rigting. Net voor die begraafplaas op die draai, is daar ʼn naambord wat die plase in daardie rigting aanwys : Rietpoort, Putsekloof, Molsvlei, Lepelfontein en Stofkraal. Plaasname het my nog altyd geïnteresseer en ek wonder altyd hoe kry ʼn plaas sy naam. Ons stop en klim deur die lyndraad en stap oor die veld na die grafte. Dit is netjies afgekamp met ʼn hek. Dis die grafte van Coetzee, Engelbrecht, de Klerk Pool en van der Westhuizen. Dis veral die grafsteen van Jacobus Johannes de Klerk , gebore 11 April 1936 en sterf op 14 Januarie 1944 wat my aandag trek. Die grafsteen is van sement gemaak en die skrywe is in die nat sement met die hand aangebring.n Mens kan nounog die hartseer daarin lees. Wie is die mense wat so alleen in die veld begrawe is ?
Net voor Citrusdal koop ons weer lemoene en nartjies langs die pad wat mens kan uitdeel as jy hier by die huis aankom.
Bo-op die Piekenierskloofpas kyk jy af op ʼn ander wêreld, veral as jy so lank in ʼn droë stowwerige land rondgery het. Dis nou 16hoo en die laatmiddagson laat alles so sag lyk. Die graan lyk mooi en alles voel so oop en groen. Dit voel mos asof jy terug is in die beskawing. Daarmee bedoel ek nie dat waar ons gekuier het dit nie beskaaf is nie maar hier lyk dit beslis Westers.
Om 17h30 stop ons by Hennie en Hermien Vermaas op Stellenbosch om vir Niklaas , ons hondjie, op te laai. Toe ons Somersetwes inry sak die son oor Valsbaai. Iets op ys sal nou lekker smaak !
Naskrif :
Ons het 6500 km gereis en die Ducato se gemiddelde brandstof verbruik was 10.7 l/ 100 km.
Namibië bly ń mooi plek maar dis ook nie meer soos 20 jaar gelede nie. Dit is nie meer goedkoop om daar vakansie te hou nie maar beslis die moeite werd. Ons gemiddelde verblyfskoste per nag was maar R520. Toerisme het toegeneem en ons Suid Afrikaners betaal nou dieselfde as die oorsese toeriste. Die nasionale parke het veral duur geword ,bv. om een nag in die Etosha te kamp kos , R430 vir twee persone. Die blyplekke buite die Etosha is ń bietjie goedkoper maar om elke dag eers 20 km te ry tot by Okaukeujo en R130 toegangsfooi te betaal is miskien nie die moeite werd nie. Die watergat in die aand is die moeite werd. Die kamppersoneel is egter baie vriendelik.
Die sogenaamde ' Overlanders ' met die jong mense lyk vir my lekker. As ek so kyk na al daardie jong hubare dames wat saans tent opslaan en om die kampvuur sit en gesels wonder ek wat sou ʼn Weskusklong gedoen het. Martie herhinder my ek sal niks kon regkry nie want ons Weskus mense kan mos nie Engels praat nie ! Daar het jy dit nou ! Maar ons kon darem beduie !
Vat julle motors en gaan kuier in daai vêr wêreld !
Danie en Martie du Toit
13 Julie 2014