Dis verbasend hoe ouer mense in situasies beland waarop hulle nie voorberei is nie. Vat nou maar vir my ou vriend Jan Beukes van Pietermaritzburg. Dis nou dieselfde Jan wat op die ou Roy Hesketh renbaan met sy fiets trompop teen sy fietsrymaat gebots het en in die Greys Hospitaal met gebreekte ribbes en harsingskudding opgeneem is.

 

Die van den Berg’s nooi vir Jan en Martha om vir die dag te gaan piekniek maak op die historiese plaas Benvie in die Karkloof anderkant Howick. Die Skotse immigrant, John Geekie het die plaas in 1882 gevestig en die saad en plantjies van verskillende bome van oor die wêreld geplant. Van die bome wat vandag nog staan is die reuse Eucalyptus regnans met hul stamme van 6.8 m in deursnee. Die plaas se arboretum word bestuur deur Geekie se agter kleindogter. Die honderd sewe en twintigjare tuin met sy azaleas en rhodedendrons is ʼn fees vir die oog asook die groot verskeidenheid voëls. “ Bring net stoele, ʼn piekniekmandjie en ʼn bottel wyn” is die opdrag van Flip.

 

Terwyl Martha gou bad, gaan haal Jan die nuwe kampstoele wat in die karavaan gebêre word. Met die verbystap sien hy die ou kampstoele bo-op die balke in die garage lê. Dadelik besluit hy dit is darem net te veel moeite om die kampstoele in die karavaan te gaan uitpak. Hy gryp sy leer om by die stoele by te kom. Net toe hy mooi aan die balke vat, glip die verdomde leer onder hom uit. Martha het hom hoeka lankal aangespreek om die stut van die leer reg te maak want die ding is bra wankelrig en onveilig , maar van uitstel kom afstel en nou hang hy hier op ʼn Saterdagoggend in sy eie garage aan die balke.

 

Hy kyk af grond toe om te sien waar die leer lê maar sy pens is te groot en hy kan nie die vloer sien nie. Sy kop is tussen sy uitgesterkte arms dus kan hy ook nie na die kante toe kyk nie. As hy nou los is dit ʼn groot risiko want hy kan bo-op die leer val en miskien groot skade aanrig aan sy toekoms of hy kan selfs ʼn enkel of been breek. Intussen het sy broek afgegly en hang oor sy enkels. Die probleem wat die ou manne ondervind is dat ʼn belt sy greep verloor soos jou maag groter word. Strek jy jou hande boontoe val jou broek af. Hy het vanoggend sy ou geliefde Jockey onderbroek, met die vier gate op die linkerbout, aangetrek is nou bekommerd dat die bure hom sal sien. As hy maar net vir Martha wou luister sou die onderbroek al lankal ʼn stoflap geword het. Hy is baie geheg aan die onderbroek wat hy vir sy veertigste verjaarsdag persent gekry het en saam het hulle jare se benoude situasies meegemaak. Die nuwe onderbroeke sit ook te styf en wurg ʼn mens se onderlyf.

 

Nou het Jan ʼn probleem want sy arms begin lam word en hy kan voel sy greep verswak. Hy steek sy trots in sy sak en skree benoud : “Ma ! Ma ! Martha is net besig om die laaste roompies aan te smeer voordat sy haar klere aantrek. Sy ken vir Jan. Daardie benoude skree van hom klink ernstig en sy reageer dadelik, sommer so sonder om te dink om eers klere aan te trek. Sy hardloop kaal na die middeldeur van die garage om te kyk wat is fout. Toe sy haar kop om die deur steek sien sy vir Jan, potblou in die gesig met sy broek om die enkels, aan die balk hang. Sy is verlig om te sien dat daar nie ʼn tou om sy nek is nie want sedert laas Saterdag was hy baie depressief oor die Springbokke en hy kan tog die rugby so ernstig opneem.

 

In haar haas om Jan te help vergeet sy skoon dat sy nie klere aan het nie. Eindelik kry sy die leer in posisie maar Jan se broek, wat nou heeltemal oor sy skoene hang, belemmer sy vastrapvermoë en hy kry net met die een voet getrap. Toe hy bo los, kantel die leer skuins en hy beland bo-op Martha wat agteroor op haar rug val. Hulle lê vir ʼn tydjie doodstil om eers asem te skep. Teen hierdie tyd staan die kompleks se laerskool seuntjies wat besig was om langsaan op die gras krieket te speel, in die oop garagedeur om te kom kyk wat so lawaai !

 

Die Jockey onderbroek is nou ʼn stoflap.

 

Danie du Toit

 

September 2015