Ons kamp in Letaba . Hier langs ons staan drie tente en die manne braai elke aand vleis en gesels tot laat. Maar hulle lyk nie soos ouens wat kom wild kyk het nie want soggens klim hulle met lêers in die Fortuner en kom eers laatmiddag terug.
Ek loop die een jongman in die badkamer raak en vra hom uit. Nee, hy is ʼn dominee van Ermelo en die Ring het ʼn seminaar hier op Letaba. So kan mens jou misgis.
Ons kamp voor verlede jaar op Balule en hier langs ons staan ʼn ou wat lekker kuier en toe sy skoonseun die Vrydagaand ook kom kamp opslaan gaan dit heel plesierig. So stap ek oor om kennis te maak en word ʼn dop met lekker eish aangebied. Later haal ek ʼn paar Weskusstories uit. Die jong ou vra :"Is Oom nou afgetree ? En watse werk het Oom dan gedoen ?
Die partie is nou goed op dreef en van die stories het die anties ook al laat groot oë maak.
"Nee, ek was mos vir 27 jaar ʼn predikant op Alexandria in die Oos-Kaap".
Jy kan ʼn speld hoor val! Die een antie voel-voel so na haar pakkie sigarette hier voor in haar bors en haar dogter skuif haar Gin en Tonic agter die stoel se poot in. Die skoonseun krap skielik die kole reg. Net die ouerige oom sit lekker agteroor met sy dubbele brandewyn en Coke en gooi nog twee ysblokkies by. Hy trek diep aan sy Rothmans en blaas die rook deur sy neus. Vir ʼn dominee skrik hy nie !
Almal weet skielik nie wat om te sê nie en as hulle praat is dit skoon bedees. Die gesprek om die kampvuur wil maar net nie vlot nie. Later vra die jonge: "Maar Oom hoe is dit dan nou dat Oom die goedjies vat?"
Nee kyk sê ek, vir 27 jaar moes ek die voorbeeld stel en kon ek en die koster slegs die oortollige nagmaalwyn Maandagoggende uitdrink. Die koster het later slim geword en altyd te veel nagmaalwyn bestel sodat ons darem Dinsdagoggende voor biduur ook so ietsie kon vat. Dit was moeilike tye. Nou probeer ek opmaak!
Hy staan op,stap na die oop flap van die Toyota dubble cab, skroef die bottel J&B met een beweging oop en gooi ʼn dubbel. Uit die blou koelboks gryp hy ʼn handvol ys en gooi dit in sy glas. Hy steek een van skoonpa se Rothmans aan en blaas die rook met ʼn tuit deur sy lippe.
Hy sit soo vir my en kyk en sê :” Nou lieg Oom darem lekker vir ʼn predikant !”
Ons is boesemvriende uitmekaar.