Ek onthou ʼn storie wat my oom Jack van Niekerk vertel wat daar in Namakwaland gebeur het toe die boere ʼn klomp honde bymekaar gebring het vir ʼn jakkalsjag.

 

Dit het in die veertiger jare op die plaas Soebatsfontein , daar anderkant Gharies en naby Hondeklipbaai gebeur.

 

Tydens die Tweede Wêreld Oorlog het Generaal Jannie Smuts die boere se gewere in daai geweste afgevat omdat hulle glo pro Duitsland was en hy bang was hulle sou moeilikheid maak. Robbie Leibbrandt is juis daar langs die kus gevang toe hy deur ʼn Duitse duikboot afgelaai is om vir Hitler hier in Suid Afrika te kom spioeneer.

 

In 1942 breek daar ʼn erge jakkalsplaag uit en die boere sit sonder skietgoed. Raadop, reël die boerevereniging toe ʼn jakkalsjag. Op ʼn sekere Woensdag moes almal in die kontrei op die plaas Soebatsfontein met al wat ʼn hond is bymekaar kom. Daar sal hulle in spanne opgedeel word om die jakkalse op ʼn geordende manier te jag. Die jakkalse is baie uitgeslape en ʼn mens moet goed beplan om hulle vas te trek. Van die jakkalskenners het die vorige week al bymekaar gekom om ʼn strategie uit te werk.

 

Die bepaalde Woensdag breek aan en dis sommer van vroegmôre al vrek warm. Boere kom aangery van heinde en vere met honde agterop bakkies. Al wat lyk na ʼn hond is op die plase bymekaar gemaak, selfs die plaaswerkers se honde. Daar was selfs mense van Garies en Kamieskroon wat honde aanry. Kyk, jy speel nie met ʼn jakkals nie en hierdie keer gaan hulle die ongediertes goed opneuk.

 

Daardie oggend op Soebatsfontein is daar ʼn see van honde van alle soorte. Die plaaslike kandidaat van die Afdelingsraad, oom Klasie Agenbach, is ook daar en dis vir hom lekker om sy hele kiesafdeling so op een werf bymekaar te sien. Intussen drink die boere koffie en eet melktert wat die VLV vrouens voorsit. Die manne gesels en daar is ʼn feestelikheid in die lug.

 

In die middel van die werf staan ʼn bokwa waarvandaan die afkondigings gemaak word. Toe die voorsitter van die boerevereniging nou dink dat almal omtrent opgedaag het, klim hy op die wa met ʼn megafoon en begin die mense welkom heet, selfs die boere wat laat weet het hulle sal ʼn bietjie laat wees weens onvoorsiene probleme op die plaas. Ook vir sersant Visser en sy adjudant omdat hulle die enigste mense is wat wettiglik vuurwapens mag hê wat hulle kan gebruik indien ʼn weerbarstige jakkals êrens probeer wegbreek. Hy bedank almal vir hul moeite en prys die boere van die distrik dat hulle so mooi saamstaan in tye van nood. Ook die vrouens van die VLV wat in die middel van die nag moes beskuit en melktert bak. Vir die spietkop en sy handlangers wat met rooi vlae by die kruisings gestaan het om te sorg dat die mense nie in mekaar moet staan en vasry nie want met die baie karre is daar ʼn ongekende stofwolk wat oor die vlaktes hang.

 

Toe kry dominee Japie sy beurt om die verrigtinge te open. Hy spreek sy seën uit oor die dag se aktiwiteite en tydens die gebed laat val hy dat die broeders weer hulle tiendes moet opskerp as die jakkalsplaag uitgewis is en die kontantvloei weer verbeter. Die pastorie sal ook weer ʼn karbonaatjie waardeer want die kinders raak nou uitgeëet aan werfhoenders.

 

Net voordat die voorsitter van die boerevereniging weer die megafoon vat om die jag aan die gang te kry vra oom Klasie Agenbach of hy ook iets kan sê. Hulle help oom Klasie op die wa. Hy is ʼn kort mannetjie met kruisbande en ʼn bruin Gaberdine broek met 28 duim broekspype, soos die mode daai jare was. Groot wyerand hoed op die kop. Die oggend het aangestap en dis blerrie warm. Dis net honde waar jy kyk en almal soek ʼn koelteplekkie. Oom Klasie begin die mense van vooraf welkom heet. Hy bring hulle ook sommer op hoogte van sake oor die doen en late van die Afdelingsraad en die belangrike rol wat hy daarin speel.(volgende jaar se verkiesing lê voor.)Hy rapporteer dat daar onder by die kort draaitjie net duskant die Knypiese (van Zyls) se plaas het hulle baie probleme gehad met die Leaning Wheel Gallion padskraper omdat die masjien aanmekaar pap wiele kry. Dan moet n man van Piketberg kom om die wiele reg te maak want die Raad het nie gereedskap vir sulke groot tyres nie. Dit het baie vertragings veroorsaak en dis hoekom dit so lank vat om die padwerke klaar te maak. Die probleem met die papwiele is egter nou opgelos. Hulle ontdek toe die drywer het ʼn bietjie te aan die ou familiebegraafplaas van die van Zyls’ gewerk en het een van die ongemerkte grafte van die voorsate per ongeluk oopgestoot. Die Knypiese was bekend vir hulle besonderse lang voortande en dis die tande wat die hele tyd die tyres van die grader papsteek !

 

Hy beduie met sy hande en elke keer as hy driftig word gee hy so ʼn tree agteruit. Met die derde tree agtertoe , trap oom Klasie die wa se kant mis en hy val bo - op ʼn baster rifrug wat in die koelte lê en slaap ! Die rifrug skrik so groot dat hy sommer die naaste hond aan hom, ʼn matrasgatkêffer, gryp. Diè probeer wegkom en spring bo - oor ʼn windhond wat weer die rifrug aanvat. ʼn Staffie spring in die bondel en gryp die rifrug. Soos jy sê mes toe spring al wat ʼn hond is in die bondel. Dis soos ʼn gety wat oor die werf spoel soos die bakleiery toeneem. Hoe meer die mense skree hoe meer dink die honde dis aanmoediging en hoe lekkerder baklei hulle. Hulle maak later sulke koeke soos die bondels toeneem.

 

Dit was interessant om te sien met watter tegnieke die honde mekaar vat. Jy kon die gesoute bakleiers van die amateurs onderskei. Oom Tienie Slabber se steekbaard kêffer met die naam Witvoet, het ʼn besondere tegniek waarteen die grootste hond nie bestand is nie : hy val agteroor op sy rug en as die groot hond oor hom staan gryp hy sy voet . Dis die mees gevoeligste plek van ʼn hond en al wat daai hond wil doen is om weg te kom van die pyn ! Die klomp skaaphonde is nie eintlik bakleiers nie maar hulle het ʼn ander probleem veroorsaak deurdat hulle die ander honde die heeltyd bymekaarmaak en terug in die bondels stoot. Dan was daar tant Kittie, die voorvrou van die VLV, se klein skoothondjie , Tiekie, ʼn baster dingetjie met sulke steekbaarde en geel oogbanke en kliphardegat as jy dit gewaag het om te naby haar Anglia karretjie verby te loop.

 

Tiekie skrik wakker van die helse lawaai en toe hy al die honde sien baklei kom die tier in hom uit. Hy spring oor die stoep se muurtjie en peil reguit op die naaste bondel af. Voor hom is ʼn reunhond met ʼn paar groot knaters en hy vat ʼn bekvol en klou so al wat hy kan. Die bruin hond kry skielik hier van agter af pyne wat hy nog nooit in sy hondelewe ervaar het nie en los die hond se keel waarmee hy besig was en probeer net wegkom van die pyn. Hy kan ook nie die verdomde knaterbyter bykom nie en beur vorentoe om te probeer wegkom van die pyn. So hardloop hy vir hom ʼn pad oop tussen al die bondels honde deur tot by die agterdeur waar tant Kittie hom verlos van sy pyn deur Tiekie soos ʼn neet van sy knaters af te trek !

 

Tussen al die honde was daar so wraggies ook ʼn Bullterrier wat ʼn oom van Garies saamgebring het. Nie eintlik ʼn hond vir jakkalsjag nie maar met die bakleiery kon hy sy reputasie gestand gedoen. Die Bulhonde het mos ʼn manier om een hond uit te sonder en dan in ʼn wurggreep vas te druk. Sy kakebeen slaan toe en dit maak nie saak wat jy aan hom doen nie -- hy los nie. Die Bullterrier het ʼn kolliehond agter sy nek beetgekry en diè tjank dat hoor en sien vergaan . Die kolliehond se baas probeer alles om hom te red en die volk bring kookwater in ʼn emmer wat hulle oor die hond gooi maar die Bullterrier klou.ʼn Oom van Hondeklipbaai, wat blykbaar met Terriërs geteel het , kom toe met die raad : jy vat die Bullterrier agter sy nek vas met die linkerhand en steek dan die regterhand se middelvinger in sy pollie op . Hy het blykbaar ʼn baie gevoelige prostaat en sal alles net so los. As hy sy bek oopmaak om asem te skep tel jy hom aan sy nek op en draai hom weg van die hond wat hy besig is om te byt. Die ander hond sal self weghardloop. Die plan het toe nie gewerk nie want in die geharwar het hulle nie agtergekom dis teefhond nie en die ou se vinger het toe in ʼn plek beland waar daar nie ʼn prostaat was nie !

 

Die voorsitter van die boerevereniging klim later self op die wa en skree oor die megafoon dat elke man sy hond van die werf moet verwyder anders gaan net die helfte van hulle oorbly. Hy vra dat die mense hulle honde na die oop stuk veld neem daar onder by die konsertinahek maar dat hulle asb. die hek moet toemaak sodat die skape nie uithardloop nie. Daar by die hek maak die honde weer nuwe bondels !

 

Laat die middag met entjie son, maak hulle die laaste honde uitmekaar en die plaasbakkies ry so ʼn stofstreep met bebloede honde en uithangtonge huis toe. Drie hamels het ook in die slag gebly.

 

Dit was die laaste georganiseerde jakkalsjag in die Soebatsfontein se omgewing. Volgens ʼn skaapwagter het die jakkalse ʼn week lank weggebly uit simpatie met die honde !

 

Naskrif: Die naam Soebatsfontein kom van Hendrik Stievert, plaasvoorman van die weduwee Van der Westhuizen, toe hy deur ʼn groep Boemans gevange geneem is. Sy Khoi skaapwagter het weggekruip en gehoor hoe Hendrik tevergeefs gesoebat het dat hulle hom nie moet doodmaak nie.