As daar darem nou een ding is wat mens se ouderdom weggee dan is dit knieë. Eers begin hulle mos kraak as mens opstaan – so effentjies sonder dat jy dit agterkom maar mettertyd raak dit al hoe meer hoorbaar. Dan kom die uitklimslag uit die motor veral as jy lank gesit het, eers die een knie wat jy moet optel en buite neersit en dan die ander een wat wil agterbly. Dis dan wanneer die jonger garde onder mekaar fluister : “Ai , maar oom Jan het darem nou oud geword”.
Trappe en knieë akkordeer glad nie met mekaar nie. Hulle weier om te buig. Die ergste is wanneer jou knieë jou in ʼn noodsituasie in die steek laat. Vat nou maar die vriend van my wat saam met ʼn groepie ou Ballies besig was om blomme te kyk daar anderkant Dwarskersbos toe ʼn skielik nood hom oorval. Veld toe is die enigste uitweg en hy loop met kort treetjies tot agter die grootste kersbos en maak sy broek los. Alles gaan goed maar toe hy wil opstaan weier sy knieë. Agtertoe kan hy nie want daar lê nou ʼn slagyster en voor hom is die kersbos. Hy skree toe in die rigting van die bussie waar al die ander ou mense geduldig vir hom sit en wag. Iemand help hom weer op sy voete en van die ou wedevrouens kyk anderpad toe hy aangestap kom. Na so ʼn rukkie kom hy agter van die anties hou hul sakdoekies voor hul neuse. Hy probeer so onopsigtelik as moontlik na sy skoene loer en merk met ʼn skok dat hy met die hak van sy linkerskoen in iets getrap het. Hy druk toe maar sy voete onder die voorste stoel in en kyk by die venster uit.
Deesdae is ʼn knievervanging amper ʼn status simbool. Party ouens dra selfs foto’s van die operasie saam op hul selfone. Veral die wat sommer altwee gelyk laat doen staan hoog aangeskrewe. Daar is blykbaar nou dokters wat sommer ʼn heupvervanging ook ingooi.
So beland oom Pietie Kellerman in die Karl Bremmer hospitaal in die Kaap. Dis vir hom ʼn heel vreemde ervaring want hy was nog nooit in ʼn hospitaal nie en toe hy die blou jurk met die splete agter moes aantrek is hy baie ontrustig. Sy vrou het hom maak belowe dat hy moet maak soos die mense sê en nie dwarstrekkerig wees nie. Daar lê klaar drie ander mense in die kamer toe hulle hom instoot maar almal slaap en een het selfs pype in sy mond en neusgate. Net toe kom daar ʼn vrolike verpleegstertjie met ʼn skinkbord vol goeters ingestap, groet hom vriendelik en trek die wit gordyne om hom toe. “Oom ek kom net gou vir jou regmaak vir die operasietjie. Lê net stil. Dit sal nie lank vat nie”. Op die skinkbord is ʼn blink kommetjie met water, ʼn skêr, ʼn skeerkwassie, ʼn blou skeermes, ʼn stukkie watte en ʼn klein handdoek. Hy lê nou en wonder hoekom die nurse hom weer wil skeer want hy het juis vanoggend pêrebal met sy nuwe Minora blade geskeer. Soos sy vrou gesê het, hy moet nie vrae vra nie want die mense is besig.
Hy skrik hom boeglam toe die nurse skielik die blou jurk tot hier bokant sy naeltjie opstoot en sy hele toekoms blootlê vir almal om te sien. Hy bly stil en bekyk die spulletjie hier van bo-af. Eers vat sy die lang dun skêr en begin die ergste hare wegknip. Daai skêr lyk skerp en gevaarlik en kan groot skade aanrig as ʼn man dit onverantwoordelik hanteer maar die nursie lyk heel behendig. Nou maak sy die kwassie nat en doop dit in potjie skeerroom en begin saggies die roompies aansmeer. Eers hieriekant om en toe anderkant om, saggies. Elke keer as ou Jacob in die pad is skuif sy hom versigtig eenkant toe. Daar is egter een ding van ou Jacob, hy wil nie aan geroer word nie. So met die derde opsyskuif begin hy skielik lewe kry. “Mense oom maar die besigheid lyk nog giftig vir sy ouderdom! “ “ Nursie, jy moes hom op sy jong dae gesien het ! Na ʼn rugbywedstryd daar onder by Parow het ons eers ʼn paar biere gedrink en dan later die aand ʼn kompetisie gehad. Die ou wat die vinnigste oor die lengte van die veld met emmer sand oor sy Jacob kan hardloop kry verniet bier. Ek het elke keer gewen”. “En toe Oom ?”
“ Nee, ek het Saterdagaande nog gereeld gegaan want ek het mos vir jare die rekord gehou. Deesdae kom ek net tot by die halflyn dan gee my knieë in !”
“Maar sê my nursie, skeer julle altyd ʼn mens so vir ʼn adenoïd operasie ?”
Die verpleegster kyk verbaas op haar lêer, “ Jammer Oom, dis die ou langsaan met die breuk !”