Daar is min dinge so lekker soos ʼn vakansie met ʼn karavaan. Die oomblik as jy voel die karavaan wip so oor die walletjie as jy by die hek uitry,het die vakansie het so pas begin. Gewoonlik is die vertrek vroegoggend en almal is opgewonde oor die vakansie wat voorlê.

 

Ons het vir baie jare in Pietermaritzburg gebly en was bederf met al die vakansieplekke in Natal. Daar was egter altyd die hunkering om in die Kaap te kom vakansie hou. So oorreed my broer my om een jaar Kaap toe te kom en saam met hulle by Die Dam, daar duskant Franskraal, te kom kamp. Op daardie stadium het ons nog nooit eens van die plek gehoor nie maar hy verseker ons dis baie lekker daar en hy sal sorg dat daar genoeg vis gevang word.

 

Ek het altyd gesorg dat my ryding en karavaan in ʼn goeie toestand is, veral as jy die langpad vat. So besluit ek om my Jurgens se wiellaers lank voor die tyd af te haal en met nuwe ghries te pak want as daar nou een ding is wat jou vakansie kan bederf is dit ʼn wiellaer wat tussen niks en nêrens oppak. Ek was net besig om die linkerkantse wiel terug te sit toe my maag skielik so ʼn draai gee en ek besef hier is nou moeilikheid maar ek hou uit en druk die wiel oor die boute en begin die moere met my hand indraai. My maag gee weer so ʼn draai en ek moet gou maak. Ek laat sak die wiel en besluit ek sal later die moere kom styf draai. Dit was ʼn oordeelsfout wat my duur te staan gekom het. Die res van die naweek hou my maag my besig en vergeet ek skoon van die wiel.

 

My 505 Peuqeot 2.2 GTI word ingeboek vir ʼn diens by Mcarthy’s en hulle bel om te sê daar is ʼn olielêk wat herstel moet word. Na ʼn paar dae se werk is my kar terug maar ek kom agter die Peuqeot is nie meer dieselfde nie maar die werkswinkel verseker my die kar is piekfyn.

 

Dis Desembermaand en vroeg die Saterdagoggend sleep ons by die hek uit Kaap toe. Almal is opgewonde. Die eerste Shell Ultra City op die N3 daar anderkant Mooirivier is toe net klaar gebou en was destyds nogal ʼn aardigheid en ek besluit om daar aan te ry om vir die kinders te wys. Net toe ons stilhou kom daar ʼn Indiër man aan gehardloop en sê : “Boss ! Your caravan wheel is whobbleing very much and all man!” Dis die einste wiel wat ek toe nooit vasgedraai het nie ! Daar is toe net twee moere oor wat die wiel nog vashou en die gate is so uitgewerk dat jy die rim moet weggooi.

 

Ek sit die spaarwiel op en ry tot by Harrismith waar ek probeer om ʼn nuwe rim vir die Jurgens te kry. Die karavaanvervaardigers het egter ʼn trick want nie enige rim pas nie en jy moet die spesiale rim by hulle koop.Na omtrent ʼn uur of wat se gesoek kry ek ʼn ou Valiant rim by die Platberg skrootwerf wat pas en ons vat die pad oor Ficksburg Aliwal Noord toe. (Daai einste Valiant rim het my op ʼn ander trip in die steek gelaat toe ek ʼn papwiel daar duskant Willowmore kry en dit vir ʼn spaar moes gebruik. Die rim was so gebuig dat dit eintlik gevaarlik was om mee te ry ! )

 

Skemeraand kom ons by Aliwal Noord se karavaanpark en warmwaterbron aan. Ons baljaar tog te lekker in die louwarm water, braai vleis en drink iets kouds vir die senuwees ---- die drama van die dag al klaar vergeet.

 

Vroeg die volgende oggend val ons in die pad want PE is ʼn ent se ry en ons wil vroegmiddag daar wees. Dis Sondag, die pad is stil en die Klaptons speel oor die radio. So twintig kilometers buite Aliwal begin die Peugeot skielik te stotter en verloor krag veral teen die bulte maar tel weer spoed op teen die afdraande maar ons sukkel voort. Die Vrystaat is verlate op n Sondag en alles is toe. In die ou Ciskei word ons in ʼn padblokkade voorgekeer en die Peuqeot sukkel om weg te trek en ek kry ʼn nare gevoel ons gaan sukkel om vanaand PE te haal. Nou begin ons die klowe en berge van die Oos-Kaap kry en dit gaan al hoe stadiger. Francois wil weet hoe vêr dit nog is? Onder in ʼn kloof sit ʼn bobbejaan op ʼn hoekpaal vir ons en kyk met ʼn bekommerde uitdrukking op sy gesig. Ons ry Grahamstad verby sonder om te stop want dit word laat. Die Peuqeot sukkel nou erg teen die bulte uit en in my truspieël sien ek hoe dam die karre op. Skielik kom die oranje liggie van die petrolwyser aan. Die kar gebruik nou heelwat meer brandstof as gewoonlik. Ek onthou daar is so klein plekkie met ʼn petrolpomp verder aan en is nie te bekommerd nie. Groot is die teleurstelling toe ons daar indraai en sien die plek bestaan nie meer nie. Nou is ons in die moeilikheid en bid ek dat ons Colchester, duskant PE,sal haal. Dis nou stil in die kar en die oranje liggie brand al hoe helderder. Op petroldampe haal ons Colchester en maak vol. Die atmosfeer in die kar is weer gemoedelik en vroegaand sleep ons PE binne.

 

Die Maandagoggend vroeg is ek by die agente.” Meneer die Peuqeot se vonkproppe was klaar ! Hy is nou weer kookwater en jy kan maar ry”.Daardie aand slaap ons by Robberg se karavaanpark by Plettenbergbaai en Jan en Francois ry branders met hul bogie boards.

 

Op George begin die Peuqeot weer ruk en laat ek die vonkproppe vervang – sy nuwe naam is nou “vonkpopvreter “! Die volgende dag begin die Peuqeot stotter toe ons Bredasdorp binnery en ek koop sommer dadelik vir my ʼn stel vonkproppe.

 

Die Dam is toe ʼn heel groot karavaanpark teen die see met lekker staanplekke. Die volgende oggend waai die wind sterk Suid-Oos maar gaan lê die aand om net weer die volgende dag sterk uit die Weste te waai. So gaan dit elke dag! Die derde dag hou daar ʼn 5 ton lorrie langs ons stil met twee bakkies en die mense begin afpak. Hulle slaan daar ʼn ex Wilkie Sirkus tent op en begin meubelment indra: dubbel beddens, groot yskaste,vrieskaste, ʼn wasmasjien, verskeie braai apparate, stoele en tafels en ʼn hele kombuis. Heel laaste haak hulle die waentjie met die generator af en begin ligte hang. Hierdie mense het gekom om te bly! Toe hulle die generator daardie aand start lyk dit soos ʼn Merry Go Round soos die ligte brand. Slaap kry ons min soos die mens kuier en die gedreun van die generator is steurend.

 

Ons het ʼn Macski saamgebring maar nadat Jan-Christiaan hom vrek geskrik het vir ʼn rob wat kom ondersoek instel het, het hy dit nie weer in die water gewaar nie. Ek het ook probeer roei maar het amper verdrink toe die Westewind my die see in waai.

 

In die kamp ontmoet ek ʼn oom Nigrini wat naderstaan toe ek die Peuqeot se vonkproppe omruil. Hy vertel my die Peuqeot vat ʼn spesiale soort vonkprop wat die probleem sal oplos.

 

Intussen het die bure se generator gebreek en kon ons weer saans rus kry maar die wind wil nie ophou waai nie. Die sewende dag pak ons op en kry koers Somersetwes toe om vir my ma te gaan kuier. Die nuwe vonkproppe het tot anderkant Grabouw gehou en toe ons by my ma se woonstelkompleks indraai begin die kragstuur pomp van die Peuqeot olie uitspuit. Draai jy links spuit dit daaikant toe,draai jy regs spuit hy diekant toe! Die volgende dag is die kar weer agente toe sodat hulle sommer die nuwe soort vonkproppe kan insit.

 

Eindelik vat ons die pad via die Karoo terug Pietermaritzburg toe. Die Peuqeot loop lekker maar toe ons Beaufortwes binnery begin hy weer met sy streke. Ek vra oral rond vir ʼn stel van daardie spesiale vonkproppe en kry later wel vier in die hande. Niemand stel egter belang om dit vir my in te sit nie. Ek het op daardie stadium vir my ook al ʼn spesiale ‘plug spanner’ aangekoop en besluit om die vonkproppe net daar in die hoofstraat van Beaufortwes self in te sit. Dis Januarie in die Karoo en bleddie warm. Toe ek die enjinkap oopmaak slaan die hitte van die warm enjin my in die gesig. Ek spook met die vonkproppe en praat later in tale elke keer as die enjin my brand maar kry die job gedoen, maar nou is ek regtig gatvol vir die Peuqeot. Net daar besluit ek ons gaan nie weer saamtoer nie. Die Peuqeot moes die dreigement ernstig opgeneem het want toe loop hy sonder moeilikheid tot in Pietermaritzburg. Ek het hom later op ʼn Audi 500 SE ingeruil.

 

Om met ʼn karavaan te kamp het soms ook sy probleme en dinge kan maklik skeefloop. Die afhak en staanmaak van ʼn karavaan verg spanwerk en dis hier waar klein dingetjies sommer gemoedere kan laat opvlam. As jou vrou byvoorbeeld wys jy kan maar terugstoot en sy raak deurmekaar met watter kant is links of regs en jy skraap jou karavaan teen ʼn tak moet jy beheers kan sê: “Toemaar Mammie dis sommer net ʼn klein skrapie!” Moet ook nie opgewonde raak as sy vergeet het om die Blitz in te pak as jy die vuur moet aansteek en die kinders wil weet wanneer hulle kos kry.

 

Weet ook hoe werk gas! Ons het eenkeer saam met vriende op Port Edward gekamp toe die Skottelbraai se gasbottel skielik ʼn moerse vlam hier onder by die konneksie begin uitspuit. Ons gooi water maar kry die vuur nie dood nie en dis te warm om naby te kom. Paniek ! Hou die kinders weg want die ding gaan ontplof ! Die staanplekke is op sulke terrasse en ons staan heel bo met ʼn klomp karavane ondertoe geparkeer. Ek en my vriend lê agter die deksels van twee vuilisdromme wat ons as skilde gebruik indien die gasbottel ontplof. Dis toe dat Joe die gasbottel met sy voet teen die wal af skop en dit al brandende teen die terras afrol. Gelukkig keer ʼn boompie dat dit nie verder rol nie anders was dit daardie dag ʼn helse smêsh met al die karavane ondertoe wat ons aan die brand sou steek! Daar kom ʼn ou rustig aangestap met ʼn brandblusser en met een spuit doof hy die vuur uit!

 

ʼn Goeie tydverdryf in ʼn kampplek is om dop te hou as daar ʼn familie stilhou met ʼn splinternuwe karavaan. As die vrou eers die handboek uithaal na ʼn halwe dag se probeer om al die pale op hul regte plekke in te steek is dit tyd om nader te stap en te help.

 

Vriende van ons het ʼn karavaan geleen om saam in die Drakensberge te kamp en het donkeraand daar aangekom. Ons het almal gehelp opslaan maar het vreeslik in die donkerte gesukkel met die tent net om die volgende dag te sien die hele tent is onderstebo opgeslaan. Die feit dat die helpers toe reeds al ʼn paar keile agter die blad gehad het, het as versagtende omstandighede gedien.

 

Met ʼn karavaanvakansie moet jy ʼn paar dinge onthou:

 

* Slaan jou tent die eerste keer reg op al waai daar geen wind nie.

 * Oppas vir ʼn groot boom. Vrugtevlermuise en voëls beskyt jou karavaan met lewenslange vlekke.

 * Ape of bobbejane kan groot skade aanrig en jou hele vakansie bederf.

 * Help jou vrou met die skottelgoed!

 

'n Vakansie met ʼn karavaan is egter van die lekkerste maniere om saam met jou gesin deur te bring. In die karavaanparke ontmoet jy die wonderlikste mense en almal is vriendelik en gemoedelik. Saans hang die rook tussen die karavane soos almal vleisbraai. Na nege saans word dit stil en nie lank daarna nie hoor mens rustige snorkgeluide. Ja-nee,so ʼn kampery is nogal veeleisend!

 

Oktober 2014