Oupa met sy kleinseun,Jacobus Everhardus (Boeta),sy lemmetjieboom en kiesieblare.(1970)
Ek en oupa voor die Hilton Hotel na die gradeplegtigheid in 1972. Hy het sy hoed vir my geleen.
OUPA KOOS SE GEITE
Jacobus Everhardus van Niekerk (Koos), gebore 13 Februarie 1895, was ʼn besondere mens en ek het
dit goedgedink om iets oor hom te skryf sodat sy kleinkinders, wat hom miskien
nie so goed geken het nie, daarin kan deel. Ek skryf sommer net gebeurtenisse
soos dit by my opkom en nie volgens ʼn spesifieke volgorde nie.
Ons huise op Koperfontein was langs mekaar en
omdat my pa gedurende die week op Langebaanweg moes werk, was Oupa ook ʼn vaderfiguur
vir ons.
Koos van Niekerk het arm grootgeword soos dit maar destyds met die plattelandse Afrikaners die geval was. Hy vertel hoe hy en sy broers as klein seuntjies onder streepsakke
moes slaap omdat daar nie genoeg komberse was nie. Vir ekstra hitte het hulle saans ʼn poepkompetisie gehou ! Sy pa het hom as ʼn baie jong seun uit die skool gehaal om te kom help gedurende ploegtyd. Hy is
nooit weer terug skool toe nie en Ouma Lenie (gebore Greeff) het hom verder
geleer en jare later kon hy sy eie besigheid suksesvol bedryf.
As jong man moes hy baie hard werk en toe hy later trou en ʼn familie begin was die druk groot. Hy
het allerhande werk gedoen wat merendeels landbou verwant was. Op die plaas
Daschbos, in die Porterville distrik, het hy as jong man sy hande deurgewerk.
Hy vertel dat hy dikwels met plofstof rotse moes wegskiet om landerye te maak
en het ʼn paar noue ontkominge gehad omdat die lont soms ʼn bietjie kort was. Hy
het ook nie opleiding gehad om met plofstof te werk nie. Saam met hom het ʼn man
gewerk wat as die plaaslike tiervanger bekend gestaan het,Hendrik Tiervanger. (ʼn
luiperd is destyds ʼn tier ʼn tier genoem.)
Oupa vertel dat Hendrik ʼn groot slagyster in die berg opgestel het met ʼn stuk vleis as aas. Hy het dan ʼn lang bamboesstok met ʼn rooi vlag aan die slagyster vasgemaak en dan die vlag met ʼn verkyker dopgehou. As die vlag gesak het, was daar ʼn tier in die slagyster. Oupa Koos is eendag saam
met ou Hendrik die berg op om ʼn tier in die slagyster te gaan vakant maak. Die
klomp plaashonde het saamgegaan, onder andere ʼn baster Fox Terriër met die naam
Tiekie. Die luiperd was rasend van woede en pyn want sy agterpoot het in die
slagyster vasgesit.
Die honde hol stert tussen die bene, al tjankende weg, behalwe Tiekie, wat verwoed vorentoe storm
en op ʼn manier tussen die voorbene van die tier deurglip en hom aan sy keel
beetkry. Hendrik het die tier ʼn doodskoot gegee maar Tiekie het bly klou totdat
hy later agterkom hy het die tier doodgebyt ! So windmaker was hy dat die ander
honde nie eens nader mag kom om te ruik nie. Slegs hy kon sy been teen die tier
lig!
Later het die Van Niekerk familie op die plaas Leliefontein, so entjie van
Koperfontein af op die Koringbergpad gebly, waar Oupa ʼn skoenmaker was. Met sy
dikwiel Hercules en die skoene wat so oor die ' handle bar ' hang, smous hy van
plaas tot plaas. Op die plaas, Pampoenkraal duskant Koringberg, kry hy ʼn
speenvark as betaling. Hy bind die vark se bene mooi bymekaar, maak dit lê agterop
die ‘carrier’ van die fiets met sy snoet agtertoe,en bind hom stewig met ʼn riem
vas. Oppad terug Leliefontein toe is daar ʼn lang steil afdraande. Die Hercules
se wiele sing op die gruispad soos hy teen die afdraande spoed optel. Die vark
lê doodstil. Die volgende oomblik tref die voorwiel ʼn groot klip wat die
wadrywers agter die wiele sit as hulle halfpad die esels laat rus. Hoe vêr hy
oor die gruispad geskuur het, weet hy nie, maar toe alles stil word kon jy net
die getjietjie van die agterwiel hoor wat nog draai. Die speenvark was veilig.
My ma vertel oupa moes vir ʼn tydjie in die bed bly terwyl ouma Lenie met
lampolielappies en allerhande salfies die nerwe dokter.
Later los hy die skoenmakery en kry werk by ʼn koringmeul op Hopefield. Ouma vertel hoe sy hemp
op sy skouers deurgeskuur was soos hy die swaar sakke koring moes dra. Daardie
dae het ʼn vol sak 200 lb. geweeg. Oupa was kort van postuur en nogal sterk. Ek
onthou hy was kliphard as mens aan hom vat en het na harpuis geruik.
Op Koperfontein was daar ook ʼn koringmeul wat hy toe later koop en so sy eie besigheid begin. Buite
op die meulhuis in rooi letters het gestaan: J E van NIEKERK .ALGEMENE
HANDELAAR EN MEULENAAR. Latere jare was dit die enigste granietsteen meul wat
oorgebly het in die Sandveld. Op Koperfontein was dit ʼn landmerk. Al die boere
in die distrik het hul koring gebring om te laat maal. Die meul het bestaan uit
twee ronde granietstene waarvan die onderste een staties was terwyl die boonste
een draai. In my besit is nog van die ou gereedskap wat in die meul gebruik is.
Na ʼn sekere tyd moes die boonste los steen afgehaal word om die onderste steen
se groewe weer skerp te kap. Dan het Frans, oupa se handlanger, dae met ʼn hamer
en bytel sit en kap. Dit was altyd vir my snaaks om vir Frans met een van oupa
se ou brille te sien – dit was om sy oë te beskerm teen die granietspatsels. Die
struktuur van die meul was van hout met ratte en dryfbande wat oor poelies loop,
geute met klappies en allerhande goeters. Die warm gemaalde meel het in twee
sakke geloop wat Frans op ʼn skaal moes afweeg. Heel fassinerend. Die lekkerste
was op jou hand onder die geut te hou waar die warmgemaalde ongesifte meel in
die sakke val. Ouma Lenie het dikwels vir my ʼn kom gegee om van die warm vars
meel te gaan haal. Dan bak sy sulke groot hoë brode --die stoom trek so as jy
die korsie afsny! Met dik tuisgemaakte plaasbotter en korrelkonfeit was daar
min dinge lekkerder.
Die Rusten Hornsby enkelsilinder masjien wat die meul aangedryf het, was vir my as seuntjie ʼn
wonderwerk. Ek onthou die twee vliegwiele aan weerskante het bokant my kop
uitgestaan. Dit het diesel as brandstof gebruik en kon ook op vuil olie loop. Daardie
oliereuk as jy die masjienkamer instap sal ek altyd onthou. Om die Hornsby
soggens aan die gang te kry was ʼn hele proses. Eers moes die masjien aan sy
voorkant met ʼn vlam warmgemaak word en dan met wind uit ʼn groot drukbottel word
die silinder aan die gang gestoot. Ek het een oggend gesien hoe vier manne die
slinger moes draai om die Ruston Hornsby aan die gang te kry omdat die
windbottel gedurende die nag gelek het.
Daardie dag was oupa se draad ekstra kort. Ek het soggens wakker geword met die
klop – klop van die Hornsby se enkelselinder.Dit het my altyd rustig en veilig
laat voel.
Oupa het ook ʼn kragopwekker met ʼn batterystelsel aan die Honrsby gekoppel sodat ons saans na
die radio kon luister. Dit was elke aand ʼn hele ritueel. Die groot draadloos
het op die 'side board ' gestaan met ʼn groot stoel langsaan. Dit was oupa se
sitplek. Ouma het langs hom op ʼn eetkamerstoel gesit en ons ander klomp op die
bank. As hy die eerste knop aan die linkerkant draai om die draadloos aan te skakel mag daar
nie gepraat word nie. In die middel tussen die knoppe, het so ʼn ronde groen oog
gesit wat begin gloei en al hoe helderder word totdat die klank skielik
deurkom. ʼn Wonderwerk ! Dit was amper soos kerk want niemand mog praat nie en
oupa het net so nou en dan sy kop geknik as hy saamstem met die nuusleser. Om
na 'Die du Plooys van Soetmelksvlei ' te luister was elke aand ʼn hoogtepunt. As
die klanke van Rachmaninoff se Variasie No 18, die kenwysie van die Du Plooys,deur
die aandlug trek het alles tot stilstand gekom. Die gewilde radiostorie het
selfs veroorsaak dat bidure se tye moes verskuif word omdat mense eerder daarna
geluister het as om die biduur by te woon. Na die tyd het ouma Lenie tee en
beskuit voorgesit terwyl die aand se episode in detail bespreek is. Ons het
soms ook na die ‘Lede van die Mielieblaarklub’ geluister met oom Mertens wat
die draak steek .
Die Ruston Hornsby het vir baie jare diens gedoen. Ek het nog steeds die groot ‘shifting spanner’ in
my gereedskapkas. Later moes dit plek maak vir ʼn Deutz masjien wat oupa deur
Aandrag van die Kaap met die hulp van oom Gert Visser van Diemerskraal gekoop
het. Dit was net nie dieselfde nie en die meul het sy karakter verloor.
Oupa se handlanger, Frans, was ʼn interessante man. Hy en oupa het min met mekaar gepraat en alles
is met handgebare gedoen. Miskien was dit die geraas van die meul maar dit was
snaaks om hulle twee te sien kommunikeer.
Eendag was daar amper ʼn lelike ongeluk. Die groot wiel of ‘pulley’ waaroor die aandryfband vanaf die
enjin loop, het ʼn lang oop as gehad wat op sy verste punt in ʼn laer gelê het. Die laers moes gereeld geghries word en een oggend terwyl oupa besig was, haak sy oorjas sy mou in die as en begin dit hom
al hoe nader aan die groot wiel sleep. Frans het gelukkig sy hulpkreet gehoor
en hom net betyds losgesny. Ouma Lenie het die geskree gehoor en hardloop na
die meulhuis maar gly met haar speksoolskoene op die gras en val haar skouer
uit potjie.
In en om die meul het baie dinge gebeur met al die mense wat gekom en gegaan het.
Die figuur van oupa was alombekend. Hy het altyd ʼn wit stofjas gedra met so ʼn vaal hoed op sy kop.
Sy ooghare en snorretjie was wit van die meelstof. Die Sandveld was vol
karakters As jong man kon Tokkie van Schalkwyk van Wapadsvlei ʼn 200lb koringsak
met sy regterhand in een beweging bo-op die wa gooi! Dit was vir oupa tog te
lekker om met die jong manne te gesels. Eendag staan Frans (Mallies) Laubscher
van Schaapplaas en Thys (Stap)du Toit van Karbonaatjieskraal met ʼn windbuks na ʼn
mossie op die telefoondraad en skiet.
Die mossie koes net elke keer. Wag sê oupa, hy sal vir hulle wys hoe skiet mens
maar hulle moet net vir hom wys waar sit die mossie want het nie sy bril op nie.
Met een skoot skiet oupa (ʼn helse gelukskoot ! ) die mossie bo van die draad af
en stap doodluiters weg.
Daar het altyd ʼn oom met die naam Rhaal, van die Darling omgewing, met so ʼn drie ton Chev lorrietjie
gekom met ʼn vrag koring wat oupa moes maal. Hy was verskriklik groot en soggens
het die plaasmense hom met moeite agter die lorrie se stuur ingeprop en daar
het hy die hele dag bly sit. Die lorrie het heeldag voor die meul gestaan en
ouma Lenie het kos en drinkgoed aangedra. Oupa het selfs ʼn stoel uitgedra en langs
die lorrie staan gemaak waarop hy kon sit terwyl hulle gesels. Waaroor praat
mens heeldag met een man ?
Dan was daar die Duitse Oom Rhix met ʼn 1943 ex Army Harley Davidson kompleet met ʼn 'side car
'wat altyd een sak meel kom laai het. Met sy woeste baard en ronde valhelm was
hy seker die kontrei se eerste Hell's Angel ! Ons en die kleurling kinders was
maar bang vir die rowwe oom.
Nou en dan het daar ook ʼn onwettige transaksie in die meulhuis plaasgevind. Oom Jan Lampie, van die plaas Vondeling langs die Bergrivier, het sy witblitsketel met oortollige druiwe gestook en dikwels die
meulhuis gebruik om ʼn transaksie af te handel. Miskien het oupa ʼn bietjie kommissie
verdien! So kom dit dat daar ʼn vaatjie witblits afgelewer word vir iemand om te
kom afhaal. Sersant Bleeker van Hopefield het blykbaar iets vermoed en kom
ondersoek instel. Oupa vertel hy het ʼn meelsak oor die vaatjie gegooi en so sit
ou Bleeker heel middag op die vaatjie met hom en gesels sonder om enige iets
agter te kom. Wie sal dan nou ook vir oom Koos van Niekerk van onwettige
witblitshandel kon verdink ? Hy is dan ʼn ouderling!
Die groot meulenaars het mettertyd die kleiner meultjies op die platteland uit die mark gedruk en oupa
Koos moes die meulhuis opgee. Gelukkig was hy darem al by aftrede. Die laaste
oorblywende granietsteenmeul in die Sandveld het sy deure gesluit en ʼn era was
verby.
Oupa Koos het ʼn 1939 Ford bakkie gehad, sy enigste vervoermiddel. Hy het eers op ʼn laat ouderdom
begin motor bestuur en was dus nie die beste bestuurder nie. Ek onthou hoe hy
altyd die meganiese remme van die Ford gestel het. Hy het met die bakkie voor
die agterdeur weggetrek dat die klippe so spat reguit na die hoek van die erf
waar dit sanderig was, en dan die rem getrap. Uit die sleepmerke op die sand
kon hy aflei watter wiel rem nie behoorlik nie en dan het hy onder die bakkie
ingeskuif om die rem te stel.
Hy het later die bakkie aan iemand van Gansekraal verkoop en ʼn nuwe groen 1951 Ford Consul MK I
aangeskaf. My pa het terselfdertyd ook een gekoop, ʼn bloue, nadat sy 1939 Ford
sedan met die ‘teardrop ‘ hoofligte een middag oppad van Langebaanweg
uitgebrand het. Dit was oupa se eerste nuwe kar ooit. Oupa vertel hoe hy as
kind die eerste motorkar gesien het en hoe hulle op die spoor van die kar in
die sandpad agterna gehardloop het om te kyk waar die wiele sulke
sandwalletjies gooi as dit om ʼn draai gegaan het. Hy het in sy leeftyd ook die
eerste satelliet sien ! Merkwaardig.
Ek onthou hoe ons een Desember met die ‘39 Ford bakkie gaan vakansie hou het in die Strand. Ons het
gekamp en ʼn mens kan dink wat alles moes saamgaan. Nadat alles opgelaai was,
het oupa ʼn seil bo-oor gegooi en ek, my pa en ons baster Bulterriër, Spottie,
het hoog agter op die vrag gesit terwyl ouma, my ma en Kobus voor langs oupa
inklim. Dit was ʼn lang ent Strand toe want oupa het stadig gery en die ratte
het baie gekrap toe ons anderkant Rondomskrik teen Kissenbosch se bult uit is.
Ek het tussen my pa se bene gesit, uit die wind uit, maar Spottie het die hele
tyd met sy neus in die wind gestaan. Dit was soos ʼn ‘slow movie ‘ daar van bo
af met die landskap wat so stadig verby seil. Eers die geel stoppellande met
plaasname soos,Karbonaatjieskraal, Sandvlei, Enkelvlei, Holvlei,Vaalkloof,
Witdam, Hamburg en vele meer en dan duskant Malmesbury die eerste groen
wingerde van Rooidraai en toe ons bo-op die bult kom sien ons Tafelberg daar
vêr lê.
Op Malmesbury gooi ons petrol in en ouma sien die Castrol advertensie in die venster en sê: “ O!
Hulle verkoop kastrolle ook hier ! “ Vanaf Malmesbury verander die landskap en
ons begin die blou berge van die Boland sien met die groen wingerde teen die
hange. Deur Stellenbosch verstom die groot akkerbome ons met die water wat in
leivore langs die pad loop. Op Koperfontein het ons net bloekom- en peperbome
en ʼn reservoir wat reënwater van die huis se dak opgevang. Die koel luggie van
die Strand is ʼn lafenis na heeldag se gesit in die son. Spottie het eers teen
vyf wiele sy been gaan lig voordat hy water gevra het. Dis interessant om hom
dop te hou. Hy lig eers die regter agterbeen en as daar niks gebeur nie draai
hy om en gebruik die linker agterbeen. Oupa sê sy klats (koppelaar) gly soms !
Vir oupa Koos was die Voortrekkerkamp in die Strand ʼn paradys want daar was mense van heinde en verre met wie hy kon gesels. Iets wat hy op Koperfontein aan oom Niekie Loubser kom
oorvertel het, was die ou met die groot pens van Worcester wat op Oujaarsdag
van vroeg die oggend ʼn speenvark op ʼn spit gebraai het. Langs hom het ʼn
vyfgelling kan wyn gestaan en die ou het net so nou en dan die vark met ʼn
slinger gedraai. Die oom het later vir oupa het ʼn stukkie rib gegee wat hy
alleen met sy knipmes afgeëet het.
In 1958 koop oupa ʼn nuwe MK II Consul, ʼn gryse. Wintertyd het hy soms Sondag middae die Consul
uitgetrek sodat ouma Lenie in die warm kar kon sit en Huisgenoot lees. Eintlik
wou hy ʼn VW Beetle aanskaf omdat dit destyds van die min motors was met ʼn
verwarmer maar ouma het gesê sy ry nie met so n’geneukie’ rond nie !
Die ’58 Consul het vir oupa Koos vlerke gegee en so besluit hy om vir sy swaer, oom Sticks du
Plessis op Cradock,te gaan kuier. Vir oupa en ouma was dit ʼn wêreldreis en ek,(toe
in standerd agt) moes saamry om te help bestuur. Met oupa se hoed op my kop
durf ons die langpad aan. Duidelike instruksies: “Hou hom net so op 50 – 55” (mph)
en so nou en dan “ Stadig kêrel, stadig kêrel !” Vroeg oggend ry ons oor die Du
Toits Kloofpas waar ons eers stilhou en oupa die mandjie met hardgekookte
eiers, varsgebakte brood met dik botter en korrelkonfyt,tamaties en die koffie
uithaal. Op met die pas anderkant De Doorns totdat ons die gelyktes van die
Karoo begin kry. Die vlaktes en die berge van die Karoo beïndruk ons en die
wêreld voel wyd en oop. Toe sê oupa:“Nou is ons darem vêr van Koperfontein af
“.
Vroeg die middag sleep ons Beaufortwes binne en kry slaapplek in ʼn losieshuis langs die kerk in
die hoofstraat. Ek deel die kamer met oupa en ouma en hul snork my skoon uit my
slaap uit. Boonop slaan die kerkhorlosie ook nog elke halfuur. Toe die
kerkhorlosie drie uur slaan, is hulle klaar geslaap en ons begin pak want
Cradock is nog vêr. Oupa en ouma sit elkeen met ʼn kniekombersie want dis koud
in die Karoo en die Consul het nie ʼn verwarmer nie. Met die grys hoed op my kop
laat ek die Consul sing, 50 -55 en soms raak die naald aan 60 as oupa nie kyk
nie! Die Karoo kuier was vir ons ʼn ondervinding en dis die eerste keer dat ons met regtige koue
kennismaak.
Die terugreis deur Port Elizabeth en die tuinroete was iets waaroor oupa-hulle nie kon uitgepraat
raak nie. Dis ook die eerste keer dat ons pynappellande sien en langs die pad
kon jy koop soveel jy wil hê. Nou as jy van die Weskus kom sny mens ʼn pynappel
se skil nie te dik nie want die goed is skaars en duur. Oupa koop ʼn sak
pynappels en hy skil hulle dun. As jy hom te vlak sny bly daardie bruin
haartjies mos agter en hulle brand jou mond. Later is my lippe skoon opgeswel
soos ons pynappels eet. Ek sien later hoe ouma Lenie stilletjies ʼn stuk
pynappel deur die venster laat glip!
Ons ry deur die Van Stadenspas, die Bloukranspas en deur woude – dis ʼn ander wêreld By die Groot
Boom hou ons stil en oupa haal sy hoed af. Knysna met sy mere, riviere en vleie
is te wonderlik vir woorde Ai, sê oupa hy hoop sy reservoir op Koperfontein vang
vanjaar genoeg reënwater op om heeljaar te hou. Stories oor die toer na die
diep Karoo en Tuinroete is nog vir baie aande op die agterstoep oorvertel.
In die sestigs koop oupa ʼn klein rooi Colt,sy eerste kar met ʼn verwarmer. So kom hy en my ma een
baie warm Februarie middag van Vredenburg af. Oupa vroetel hier aan goeters op
die paneelbord en kry later dat die waaier op vol sterkte loop. My ma bestuur.
Dit word egter net al hoe warmer in die Colt en oupa sê hy koop nooit weer ʼn
rooi kar nie. Toe hy sy hand by die venster uitsteek is dit wragtag koeler
buite, maar hulle ry en vee die sweet af. Op Koperfontein aangekom moes elkeen ʼn
koue bad neem. Die volgende dag merk oom Niekie Loubser dat hulle die hele tyd
met die verwarmer vol oop gery het !
My Pa het vir broer Kobus ʼn 1962 VW Beetle gekoop wat tydens sy diensjaar in die waenhuis gestoor
is. Ma Girlie gebruik toe die geleentheid en vra oupa om haar te leer bestuur.
Een laatmiddag is hulle twee in die rigting van Hopefield vir die eerste les.
Ons staan almal buite in die straat en wag dat hulle moet terugkeer en wonder hoe
hulle die Beetle omgedraai gaan kry. Die volgende oomblik sien ons die Beetle
met ʼn vaart daar by oom Klaas Koch se winkel verbykom en dit lyk nie of daar
afgeslêk gaan word met die linksdraai op die Koringbergpad nie. Toe ons weer
sien kom die Beetle net op twee wiele om die draai en jy hoor hoe spat die
klippe teen die koöperasie se sinkstoor. My ma hang aan die stuurwiel met oupa
Koos wat sy hoed vasdruk en half bo-op haar lê. Wonderbaarlik bly die kar op sy
wiele en kom stilstand. Kyk, toe skel Girlie
vir oupa Koos:” Kan Pa dan nie vir my waarsku om af te slêk voor ek die
draai vat nie ! Oupa:“Maar ek het mos gefluit – fluit ! “ Pa, dis nie ʼn
perdekar nie !” Ant Ria Loubser het vir elkeen suikerwater laat drink ! Oupa
het nie verder gekwalifiseer as ʼn instrukteur nie.
Oupa het ʼn broer gehad met die naam Dick, spoorweg amptenaar van Goodwood in die Kaap. Sy vrou
was tant Jata, die dogter van oom Hennie(Oukop) Greeff en tant Miemie,ons bure.
Hulle het elke jaar ʼn spoorwegpassaat gekry om al die vêrplekke te kon besoek.
Soms het hulle met die trein op Koperfontein kom kuier. As die trein twaalfuur
die middag op Koperfontein stop was Frans, die meulassistent, gereed om die
bagasie op die kruiwa te laai. Dan klim oom Dick en tant Jata af en ons verkyk
ons aan die Kaapse mense. Tant Jata met ʼn breërand hoed en oom Dick met ʼn pak
klere. Oom Dick se hoed het altyd so effens skuins op sy kop gesit nes Bing
Crosby sy hoed gedra het. Hy was ʼn netjiese skraal en waardige man. Ons het aan
oom Dick se lippe gehang as hy vertel waar hulle oral met die trein rondgery
het en hy was boonop ʼn uitstekende storieverteller.
Op die agterstoep van oupa-hulle se huis het oom Dick op ʼn kombuisstoel in die koelte van die
Morning Glorie prieël,sy sit gekry en ek het styf langs oupa op die klein kort
bankie ingeskuif. Dan begin oom Dick vertel. Hulle treinreis na die Victoria Waterval
was iets wat ek altyd sal onthou weens die bobbejaan. Hy vertel: “ Ons klim
daar by die Victoria Waterval af en dis sommer lekker warm. Terwyl die porter
ons portmento aanstoot na die Victoria Hotel vang hy my oog. Hy sit onder ʼn
groot koelteboom aan ʼn paal vasgemaak met sy kis bo-op die paal. Hy is groot en
uitgevreet want almal wat verbykom gee hom ietsie. Ek dink by myselfers voordat
ek hier weggaan gaan ek jou ʼn les leer. Die tweede dag loop ek na ʼn winkel en
koop ʼn pakkie suurklontjies en bruin kardoessakke. In twee van die kardoessakke
gooi ek ʼn paar van die lekkers en ek stap na die bobbejaan toe. Jy weet ʼn
bobbejaan het ʼn baie skerp sig en sommer van vêraf eien hy my en kyk hy na die
kardoessak in my hand. Hoe nader ek kom hoe meer opgewonde raak hy want ʼn
bobbejaan vrek mos oor ʼn kardoessak. Toe ek naby kom gooi ek hom die kardoessak
met lekkers.
Nou moet jy weet hoe werk ʼn bobbejaan se kop. Hy wantrou alles en jy moet eers sy vertoue wen.
Die kardoessak is nou mooi styf toegedraai en lê binne sy bereik maar bobbejaan
vat nie daaraan nie. Jy kan sien hy sit en dink eers mooi oor die saak. Dan
staan hy op en loop kastig verby die kardoessak maar eintlik kyk hy uit die
kant van sy oog na die sak. Hy gaan sit lekker agteroor en krap met sy
linkerhand aan sy gat terwyl hy oor sy regter skouer agtertoe loer en maak of
hy geen notisie van die sakkie neem nie. Dan staan hy op en loop kastig weer by
die kardoessak verby sonder om direk daarna te kyk en gaan sit weer en krap met
sy regterhand aan sy gat en loer agtertoe oor sy linkerskouer. Dis ʼn teken dat ʼn
bobbejaan diep dink ! Ek sien daai bobbejaan is vrek nuuskierig oor wat in daai
kardoessak is. Hy staan weer op en loop verby die kardoessak maar raak vlugtig
met sy vinger daaraan en gaan sit op sy gat en kyk oor sy regter skouer terwyl
hy met sy linkerhand krap. Jy kan sien die nuuskierigheid begin nou die oorhand
kry want hy staan op en met die verbyloopslag klap hy die kardoessak ʼn entjie
weg voordat hy weer gaan sit en met sy regterhand aan sy gat krap en oor sy
linkerskouer loer.
Nou staan hy op en is tevrede die kardoessak is veilig. Hy stap nader gryp die sakkie, gaan sit
lekker agteroor en skeur die kardoessak tussen sy bene oop en steek al die
lekkers in sy linker kies. Hy knik vir my dankie.
Die volgende dag gee ek vir hom die ander sakkie lekkers en hy is nou heel mak.
Daardie middag reël ek met die tuinman by die hotel om vir my die volgende oggend ʼn middelslag
slang te bring. So is ek met die dooie slang in die groot kardoessak na die
bobbejaan toe. By hierdie tyd ken hy my al goed en spring op en af toe hy die
groot kardoessak in my hand sien. Ek gooi hom die sak en sonder om te kyk gryp
hy die sak, gaan sit op sy boude maak dit tussen sy bene staan terwyl hy doer
vir die mense kyk en begin dit oopmaak sonder om af te kyk. Hy steek sy hand in
die sak en kyk nog steeds nie af nie. Toe hy aan die slang vat toe breek die hel
los. Broer, maar daai bobbejaan skrik soos ek nog nooit ʼn bobbejaan sien skrik
het nie ! Soos hy daar sit, trap hy met sy hakskene vas en slaan bollemakiesie
agteroor en los terselfdertyd ʼn geel streep in die lug en toe hy grondvat maak
hy ʼn tweede” summersault” om so ver moontlik van die slang af weg te kom. Maar
toe word hy flou en ʼn opsigter moet ʼn emmer koue water oor hom gooi om hom weer
by te kry. Vir die res van die dag het hy net in sy kis gesit. Ek het nogal
agterna sleg gevoel oorlaat ek die bobbejaan so groot laat skrik het.
Toe die porter die volgende dag ons bagasie verbystoot het die bobbejaan gemaak asof hy my nie
sien nie. Ek dink nie hy sou gou weer aan ʼn kardoessak vat nie !”
Oupa Koos en ouma Lenie is wel eenjaar landuit ! Hulle het vir oom Boy Greeff, ouma se jongste
broer, op Nelspruit met die trein gaan kuier. Oom Boy, soos ek hom geken het,
was ʼn polisie sersant vir baie jare in die Nelspruit omgewing. Hy wou destyds
nie vir die Jannie Smuts regering teen die Duitsers gaan baklei nie en vir sy
straf pos hulle hom toe na die Laeveld met ʼn donkie en swart assistent om die
wilde plek te gaan tem. Hy het daar ʼn legende geword. Oupa-hulle het die trein
op Wellington bestyg na weke se voorbereiding. Tot ʼn bos bokkems is saam want
oom Boy wou so graag iets souts uit die Weskus proe.
Oupa Koos as klein seuntjie saam met sy ouers en as jong man.
Ons moes aande omluister na hulle wedervaringe in die Laeveld. Hulle is saam met oom Boy die
Kruger Wildtuin in om na leeus, tiere, olifante,kameelperde en bobbejane te
kyk. Wat egter vir oupa Koos die meeste beïndruk het, was die wilde honde. Ai,
as hy maar net kleintjie kon saambring om groot te maak. Dan sal hy darem Desember
maand laat hond baklei op Langebaan! Daar was hoeka ʼn klomp onbeskofte keffers
van Moorreesburg wat ʼn les geleer moet word. Hy vertel oom Boy het nooit sonder
sy kettie wildtuin toe gegaan nie want sy grootste sports was om die bobbejane
skelm te skiet. Hy sê ʼn bobbejaan sit nog so lekker dan brand iets sy boud maar
hy weet nie wat hom gesteek het nie. Oom Boy het glo ook ʼn sak met koeëllaers
(ball bearings) saamgery en dit langs die pad aan die Shangaans verkoop as
pitte om ʼn ysterpot te groei! Met ʼn hele resep, en jy betaal volgens die
grootte van die pot. Klein bearings teen ʼn tiekie elk en die heel grotes ʼn
sjieling.
Sersant Boy Greeff was ook ʼn gerespekteerde man onder die plaaslike stamhoofde en moes gereeld
uitsprake gee. In een so ʼn geval is hy gevra om ʼn belangrike stamhoof se
vergadering te kom bywoon. Daar aangekom kon hy sien hier is ʼn ernstige saak
want omtrent die hele stat se mense drom saam. Soos die gebruik was, sit die
belangrike mense in ʼn kring op afgesaagde boomstompe en die kalbas met bier
word om en om gestuur. Terselfdertyd gee die jong meisies ʼn dansvertoning en
die dromme word geslaan dat jou ore tuit. Toe die bier goed getrek het maak die
hoofman almal stil en lê die saak aan oom Boy voor. Teen daardie tyd het die
kalbas al verskeie kere die rondte gedoen en oom Boy moes selfs eenkeer weer
terug op sy sitplek gehelp word maar hy luister met aandag na die hoofman.
Die hoofman vertel twee jong manne het ʼn skyngeveg oor ʼn jong meisie gehad en toe steek die een per
ongelukkig sy opponent se slagaar met die spies raak. Hulle voel die jong man
moet nie vir moord aangekla word nie want hy is van goeie inbors en dit was ʼn
ongeluk. Oom Boy vra toe weer vir die kalbas sodat hy lank kan dink. Hy dink en
dink terwyl almal doodstil sit en wag. Na ʼn tyd vra hy vir die hoofman watter
straf hulle in gedagte gehad het. Die hoofman sê twaalf houe met ʼn karwats.Toe
sê oom Boy: “Gee maar nog drie ekstra “
Die saak is afgehandel !
Oupa het so ʼn baster kolliehond met die naam Honnekind gehad. Skemeraande sit oupa, ouma en
Honnekind op die voorstoep agter die Myrtle heining in die koel aandluggie.
Dikwels kom daar van die werkers met fietse verby en groet vriendelik. Oupa sê
as die fiets verbykom dan kyk Honnekind hom in sy oë totdat hy sy kop knik. Dan
vlieg hy met ʼn vaart weg en hardloop, sonder om te blaf, die fiets van agter in
en gryp die niksvermoedende fietsryer aan die hakskeen !
Latere jare was ouma Lenie in ʼn rystoel en oupa en my ma moes haar versorg. Een oggend was hy
weer besig met ouma toe haar oorbelle in die pad kom. Hy haal dit af maar kry
nie ʼn plek om dit êrens neer te sit nie en besluit om dit sommer tydelik aan sy
ore te hang. Dit was van daardie soort wat so vasknyp. Net toe klop iemand aan
die voordeur en dis dominee wat kom inloer. Oupa merk die dominee kyk hom
snaaks aan maar hulle drink tee en lees ʼn stukkie uit die Bybel en bid vir
ouma. Later die oggend loop hy by die spieël verby en so wraggies daar hang die
oorbelle nog steeds aan sy ore!
In Maart 1972 ry my pa, ma en oupa Koos met die groen 1970 Ford Fairmont van Pa-Jan na
Pietermaritzburg vir my gradeplegtigheid. Die eerste dag kom hulle tot op
Richmond en slaap in die oornagkamers soos jy die dorp inkom van die Kaapse
kant af. Vyfuur die volgende oggend staan hul op en Ma Girlie hoor ʼn skoot
afgaan in die kamer langsaan waar oupa slaap. Sy skrik haar boeglam en haas
haar na die kamer en kry hom op die bed sit met sy rewolwer. Die koeël is deur
die plafon. Nee sê hy, hy wou maar net die rewolwer toets want hulle kom nou al
hoe nader aan Natal en hy wou net kyk of die ding darem nog werk. Hendrik Ehlers
van Boorwater het vir hom gesê Piet Retief het destyds moeilikheid met die Zoeloes
gehad.
Ek verwag hulle die Maandagmiddag op Hilton waar ek en Martie woonagtig is. Met een ding het
ons nie rekening gehou nie en dis die digte mis wat saans daardie tyd van die
jaar oor die misbelt van Natal uitsak. As jy met die N3 ry begin dit net
duskant Nottingham Road toetrek en by die tyd dat jy by Hilton kom kan mens
beswaarlik jou eie motor se neus sien. Ek wag daar onderkant die Midmardam vir
hulle maar die mis word later so dik dat ek nie die karre op die snelweg kan
eien nie. Dis die dae voor selfone en mens kan ook nie met hulle kommunikeer
nie en ek ry maar huis toe met die hoop dat hulle seker êrens oorslaap. Agtuur
die aand stop ʼn polisiekar voor my deur met die groen Fairmont kort agter hom.
Die bevelvoerder van die Hilton polisiestasie is toe Dick Greeff, ʼn kleinneef van my ma! Hy sien
toevallig die motor met die Hopefieldse registrasie, CR 933, in die digte mis
raak en kom tot hul redding. Foeitog, ek moes vir my pa twee whiskeys skink om
hom weer op die stasie te kry. Ons huis was in Forestlaan in die ou gedeelte
van Hilton geleë, teenaan ʼn woud met ʼn nou toegegroeide paadjie soontoe. Vir
die mense van Koperfontein was die welige plantegroei oorweldigend en oupa kon
nie ophou kyk na die ape wat so in die bome swaai nie. Moet nie eens praat van
die piesangs, advokadopere en papajas wat so volop was nie.
Die Saterdagoggend met die gradeplegtigheid sit ons in die warm saal by die Universiteit en
luister na die vervelige toesprake. Vir oupa Koos wat nie Engels magtig was nie
moes dit ʼn pyniging gewees het. Ek sien hy tel later sy hoed op en begin dit
afstof. Toe weet ek hy het nou genoeg gehad ! Ons het na die tyd elk ʼn koue
bier by die Hilton Hotel gaan drink. Ek het hulle Durban toe geneem waar hulle
op die Riskshaw’s gery het en oupa by die groot Zoeloe, wat die karretjie trek,
wou weet waar mens sulke mooi volstruisvere kan koop. As Weskus mense het hulle
eintlik nooit met Indiërs en swart mense in aanraking gekom nie en was dit vir
hul vreemd.
Vir my was dit ʼn eer en voorreg om hulle daar te hê. Hulle terugreis deur die Transkei was
sonder voorvalle behalwe dat my pa die Ford Fairmont se sleutels op Knysna
verloor het en dit die volgende oggend kry waar dit nog steeds in die kattebak
sit soos hulle die vorige aand afgepak het !
In 1952 was dit die Jan van Riebeeck fees in die Kaap, daar waar die hoë geboue vandag staan.
Ouma en my ma het mandjies vol kos gepak: frikkadelle in koolblare toegedraai,
hardgekookte eiers,varsgebakte brood met dik botter en korrelkonfyt, flesse
koffie en tee asook ʼn koue skaapnek wat oupa sorgvuldig met sy knipmes opgesny
het. Daar was sulke groot tydelike stellasies waarop ons moes sit om die
verrigtinge dop te hou. Die kosmandjies is saam en ons het sommer daar sit en
eet. Dis toe dat oupa ʼn weglêhoender se eier afskil en agterkom iets is nie
pluis nie en die eier net daar stilletjies tussen die planke laat deurglip. Daar
was so ʼn kraaltjie met regte Boesmans uit die Kalahari wat om ʼn vuur gesit het.
Oupa sê hy sien ʼn man gee vir een van die Boesmans ʼn Cavalla Plain sigaret en
hoe die Boesman met een “draw” die sigaret se as so ʼn boog trek tot teen sy
lippe. Ja sê oupa, hy wonder wat sal ʼn Boesman met ʼn hele rol tabak maak?
Die kere wat ons almal saam vir ʼn dag Kaap toe is, was altyd ʼn belewenis. Oupa Koos het dan vir
ouma Lenie ʼn geldjie gegee wat sy vir die dag kon spandeer. Aan die einde van
die dag het ouma sommer die leë beursie vir iemand op die Parade gegee. Ek het
ook gesien hoe ouma oor Adderley straat stap en ʼn groot rooi Albion bus op sy
nuus druk sodat die bestuurder vir haar moet stop. Die man het net geglimlag en
sy kop geskud – dit was duidelik mense van die platteland! Dit was ʼn insident
wat oupa nog lank daarna oorvertel het. Die OK Bazaar was die plek waar almal
gekoop het maar die roltrappe was ouma se doodsteek. As sy die trap aan die onderkant
klim kantel sy al meer agteroor soos die trap opgaan ! My pa was die stut en
het met sy skouer haar regop gehou tot bo waar hy haar weer moes gryp voordat
die trap onder haar uitglip. Op die Parade, waar ons mense van die platteland
maar altyd parkeer het, kon jy enigiets koop of onderhandel. Die “hupcap” van
die Consul se regter voorwiel het afgeval en oupa onderhandel met een van die
Kaapse manne op die Parade om gedurende die dag vir hom een te kry. Toe hy
terugkom sit die “hupcap” op die regter voorwiel en oupa gee die man vyf
sjielings. Die volgende oggend toe Frans die Consul was, kom sê hy die kar se
linker agterwiel het nie n”hupcap” nie!
Meimaand was dit varkslagtyd op Koperfontein. Heel jaar het oupa die vark met afvalkos en semels
gevoer. Die varkhok was in die hoek van ons agterplaas en elke aand het oupa
met die emmer kos verby gestap. Slagdag was ʼn hele gedoente en vroeg die oggend
is daar ʼn vuur gemaak om dromme water te kook en is die groot sinkbad langs dit
neergesit. Oupa, Frans, Johannes Manewel en nog ʼn hand of twee het die vark van
kant gemaak en met ʼn kruiwa omgestoot na die slagplek. Die vark word in die bad
gesit en bedek met kookwater om die hare sag te maak. Dan skeer hul hom mooi
glad met Minora lemmetjies. Van die binnegoed het ouma gekook en die lekkerste
haaksel gemaak. Wat is nou lekkerder as vars haaksel op wit rys! Die verwerking
van die vleis was ʼn groot werk en niks is vermors nie. Lank daarna sal ouma nog
varkgeregte maak. Ek het een middag gesien hoe oupa ʼn stuk koue varkspek, met
Illovo stroop bo-oor, sit en eet. Dit was die dae voor cholesterol !
Lekker eet en kos was een van oupa se swakpunte. Ouma Lenie was ʼn towenaar as dit by kos kom en
het almal bederf met haar geregte. (Al haar resepte was in haar kop). Die
Kerfeesmaaltyd op Koperfontein was iets om oor huis toe te skryf – dit was die
jaarlikse familie saamtrek. Potgebraaide eend, hoenderpastei, stoofpatat,slap
haaksteentjies,pampoenmoes, geelrys met rosyntjies,skorsies met
botter,skaapboud met gebraaide aartappels,soetsuur boontjies, sousboontjies en soet
geelwortels om ʼn paar te noem. Die poeding daarna was gewoonlik die finale
doodsteek want ʼn basaar trifle is ʼn moet. Toe ons kleiner was, het ouma Lenie
altyd ʼn paar tiekies ingegooi en was dit groot pret om ʼn tiekie in jou porsie
te kry. Met namiddag tee was daar sulke groot romerige melkterte en ʼn drielaag
sjokolade koek met gekarimalseerde kondensmelk en cherries bo-op. Oupa het ʼn
week voor die tyd uitgevars en saans net een hardgekookte hoendereier geëet.
Hoederpastei en stoofpatat was van sy gunsteling geregte. Na die groot ete het
hy vir ʼn paar dae Enos gedrink!
Hy het ook graag vis geëet en op sy dae met vis gesmous. As daar nou een ding is wat hy sy
pinkie voor sou gee, was dit is ʼn blikkie Noorweegse sardiens. Die ingevoerde
sardientjies in olie, het oupa sommer so met sy knipmes een vir een uit die
blikkie geskep. Soms het hy walvisvleis van die walvisstasie by Donkergat gekry
wat hy dan in dun ‘steaks’ gesny het en in ʼn rooster met repies varkspek
gebraai het. Die vars harders wat Pieter Persens van Church Haven soms kom
smous het, was die lekkerste. Langebaanse lagoon harders was groot en vet en met
net growwe sout oor hul gevryf en op ʼn rooster gebraai, was daar niks lekkerder
nie. So kom dit dat Persens eendag weer met ʼn streepsak harders by Miss Girlie
se winkel opdaag en ons moes die harders deel. Oupa gaan haal ʼn groot kom
waarin hy sy deel pak. Christie Truter van die plaas Koperfontein en Kamas Smit
van Smitsvlei staan en toekyk hoe ons die harders deel. Oupa krap met sy vinger
tussen die harders en soek al die grotes uit. Ek is so ʼn opgeskote seun maar het
geweet hoe om met oupa te werk. Nee sê ek, oupa moet die harders terug sit en
dan kies ons ʼn harder om die beurt ! Kamas het gedink dit was die snaakste ding
ooit want niemand het oom Koos nog so aangevat nie !
Om ʼn hond skrik te maak was in sy kraal. Oor ʼn Paasnaweek het ons soms ʼn huisie agter “ Mara se
Hall “ op Langebaan gehuur en oupa en ouma het dan ook saamgegaan. Die boere
het ook meestal hul honde saamgebring want Langebaan was destyds ʼn gewilde plek
waar hulle kon ontspan. Vroeg oggend, wanneer meeste van die honde rondloop om
hul merke te maak was oupa op sy rondtes. Hy het altyd gesê daar is nie ʼn
banger dier as ʼn hond nie, jy moet hom laat weet jy is daar maar hy moet jou
nie sien nie. Hy het menige hond van agter bekruip soms met sy hoed in sy mond
en skrik gemaak dat hulle tjankend huis toe hardloop. Een oggend kry hy ʼn
bondel honde op die strand wat so stywebeen-stywebeen met opstaan hare en
reguit sterte om mekaar draai en ruik. Almal vreemde honde van die plase wat
mekaar uitsnuffel. Hy staan nader maar hulle is te bedrywig om van hom notisie
te neem. Die volgende oomblik gooi oupa ʼn stuk bamboes tussen hulle in en
skree. “Vat hom ! Vat hom ! “ Daar breek ʼn hondegeveg uit dat die tantes met
slippers en japonne uit die huise hardloop om te kom kyk wat aangaan. Oupa sê
maar die beste van alles was toe daar so ʼn klein swart keffertjie uit een van
die huise storm en ʼn groot Dobermann aan sy knaters beetkry sodat hy ʼn pad deur
die bondel hardloop van die pyn maar die keffer laat nie los nie !
Jack van Niekerk, oupa se enigste seun, was ouma Lenie se oogappel en die dag as hy kom kuier word
daar uitgehang. As hy met sy bruin Chevy Opera Coupe so om die hoek van die
huis draai dat die gruis so spat en vlak voor die agterstoep stilhou, het alles
tot stilstand gekom. Sy mooi swartkop nooi, Marie, uit die Karoo het ons beïndruk.
Ons het aan Jack se lippe gehang. Sy stories oor die studentelewe op
Stellenbosch en sy wedervaringe as ʼn voorligtingsbeampte het ons meegevoer. Hy
kon mooi gesels en ek vermoed daar is baie aangedik, maar dit was tog te lekker
om na hom te luister. Ek kon sien oupa en ouma was baie trots op hom want hy
was ook die eerste gegradueerde in die familie.
Terwyl hy in Humansdorp voorligtingsbeampte was, het hy interessante mense ontmoet. Hy vertel dat hy eendag aan tafel sit saam met ʼn redelike rowwe boerefamilie toe een van die
seuns ʼn harde wind los. Die ander seun van oorkant die tafel skree:“Nog so ʼn
fynnetjie Hakkie ! Nog so ʼn fynnetjie! “ Hulle het ook die probleem met vlieë
tydens die ete opgelos. In die berg was daar baie van die langstert Salmanders
wat hulle gevang het en aan hul sterte onderstebo met rieme aan die balke in
die waenhuis opgehang het sonder water of kos om hul uit te honger. Met
etenstyd het hul ʼn Salmander gaan haal en laag oor die etenstafel, kop onderstebo,
aan sy stert van die balk laat hang. Soos die tante opskep kom die vlieë ook en
dan begin die Salamander sy werk doen. Met sy lang tong pik hy hier ʼn vlieg van
ʼn aartappel af en dan weer daar van ʼn skaaptjop. As die Salmander traag begin word,
is dit ʼn teken dat hy dik gevreet is en stuur die tante ʼn seun om weer ʼn varse
by die waenhuis te gaan haal.
Ansie trou met Hendrik van Zyl,ʼn onderwyser afkomstig van die Vredendal omgewing, en sy pa, oom
Gert Knypies van Zyl kom kuier vir sy swaar op Koperfontein. Die” Knypiese “was
konserwatiewe mense van Namakwaland en veral ou oom Gert was baie nougeset en ʼn
geheelonthouer. Oupa Koos het so ʼn rooi gelaatstrek gehad met sulke aartjies op
sy wange wat ʼn mens die indruk sou gee dat hy miskien so nou en dan iets te
veel uit die bottel vat. Hy het egter alkohol met uitsondering gebruik en sy rooi
gesig was van al die buitewerk op sy dae. Hoe moes ou Gert dit dan ook weet?
So ry hulle vir die dag Langebaan toe --- oor Hopefield tot by Langebaanweg en draai dan links
op die slegte wit kalkpad met sy diep sinkplaat en vier motorhekke.
Langebaan was daardie jare net ʼn gehuggie en jy moes jou eie drinkwater saamvat. Saam met die
piekniekmandjie het ʼn ou erde wynkan saamgegaan met die drinkwater. Die
kampplek was in die middel van die dorp, daar waar die chalets nou staan, en
almal het altyd onder die groot bloekombome teen die skuinste van die wal
piekniek gemaak. Oupa en oom Gert Knypies sit elkeen op ʼn stoeltjie in die
koelte en gesels. Oupa sê hy sien die wynkan wat langs hom staan pla vir Gert
en hy kom dadelik agter die ou dink dis ʼn kan wyn. Nou begin oupa moedswillig
word. Hy gryp die kan en gee ʼn diep teug en bied vir ou Gert ook aan maar hy
skud sy kop. Oupa gebruik die kan nou aanmekaar en ou Gert raak al hoe meer
bekommerd dat die ou suiplap met sy rooigesig van sy stoel gaan afval. Toe die
kinders kom water vra en oupa vir hulle uit die kan skink, kom ou Gert eers
agter dit was heeltyd ʼn gekskeerdery!
Ek was bevoorreg dat oupa Koos een van drie ouderlinge was wat namens die kerkraad moes insit tydens
ons finale katkisasie een Vrydagmiddag. Ons het almal so in ʼn ry gestaan terwyl
Ds. Beukes ons een vir een vra hoekom ons aangeneem wil word. Langs my het ʼn
Theron meisie van die stasie gestaan en haar antwoord was:” Sodat ek kan trou !
“ ʼn Heel eerlike en praktiese antwoord! Die ouderlinge het nie daarvan gehou
nie.
In 1962 het ons Wes- Bolandse skolespan ʼn voorwedstryd vir die WP teen die Boland op Wellington
gespeel en oupa het die dag saamgery ten spyte van die feit dat hy min van rugby
verstaan het. Op die bankies voor die hoof pawiljoen het hy en my pa gesit -- hy
met ʼn kardoessak gepak met hardgekookte eiers en toebroodjies. My pa was mal
oor rugby maar oupa het met almal om hom gesels en dit baie geniet. Die middag na
die wedstryd op pad huis toe, word daar eers by oom Gert Visser van die plaas
Ongegund, buite Wellington, aangery. Die Noordewind het intussen opgesteek en
terwyl die grootmense in die kombuis soetwyn drink, klop een van die
plaaswerkers aan die agterdeur en sê die wind het my pa se nuwe Ford Falcon in
die dam gewaai ! Gelukkig was die dam nog leeg en kon ons die Ford uitkry en
was daar nie enige sigbare skade nie.Net die “fish tale”waar die uitlaatpyp
agter onder die buffer uitkom, was gebuig. Daar was egter ʼn probleem. Nes die
kar deur ʼn knik gaan hoor ons ʼn lelike skuurgeluid hier van onder af. Ja sê
oupa Koos, die Ford se as het gebuig toe die kar gat eerste teen die damwal af
is. Ek kon sien my pa vat stres want hoe gaan hy vir my ma vertel hy het vergeet
om die handrem op te trek. By die huis aangekom sê ons egter niks vir my ma nie
en toe ek die Falcon die volgende dag opdomkrag sien ek die uitlaatstelsel is
effens teruggestoot en druk teen die dryfas as die kar veer. Ek het dit herstel
en my pa was baie verlig. Hy het dadelik oorgestap na oupa om te sê die Falcon
is nie ʼn perdekar met ʼn as nie !
Na ouma Lenie se dood het oupa op Darling in die ouetehuis gaan bly. Ek het hom daar gaan besoek.
Hy was glad nie gelukkig nie en het gekla die ou mense irriteer hom. Ons het
die tyding van sy afsterwe gekry terwyl ek en Martie saam met Ma Girlie en Pa
Jan by die Victoria Waterval vakansie hou en hulle moes inderhaas terugvlieg
Kaap toe. Daar was ʼn spesiale band tussen my ma en oupa en sy afsterfwe het
haar baie hartseer gelaat. Vir my was dit ook sleg dat ek nie sy begrafnis kon
bywoon nie.
Koos van Niekerk het baie nagelaat, nie materiële goed nie, maar goeie waardes en geite wat mens
tot vandag nog in sy nageslag kan bespeur. Hy het altyd gesê ʼn mens hoef nie
ryk te wees om ryk te voel nie. Wat ʼn merkwaardige mens.
Danie du Toit
September 2014
Foto regs:
Koos se meulhuis links met Miss Girlie se winkel langsaan.
Foto links:
Oupa en ouma Lenie met hul kleinkinders.
Foto regs:
Boonste ry:Jack, Van Zyl, Jan, Kobus,Danie.
Tweede ry:Marie, Ansie,Girlie,
Middel: Ouma Lenie en oupa Koos.
Onder: Gerrit, Hanlie, Marlene, Leana, Francine, Boeta.