Met die terugkeer van die Kruger Wildtuin ry ons by Jack en Annamarie Geyser aan daar op die pragtige Zululandse dorpie, Mtunzini.

 

Dit is seker een van die plekke met die mooiste en grootste verskeidenheid bome wat ek nog gesien het. Kyk, Zululand het ʼn bekoring wat moeilik is om te beskryf en mens voel net tuis daar.

 

Die Geysers het drie jaar gelede daar kom aftree om naby hul kinders te wees en ook omdat die plek een van die mooiste gholfbane in Zululand het. Hulle is altwee kranige golfspelers.

 

Jack het nie veel gehad om hom mee besig te hou nie en toe die gholfklub hom vra of hy nie sal belang stel om die Green Keeper te word nie toe geval dit hom. Hy het nog altyd van ʼn boerdery gehou en die golfbaan word toe sy plaas. ʼn Plaas is nie sonder probleme nie. Jy moet jou storie ken want daar is baie dinge wat verkeerd kan gaan en met die golfbaan is mens die heeltyd in die oog van die klublede en sommige van hulle kan vol draadwerk wees.

 

Toe breek daar ʼn molplaag uit. As daar nou een ding is wat swaar is op die lemme van ʼn grassnyer dan is dit molshope. Die mense wat vir Jack Geyser ken sal weet hy is ʼn baie presiese ou wat na jare as Landmeter net nie kortpaaie kan verdra nie.

 

Jack benader die molprobleem toe op ʼn wetenskaplike manier. Hy begin eers met navorsing deur die internet. Hy tik in 'moles'. Daar kom ʼn duisternis inligting op en hy lees en lees om soveel as moontlik oor die molle uit te vind. Iets lyk egter nie reg nie. Toe kom hy agter dat 'moles' ook moesies kan wees en dat hy die heeltyd die verkeerde 'moles' probeer opswot !

 

Uiteindelik is hy toe by regte molle wat onder die grond beweeg en word weereens oorweldig met die verskeidenheid van die spesies. Hy kon ook nie iets oor die molle in Zululand kry nie.

 

Hy besluit toe hy sal maar plaaslik begin rondvra of ander mense ook probleme met molle het en wat se raad daar is om van die diertjies ontslae te raak. Daar is toe nie een ou in Zululand wat nog nie ʼn probleem met ʼn mol gehad het nie en raad om van die goed ontslae te raak stroom in.

 

Die eerste metode wat Jack toe gebruik is om gaspille in die gate te stop. Toe “perform” daai molle. Jack sê dis net so goed hulle is op steriods want toe stoot hulle selfs na-ure! ʼn Ou inwoner van die dorp kom toe met raad dat jy hulle moet uitskiet of astware bombardeer. Jack gaan koop toe swembadkloor en remvloeistof want as jy die twee meng maak jy ʼn bom. Hy grawe die gate oop en stop dit vol chloor en met ʼn lang stuk tuinslang gooi hy nou die remvloeistof by. Dan sit hy ʼn stuk sinkplaat plaat oor die gat en staan daarop. Elke keer is daar een moerse ontploffing wat blou vlamme onder die plaat laat uitskiet en sulke lang brandmerke op die gras brand. Na ʼn tyd besef Jack dat die kanse goed is dat hy miskien ʼn ledemaat kan verloor en laat vaar die idee. Die spreeus het eers ʼn week later teruggekeer. Dis asof die molle nuwe lewe gekry het en mens sien orals nuwe molshope.

 

Hy kry toe raad dat om die peule van ʼn sekere boom wat in die Kruger Wildtuin groei in die gate te sit . Blykbaar is die molle mal oor die lekkerny maar dit veroorsaak ook dat hulle binnederms opswel en hul vreeslik winderig word. Dit het ʼn dubbele effek want nie alleen swel hul op en sit in die tonnels vas nie maar poep die ander molle wat moet grawe dronk! Dit het ook nie gewerk nie.

 

Toe kry hy die raad van leeumis. ʼn Mol is glo vreeslik bang vir ʼn leeu en gee pad as hy net die ruik van ʼn leeu kry. Hy laat kom toe die leeumis daar uit die Mfolozi en stop die gate vol met die leeumis. Toe gebeur daar ʼn snaakse ding. Die molle stoot lustig voort maar jy sien net honde hardloop ! Al die ou anties wat met hul honde soggens op die golfbaan kom stap soek net hond want as hulle naby die gate met die leeumis kom hol die honde eenstryk stert tussen die bene huis toe .

 

Iemand kom gee raad ʼn mens moet hondemis in die gate stop maar dit moet kuddels wees. Dit was so ʼn job om die regte hondemis in die hande te kry, hy moes glad Richardsbaai toe ry, dat hy dit ook later gelos het.

 

Hy kry toe raad om Temik (“two- step” ) te gebruik. Nou dis ʼn baie gevaarlike gif en selfs onwettig. Iemand gee toe vir hom van die gif en hy sny patats in baie klein blokkies, doop dit in die gif en steek dit met ʼn dun draadjie in die gate. Die volgende oggend lê al die stukkies patat bo - op die grond soos die molle dit uitgestoot het !

 

Uit radeloosheid bel hy vir Nic Mostert op Velddrif. As daar nou een ou is wat molle ken dan is dit Nic. Sedert sy aftrede het Nic hom ingestudeer om die Sandveldse molle te probeer uitroei. Nic het egter nie veel raad nie want die Sandveld se molle is ʼn heel ander spesie met sulke groot voortande en hulle stoot ʼn molshoop van amper ʼn halwe meter hoog! Hy het ʼn spesiale slagyster en ʼn .22 geweer waarmee hy die molle uitroei. Die Mtunzini molle is ʼn spesie sonder oë en heelwat kleiner en vinniger. Nic gee toe wel raad dat ʼn mens ʼn stuk fyn sifdraad oor die gat sit wat die mol vaskeer en dan grawe jy hom uit. Maar daai Mtunzini molle laat hulle nie sommer vang nie en grawe tonnels om die sifdraad.

 

Jack is nou skoon moedeloos en besluit om professionele hulp in te roep. Hy hoor van ʼn ene Bossie van Mandeni wat glo ʼn kursus in die Kaap by die Mole Man geloop het en laat hom kom vir ʼn kwotasie. Bossie wys hoe sy vingers al so erg beseer is met die molvangery dat hy nie eers meer die kitaar in die band by Matubatuba se kroeg kan speel nie. Molvang is nie vir sissies nie! Bossie het toe ʼn spesiale gif wat hy in die gate pomp om die molle uit te dryf. Jack teken toe die kontrak en na ʼn week begin die golfbaan al klaar beter lyk. Soos die molshope minder word so styg die Green Keeper se aandele onder die klublede.

Jack sê hy het nog ʼn laaste plan vir moedswillige molle. Hy wil ʼn kompetisie uitloot en die golfer wat die meeste molle met sy gholfstok kan uitvat kry ʼn eretoekenning. Die beker sal bekend staan as: ‘A Mole in One' .

 

ʼn Green Keeper kan egter nie op sy louere rus nie. Die ondergrondse molvereniging het blykbaar al klaar ʼn noodvergadering gehou !

 

Naskrif. Molle eet erdwurms en daar is miljoene erdwurms op Mtunzini se golfbaan.

 

DANIE DU TOIT

 

10 Augustus 2013