Ek blaai die anderdag deur ʼn foto- album en kom af op ʼn foto waar Jack Geyser sy lippe dun trek vir ʼn blaasbalk effek om ʼn vuur aan die gang te blaas. Agterop die foto staan Molumong geskryf en toe onthou ek. Dis die dag wat Nic Mostert my amper met sy loopkierie opgeneuk het. Almal wat Nic ken sal weet dis nie ʼn man wat sommer kwaad word nie behalwe as jy kommentaar lewer oor sy vuurmaakhout !

 

So beplan ons ʼn trippie op met Sanipas deur Lesotho, verby die Katsedam, tot by Fouriesburg en deur Golden Gate terug na Pietermaritzburg . Ons sal die aand op Mulomong in die ou Trading Post ,wat in ʼn gastehuis omskep is, oornag. Die groep bestaan uit Jack en Annamarie Geyser,Nic en Erna Mostert, Stephan en Lelheen Pienaar met hul seuns Schalk en Stephan,Dirk en Ina Fourie en ek en Martie.

 

April maand is nie veronderstel om baie te reën nie maar die nag voor ons sou vertrek maak die hemele oop. Toe ons die oggend by Himeville verbyry kon jy sien dit het baie gereën want al die spruite loop vol. By die grenspos, aan die onderkant van die pas, versamel donker onheilspellende wolke en ʼn entjie op met die pas op ervaar ons n helse donderstorm. Dit was ʼn ondervinding wat ek tot vandag toe onthou. Blitse en die donderslae weergalm in die klowe. Dit was onbeskryflik mooi en het n mens nietig laat voel. Ek het dikwels Sanipas uitgery ( die eerste keer op ʼn motorfiets in 1975 ) maar altyd in mooiweer . Orals is net watervalle . Halfpad deur die pas hou dit op met reën maar dis nat en modderig . Die laaste stukkie van die pas word baie steil en dis hier waar ons ʼn klomp Transvalers met hul Isuzu’s teëkom. Een van die bakkies het vasgeval teen die steilte. Ons help en ry aan. Later daardie aand sou hulle weer tot ons redding kom!

 

Bo by die grenspos maak ons eers ʼn dop by ou Jokie Aldous se pub ( die hoogste een in die land ) en ry verder want Nic wil nog probeer om ʼn forel te vang in die nou kloof aan die anderkant van die Black Mountain Pass, ook genoem Seqodo. Teen 3394 meter is dit ʼn meneer van ʼn pas en n “ normal aspirated “ enjin se asem raak op hoe hoër jy klim .Thabana Ntlenyana (Hodgson’s Peak ) lê so ʼn paar kilometer regs van Seqodo en teen 3482 meter is dit die hoogste punt in Suider Afrika. My ou diesel Musso was die enigste een met ʼn turbo. So verwyl ons die tyd langs die pad deur soetwyn te drink, die natuurskoon te bewonder en te kyk hoe Nic ʼn forel probeer vang. Die vrouens begin ons later aanpraat want niemand weet hoe lank dit nog gaan neem om by Molumong uit kom nie en die pad is sleg.

 

Met entjieson kom ons by Molumong aan en begin afpak. Almal kry ʼn lêplek en die drinkgoed word uitgehaal en daar heers ʼn gemoedelike stemming. Later maan die vrouens dat ons moet begin vuurmaak as ons die vleis gebraai wil kry voor die koue toeslaan. Nic gaan haal ʼn groot sak hout wat hy spesiaal vir die trip saamgebring het.

 

Eers moet ek iets sê oor manne met hul vuurmaaktegnieke en vleisbraai. Die goue reël is dat jy meng nie in met die ou wat vuurmaak en braai nie en jy gee nie raad nie ! Hy doen sy ding op ʼn eiesoortige manier al kan jy sien dinge loop nie heeltemal reg nie. Ek het vriende wat te min hout opgooi en halfpad deur die braai moet jy weer vuurmaak om die vleis gaar te kry! Dan is daardie manne wat se vuur te sterk is en die vleis opgooi as die kole nog nie heeltemal uitgebrand is nie – dis wanneer die tjops so swart brand en die wors aan die brand slaan. Daar is manne wat die ketelbraai gebruik en die helfte van die vleis gaar oond want ʼn ketelbraai is mos maar ʼn manne-oond. Die fynproewers is die manne wat ʼn tjop op ʼn oop houtvuur braai en weet wanneer om dit af te haal.

 

Nic Mostert is een van daai Ballies wat weet hoe om vleis te braai. Hy pak die vuur sorgvuldig , eers met droë wattelbas en Blitz en dan met die stompies wat hy so skuins teenmekaar sit en steek die Blitz aan die brand en ons almal staan terug . Die vuur vlam op en ons laat weet dat die vrouens solank die slaai en aartappels moet regkry. Iets is nie reg nie want sodra die Blitz uitgebrand is vrek die vuur en die stompies is net so effens swart gebrand. Nic probeer weer maar dis dieselfde ding ! Jack Geyser staan nader en sê die vuur moet wind kry en hy trek sy lippe soos die tuit van ʼn blaasbalk en blaas. Hy maak net rook maar die vuur wil nie vat nie. Ek maak die oordeelsfout en sê daar is fout met die hout want dis nat ! Nic trek ʼn ekstra lang teug aan sy Peter Stuyvesant en blaas die rook deur sy neus. Weer pak hy die vuur, hierdie keer met ekstra Blitz en steek die vuur vir die derde keer aan. Skielik raak die gesels op en almal staar na die vuur . ʼn Navraag uit die kombuis wanneer die vleis gaar sal wees veroorsaak verdere spanning. Ons skink nog ʼn dop en staar die vuur aan die brand maar al wat ons sien is ʼn smeulende vuurtjie met baie rook. Toe ek vir die derde keer die hout kritiseer toe sien ek ou Nic gryp sy loopkierie vas. Dit was die finale waarskuwing !

 

Ons staan nog so en wonder hoe ons die vuur aan die gang gaan kry want Jack het nie meer asem nie en die Blitz is op toe kom die einste Transvaler wat ons teen Sanipas gehelp het aangeloop met ʼn gasbottel en ʼn vuuraansteekpyp. Hy lag te lekker en sê hulle hou al ʼn geruime tyd ons dop . Het ons dan nie geweet die suurstofvlakke is so dun hier hoog bo in Lesotho dat mens nie ʼn vuur op die gewone manier aan die gang kan kry nie ? Die gasvlam kry die hout aan die brand en ons slaak ʼn sug van verligting. Die geur van vet skaaptjops vul die dun lug.

 

Ek het nie daardie aand ʼn verdere gesprek met ou Nic probeer aanknoop nie maar die volgende dag het almal lekker gelag. Die aand op Golden Gate het ons ʼn lekker vuur gemaak met die oorblywende hout. Daar was nie verdere voorvalle nie behalwe dat toe Dirk Fourie sy tent die aand opslaan kom hy agter die tent is te klein vir die matras wat hy saamgebring het en elke keer as hy wil omdraai moet hy eers uitkruip, omdraai en weer sy lê kom kry !

 

Nic se snorkgeluide is welbekend en ʼn hele storie op sy eie !

 

Ps. Godfrey Edmonds, ex RAF Spitfire loods, was die eerste persoon wat Sanipas met ʼn Jeep uitgery het. Dit was op 26 Oktober 1948.