Vir baie mense is ʼn motorkar ʼn ding met wiele wat jou van punt A na punt B neem. Dan is daar ouens wat ʼn kar as iets persoonliks beskou, amper soos ʼn geliefde kledingstuk. Ek is een van daai manne.

 

Ek dink ʼn mens ontwikkel ʼn spesiale verhouding met ʼn motor van kleins af. Ek het my verstand gekry op die agterste sitplek van my pa se groen 1939 Ford met sy “teardrop” ligte en V8 enjin. Snoesig toegedraai in ʼn bont reisdeken op die agterste sitplek van die Ford kon ek die genot van motorry ervaar: die reuk van leer en olie, die dreun van die V8, die stadige reënveërs en die deure wat nie dig sluit nie.

 

In November 1965 kom vertel Nicol Retief, ʼn koshuismaat van my in Eendrag, van die oom in die Paarl wat ʼn 1957 Beetle adverteer vir R100. So ry ons saam met Nicol om na die Beetle te gaan kyk.

 

Op die foto is Driebottelkan, my 1957 Beetle, saam met Chris Steyn se blou 1958 tydens ʼn seilnaweek op Langebaan in 1966.

 

In die Paarl onder ʼn groot akkerboom staan die witgrys 1957 Beetle met sy klein ovaal agterruit en hy het sowaar ʼn linkerhandstuur!  Oom Nico, Nicol se pa, skiet my die R100 voor en so word ek die trotse eienaar van my eerste motorkar.

 

Die ou oom wat die kar verkoop vertel ons dat die polisie die Beetle op Du Toitskloof gekry het waar studente uit Duitsland, wat deur Europa en Afrika gereis het, dit gelos het met ʼn briefie dat die eerste ou wat hom kry die kar kan vat. Hy het die kar vir sy seun op die polisieveiling gekoop maar dié het nie kans gesien vir die gehawende Beetle nie.

 

So kom ons met die Beetle op Stellenbosch aan en parkeer ewe kordaat reg voor die Barracuda restaurant oorkant die ou polisiestasie. ʼn Beetle met ʼn deurgeroeste uitlaatstelsel is nogal raserig en trek dadelik aandag. ʼn Poliesman kom ewe rustig aangestap en kom klop aan die bestuurder se venster. Nee, beduie Swartjan Fourie hy bestuur nie, die sersant moet aan die linkerkant gaan klop want dis waar die stuurwiel sit!  So vermaan die sersant my om onmiddellik die kar koshuis toe te vat want die ding is ʼn gevaar op die pad. Ons het toe maar net saans in die donkerte met die Beetle rondgery.

 

Van my ingenieursvriende in die koshuis het die enjin uitgehaal en die kleppe oorgedoen en ek is met die Beetle Koperfontein toe. Daar het ek kom uitmekaar gehaal en saans na werk het van die koöperasie se werkers my gehelp om die kar af te skuur. As beloning het ek altyd ʼn driebottelkan vaaljapie byderhand gehad en dis toe dat Jantjies hom sommer ook “Driebottelkan” doop. Tertius Slabber het hom vir my mooi gespuitverf – so ʼn lig roomkleur. Oupa Koos het met ʼn rondekophamer die duik in die linker agterste modderskerm netjies uitgeklop.

 

Ek wens daai Beetle kon praat. Met die skoonmaak het ons emmers vol woestynsand uitgevee. Die liggies op die paneelbord se gloeilampies was almal uitgehaal maar die enjin het altyd met die eerste draai van die sleutel gevat.

 

Daardie dae was dit maklik om ’n voertuig op jou naam te kry. Jy het eenvoudig na die magistraatskantoor gegaan, die motor op jou naam geregistreer, lisensie en derdeparty betaal en ʼn registrasienommer gekry. So het CR 933 deel van my lewe geword. Met my regterhand op die stuurwiel en my linker elmboog wat so nonchalant by die venster uithang het ek gevoel die wêreld behoort aan my.

 

Driebottelkan het onmiddellik my status op Stellenbosch verhoog. Gelukkig was ek ʼn arm student en kon ek nie te veel rondry nie want 25 sent se petrol moes my die hele maand hou! Ek kon darem ʼn meisie met ʼn lang aandrok dans toe met my eie kar neem in plaas daarvan om te loop. Ons het soms die meisies Strand toe geneem en dan sommer reg voor die Da Gama Hotel geparkeer om hulle te beïndruk. So ry ek en ʼn blonde meisie Strand toe en met die terugkom kyk sy na die spoedwyser wat so tussen 75 en 80 lê. Sy is hoogs beïndruk met die spoed wat die Beetle handhaaf. Enige motor wat in die sestigs 80 mph kon haal was ʼn meneer. Wat sy nie geweet het nie is dat Driebottelkan met sy linkerhandstuur, in kilometers per uur gemerk was! Nee, sê ek, hy haal maklik 100, en vryf die lepel so ʼn bietjie sodat Driebottelkan teen die lang afdraande daar by Louw se Bos kon spoed optel. Ek sal nooit die bewondering in daai blou oë vergeet nie!

 

Vir sy tyd was die Beetle ʼn wonderlike ryding. Met ʼn seilboot op sy kap vasgemaak Langebaan toe vir ʼn naweek of ʼn laataand “handbrake” spin op die gras voor die koshuis, was deel van die Beetle se lewe. Nooit het hy geprotesteer of geweier om te vat nie – dis amper asof hy die pret geniet het.

 

In Januarie 1967 het Driebottelkan uit my lewe verdwyn en is sy plek ingeneem deur ʼn ander legendariese 1959 Beetle. ʼn Vriend van my het ʼn jaar of wat later eendag vir Driebottelkan op die N7 duskant Piketberg opgemerk met sy kenmerkende swartgeverfde luginlaat agter bokant die enjinkap en die groot spieël op die regterkantse voorste modderskerm. Hy stop hom en vra uit. Die bestuurder was ʼn ou êrens van Namakwaland en sê hy het nog nooit so ʼn lekker betroubare motorkar gehad nie!

 

April 2019