Dis nou-al ʼn hele tydjie wat ek die begeerte het om deur die ou plaasopstalle in die Koperfontein omgewing te ry. Wie sal dan nou die wêreld beter ken as Tertuis Slabber van Bontheuwel? So ry ek en Martie die Donderdag voormiddag op uitnodiging van Elna en Tertuis Onner Swartland, soos die stuk wêreld daar bekend staan, toe. Dit is lente en die Swartland lyk pragtig met die koring wat in die aar staan en met die lappe geel Canola so tussenin. Anderkant Malmesbury draai die pad links uit die N7 in die rigting van Hopefield en Vredenburg en dis ook waar mens ʼn pragtige toneel sien : Tafelberg in die verte met die geel en groen landerye in die voorgrond.
Ek dink onwillekeurig terug na een oggend in 1963 waar ek juis op hierdie plek met my Matie baaitjie oor my skouer staan en ryloop. Met my aankoms staan daar alreeds ʼn ander ryloper en wag. Ek herken hom as die doofstom outjie van Velddrif wat een reënerige Vrydag middag reg voor die kerk op Hopefield met sy BMW motorfiets gegly het en hom bewusteloos geval het. Hy het ʼn swelsel so groot soos ʼn hoendereier voor sy kop gehad. Daardie dae was ʼn valhelm nog nie verpligtend nie.
Ons gesels te lekker met mekaar deur met ʼn stok in die gruis langs die teerpad te skryf. Later staan die tasse daar bo soos ons al langs die pad af skryf. Later sit ons saam agter in 1948 Chev en ek klim op Koperfontein af. Ek het hom nooit weer raakgeloop nie.
Ons kom net na twaalf op Bontheuwel aan en is ook net betyds vir middagete. Kyk, in die Swartland/ Sandveld eet die mense twaalfuur en tot tweeuur kom klop jy nie aan ʼn deur nie want dan rus die mense! Menige gif/kunsmissmouse het al so besigheid verloor met ʼn ontydige kloppery oor die middaguur.
Die volgende oggend ry ek eers saam met Tertuis Wellington toe om nekklampe wat sy seun Olivier bestel het, te gaan haal terwyl Martie en Elna op Hopefield gaan tee drink en met die heerlikste pannekoeke en vetkoeke terugkeer. Tertuis het die boerdery aan Olivier oorgedra en help so nou en dan met ligte werkies. Hy wys my hoe die toerusting van ʼn moderne saaiplaas lyk en ek is verstom hoe wetenskaplik die jong boere hul plase bewerk. As kind kan ek nog onthou hoe ek die stuurwiel van ʼn K44 Massey Harris in die ploegvoor gehou het met ʼn vierskaarploeggie wat sulke blink vore gooi.
Nou staan daar reuse John Deere trekkers met wiele wat bokant my kop uittroon --- dubbele wiele voor en agter. Die een trekker werk met ʼn dertig meter spuitimplement wat ten volle elektronies beheer word dmv satelliet navigasie. Wat my die meeste beïndruk is die reuse Claas stroper wat sommer so in die ry alle inligting op ʼn rekenaarskerm gee. Nee kyk, as jy hierdie toerusting gebruik moet jy papiere hê!
Verder is dit interessant hoe die algemene boerdery praktyk verander het. Die veefaktor is nou baie meer prominent deurdat meer skape en beeste aangehou word. Dit is meegebring deur die aanplant van ʼn meerjare weiding, Medix, wat die drakrag baie verhoog.
Die Slabber familie boer nou die plase, Enkelvlei, Bontheuwel en Klein Hamburg wat dit ʼn ekonomiese eenheid maak. Dit is ʼn neiging wat die afgelope jare plaasgevind het deur meer as een plaas in ʼn groter eenheid te konsolideer. Ongelukkig het dit veroorsaak dat baie van die opstalle van die ou familieplase leeg staan. Gelukkig is daar darem nou mense wat die ou plaashuise huur en selfs opknap. So neem Tertuis ons op ʼn nostalgiese uitstappie deur die plase. Hy bly sy hele lewe lank in die omgewing en ken elke hoek en draai asook die familie geskiedenis van elke plaas.
Ons spring weg by Klein Hamburg wat nou aan die Slabber familie behoort. Oom Jan (Diekie) Truter was eers die eienaar en ek onthou nog die 1956 Mercedes 180 diesel bakkie waarmee hy by oupa Koos kom meel laai het. Daai bakkie was so stadig dat jy ʼn week voor die tyd moes bespreek as jy iemand wou verbysteek. Hoeksvlei van oom Boeta Baard lê aan die linkerkant. Verder met die pad af ry mens die netjiese werf van Rooivlei binne. Jong mense huur die opstal met sy rooigeverfde dak en die tuin om die ou groot huis is ʼn lus vir die oog. Oom George Cloete, die vorige eienaar het een van die eerste 1958 De Soto’s van daai jare gehad. Wie sal dan ooit daai vlerke vergeet! ʼn Entjie verder lê Middelpos die ou plaas van oom Johnnie Cloete. Hy ook so ʼn De Soto met vlerke gery. Ek is geskok om die toestand van die eens mooi opstal te sien. Iemand het besluit om die huis van al die Oregon Pine te stroop. Is dit moontlik dat mens so ʼn mooi huis kon vernietig. Al die deure en vensters is uitgebreek, die binne mure is afgebreek, die balke en solder is verwyder en al die houtvloere opgetel. Dis net ʼn dop wat oorbly. In die kombuis staan ʼn erg vernielde Agastoof eenkant in die vuurherd. Hoeveel potte kos en brode is nie in sy oond gebak nie. Wintersaande in die kombuis met sop en die gesellige hitte van die AGA.
Toe ons daar wegry is my hart seer. Van die tennisbaan is net die gelykte oor en die windpomp staan skeef oor die verlate werf en uitkyk. Die plaas het ʼn pragtige uitsig. Na die ooste sien mens die blou berge van Wellington met Riebeeck Kasteel in die voorgrond. Meer links lê Piketberg se berg met die Aurora berg verder wes. Ek wonder of dit daar spook ?
Van spoke gepraat. Oupa Koos vertel hoe hy een aand ʼn spook moes gaan skiet op Lemoendrif, buurplaas van Middelpos, en deur die Greeff familie bewoon. ( My ouma Lenie was ʼn Greeff). Verder aan van Lemoendrif lê Stêrhuis en Boplaas wat ook aan die Greeffwe behoort het. Oom Frikkie Greeff was van die laaste mense in die omgewing wat nog met ʼn tweeperd ysterwielband perdekar gery het. Dit was ook die laaste perdekar wat ek op gery het vanaf Hopefield na Koperfontein. Oom Hennie Greeff het later langs ons op Koperfontein ʼn smidswinkel kom opsit nadat hy sy plaas verloor het. Aan die onderkant van Boplaas se werf, daar waar dit minder klipperig is, lê die begraafplaas van die ou Greeff familie – so tussen die lente blommetjies. Ek wens ek het hulle almal geken.
Wolwedans van die Koegelenbergs en later die Steyns, lê verder aan voordat mens by Vlakvlei , Jack Schreuder se plaas verbyry. Tydens die bou van die eerste graansilo’s op Koperfontein het Jack Schreuder uit nuuskierigheid gaan kyk en toe in die groot gat geval. Gelukkig, en heel toevallig, het Thys Stap daar verbygekom en Jack met ʼn gebreekte been uit die gat gered anders sou hy die hele nag daar moes deurbring.
Kraanvlei van die Louw familie ry ons verby en ry om Giepie Basson , met die drieling seuns, se plaas Klipgat. Op die gelyke bo kry jy Brakpan van oom Piet Brand. Die huis is totaal afgebreek en slegs die skuur is oor. Hoekom ?
Ons ry by die plaas Diepkloof van Pikkie Rust verby en is beïndruk met die netjiese plaasopstal. Regs lê die plaas van Jan Tol. My pa, Jan du Toit, het destyds nog sy eie boubedryf gehad en dit is een van die laaste huise wat hy in die laat veertigs gebou het.
Ons sluit nou by die Koperfontein/ Koringberg pad aan en aan die oorkant lê Gemsbok van Japie (Stap) du Toit. Die plaas se naam was eers Soutkloof. By Grootvlei van Erik Truter draai ons links. Die pad loop regdeur die werf. Ons begin nou die Sandveld kry en die eerste plaas is Klipbank van Louw Bester, broer van Soltang Bester. Die plaas het ʼn deelwerf want langsaan boer oom Dael Koegelenberg. Hy was ʼn sedige man wat stadig en afgemete gepraat het. Oupa Koos vertel hoe oom Dael en sy seun Frikkie op Moorreesburg by die Chev garage instap om ʼn kar te koop. Hulle lyk maar armoedig in hul plaasklere. Die verkoopsman wys hulle al die tweedehandse motors. Oom Dael luister aandagtig na die man en toe hy klaar gepraat het sê hy op sy stadige manier maar hy wil daai kar hê en beduie na ʼn splinternuwe 1956 Chev en hy wil sommer ook weet wat prys die nuwe bakkie wat langsaan staan. Dis reg, hy vat altwee en sê vir Frikkie om die kussingsloop vol note onder die sitplek van die International bakkie te gaan haal en gee dit vir die verblufte verkoopsman met die opdrag om uit te tel soveel hul nodig het.
Die Bergriver lê nou voor ons en die eerste plaas is Paddadraai van Soltang ( Sollie) Bester. Ongelukkig is die ou opstal so oorgebou dat mens niks van die oorspronklike geboue kon sien nie. Ek wou so graag die waenhuis van oom Sollie sien waar hy met sy Stompneus Thames lorrie deur die waenhuisdeur gery het ten spyte daarvan dat die dak van die lorrie te hoog was. Dit was sy manier van dinge doen en daarna het die Thames maklik gepas, hy kon net nie meer sy hoed ophê as hy ry nie want die dak was nou te laag. Hy was ʼn wonderlike storieverteller en het dikwels in my ma se winkeltjie op Koperfontein die mense laat skaterlag. Eendag het hy daar op Koperfontein met sy DKW motorfiets opgedaag met ʼn plaasjong wat hy langs die pad opgelaai het. Toe hy stilhou toe hardloop die man skoon uit sy skoene uit en skree nooit weer ry hy agter op ʼn motorbike nie !
Aan die oorkant van Paddadraai lê die historiese Doornboom of “Dhogbim” soos die plaaslike aksent dit uitgespreek. Dit is waar die Brand familie bly en daar is meer as een huis op die plaas. Dis soos ʼn klein dorpie en tesame met die Besters oorkant die rivier was dit ʼn hegte gemeenskap met legendariese stories - ʼn boek kan daaroor skryf word. ʼn Mens kon slegs die Bergrivier in die somermaande met ʼn voertuig oorsteek, die res van die jaar moes jy ʼn bootjie gebruik of die ompad via Velddrif na Hopefield neem. Die storie loop dat ʼn vat wyn met ʼn tou deur die vol rivier gesleep is en dat die tou losgekom het en die vat is nooit opgespoor nie. Op Caledonia, die plaas van Boetie Maas verder af teen die rivier, bly die plaaswerkers dronk in werkstyd. Dis hoeka daar waar die vat uitgespoel het!
Daar is nou ʼn sementdriffie deur die rivier gebou en die water is laag genoeg om deur te ry. Oorkant die rivier maak ons eers piekniek onder ʼn boom en Andre Brand kom met sy veldfiets verbygery. Hy kla ook oor die min reën wat die graan nou laat swaarkry.
Terug aan die anderkant van die Bergrivier ry ons by die plase Vondeling en Drievlei van die Lambrechtse verby voordat ons weer links draai. Dis nou regte sandveld en groot dele van die landerye is nog nie ontbos nie en die natuurlike habitat met die veldblomme is pragtig. Waterboerskraal van Philbert Melck en seuns lê alkant van die pad. Philbert is nou al afgetree en hy is deesdae bekend vir ʼn bewaringsprojek waar hy koekmakrankas kweek en aan boere verskaf om dit weer op hul plase te plant. Ek verneem daar is ongeveer dertig spesies koekemakrankas. Ek onthou self hoe ons as kinders tydens Maart/April in die veld rondgestap het om koekemakrankas te soek. Bekende soorte was : katpielietjies, sandmanne en die ruikertjies.
Eindelik kom ons weer by die Koperfontein/Koringberg pad. Reg voor ons lê Leliefontein van Pieter Slabber. As kind het ek baie daar kom speel en dan het ek en Langkoos Slabber in die Langdam geswem of ander kattekwaad aangevang. Op die bultjie bokant Koperfontein lê Boorwater van oom Ben Elhers. Sy pa, oom Hendrik, het elke dag die Burger by ons winkel op Koperfontein kom haal. Hy het graag die doodsberigte gelees asook die moordsake. Ek werk in Pretoria en met een vakansie kom vra oom Hendrik vir my of hulle al daai Van der Merwe gehang het. Daardie dae is almal mos in Pretoria gehang en ek moes mos weet want ek bly dan daar !
Ons ry Koperfontein binne en die reusagtige windmeulens van die windplaas laat mens eintlik klein voel. Iemand is besig om ons ou huis te restoureer waaroor ek baie bly is want die plek het baie agteruitgegaan. Nog een van my pa se handewerke. Jaco Slabber het intussen my oupa Koos se huis en die meulhuis gekoop en dit pragtig gerestoureer. Behalwe die pragtige ou kliphuis en winkel van oom Klaas Koch is daar twee ander interessante huise op Koperfontein. Dit is die huisies van oom Fanie Karstens en ant Lizzie Louw wat met sink gebou is. Veral die huis van ant Lizzie is nog in sy oorspronklike toestand en word nog steeds bewoon.
Oppad terug Bonthewel toe ry ons verby Skaapplaas van die Laubsers en Karbonaatjieskraal van Thys (Stap) du Toit en draai links by Sandvlei van oom Paul Rust wat vandag aan Johan Teubes behoort.
Op Bonthewel het Tertuis ʼn stukkie natuurlike veld teen ʼn koppie wat oor die jare ongesteurd behoue gebly het. Hier kan mens die veldblomme en ander plante in hul oorspronklike vorm sien en dis regtig iets besonders veral hierdie tyd van die jaar met die verskillende veldblomme. Ons ry soontoe en terwyl ons deur die veld stap sien ons net hoe die wit Fortuner met Ben die skaaphond agterin, alleen koers kry deur die graanland. Gelukkig word die land ondertoe gelyk en kom die spookkar tot stilstand. ʼn Outomaties kar se handrem moet mens optrek as jy sommer so in “drive” stop!
Die aand braai Tertuis dik Serlion steaks en ons drink Du Preez Private Cellar se Merlot. Later die aand stap ek uit om die sterre te kyk en is verstom om al die ligte om ons te sien. Bontheuwel lê redelik hoog en dus het mens ʼn 360 grade panoramiese uitsig. Ek sien Darling, Moorreesburg, Oukraalfontein van Hopefield, die gloed van Langebaan en Saldanha asook Kaapstad. Wat my die meeste beïndruk is die rooi driehoekige ligte van die 38 windmeulens wat elke drie sekondes flits. Daar is ook die ligte van hoenderplase en ander strukture in die rigting van Darling wat ek nie kan eien nie. In ons grootword jare was die Weskus mos ʼn donker plek want elektrisiteit het eers later gekom. Toe besef ek: niks staan stil nie. Wat sou die ou mense tog gesê het !
Ons ry die volgende dag terug en my hart sing. Bo, waar ons indraai op die N7, hou ek eers weer stil om vir oulaas die Canola blommetjies te ruik en ʼn foto van Riebeeck Kasteel se berg te neem.