Die Kasteroliespook van Koperfontein.

 

 

In ons kinderjare was daar nie n groot verskeidenheid medisyne nie . Maar as daar nou

een ding was wat vir alles gehelp het was dit kasterolie ! Kyk, ons was so bang vir

kasterolie dat jy sommer vanself gesond geword het as jou ma net kasterolie noem. Daar

was veral n sekere tyd van die jaar wat jy dit moes inkry - soos diptyd vir beeste. Dit was

so n paar weke voor Kersfees en gewoonlik voor die jaarlikse seetoe vakanksie.

 

 

Die oumense het geglo dat die kinders se mae skoon uitgespoel moet wees as jy see toe

gaan want al die nuwe soorte eetgoed wat mens met so n vakansie inkry akkodeer nie met

n maag wat heeljaar gewoond is aan stoofkossies en brood en konfyt nie. n Toffieappel

met vis en tjips laat mens se maag anders reageer en gooi nog boonop n lang

draairoomys by en jy moet aanmekaar toestemming vra om toilet toe te gaan . Dus as jy

die dag in die Strand land moet jou maag reg wees.

 

 

Die inneem van kasterolie was n ander probleem. Ek dink nie daar is nog n ding in die

wereld met so n walglike reuk soos kasterolie nie. My ma het alles probeer . Sy het vars

lemoensap uitgedruk en dit in n glas gegooi en dan die eetlepel kasteolie bo-op. Nou dryf

daai kasterolie so n dik laag bo - op die lemoensap. As jy klaar gesluk het sit die

oorblywende kasterolie so n laag op jou bolip. Die ander manier was dat tweeman jou

vashou en n derde een jou mond oopbeur en kasterolie inforseer. Dit was n baie wrede

manier om purgeermiddel toe te dien. Dan was daar die oom Hennie Greef manier. Oom

Hennie was ons buurman en het die smitswikel langs ons gehad. Hy was n imposante

figuur met n groot maag en kaalkop. Sy bynaam was ook oom Hennie Oukop. Ons kinders

was baie bang vir hom , veral my broer Kobus. My ma het altyd vir oom Hennie laat kom

as dit kasterolietyd is. Hy het net daar gestaan en niks gesê nie en ons het gesluk !

Maar oom Hennie het ook sy dag gekry om kasterolie te sluk. Dit het so gekom :

My ma was die eienaar van die plaaswinkeltjie op Koperfontein met my oupa Koos se

meulhuis net langsaan. Dit was ook die bymekaarkomplek van die boere as hulle

kooperasie toe kom en die stories het net nie opgeraak nie -- veral nie as Sollie Bester die

dag sy opwagting maak nie ( maar dis n ander dag se storie ).

 

 

Oom Hennie het die gewoonte gehad om elke oggend voor Ben Ehlers sy Burger kom

haal dit gou vinnig deur te blaai en sodoende die koste van n koerant te spaar. Daardie

betrokke oggend toe oom Hennie die winkel binnekom toe is oom Jan Stap du Toit,

Christie Truter en my oupa Koos klaar daar. Oom Hennie het die vorigge dag n gekookte

skaapafval van tant Bettie Ehlers van Boorwater present gekry ( oom Hennie was toe al

wewenaar en die anties van die kontrei het soms vir hom eetgoed gestuur) Hy het die hele

afval met eenslag opgeëet.Hy kon vreeslik baie eet.

 

 

Nou kla oom Hennie sy maag is 'mistergeweer'. Dit was n uitdrukking wat hulle in die

Sandveld gehad het as jou maag nie lekker was nie . Oupa Koos sien dadelik die

geleentheid raak om vir oom Hennie n poets te bak. Hy sê toe: ' maar oom Hennie

kasterolie sal dit regmaak '. Nee , sê oom Hennie hy hou hom nie op met kasterolie nie.

Maar oupa Koos hou aan : ' hoe lyk dit dan vir my Oom is bang vir kasterolie ? ' Nou is

oom Hennie in n hoek gedryf en hy wil ook nie gesig verloor nie want almal staan en kyk

nou vir hom.

 

 

Hy draai om en sê vir my ma agter die toonbank : ' Girlie , gee daar vir my een -en - ses se

kasterolie ' Dit beteken een shieling en sikspens , wat n botteltjie kasterolie toe gekos het.

Hy draai die prop af en met een sluk maak hy die hele bottel leeg sonder om n oog te

knip , vee die kasterolie so van sy snor af en vat sy kierrie. Intussen het oupa Koos vir

Adam, my ma se winkelassistent, omgestuur na ouma Lenie om n groot beker sout water

gereed te hê. Oupa sê toe vir oom Hennie hy moet daar by ouma langs loop.

Toe hy by ouma kom toe gee sy vir hom die hele beker lou sout water om uit te drink om

die smaak van die kasterolie weg te vat. Die wat nie weet nie : as jy soutwater saam met

kasterolie neem bou jy n atoombom !

 

 

Dit is Februarie en vrek warm. Daardie aand toe gooi my pa twee matrasse buite op die

stukkie kweek want dit is te warm om in die huis te slaap. Dis n helder maanlig aand .Ons

lê net lekker toe gil my broer hy sien n spook. Daardie dae het ons mos met spookstories

grootgeword en jy het maar altyd oor jou skouer gekyk as dit begin donker word.

. My ma beveel ons om doodstil te bly lê want mens weet nooit hoe n spook se geaarheid

is nie en jy wil hom nie ontstel nie want Jossie van die Witblok vertel outa Johannes

Manewel het het eendag n man se hand gesien waar n spook hom beetgekry het. Dit lyk

kompleet soos iemand wat in die vuur geval het.

 

 

Tussen ons en oom Hennie se huis is n draad en voor die agterdeur van sy huis staan n

groot bloekomboom. Die spook staan doodstil onder die bloekomboom en die maan gooi

sulke skadukolle oor hom as die blare roer. Die spook beweeg so n kort treetjie vorentoe

en staan weer doodstil. My broer het nou onder die komberse ingekruip en sy kop

toegemaak maar die hond wat saam met ons lê is min gepla en waai sy stert. My pa voel -

voel so na sy .22 rewolwer onder die kopkussing. Die spook gee weer n klein treetjie

vorentoe en draai sy kop skuins na ons kant toe. Dit lyk kompleet asof daar so n lang wit

ding agter uit sy kop uitgroei wat so swaai as hy sy kop beweeg. En dis n groot spook. Ek

het nog altyd gedink n spook is n lang dun ding en dat mens deur hom kan sien. n Mens

kan ook nie deur hierdie spook sien nie want hy is baie dig en gooi selfs n skaduwee agter

hom. Miskien is dit nog n vars spook want as hulle ouer word raak hulle dunner en

deursigter en later word dit n ligte beweging en soms bly net die rooi oë agter. Oupa Koos

het altyd in sy baie spookstories vertel n mens moet nie te veel worrie oor daai soort spoke

nie want hulle blus is al uit.Die vroumensspook wat saans daar by Driehoeksfontein langs

die pad staan en vra om saam te ry is die soort wat mens voor moet oppas. Heinie Rust sê

toe hy haar oplaai klim sy agter in die kar en vra vir n sigaret. Hy vermoed eers onraad toe

hy in die truspieeltjie kyk en dwarsdeur haar agter in die pad kan sien ! Die brandende

sigaret het gat in die agtersitplek van sy Chev gebrand. Sy vrou glo tot vandag toe nie die

storie nie.

 

 

Ek bekyk die spook wat so doodstil staan en dit gaan deur my gedagtes dat dit nie vir my

na n vinnige soort spook lyk nie en dat dit ook nie die tipe spook is wat sommer deur n

muur sal loop nie. Net toe gee die spook twee vinnige treë vorentoe en kom onder die

skaduwee van die bloekomboom uit. Ma gil : 'maar dis dan oom Hennie !! ' Daar staan die

kasteroliespook met sy lang wit slaapjurk en die mus met die lang tosselding . Die

longdrop is so 50 meter van die huis af en die die tyd raak min want die bom se lont is

kort. Die kasterolie en die soutwater is nou kwaad vir mekaar en ons hou asem op. Oom

Hennie se treetjies raak al hoe korter en vinniger maar toe hy so tien tree van die longdrop

af is toe maak hy die handbriek los en die turbo skop in. Daai groot lyf vlieg daar weg dat

die sand so spat en met die laaste drie tree toe sien jy net daai groot wit boude in die

maanskyn soos hy skoon uit die jurk hardloop ! En toe bars die bom. Oom Niekie Loubser

wou die volgende dat by oupa Koos weet of hy ook laasnag die donderweer gehoor het

maar hy het geen blitse daar na Koringberg se kant toe gesien nie .Snaaks , dis mos nie

donderweer tyd hierdie tyd van die jaar nie ?

 

 

Pa- hulle het die beddegoed weer teruggedra huis toe en ek kannie onthou dat ons ooit

weer buite geslaap het nie. Snaaks, my ma het nooit weer vir oom Hennie gevra om by te

staan as ons kasterolie moet drink nie.