Dis die storie van Bileam en sy donkie wat in die woestyn gaan vas het.
Op ʼn dag besluit Bileam dit het tyd geword dat hy sy lewe in oënskou moet neem. Hy besluit toe om vir veertig dae en veertig nagte in die woestyn te gaan uitkamp waar hy rustig in afsondering kan dink.
So pak Bileam al die kampgoed op sy donkie. Hy vat genoeg water en kos saam sodat hy en die donkie vir veertig dae en veertig nagte kan oorleef en vertrek vroeg een oggend. Hulle trek die hele dag en met sononder kry Bileam ʼn geskikte plek om kamp op te slaan. Die donkie kry water en iets om te eet. Bileam kyk hoe die son in die weste ondergaan en hy voel rustig.
Die volgende oggend kyk Bileam hoe die son oor die sandduine opkom. Die donkie staan so ʼn entjie weg en kyk vir hom. Daardie aand sak die son rooi oor die sandduine in die weste.
Die vyfde dag sit Bileam en wag dat die son moet opkom en kyk vir die donkie en die donkie kyk vir hom en daardie aand sak die son rooi.
Die tiende dag sien Bileam hoe die son opkom en hy kyk vir die donkie en die donkie kyk vir hom en die son sak die aand.
Die negentiende dag breek die oggendson rooi oor die sandduine en Bileam kyk vir die donkie en die donkie kyk vir hom. Daardie aand sak die son in die weste.
Dag ses-en-twintig kom die son op en Bileam kyk soo vir die donkie maar die donkie kyk af. Later tel die donkie sy kop op en kyk vir Bileam. Die son sak in die weste.
Op die vyf-en dertigste dag kom die son op en die donkie kyk vir Bileam en Bileam kyk vir die donkie. Daardie aand is dit ʼn mooi sonsondergang.
Die oggend van die veertigste dag sit Bileam hoog op die sandduin en wag dat die son moet opkom. Langs hom staan die donkie. Bileam kyk vir die donkie en die donkie kyk Bileam stip in die oë. Bileam maak of hy nie vir die donkie kyk nie maar die donkie kyk vir hom. Bileam draai sy kop en kyk vir die donkie maar die donkie kyk nie weg nie.
Twaalfuur kyk Bileam so vir die donkie en die donkie kyk vir Bileam. Toe sê Bileam: “Let’s go!!”
Hierdie storie kan mens saans laat vertel om ʼn braaivleisvuur.