ʼn Kuiertjie aan die Weskus lewer altyd nuwe stories op. So kuier ek en Martie saam met Tertius en Elna Slabber op Blouwaterbaai in hul strandhuis op Saldanha. Nic Mostert, Quartus Laubscher en hul vrouens ry die middag oor vir ʼn potjiekos middagete. Nic het op Melkplaas aan die Oostekant van die Bergrivier grootgeword en Quartus aan die oorkant op Cloeteskraal,Tertius op Enkelvlei, so 12 km duskant Hopefield, ek op Koperfontein. Soos die gewoonte is, word daar stories uit die kontrei aangehaal.
Daar was nog nooit ʼn tekort aan karakters aan die Weskus nie en staaltjies van Boet At, Thys Stap, Battery Basson en Janneman van der Westhuizen word vertel. Boet At word op10 Julie vanjaar 90 en toe Nic hom die ander dag by die Koöperasie op Velddrif raakloop en uitvra oor sy nuwe Izuzu Bakkie, sê Boet hy ry maklik nog 160 km/h.
Quartus vertel van Janneman wat na ʼn vriend van hom daar duskant Jacobsbaai gaan om te help met die instel van ʼn nuwe Ford baler. Die tante van die plaas was bekend dat haar kombuis nie van die skoonste was nie. Met dit in gedagte het Janneman hom voorgeneem dat hy ten alle koste ʼn uitnodiging vir tee of koffie moet vermy. Op die plaas aangekom, hou hy dan ook so stil dat niemand sy bakkie daar van die huis se kant af kan sien nie. Hy loop so al langs die skuur af maar moet so vyf meter oor ʼn oop stukkie loop na waar die stroper onder ʼn afdak staan. Net toe hy so halfpad in die oopte is sien die tante hom daar uit die kombuis raak. “ Janneman! Kom drink eers gou ʼn koppie tee man !”
Vir omdraai is daar nie nou kans nie. Hy sê toe hy by die kombuisdeur instap, hardloop ʼn vark amper sy bene onder hom uit! Soveel vlieë het hy nog nooit bymekaar gesien nie. Hy merk dat van die vlieë op die kombuisvloer sit. ʼn Vlieg sit nie sommer op die grond nie maar toe hy opkyk sien hy hoekom. Die plafon sit so dig van die vlieë dat daar nie plek vir een meer vlieg is nie. Hy sê hy skat daar is altesaam omtrent so sewe miljoen vlieë. Toe Quartus vir hom vra of hy weet hoeveel sewe miljoen vlieë is, sê hy : “OK, ek sal ʼn miljoen afgee maar nie een vlieg meer nie!”
Die tante wil toe tee aanbied maar Janneman sê hy is onder dokters orders en mag geen tee, koffie of gemaakte goed drink nie en kan slegs iets drink wat uit ʼn toe bottel kom. So ontsnap hy die teedrinkery.
Een Vrydag middag loop Boet At vir Bosaap op Vredenburg raak. “Kom ry gou saam met my Sandveld toe. Om wat te gaan maak ? Nee, ek wil ʼn trop bokke gaan koop” sê Boet At. Daar aangekom begin Boet At onderhandel maar die prys bly vas. Later sê Boet vir Bosaap : “Ons sal moet oorbly want die ding vat nou langer as wat ek gehoop het.” Die volgende oggend praat Boet met Bosaap: “Kyk, ek wil nou nie hê jy moet die mense affronteer nie maar skakel maar by hulle gewoontes in want ek moet vandag nog die bokke koop.
Hulle sit aan by die kombuistafel vir ontbyt. Die oom bring ʼn groot emmer melk en sit dit langs die tafel neer en skep met sy beker. So skep Boet, die tante en Bosaap ook. Later kom die skaaphond in en flap-flap ook in die emmer. Die oom skep weer en nooi vir Boet om nog te skep. “Maar oom wat van die hond?” Man skep diep, die hond is mos net hier bolangs!” Boet sê maar hy steek sy arm in dat sy hempsmou tot hier onderkant die elmboog van die melk sit!
ʼn Klompie van Hopefield se boere word deur ʼn landboumaatskappy genooi om die nuutste Klaas stropers in Duitsland te gaan besigtig. Met sulke toere word daar nie net na stropers gekyk nie en veral die nagtelike aktiwiteite vind groot byval onder die manne van die Sandveld. Thys Stap is ook op die toer en hy is in sy element. Oom Japie Laubscher loop hom by die koöperasie raak en vra uit oor die toer. “Oom Je-Je-apie, we-weet oom h-h-hoe me-me-moeilik is dit om-om ve-ve- te-te-twee weke w-waker te be-bly ? Ekke het de-darem ʼn be-bietjie se-slaap ingeke-kry toe hulle ve-ve ons ʼn rol-rol pe-prent oor st-st-stropers ge-ge we-wys het. “
Thys vertel hulle het na ʼn vertoning gaan kyk waar half kaal meisies in ʼn deurskynende borrelbad op ʼn verhoog met mekaar stoei. Een van die meisies vra toe of daar nie iemand in die gehoor is wat wil saam stoei nie en Thys laat nie op hom wag nie. Hy begin uittrek en staan later net in sy rooi onderbroek en begin saam stoei dat jy net skuimwater sien spat. Hoe meer die manne hom aanmoedig hoe rowwer stoei hy. Later voel hy ʼn meisiekind se vinger hier by sy rooi onderbroek se rek. In sy haas om te probeer wegkom kantel die bad om en jy sien net half kaal meisies, seepwater en vir Thys in sy rooi onderbroek op die verhoog. Oom Japie vra: “En toe ?” “O-oom Je-Je-Japie! we-weet o-oom hoe mo-moe-moeilik is de-d-dit om o-oor ʼn fe-fe-hoog in Ou-Oumo we-water te-te-kruip me-me-met ʼn me-meisiekind se-se- ve-vinger in je-jou o-onder be-broek se-se rek ?”
Ai, die Sandveld mense !
Danie du Toit
Mei 2015