Kampopslaan by Malkoppan
So ry ons laasweek hier vanaf Somerset Wes om te gaan vars lug soek aan die Weskus. Al die kampplekke is toe maar Ian Turner van Muisbosskerm laat weet sy kampplek, Malkoppan, net oorkant sy restaurant, is oop vir kamp. Ons vat die R44 en ry eers by Windmeul Kelders aan om vars 2020 Chenin Blanc te koop ( ons is toe net mooi ʼn week te vroeg !). Daarvandaan by die Swartland Kelder buite Malmesbury vir soetwyn.
Die N7 is oop na die werkery aan die Hopefield wisselaar buite Malmesbury en die Swartland is ʼn fees vir die oog met die wuiwende graanlande. Ons draai af by Moorresburg en ry eers deur die dorp, onder verby die ou rugbyveld waar bekende manne soos Chris Koch en Albie de Waal hul rugby leer speel het. By Piketberg draai ons links want ek wil op die Elandsbaaipad kom. Dis middag en mense sit buite in die son en waai vriendelik. So ʼn ent weg op die Elandsbaaipad hou ons aan die voet van Piketberg se berg stil en eet ʼn toebroodjie met ʼn glasie Hanepoot en ʼn koppie tee. Nou betree ons die Sandveld en die pad vat ons verby Redelinghuis en al langs die Verlorenvlei. Ai, maar die vlei kort water maar tog sien ons baie watervoëls, veral Pelikane.
By Elandsbaai neem ons die skelm grondpad al langs die Saldanha/Sishen spoorlyn maar die pad is nie in ʼn goeie toestand nie. Ons kry wel ʼn 4 km lange ertstrein met sy 342 trokke vol ystererts. Wat ʼn gesig!
Eers koop ons lekker vet skaaptjops op Lambertsbaai voordat ons Malkoppan toe ry. Daar is drie ander kampeerders, jong mens uit die Kaap wat kom branders ry. Dis 22 grade en windstil. Die see brul agter die sandduin en die wintersonnetjie sak stadig oor die see. Die lug is blou en die rooikransstompies kry hulle lê in die braaidrom. Ons staan agter ʼn laning Minatokkas en die veld om ons wemel van die voëltjies wat begin aand maak. Die vuurtjie se rook sweef lui in die laatmiddag briesie en in my regterhand voel ek die koelerigheid van die glasie Windmeul Pinotage Rose. Martie geniet Swartland Kelder se Rooi Muskadel. Ek dink aan al my Kampmal vriende wat by die huis sit en smag na die buitelewe. Toe vat ek maar nog ʼn slukkie op hulle!
Dis Donderdagoggend. Lambertsbaai is stil en die bekende Isabellas op die hawe is toe vir aansitetes maar verskaf darem tog wegneemetes. Die snoek is skaars maar ek merk ʼn snoekbakkie op die oorkantse kaai. ʼn Visterman, met die naam Voster Renoster, kom aangestap met die mooiste snoek – sy vleis het so ʼn rooi skynsel en ek merk die wit vet hier om sy pens. Groot, uitpeuloë loer vir my. “R100 Oubie en R10 vir ʼn entjie!” ʼn Mens kan nooit te veel vir ʼn vars snoek betaal nie! Nou moet ek by die kamp kom.
By die kamp maak ek en die “bokwa”( die naam aan die Weskus vir ʼn groot snoek) mooi op ʼn tafel lê en gooi hom dik met growwe sout. Nou moet hy vir 20 minute doodstil lê voordat jy hom afspoel en so effe winddroog maak. Die snoek is te groot vir die rooster en eers sny ek sy kop af want dis my snoekkopsop se deel. Nou meet ek sorgvuldig die grote van die rooster en sorg dat die pensgedeelte mooi inpas. Die oorblyende onderste gedeelte van die snoek word in ʼn sakkie gesit om te vries. Intussen kry die rooikransstompies houding en Martie is besig om braaibroodjies te maak. Intussen het ek darem self eers die sout seelug met ʼn Muskadel afgespoel en in my glas is nou ʼn Du Toitskloof Cellar Pinotage/Merlot/Ruby Cabernet. Nou wag ons vir die kole. Dis 2h30 in die middag en sonnetjie skyn gesellig. Om ons raas ʼn paar geel vinke en ek hoor die fisante roep. Dit voel mos nou vir my amper soos die bosveld, was dit nie vir die see wat hier agter die duin so raas nie.
Oor snoekbraai is daar baie stories en elkeen het sy geloof. My filosofie was nog altyd om ʼn Weskussnoek te braai sonder om daai unieke smaak van die koue seewater en bamboes te verloor. Daar is mense wat die arme snoek met konfyte en allerhande souse besmeer en by die tyd wat dit op jou bord kom weet jy nie wat jy eet nie. Dan is daar die ou wat sy snoek te droog braai sodat hy al sy smaak verloor. Onthou, dis nie ʼn tjop nie!
Die kole is nou reg en ek smeer die bokwa met ʼn mengsel suurlemoen en botter. Niks meer nie. Snoekbraai verg jou aandag. Eers so ʼn paar minute op sy vleiskant. Haal die rooster af, draai hom om en skud die snoek los van die rooster. Sit hom nou terug op sy velkant op die kole maar haal hom na ʼn minuut weer af en skud hom ook ʼn bietjie los. Sit hom terug. Hy is gaar as ʼn vuurhoutjie deur sy vleis glip amper soos die anties ʼn koek toets. Maak nie saak hoe lank hy oor die kole was nie, as die vuurhoutjie deurglip, is hy gaar. Natuurlik het jy te veel gaargemaak maar die volgende twee dae eet julle smoorsnoek en viskoekies! Dis die lekker ding van ʼn snoek.
Vrydag ry ons oor Leipoldtville en Vensterklip in die rigting van Elandsbaai. Dis een van daai kristalhelder winterdae aan die Weskus. Van Vensterklip se hoogte kyk ons af op Verlorenvlei wat onder ʼn miskombers lê en regs is die pragtige Elandsbaai met Baboonspoint wat soos ʼn soldaat oor die baai wag hou. Hier staan die wêreld stil. Daar is ongeveer dertig branderplankryers tussen die bloublink golwe. Ek stap strand langs om na die kampeerplek te kyk. Daar staan twee karavane en dit lyk asof die mense permanent kamp. Die plek lyk ʼn bietjie verwaarloos. Met die regte bestuur kan hierdie plek ʼn juweel wees. Ons trek die camper teen die strand en Martie maak roereiers met gevlokte snoek.
Ons ry agter om Baboonpoint verby Klein Tafelberg in die rigting van Dwarskersbos ( my gunsteling kamp). Groot ontwikkeling al langs die see. In my jong dae was daar net ʼn “badshuis” en ons tente het op die hoogwatermerk gestaan. Op die badshuis se stoep het ʼn orkes musiek gemaak en die mense het al met die stoep langs gedans. Omies met opgerolde hempsmoue het brandewyn gemeng met brakwater uit ʼn Ford se kattebak geskink. Anties met lang rokke het Oros gedrink.
Ek ry graag by Laaiplek aan om die visserbote te sien. Dis Vrydagmiddag en alles is stil by die hawe. By die mond van die Bergrivier sit die breekwatermuur swart van die seeduikers en oorkant teen die sandwal is daar nie plek vir ʼn muis nie. Ek wonder hoeveel ton vis hierdie duisende voëls per dag vreet? Op pad stop ek by ʼn omie met ponytail om twee bossies bokkoms te koop. Ons slaap oor by vriende op Saldanha en ry die volgende dag via Hopefield, Koperfontein en Malmesbury terug Somersetwes toe.
Die Weskus bly ʼn spesiale plek en die wintermaande is my gunsteling tyd van die jaar. Dit is wanneer ʼn mens die unieke reuk van die veld en die see ervaar. Die eenvoud van die streek is besonders.