Griekwaland Oos in Natal ( KZN ) , of East Griqualand ( EG ) , soos dit algemeen bekend staan , is van die mooiste dele in ons land. Weens my werk het ek goed bekend geraak met die area. Dit strek vanaf Kokstad (die hoofdorp) oor Franklin , Swartberg , Cedarville tot by Matatiele . Tussenin strek die Cedarville vlakte, ʼn oeroue binnelandse meer .

 

Maar eers ietsie oor die ontstaan van Griekwaland Oos : Adam Kok 1 ( 1710 tot 1795 ) was ʼn slaaf wat Adriaan van der Stel vrygestel het . Hy was die kok in die kasteel vandaar die naam, Kok. Sy pa was Hollands en sy ma Khoi. Adam Kok koop ʼn plaas in die Piketberg distrik en trek later na die Kamiesberge waar hy met die dogter van die Khoi Hoofman van die Xarixuriqua stam, trou. Die groep mense het as Basters bekend gestaan maar die sendeling , Eerwaarde Campbell , het die naam verander na Griekwas. Die area in die Noord Kaap waar hulle gewoon het word later Griekwaland Wes genoem. Adam Kok 111, die kleinseun van Adam Kok 1, en sy volgelinge het in die Philippolis omgewing suksesvol geboer. Konflik met die trekboere asook die Engelse koloniale regering het Adam Kok laat besluit om na die sogenaamde niemandsland , ʼn ontvolkte area in suid Natal , weens Shaka se invalle, te trek . In 1861 begin Adam Kok 111 met 3000 mense en 20000 stuks vee te trek. Hulle arriveer in 1863 in die pragtige onbewoonde area met sy baie water en weiding nadat hulle oor die Drakensberge by Ongeluksnek gesukkel het , al langs die Kenigha rivier tot by Mount Currie , ( bekend as Berg Vyftig) en daar hulle penne inslaan. Die area word Griekwaland Oos en die dorp , Kokstad, vernoem na Adam Kok , ontstaan. Die kerk wat die Griekwas daar gebou het, is vandag ʼn nasionale monument.

 

Griekwaland Oos area is hoofsaaklik gemengde boerdery en suiwelboerdery het gedy. Die area was bekend vir sy verskeidenheid kaasfabrieke waarvan die Rocky Ridge kaasfabriek, net duskant Kokstad , die bekendste was. Room is per trein na Cedarville se botterfabriek gestuur. Die spoorlyn vanaf Pietermaritzburg loop oor Donnybrook , Creighton, Franklin, Swartberg ,Wanstead, New Amalfi , Cedarville en eindig in Matatiele( geen trein deur die Transkei nie ).

 

Op Wanstead was daar ook ʼn kaasfabriek maar die room is per trein na Cedarville getuur .

 

Net iets oor die topografie van die area: ʼn groot gedeelte van EG bestaan uit die Cedarville vlakte . Vanaf die Swartbergstasie daal die pad en spoorlyn redelik skerp na Wanstead .

 

Arthur Shuttleworth ʼn oud kollega en vriend van my vertel die volgende storie : As jong man was hy die bestuurder van die kaasfabriek op Wanstead. Saam met hom het Eric Watson, ʼn kaasmaker, gewerk. Dit was Eric se werk om te sorg dat die room op die trein gelaai word na Cedarville. Die trein het elke oggend stiptelik om halftien op Wanstead gestop om die room op te laai . Soggens laai Eric die roomkanne op die drieton Fargo lorrietjie , met sy houtbak , en parkeer dan langs die laaibank en wag vir die trein . Die drywer het elke dag die ‘goods van ‘ presies langs die Fargo gestop om die oplaai te vergemaklik.

Links:    Wanstead se melklorrie : 1948 Fargo .

 

Dis ʼn Dinsdagoggend in laat April en een van daardie kristalhelder dae wat mens net in EG kry aan die einde van die somer. Die veld het so ʼn rooibruin kleur en aan die noordekant lê die Drakensberge wasig blou. Eric parkeer die Fargo op sy gewone plek langs die spoor, klim uit en skuif gemaklik tussen die hooflig en die bonnet in met sy voete op die buffer. Uit sy linker bosak haal hy ʼn pakkie Cavalla Plain sigarette,klop die tabak styf aan die eenkant en vroetel in sy broeksak vir die boksie Lion Matches. Hy is vanoggend ʼn bietjie vroeg maar sit so dat hy die trein kan sien aankom.

 

Met die derde trek aan die Cavalla sien hy die rokie van die trein, kyk op sy horlosie en merk dat die trein vanoggend vroeg is en dat dit eintlik goed is dat hy al klaar reg is om te laai.Hy hou die trein dop en merk dat daar minder trokke as gewoonlik is en dat die trein teen ʼn redelike spoed aangestoom kom. Die grondpad van Swartberg loop al langs die treinspoor en net duskant die veekrale draai dit negentig grade links oor die spoor, dan weer regs en loop dan parallel aan die anderkant van die spoor in die rigting van New Almafi en Cedarville.

 

Die drywer slêk gewoonlik so 500 meter voor die oorgang af en kondig altyd sy aankoms aan met ʼn kort fluit. Vanoggend is daar egter geen teken van spoedvermindering nie. Sou daar dan vandag ʼn nuwe drywer op die voetplaat wees wat nie weet van die room nie ? Die volgende oomblik snel die trein verby sonder om te stop en Eric merk tot sy verbasing dat daar niemand in die lokomotief is nie ! Daar is ook nie ʼn ‘guards van’ nie. Daar trek die trein oor die vlakte in die rigting van Cedarville.

 

Hy sit skoon verbaas en steek nog ʼn Camilla op. Noël Jackson, die bottermaker daar op Cedarville, gaan baie die moer in wees as hy nie vanoggend sy room kry nie en hy sal nou met die Fargo moet ry om dit te gaan aflewer. Hy sit nog so, toe sien hy daar kom ʼn stofwolk van Swartberg se kant af en die man wat agter daai kar se stuur sit is sommer baie haastig. Toe die kar oor die ‘level crossing’ draai dat sy twee regterkantste wieldoppe afspring en die veld inskiet, sien hy dis die groen 1948 Plymouth van Swartberg se stasiemeester. Die oom broadside die Plymouth na die anderkant toe dat die linker agterwiel ook ʼn wieldop afgooi en deur ʼn klomp hoenders trek wat langs die pad staan en skrop sodat dat jy net vere sien waai. Hy kry die Plymouth se neus weer in ʼn reguit lyn en gee vet. Toe hy regoor Eric kom wat nog steeds op die Fargo se modderskerm sit, slêk hy so effens af en skree deur die oop venster: “ Het jy nie ʼn trein gesien nie ? Langs hom sit oom Koen Bezuidenhout, die drywer en agter sien jy net die groot oë van die stokertjie.

 

In sy  1948 Plymouth (soos die een likns) kom oom Koen later die oggend  in ‘revers gear’ met die trein verby oppad Swartberg toe om al die trokke weer aan te haak. Gelukkig het die trein stoom verloor net daar anderkant New Amalfi, oorkant Gerrie Nel se plaas, en kon die stoker hierdie keer die trein vang.Die drywer het hom ʼn hele ton kole laat gooi om weer genoeg stoom op te bou.

 

Wat daardie oggend op Swartberg gebeur het, was lank stil gehou maar die gebeure het mettertyd aan die lig gekom. Blykbaar het die stasiemeester die drywer vir ʼn koppie koffie genooi soos dit al dikwels in die verlede gebeur het en die ‘shunting’ is aan die stokertjie oorgelaat. Hy kom al lank saam met die drywer en was juis besig met sy vakmanskap om ook ʼn drywer te word en was al heel bevoeg om die lokomotief te werk. Omdat hy jonk en fiks was kon hy maklik op en af klim terwyl die stoomenjin beweeg, die trokke aan en af haak, en weer betyds agter die kontroles inskuif. Daardie betrokke Dinsdagoggend het hy hom egter misgis en toe hy hom weer kom kry trek die lokomotief onder hom uit. Die mense wat staan en kyk sê hulle het nog nooit ʼn man so hard sien hardloop nie ! Hy het glo skoon uit sy hemp gehardloop en op die trein geskree en in ʼn laaste poging glo die laaste trok met ʼn duikslag probeer vang. Toe die trein eers die afdraande na Wanstead vat en begin spoed optel was dit klaar ʼn wegholtrein.

 

Die enigste rygoed op die stasie was oom Rolly Strachan se John Deere trekker en ʼn skaaplorrie met ʼn vrag skaap. Die stasiemeester se Plymouth staan ʼn ent daarvandaan by sy huis en hy en die drywer hardloop soontoe.Eers sukkel die antie om die sleutels te kry en toe hulle die Plymouth wil start is sy battery pap. Dit kos drie spoorwegwerkers om die Plymouth aan die gang te stoot maar toe hy eers vat sien jy net klippe spat soos hy wegtrek.

 

Noël Jackson het wel die oggend, ʼn bietjie later as gewoonlik, sy room gekry. Vir ʼn baie lank tyd was dit saans ʼn lekker besprekingspunt in die Swartberg Hotel se kroeg met verskeie ooggetuies wat stukke bylas.

 

Swartberg lyk vandag nog net soos daardie tyd behalwe dat die hotel nou ʼn winkel is en mense met komberse op die stoep sit

 

Danie du Toit

 

17 Januarie 2014