Hierdie storie gaan terug na die jare vyftig van stoomtreine oor die Sandveld se vlaktes en toe ons nog voetbôl gespeel het.

 

Eers ʼn bietjie agtergrond oor die betrokke dorpies in die Sandveld en die treine van daardie tyd.

 

Aurora : Diè klein Sandvelddorpie lê aan die Westekant van die Piketbergberg aan die voetheuwels van die Auroraberg soos dit algemeen bekend staan. Die dorp word in1906 gestig nadat die grond deur ʼn boer geskenk is om ʼn kerk te bou . Daar was ʼn voorwaarde verbonde aan die skenking : geen drank of kroeg op die dorp nie ! Die eerste dominee was C R Ferreira, ʼn oud boerkrygsgevange van Ceylon. Sy eerste dogter doop hy Ceylonia Aurora en die nuwe dorp kry die naam Aurora ( dit beteken dagbreek ).

 

Aurora is vir iets anders ook bekend. McLear Base, net buite die dorp, is die mees noordelike punt waarop alle opmetings in Suid Afrika gebaseer is . In 1751 gebruik die Franse sterrekundige, Abbe De la Caille , ʼn punt op die plaas Klipfontein net buite die dorp om deur middel van trigonometriese berekeninge , die ronding van die aarde te bepaal. Die westelike baken was op Kasteelberg ( Riebeeck Kasteel ) en die suidelike baken op die hoek van Strand- en Adderleystraat in Kaapstad. Daar word vertel dat hy die afstand tussen Aurora en Kaapstad tydens die opmetings drie keer per voet afgelê het en dat ʼn ketting gebruik is vir die meting ! (die ketting was die afstand tussen die paaltjies van krieketveld ) Diè baken is vandag ʼn historiese monument.

 

Die skool op Aurora het ʼn gedugte rugbyspan gehad . As jy aldag deur sand loop maak dit jou bene sterk en fiks ! Ek onthou hoe ons onderdertien spannetjie met oom Dirk van Reenen se Chev bakkie met die houtkappie , op Aurora gaan rugby speel het . Dit was omtrent ʼn halfdag se ry vanaf Hopefield. Die kappie was agter oop en jy moes ʼn bietjie stof verduur maar die avontuur was te groot dat dit ons enigsins gepla het. Vanaf Hopefield ry ons al langs die Bergrivier af tot by Bergrivierstasie , draai dan regs en ry oor die brug by Kersefontein ( gebou in 1927 ) . Velddrif het toe nog ʼn pont gehad . Vandaar was dit sandpad. By die plaas Drommelvlei laat die sand en hoë middelmannetjie die Chev vasval en ons klim uit om te help stoot. By Onderplaas word daar weer gestoot.

 

By Aaghogha ( dis hoe die Sandvelders dit uitspreek ) aangekom was ons gees ʼn bietjie gedemp . Eers help ons om die beeste van die veld te jaag en die meeste van die mis te op te tel. Dan jaag ons die hoenders uit die tokkamer . Voor ons opdraf kry ons eers lemoene en met halftyd weer. Ek sweer tot vandag toe die veld was breër as wat dit langer was ! Later jare het Ludwig Gerstner van Aurora wat in die span was teen wie ons daardie dag gespeel het , op Hopefield kom skoolgegaan. Saam het ons matriek gemaak en was vir drie jaar lank kamermaats in Eendrag op Stellenbosch.

 

Daar word vertel dat gedurende die Boere Oorlog wat oorgespoel het tot in die Kaap, Aurora se rugbyspan ʼn wedstryd met die Engelse soldate gereël het nadat hulle eers die oorlog vir ʼn dag of wat gestop het !

 

Aurora was nie naby ʼn spoorlyn nie en die inwoners daar het dus nooit die wonder van ʼn stoomtrein ervaar nie .

 

Darling .....Diè klein dorpie lê so 75 km van Kaapstad in die rigting van die Weskus en is in 1853 gestig op die plaas Langfontein, in die Groenkloof, soos dit daardie tyd bekend gestaan het. Die dorp is vernoem na Charles Henry Darling , die Luitenant Goewerneur van die Kaap. In 1899 het twee Sweedse settelaars , Nils Moller en G Threnstorm , Darling Creamery begin wat tot 1950 bestaan het.

 

Vandag is Pieter – Dirk Uys se Evita se Perron die trekpleister op die dorp – op dieselfde plek waar roomkanne en treinreisigers vroeër dae rondgestaan het.

 

Daar is ʼn ander interessante ding van Darling. Gedurende die Tweede Wêreld Oorlog was Hitler se duikbote baie bedrywig langs die Weskus en daar is inderhaas ʼn vliegveld vir die lugmag gebou waarvandaan hulle die kuslyn kon patrolleer . Vroeg in 1943 arriveer 23 Eskader van die SA Lugmag met hul Venturas . Op 12 April 1944 sterf ses bemanningslede van 27 Eskader toe hul Ventura 6457 in Dassenberg vasvlieg. Die wrak is eers op 12 April 1988 verwyder en na die Lugmagmuseum geneem .

 

Hopefield : diè Sandveldse dorpie lê op die R 27 vanaf Malmesbury na Vredenburg. In 1851 stig die NG Kerk die gemeente Zoutrivier op die plaas Langkuil en in 1852 kom die dorp in wording. Dit word vernoem na die twee persone wat dit uitgelê het ,nl. , Majoor William Hope ,Ouditeur Generaal van die Kaap en ʼn mnr.Field. In die vroeë dae was Hopefield bekend as die hoofstad van die Sandveld met ʼn poskantoor, banke, kerke, skool, winkels en motorhawens . Die kleurling -gemeenskap het aangrensend aan die westekant van die dorp , op Oukraalfontein gebly.

Weens die belangrikheid van die dorp het die ‘Railway Committee ‘ van Hopefield vertoë tot die Regering van die Kaapkolonie gerig vir die bou van ʼn spoorlyn tot op Hopefield. ʼn ‘Two – foot ‘ (610 mm ) spoorlyn is goedgekeur met ʼn begroting van £135 000 , op voorwaarde dat die spoor later na ʼn 3vt 6 dm (1.067 mm ) verbreed kon word . In Augustus 1901 begin die bou van die spoorlyn en op 28 Februarie 1903 is daar ʼn groot partie op Hopefield tydens die opening van die spoorlyn . Die lyn het vanaf Kalabaskraal via Darling geloop en in Hopefield geëindig. Drie stoomlokomotiewe word van Baldwin Locomotive Works in Philadelphia USA ingevoer. Hulle was die ‘Moguls ‘ genoem omdat hulle ʼn klein wielletjie voor gehad het met ses groot trekwiele wat aanmekaar verbind was.

 

Bogenoemde foto is die inwyding van die eerste trein op 28 Febr.1903 . Die ‘goods shed ‘ op die agtergrond staan vandag nog in sy oorspronklike vorm.

 

In 1906 word die lyn via Vredenburg na Hoedjiesbaai (Saldanha ) verleng. Passasierstreine het Maandae, Woensdae en Vrydae geloop. Die diens Kaap toe was so gewild dat ʼn spesiale agtsitplek spoorkar met ʼn petrol engine in 1907 gebou is om mense te vervoer op die dae wat die passasiers -trein nie geloop het nie . Hy het gou die naam van die ‘Theatre Special ‘ gekry omdat dit ʼn gerieflike manier was om die Kaapse teater te besoek. ( Wat sou Elna Slabber en haar vriendinne vandag wou gee vir so ʼn diens --- hulle kon sommer daar op Ganskraal opgeklim het ! )

 

In 1926 is die spoorlyn na 3 vt. 6 verbreed en groter lokomotiewe, die SAR 8 en 7 het begin diens doen.

 

Ek het op Koperfontein ‘siding ‘ grootgeword met die treinspoor wat so 1000 meter van ons huis verbygeloop het. ʼn Stoomtrein was so alledaags soos oom Hennie Louw se groen stompneus Bedford transportlorrie. As klein seuntjie het ek snags gelê en luister hoe die treintjie, met die lang skoorsteen , van Ganskraal se kant af aankom , oor die vlaktetjie onderkant Karbonaatjieskraal en begin spoed optel vir die bult na Koperfontein Adan oor die Soutrivier se bruggie tot aan die voet van die heuwel . Hy begin swaar trek : “tjak – tjak – tjak “, al hoe stadiger totdat die wiele begin gly : ’tjakakaka –tjakakaka – tjakakaka . Dan word dit stil en jy hoor stoom blaas . Ek wonder of die drywer altyd mooi gepraat het met die stoker ? Hy stoot terug tot op die gelykte anderkant die Soutrivier. ʼn Bietjie later kom hy weer maar hierdie keer met mening ! Die drywer het seker mooi met die stoker gepraat . Ek hou my asem op maar met die laaste tjakakaka – tjakakaka kry hy skielik ʼn vastrapplek en stoom hy Koperfontein ‘siding ‘ in. Die stil naglug word gevul met trokke wat aan en af gehaak word , stoom wat saggies deur die pype blaas en ek weet môreoggend staan daar weer nuwe trokke, toegemaak met swart seile . Dan die fluitjie van die kondukteur en stoom wat ontsnap terwyl die trein spoed optel in die rigting van Hopefield. Heel agter brand die flou rooi liggie van die kondukteurswa . Hoe kan mens dit ooit vergeet ?

 

Ons het dikwels met die trein tussen Hopefield en Koperfontein gery . Eendag het die drywer toegelaat dat ek voor in die lokomotief saamry . Wat ʼn belewenis. Ek onthou nog hoe warm dit daar voor in die lokomotief was met die oop vuur en die stoker wat kole gooi met ʼn langsteel graaf. En al die meters en koperpype en goeters en die groot oom met die blou overall wat so skuins by die venster uitleun. ʼn Mens het die gevoel gekry dis ʼn lewendige ding wat hier onder jou beweeg.

 

Die groter en sterker lokomotiewe het later op die Hopefieldlyn diens gedoen.( hierdie een staan vandag op Ashton ).

 

Daar is natuurlik baie stories oor die ou treine . Oupa Koos vertel dat Jan Stap du Toit van Karbonaatjieskraal se Jerseybul eendag die trein net daar duskant die Soutrivier se brug ingewag het . Die drywer het alles probeer maar die bedonderde bul vat die trein aan en druk sy horings hier voor by die rooster in. Op hierdie plaas is hy die baas ! Die drywer het hom stadig en saggies teruggedruk totdat hy later self agtergekom het hy is nie so sterk soos hy gedink het nie. Daardie dag was al die treine tot in Saldanha laat !

 

Rugby of voetbôl , soos dit algemeen bekend was , was ʼn groot ding in die Sandveld . Die onderdertien liga tussen skole was baie kompeterend en gewild . Dis mos waar mens vroeg al die toekomstige Springbokke kon identifiseer !

 

In die vyftigs het Aurora ʼn besondere sterk spannetjie gehad . Of dit die kos is wat hulle daar kry of wat , maar die mannetjies was man vir man groter as die ander spanne se spelers . So kom dit dat hulle teen Darling moet gaan uitspeel . Met ʼn Fargo transportlorrie en tuisgemaakte kap vertrek die Aurora span Darling toe . Die netbalspan ry ook saam. Hulle ry oor Koringberg met die rooi grondpad tot op Koperfontein waar hulle links draai op die teerpad en weer regs draai daar by oom Jan Ponde se plaas op die stuk grondpad Darling toe.

 

Die Aurora ondersteuners ry agterna . Nou, daardie tyd was dit Nat teen Sap en jy kon hulle uitken aan die karre wat hul ry. Die Natte het Fords gery en net Shell petrol ingegooi terwyl die Sappe net Chev karre gehad het. As jy wil hê iemand moet notisie van jou neem en jy is ʼn Nat het jy ʼn Mercury gery. Oom Solly Bester van Doornboom , langs die Bergrivier , het so ʼn maroen Mercury met ʼn linkerhand stuur gehad. Nie omdat hy ʼn grand ou was nie maar sy stiefbroer van Moorreesburg , Jonnie Kat , was in die motorhandel en het die ingevoerde Mercury by ʼn Engelsman in die Kaap gekoop . Oom Solly het altyd vertel hoe hard “ daai Megkegrie van my “ kon hardloop . Hoe vinnig dan Oom Solly ? “ Nee , ek hou hom so hier by 110 langes “ Daardie dae was die motors in mph gemerk en min karre kon dit haal . Toe ek eendag by Oom Solly se Mercury inloer ek sien die speedo is in kph gemerk - – ingevoerde model van Europa sien ! Daar was so nou en dan iemand met ʼn uitskieter kar soos Oom Sypie Mostert van Nuweplaas , duskant Aurora, met sy navy blou Nash bakkie en Isabella Borgward . In die Sandveld was daar min karre wat saam met daai Borgward kon hardloop !

 

Darling was ʼn Sap Kiesafdeling en jy sien net Chevs met so nou en dan ʼn Austin of ʼn Morris wat die Engelse invloed weerspieël. Die hoëhol Sappe het Buicks gery en met uitsondering ʼn Oldsmobile .

 

Daardie Woensdagoggend is die hele Darling langs die rugbyveld. Die treinspoor Hopefield toe loop vlak by die Noordelike lengte van die veld verby. Nou moet jy weet die politiek het oral ʼn rol gespeel en eintlik was dit die Natte teen die Sappe wat daardie dag teen mekaar speel . In die Darling span kry jy die Basson’s ,Kirsten’s ,Rossouw’s , Duckkitt’s en Versveld . Aan Aurora se kant al die Sandveld name soos die Brandte , Smitte , Vissers , Vercuil , Koegelenberg , Kotze en Thiart’s. Daar was ook die Laubschers , maar hulle was Sappe en jy kon nie Sap teen Sap laat speel nie want hulle sou ondermekaar knoei ! Die paviljoen sit stampvol en langs die veld sit mense in karre en op veldstoeltjies.

 

Die spanne draf op en die Aurora manne lyk baie selfversekerd teenoor die ligter Darling span . Tot dusver het Aurora nog nie eenkeer verloor nie . Nou moet ons noem dat daar onderlangs gemompel word dat al die Aurora spelers nie heeltemal onder dertien is nie. Die een voorryman het juis al ʼn donserigheid op sy bolip . Die skool het min kinders en om ʼn rugbyspan bymekaar te maak moet jy maar so hier en daar steel. Aurora het ʼn geheime wapen gehad in die persoon van Frik (Groeimeel ) Mostert . Hy was baie groot , vandaar die naam , en was ten minste die helfte langer as die langste ou in die span . Hy moes agsteman speel want hy was te lank om op enige andere plek in die skrum te druk . Met die lynstane het hy in die middel gestaan en het die vleuel altyd die bal vir hom gegooi . Groeimeel het nie eens nodig gehad om te spring nie so lank was hy . Naby die doellyn gee hulle net die bal vir hom en dan begin hy loop terwyl die opponente se klein mannetjies soos vlieë om hom hang . Sommer met die afskop is Darling in die moeilikheid . Die Aurora losskakel is so ʼn lang Koegelenberg met sproete en ʼn kuif wat in sy oë hang , sy bynaam is nie verniet Slang nie. Hy hardloop die Darling manne deurmekaar want as hy die bal kry kyk hy diekant toe maar hy hardloop anderkant toe ! Sommer binne die eerste tien minute druk Aurora ʼn drie . ʼn Groot antie met ʼn blomrok , een van die Aurora ondersteuners, hardloop al langs die kantlyn af om die span aan te moedig en val oor die vlagman . Met suikerwater is sy gou weer op haar voete .

 

Halftyd loop Aurora nege nul voor en Darling se afrigter praat mooi met sy span terwyl hulle aan lemoene suig. Pat Montini ,1956 Springbok,kom gee ook raad . Hulle draf op vir die tweede helfte. Net toe trek die trein langs die veld in en begin trokke rangeer . Die Aurora manne het nog nooit ʼn trein gesien nie. Hulle kannie ophou kyk nie en verloor konsentrasie . Die skrumskakel gooi die bal onder die opponente se voete in want hy kyk die hele tyd oor sy skouer waar die trein is , die heelagter het die bal al tweekeer misgevang en in die lynstane vergeet hulle om te spring. Toe Darling die derde drie onder die pale druk en boonop nog oorskop, loop Oom Dail Koegelenberg op die veld en vat die skeidsregter aan die arm. Nee, sê hy , so kan dit nie voortgaan nie . Stop die game sodat die Aurora manne eers kan klaar trein kyk !

 

Die skoolhoofde stem in en die wedstryd word vir 10 minute gestaak totdat die trein sy ry kry. Die Aurora span kon nooit die agterstand inhaal nie en vir die eerste keer daardie seisoen kry hul pak --- al was dit met die hulp van ʼn trein !

 

ʼn Ander groot voetbôl wedstryd wat in die Sandveld gespeel is , was toe Hopefield se onderstanderdagt- span teen Velddrif kragte gemeet het. Daardie dae het Velddrif se skool net tot standerd agt gegaan en moes die kinders verder op Hopefield matriek maak. Die Velddrif kinders het ʼn anderste kultuur as die Hopefielders gehad en het meestal uit die vissersgemeenskap gekom. Meeste het al gerook en hul haarstyle was ook anders . Alles ten goede .

 

Toe Andries Boer en Ferdinand Wijd, wat die vorige jaar van Velddrif oorgekom het , hoor ons gaan teen Velddrif speel praat hul ons skoon bang . Dis rowwe manne daai , hul sny nie hul toonnaels nie en as hul jou raak trap kry jy bloedvergiftiging ! So arriveer ons op Velddrif om hul gevreesde rugbyspan aan te vat . Die rugbyveld was baie sanderig met die eenkant effens opdraand. Onder in die linkerhoek was ʼn lekker diep sandgat . Die grootste probleem was die duwweltjies wat so rooi oor die veld verprei lê . Daardie dae was stewels nog nie verpligtend nie en die wat kaalvoet speel moes gedurig hul voete deur die sand sleep om die dorings af te skuur. Die heelagter, sonder stewels , het gewoonlik twee paar kouse aangehad . As jy ʼn groen kol op die veld sien moet jy dit vermy want dis gewoonlik ʼn pol volstruisdorings en hulle steek eers seer.

 

Ons draf op en sommer binne die eerste minuut druk Riaan Visser ons eerste drie ! Daardie jaar het Hopefield ʼn gedugte onderstanderdagt span gehad met uitblinkers soos Koos Balletjies , Kwagga Smit , Lammie Smit , Rooi Steven Tredoux , Kotjie Thiart, Johan Teubes , Skaapboer Loubser , Neels van der Westhuizen , Johan Smal , Riaan Visser , Jacob van Reenen , Groeimeel Mostert en Poempies Baard. Johan Teubes , ons hakker , wag sy kans af en toe die skrum sak daar onder in die sandgat gooi hy ʼn handvol sand in hul hakker se oë ! Die ou kon nie verder speel nie . Toe ons 108 nul voorloop vra die skeidsregter , mnr. Heinderich , vir Koos Marais , die kaptein van Velddrif of hy wil voortgaan want daar is nog vyf minute speeltyd oor. Koos sê dis reg , ons speel tot die einde. In daardie vyf minute het ek nog twee drieë gedruk . Die eindtelling , 114 nul, was ʼn rekord wat vandag nog staan !

 

Twee jaar later (1961) , is sewe van ons spannetjie vir die Wes Boland Skolespan gekies .

 

Hoe dit vandag met die rugby in die Sandveld gaan sal ek nie weet nie. Hopefield het darem vir Rikkie Januarie opgelewer !

 

Danie du Toit

 

1 Januarie 2014

 

Foto's bo: 

Dit is die trein wat ek as jong seuntjie onthou.Ons het dikwels met die trein tussen Hopefield en Koperfontein gery . Eendag het die drywer toegelaat dat ek voor in die lokomotief saamry . Wat ? belewenis. Ek onthou nog hoe warm dit daar voor in die lokomotief was met die oop vuur en die stoker wat kole gooi met ? langsteel graaf. En al die meters en koperpype en goeters en die groot oom met die blou overall wat so skuins by die venster uitleun. ? Mens het die gevoel gekry dis ? lewendige ding wat hier onder jou beweeg.

Die groter en sterker lokomotiewe het later op die Hopefieldlyn diens gedoen.( hierdie een staan vandag op Ashton ).