Ek lees in die koerant van die drawervrou met die pink hemp wat vroegoggend op die stoep van ʼn ou se huis daar in Clifton haar nood verlig. In plaas van kwaad wees, moet mens begrip hê vir so ʼn geval. As daai nood opbou en die bom gaan bars moet ʼn man ʼn plan maak en sommer gou ook!

 

So vertel ʼn kennis van my hoe hy een Maandagoggend, jare gelede in Durban se Smithstraat afloop op pad na ʼn vergadering. Hy is uitgedos in sy swart Monatic pak met ʼn rooi das en ʼn paar nuwe swart Baker skoene. Dis vroeg oggend en die straat is stil, die meeste kantore is nog toe.

 

Skielik gee sy maag ʼn draai en hy weet sommer dadelik dis die LM prawns wat hy gisteraand daar op Eshowe geëet het wat nou wil buitentoe. Sy tyd is min want die bom se lont is kort en hy glip by die eerste kantoorblok in. Die Zoeloe deurwag beduie hom waar die toilet is. Sy nood is nou so dringend dat hy al sy broek begin losmaak toe hy die badkamer binne storm. Met sy broek op sy knieë draai hy om en stamp die deur met sy kaal boude oop en mik instinktief vir die sitplek.

 

Maar op daai geriefie sit daar klaar ʼn man met ʼn swart dikraam bril, rustig besig is om die Natal Mercury deur te blaai. ʼn Pakkie Texan in sy bosak met ʼn brandende sigaret in sy linkerhand. Toe die man hy opkyk sien hy net twee wit boude met die loop van ʼn kanon reg op sy voorkop gerig ! Al wat hy uitkry is: " O my God !”en terselfdertyd skop hy die deur toe. My vriend sê maar daai deur stamp hom met ʼn slag vorentoe dat die Bakers skoene eintlik skree soos ʼn kar se bande wat te vinnig om ʼn draai gaan. Met die broek op sy enkels is hy nou handeviervoet.

 

"Te laat my broer !" sou die ou hier in die Kaap gesê het. Hy sê met die opstaan en omdraai maak hy maar soos die seekoeie van St Lucia : hy sprei hom teen die groot porselein Shanks piepiekrip !

 

Die Zoeloe deurwag het vir hom ʼn heel nuwe stel klere gaan koop.