Daar is niks wat my meer fassineer as honde nie. Hulle onvoorwaardelike lojaliteit en hul vermoë om te vergewe en die feit dat hul altyd so bly is om ʼn mens te sien al was jy net vir ʼn uur weg !

 

Daar is baie stories oor honde maar een ding wat opvallend is,is hul verstandhouding met mekaar. Dis opvallend dat honde mekaar altyd raaksien en dan dadelik reageer. Twee honde aan weerskante van ʼn heining wil altyd mekaar verskeur maar as dieselfde honde mekaar in die straat raakloop ruik hul mekaar se pollies !

 

Oor die pollieruik gewoonte het my oupa Koos van Koperfontein ʼn mooi storie gehad : In die dae toe honde kon praat het hulle gereeld bymekaar gekom en konserte gehou of saam vleisgebraai . Tydens sulke geleenthede het die antie - honde strikkies aan hul sterte gebind sodat hul mans hul later in die aand kon uitken . Toe ʼn onenigheid uitbreek oor iemand se stuk droë wors van die wasgoeddraad afgesteel word en daar heen en weer beskuldigings vlieg reël die hoofhond ʼn hondevergadering in die stadsaal om die saak te probeer oplos. Dit was ʼn warm en bedompige middag toe al die honde in die stadsaal bymekaar kom. Hulle pollies stink toe so dat dit onuithoudbaar word in die saal. Van die honde anties raak flou en die voorsitterhond beveel dat almal die saal moet verlaat, hulle pollies afskroef en in die voorportaal los. Die vergadering is net mooi opdreef toe breek daar ʼn brand uit en versprei vinnig. Al die honde storm vir die deur en in die voorportaal is dit chaos soos almal hul pollies soek. Die vuur kom nader en uit desperaatheid gryp elke hond die eerste pollie wat hy in die hande kon kry want ʼn hond kan mos nie sonder ʼn pollie op straat verskyn nie.

 

Van daardie dag af soek honde hul pollies en ruik aan die ander honde se agterkant om te bepaal of dit nie miskien sy pollie is nie !

 

Nou moet ek hoor oupa Koos se storie is nie heeltemal waar nie maar al die stories in die Sandveld is waar , afhangende van watter tyd van die dag of nag die storie vertel word en wat daarmee saamgebruik word .

 

Die slim mense sê elke hond het ʼn spesiale kliertjie in sy rektum wat ʼn unieke vloeistof afskei , eie aan elke hond. Amper soos ʼn mens se vingerafdrukke. Die vloeistof bevat al die unieke kenmerke van ʼn hond en deur daaraan te ruik kan die ander honde astware die hele pedigree van so ʼn hond bepaal. Dus as jy en jou hond in die straat stap en hy ruik aan al wat ʼn lamppaal of bossie moet jy weet hy lees eintlik boodskappe soortgelyk wat jy op Facebook kry. Net meer detail. O !, Saartjie is op hitte , Peppa het gisteraand kerrie geëet en Niklaas se maag is alweer omgekrap .

 

Dus, as hulle bymekaar kom word daar aan die onderskeie pollies geruik om mekaar te groet en op te vang met die afgelope week se skindernuus Hele sosiale aangeleentheid .

 

Ek het ook al gemerk dat sommige honde nie te genieë is dat daar aan hul pollies geruik word nie . Op ʼn koue wintersoggend is dit seker nie te aangenaam om skielik ʼn koue nat nuus op ʼn sensitiewe plek te voel nie.

 

Ek bel toe vir Nic Mostert van Velddrift en vra hom uit oor die pollieruik storie en hy weet toe te vertel dat in die dae toe mense ook nog handeviervoet geloop het,was dit glo ʼn algemene praktyk om mekaar so te groet en nuus uit te ruil. Vandat koerante en Faceboek gekom het en die mense begin regop loop , het die manne mekaar eerder met die hand begin groet en die vrouens word op die wang gesoen. Hy sê hy is maar bly dat die pollieruik gewoonte uitgesterf het want sy rug sal dit nooit gemaak het om die hele tyd so laag te buk nie !

 

Daar is egter mense wat die diepte van hondwees ken. So iemand was oom Tollie Greeff van Brackenfell. Hy vertel hy sien ʼn klein advertensie in die Burger van ʼn weduwee , Baby Steyn , wat raad vra oor ʼn hond wat aanhoudend blaf. Oom Tollie was nog altyd geïnteresseerd in weduwees want hulle is oor die algemeen baie alleen en van die tantes het soms tyk geërf. Hy sê toe hy voor die woonstel blok in Parow stilhou , toe hoor hy hoe blaf die hond op die derde verdieping. Ant Baby is baie bly om vir oom Tollie te sien want sy is raadop met die baster Foksterriër wat so aanhoudend blaf en die bure kla.

 

Oom Tollie sit die hond op die tafel met sy skerpkant wat anderkant toe wys. Die Foksie blaf aanmekaar . Hy bekyk hom hierdie kant toe en daardie kant toe en tel later sy stert op om te kyk wat die hond so irriteer . Net daar sien hy die probleem . Hy beveel tant Baby om die pot Blueseal Vaseline te bring en ʼn rol toiletpapier . Met die middelvinger skep hy ʼn vingervol Vaseline , lig die keffer se stert hoog op en druk dit in die pollie met ʼn 360 grade smeerbeweging . Skielik hou die geblaf op en al wat by die hond se bek uitkom is so blaasgeluid soos die werfganse maak !

 

Tant Baby is stomgeslaan terwyl oom Tollie versigtig sy vinger met die toiletpapier afvee.

 

Sy vra of sy hom kan betaal maar hy wil net ʼn koppie rooibostee met drie lepels kondensmelk en twee Marie biscuit hê.

 

So oor die teedrinkery vra sy hom uit. Kyk sê hy , ʼn hond het kompressie nodig om te kan blaf. As jy mooi oplet sal jy sien hy knyp sy pollie toe elke keer as blaf . Deur die Vaseline te smeer kan hy nie knyp nie en kan dus nie kompressie opbou nie ! Dan blaas hy net lug . Die onderhoud van so ʼn blaffende hond is ook eenvoudig want as hy begin grof klink smeer jy hom net weer.

 

( Nota : ʼn opvolg van hondegeite sal later volg . Ek moet nou eers met Niklaas gaan stap want daar het ʼn nuwe teefhond by nommer 12 ingetrek. )