Daar is min dinge wat herinneringe so kan oproep soos ʼn reuk. Hoeveel keer het dit nie al met my gebeur nie. ʼn Reuk gaan lê mos in die hardeskyf hier agter in jou brein, gereed om weer gebruik te word.

 

Omdat ons in die Weskus/Sandveld groot geword het bly daardie besondere reuke van die streek my by. Dit was mos ook my eerste gewaarwording van die wêreld om my as menswees.

 

Die reuk van ʼn klomp natgereënde hoenders wat hulle vere sit en reg krap.

 

Augustusmaand se vars reuk van die veld ingelyf met die geure van die veldblomme en fynbos. Pluk ʼn bossie sering of skop teen ʼn miskus plant en die aroma word losgelaat.

 

Loop agter die reuk van ʼn ryp koekemakranka aan totdat jy hom sien staan, Sandmanne of Katpielietjies. Sit jy hom in jou hoed se rand bly hy die hele dag by jou en vanaand as jy die pitjies uitsuig, sy velletjie uitdroog en dit in jou Bybel sit ruik jy hom nog vir lank.

 

ʼn Onaangename ruik wat mens deesdae nie meer kry nie is die van ʼn buitetoilet, veral op ʼn warm dag. Hoe beskryf mens dit ? As afleiding kon jy darem ʼn Landstem lees. ( dit was die ou Sapkoerant). Die Burger was nooit vir daardie doel gebruik nie en het met geknipte rante die kombuisrakke versier.

 

Koshuiskos was nooit so lekker soos jou ma sin nie en as jy die middag na skool terug stap koshuis toe en ʼn man kry al die gebrande kool reuk hier duskant die kerkhof, dan moet jy weet dinge in die kombuis het verkeerd geloop.

 

Pieter Persens , die vishandelaar van Langebaan, se groen Chev bakkie hou voor Miss Girlie se winkel op Koperfontein stil. Agter op die bak, onder nat streepsakke toegemaak, lê die blink lywe van vars lagoon harders van Church Haven, ʼn aroma van soutwater, seebamboes en seewier sweef om hulle. Oupa Koos krap met ʼn geoefende hand en ʼn krom voorvinger die vetste visse eenkant en gooi dit in ʼn wit enamel skottel. Vanaand word hulle toepens, met dik growwe sout om hul lywe, op rooikranskole gebraai. Onderkant die Suidewindjie lê die geur van gebraaide harders tot wie weet waar. Hoe kan mens daardie reuk ooit vergeet ?

 

Ek en Oupa stap tussen die trawlers op Laaiplek. Die reuk van see, visnette, sout vis, meeumis en die onmiskenbare geur van vet gebraaide maasbankers op ʼn oop vuurtjie. Ons stap nader, om ʼn grondvuurtjie sit drie vissermanne op omgedopte emmers rondom die vuurtjie. Maasbankers lê in ʼn ry op ʼn tuisgemaakte draadbraai met die vetjies wat in die vuur drup. “Neutvars” merk Oupa Koos op. Ons kry elkeen ʼn halwe gebraaide maasbanker. Ek is twaalf jaar oud.

 

Langebaan lagoon se reuk wissel afhangende van die seisoen. In die somer kry mens ʼn sout reuk soos die Suidooster hom uit die see waai. Aprilmaand ruik die lagoon op sy lekkerste. Dis wanneer die water glad en stil word met ʼn diep modderige bamboesreuk. Op ʼn windstil dag lê die lagoon soos ʼn dam en word die speedboats van daardie jare se ankers gelig. Oom Boeta Sleigh se boot met die 40hp Mercury was die vinnigste. Dis wanneer die kenmerkende reuk van tweeslag olie en petrol, gemeng met soutwater, oor die strand hang

 

Varsgesnyde dekriet in ʼn ou army kloktent om die sandvloer te bedek en op die paraffienstofie ʼn tamatiebredie wat rustig prut.

 

Vir jare het ek in Pietermaritzburg gedurende Novembermaande saans in die donkerte op my bed gelê en die reuke van varsgestroopte stoppellande opgeroep as ek na my grootword wêreld verlang. Hoe verduidelik mens dit aan iemand wat nie daar grootgeword het nie.

 

In 1967 beland ek die eerste keer in Pretoria. Die snaakse soet/stink reuk van Sasol petrol. Die lekker vars reuk na ʼn donderstorm. Die dooie reuk van die grys besoedeling gedurende die wintermaande. Die reuk van nuwe Jakaranda bloeisels.

 

ʼn Koshuiskamer. Die reuk van harpuis, stink voete, gemufde rugbytruie. Uiltjie Basson het altyd ʼn windjie in ʼn leë Oros bottel gelos, die prop styf toegedraai om dit later so nou en dan skiet te gee. Hy sê op die manier hou dit langer.

 

Kinders wat die huis verlaat. Net hulle reuke bly agter as jy op hul bed gaan lê en verlang.

 

Die reuk van Niklaas, my hond, toe ek eendag weer een van sy ou jassies ontdek.

 

Reuke bring ook assosiasie. ʼn Ou vertel van die nuwe dominee wat huisbesoek doen en alleen saam met ʼn groot bruin hond in die sitkamer sit en wag terwyl die tante die oom gaan roep. Dominee los skelm ʼn windjie. Skielik spring die hond met vaart op, hardloop die blompot van die tafel af en bars deur die sifdeur. Die oom kom laggend die sitkamer binne. “Dominee het seker ʼn windjie gelos ?” Hy verduidelik dat as hulle saans sit en TV kyk los hy soms een deur die sokkies en gee dan die hond skuld. Die tante slaan dan die hond met die stoffersteel. Die hond is nou-al so gekondisioneer dat hy hardloop sodra hy iets ruik!

 

Sal mens die reuk van vet skaaptjops op ʼn oop vuur in ʼn blik kan ‘can’ en dit dan na die koue lande kan uitvoer ? Hier by ons is daar iemand wat op die onmoontlikste tye die buurt met daardie geur besoedel. Is braaivleis die nommer een reuk in Suid Afrika ?

 

Ons het in Christchurch in NZ op ʼn oop vuur skaaptjops gebraai lat die mense uit hulle huise hardloop om te kyk waar brand dit nou.

 

As jy gewoon is aan die Afrika reuke, ruik die ander lande van die Noorde vreemd. Ek was tydens hul somertyd in Amerika en Washington het vir my muf geruik.

 

Hier in die Kaap is ek mal oor die reuk van ʼn wynkelder in parstyd.

 

Die stink/soet reuk van ʼn stoomlokmotief as die stoker nuwe kole gooi en die swart rook by die skoorsteen uitborrel.

 

My pa se 1939 Ford met sy kenmerkende leer en olie reuk as jy inklim. Dit was my eerste ervaring van ʼn motor.

 

In my eerste jaar: Die reuk van formalien terwyl jy sukkel om die nommer 10 senuwee van ʼn sandhaai te dissekteer.

 

Die bangmaak reuke van ʼn tandarts se spreekkamer.

 

Die reuk van Vicks in ʼn skemer kamer wat my ma op haar hand oor ʼn kersvlam warm maak en dan aan my kleinseuntjie bors smeer.

 

Daar is baie in ʼn reuk en party mense is net meer fyngevoelig as ander. Tog bly dit ʼn wonderlike sintuig. As ek darem so goed soos ʼn hond kon geruik het! Ek sien egter nie kans om op die plekke te ruik wat vir honde sosiaal aanvaarbaar is nie.

 

Danie du Toit

 

Oktober 2016