Op aanbeveling van groot Loupie en Marlene Laubscher pak ons die Ducato reiswa en vat koers Mosselbaai toe. Punt Karavaanpark toe. Loupie sê dis waar alles gebeur en mens hoef nie verder te ry nie. Dolfyne, surfers en meisies in bikini’s is aan die orde van die dag.
Oor Sir Lowryspas waai die Suidooster amper die Ducato van sy spore af maar toe ons anderkant afsak na Grabouw trek dit toe. Dit wil net so begin spoegreën. Stop
eers by die Kelkiewyn op Villiersdorp vir ontbyt en koop later die soetste rooi pruime by die Stettyn plaasstal . Op Riversdal stop ons vir koffie en koop Muiskraal se olyfolie en gedroogde vye.
( Die plaas Muiskraal lê aan die bo-punt van die Garcia pas op pad Ladysmith toe).
ʼn Mens moet nooit Albertinia mis ry nie. In die ou dae was die Albertinia Hotel mos bekend vir sy middagetes, veral op ʼn Sondag, en mense het van heinde en vere
gekom om daar te eet. Vandag draai ons af om vleis te koop. Onder in die dorp by die T- aansluiting draai mens regs en die Aloe Slaghuis is links teen die pad af. Dis nog ʼn outydse slaghuis met ʼn
sifdeur wat agter jou toeklap as jy instap. Ek koop bladtjops, maalvleis, skenkels vir potjiekos en wors. Niks kos meer as R80/kg nie.
Om 17h00 ry ons by die hekke van die Punt Karavaanpark in. Dit reën en ons kry ʼn staanplek in die voorste ry wat uitkyk op die see. Met die reiswa is dit nie ʼn probleem nie want mens hoef mos niks op te slaan nie en druk net die kragprop in. Toe ons die volgende oggend wakker word, is dit een van daardie pragtige, helder, windstil dae van die vroeë herfs.
Die Punt Karavaanpark is een van die uitsoekplekke in die land waar die senior burgers en andere sommer vir twee tot drie maande kom kamp opslaan. Buite seisoen is dit goedkoop en die geriewe is uitstekend. Ons betaal bv. slegs R175 per dag vir ʼn staanplek voor teen die see terwyl die agterste staanplekke heelwat goedkoper is. Almal ken almal en geselskap is volop. Sommige kampeerders is welgestelde mense met duur toerusting wat hierdie soort leefwyse verkies. Karakters is daar baie en omdat mense meer tyd op hande het, praat hulle makliker en is hulle besonder vriendelik en behulpsaam.
Die afgetrede hoofspietkop van die Eden Distrik kamp ook hier, Piet Stroebel. Hy vertel hulle probeer een dag daar duskant Sedgefield vir hom en sy Navara bakkie
kaap. ʼn Kar wat voor hom intrek en een agter op sy gat om hom te blok. Hy klim uit om te sien wat gaan aan en sien net mense weghardloop. Toe kom hy agter hy het nooit sy veiligheidsgordels met
die uitklim losgemaak nie en die hele Navara bakkie sit nog op sy rug!
Saans gaan lê die wind. Dan is dit wanneer die vure aangesteek word en elkeen sy eie kossie maak. Dit is gewoonlik die tyd van die dag wanneer die kamp tot sy reg
kom. Die reuk van vet skaaptjops op warm kole, dik ronde boereworse met walms van koljander en braaibroodjies met die geur van uie en tamatie. Ruik ek ʼn peri-peri hoender met sterk knoffel ? Die
bekende geur van aangebrande mieliepap. Ek stap agter die reuk aan want dis mos nie iets wat jy aldag in die Kaap ruik nie. Ek kry die karavaan met die Vrystaatse nommer en die omie wat met sy
houtlepel in ʼn driepootpot roer. Eenkant lê ʼn dik stuk Sirlion sy buurt en afwag. Oorkant staan ʼn Toyota bakkie met ʼn rooftop tent en langsaan op die tafeltjie staan ʼn drie liter Du Toitskloof
Sauvignon Blanc en ʼn bord met braaibroodjies. In die toeknyprooster lê ʼn kabeljou oopgespalk. Die man se Stormers trui verraai sy lojaliteit.
By die Jurgens Penta met die groot tent gaan dit gesellig. Vier omies sit langs ʼn vuur en drink versterkings uit lang glase. Volgens die gelag en stories is dit
duidelik dat daar al ʼn paar keile geval het. Die anties sit bedees eenkant en praat oor hul kleinkinders. Niks het nog verander nie ten spyte van al die menseregte goeters. Waaroor praat en lag
hulle so ?
Hier voor ons surf die manne al van vroegdag af. Teen laatmiddag sien mens meteens dolfyne saam met die branderplankryers in die branders baljaar. Vir ʼn uur lank
kom skole dolfyne verbygeswem. Hoeveel was daar ? Kort duskant 500 of meer ?
Kobus de Kock van Franskraal kom oorgestap. Hy bly voor op die strand by Franskraal en vertel my van die perlemoen wat by die tonne onwettig gestroop word. Dit help
nie jy bel die polisie of natuurbewaring nie. Die volgende oggend is een van jou ruite uitgegooi. Die polisie is deel van die sindikate.
Ons naweek hier op Mosselbaai val saam die jaarlikse Buffalo Rally. Dis ʼn belewenis ten spyte van die geraas. Die andersins rustige atmosfeer van die dorp verander
oornag in die raserigste plek in die Suidelike Halfrond. As jy nie van motorfietse hou nie moet jy liewer hier wegbly. Vanaf Donderdagaand hoor mens al die eerste bikes soos die manne hulle kom
opwen in die straat hier voor ons langs die see. Ek was nog altyd ʼn motorfiets entoesias en dis vir my soos musiek in my ore ---- al spin die ou sy Suzuki 20000 revolusies twee uur in die oggend
!
Vanoggend om 11H00 was die “grande parade” en van vroeg af neem die toeskouers stelling in langs die roete. Dit gebeur sommer hier reg voor ons staanplek. Daar heers ʼn feestelike stemming en mense sit op kampstoele met koffiebekers en koue biere in afwagting. Kinders sit op hul pa se skouers en honde is aan lyfbande. Uiteindelik lei die polisiekar met flitsende blou ligte die optog in. Die room van Suid Afrika se motorfietse kom verby met hul ewe eens eksentrieke eienaars. ʼn Leerbaadjie met baie “badges” en ʼn snaakse helmet doen iets aan ʼn mens. Jy haak uit !
Daar blyk verskillende groepe te wees afhangende van watter soort ysterperd hier tussen jou bene sit. As jy verspot wil lyk, ry jy ʼn Harley Davidson en as jy nou regtig indruk wil maak moet dit soos die oordeelsdag klink as hy verby kom. Sowat van moderne pispotte op mense se koppe het ek nog nie gesien nie. My ouma Lenie sou wat wou gee om so ʼn swart blinke onder haar bed in die slaapkamer te wou hê.( te gehet het). Van die ander Harley manne lyk weer soos ʼn Siriese selfmoord bomplanter met ʼn doek hier om die mond en neus dat net die oë uitsteek. Scary ! Iemand sê dis om die muggies en vlieë uit te sif sodat die ou se binnegoed nie verstop nie. Ek weet darem nie of ʼn Harley so vinnig kan ry nie. ʼn Ander ou sê weer dat die manne met die super bikes hul nie ophou met doeke oor hulse gesigte nie maar dat hulle glo ʼn ingeboude siffie in hul eie uitlate het. Ek kon nie een biker kry om dit te bevestig nie. Die klank van ʼn mooi opgestelde Harley bly egter iets besonders en geen wonder hulle het die klank gepatenteer nie. Daai geklap-klap en furr-fuurrr wat uit die pype kom is besonders. Ongelukkig klink sommige manne se Harleys soos ʼn koekblik vol klippe. Die Harleys word ook nie deur armgatte gery nie want die ontwerpersklere, stewels en brille is nie van hier nie.
Die bikers wat motorfietse ʼn slegte naam gee is die manne wat met hul Suzukies, Yamahas en Hondas te rof ry. Die geskree van ʼn super bike teen vol revs is egter van die mooiste geluide wat daar is. Van die ouens het egter die manier om hul bike te “limit” en dan klink dit kompleet asof jy ʼn kat se keel toedruk want dit is presies wat hul met die enjin doen. Hulle draai die vet oop en toe en elke keer so ʼn bietjie verder totdat die toere hier in die rooi gaan en die enjin se “limiter” inskop. Dit klink vreesaanjaend en is ʼn goeie manier om die enjin in plein Afrikaans op te donner. Weet julle hoe klink dit as twee ouens langs mekaar staan en gelyktydig die bikes “limit” ? Dan is daar weer die manne wat ʼn “burn out” doen. Hulle jaag die toere op in ʼn stilstaande posisie en laat gly die koppelaar. Die bike staan nou doodstil en skop dat daar later ʼn digte rookwolk hang sodat mens nie eens die fiets kan sien nie. As hy dan daar wegry kan jy die rubber met skoppie optel !
Dan is daar die manne met die BMWs. Duidelik in ʼn ander klas. Die oorgrote meerderheid is 1200 cc boxers maar mens sien al hoe meer die nuwe 800 cc generasie. Die
groot cruisers met hul lang lywe is iets om oor huis toe te skryf. Die anties wat agter op daai fietse sit het beslis eers ʼn draai by die haarkapper en modewinkel gemaak. Die sagte dreuning van
die boxer masjien is amper gerusstellend. Ek merk die BMW bikers sit ook nie daar waar die manne met die tatoes en baarde bier drink en lawaai nie. Hulle sit eerder oorkant die straat in ʼn
koffiewinkel en drink ʼn dubbele Capacino en eet wortelkoek.
Loslappie ?!
Die verskeidenheid motorfietse is fantasties en almal is ewe mooi. Iets wat my hartsnare roer is ʼn Ducati Diaval, 1200 cc, 90 grade “V Twin “ met ʼn topspoed van 272
km/h. Die Italianers het net ʼn manier om iets anders te laat lyk ! Nogal vinnig vir ʼn cruiser.
Die superfietse van die jare 1970 -80 laat my nostalgies word en gelukkig is daar nog mense wat hulle ry. So loop ek vir Mark Harris en sy dogter Yolandie van die Strand raak wat elk ʼn Kawasaki Z1300 ry.Blykbaar ry Yolandie haar Z1300 vandat sy sestien geword het! Hierdie Kawasaki Z1300 van die tagtigs weeg 314 kg en het ʼn reguitses waterverkoelde enjin met drie Mikuni “ twin choke” vergassers. Niemand se speelmaat nie en ʼn ikon van sy tyd.
ʼn Ander sessilinder van die tagtigs wat ek raakloop, is ʼn 1047 cc Honda Supersport CBX. Dis ʼn lugverkoelde DOHC “inline-6” masjien met ses vergassers. Weeg ongeveer
272 kg.
Daar staan hy toe --- ʼn 1975 Honda GL 1000 Goldwing met sy “ flat four horizontaly opposed engine “ van 999 cc. ʼn Hele 295 kg. In Desember 1977 het ʼn soortgelyke fiets my amper langbome toe gestuur toe hy my duskant Koperfontein afgooi en ek tien dae in Vredenburg se hospitaal moes deurbring. Dit het op 160 km/h ʼn “tank slammer “ ontwikkel en ek het beheer oor die fiets verloor. ( dis wanneer die handvatsels teen die petroltenk begin slaan weens ʼn versteuring in die fiets se voorwiel ).
Ons het die motorfietsryers geniet en ʼn mens is bewus van hul vriendelikheid en kameraderie. Mosselbaai is dan ook ʼn goeie plek vir so ʼn byeenkoms want dis ʼn
vriendelike dorp met interessante eet- en snuffelplekke. Dis ʼn lekker plek, gaan gerus kuier.
Danie du Toit
Maart 2016