Ek wonder watter eetgoed ń mens as nasionale bates kan klassifiseer. As ek nou so terugdink ,veral toe ons nog kinders was, sou ek die volgende op my lys van onvergeetlike eetgoed neerpen:

 

  • Kondensmelk
  • Ingevoerde Noorwese sardientjies
  • Marie Biscuits
  • Hardgekookte eiers

 

Natuurlik kan mens die lys nog baie langer maak want elkeen van ons het mos sy eie smake en voorkeur.

 

Maar noem vir my iets lekkerder is as ń blikkie kondensmelk? Wie kan nog onthou toe jy dit die heel eerste keer geproe het ?

 

Kry jy ń blikkie kondensmelk persent,loop jy en die Jack Russel eenkant toe, na n alleenplekkie waar niemand jou kan sien of pla nie. In jou broeksak is jou Best knipmes. Jy kry jou sit,maak die blikkie tussen jou bene staan en wikkel die lang lem van die Best oop. As daar ń blou getjapte prys bo-op die deksel is, moet jy dit eers afvee want dit sal teen die punt van jou neus afgee as jy die blikkie teen jou lippe druk.Jy wil nie almal laat weet jy het kondensmelk persent gekry nie.

 

Druk nou die lem se punt versigtig net langs die rand van die blikkie in en stamp met die palm van die ander hand op die mes se handvatsel om ń klein gaatjie te maak. Woel hom so n bietjie groter maar ook nie te groot nie. Daai eerste bietjie kondensmelk wat uitpeul vee jy met jou voorvinger af en sit dit op die punt van jou tong. Druk nog n klein gaatjie aan die anderkant.

 

Daai eerste suig so deur jou tande en die kondensmelk wat so in ń bolling hier op jou tong kom lê! Is daar dan iets lekkerder in die hele wêreld? Rol hom rond in jou mond, voel hom hier in die binneste plooie van jou kieste,smeer hom teen jou verhemelte en laat glip so n klein bietjie teen jou keel af,bietjies-bietjies,lekker stadig. Bly in beheer want hierdie lekkerte is jou eie.

 

Die Jack Russel lê met sy kop op sy voorpote met ore gespits. Sy oë beweeg op en af soos hy jou bewegings dophou. Hy weet wat in daardie blik is maar sal sy beurt moet afwag.

 

Die tweede suig is lank en stadig. Ai,dit maak eintlik ń brand-soet hier teen jou keel af. Nog ń suig en nóg een.Kan dit dan so lekker wees? Laat hom eers ń bietjie lê voordat jy sluk.Nou moet n man stadig sodat jy môre ook nog kan hê. Nog net een slukkie.Jy hoef nie so baie vir môre te bêre nie en sê nou net die miere ontdek dit. Hulle is hoeka so lastig.

 

Nog ń slukkie, die laaste een.Hoekom skree die blik dan nou so? Suig weer. Te laat. Hy is leeg!

 

Met die langlem van die Best word die deksel oopgesny. Die Jack Russel staan nou nader,sy beurt het gekom. Hou die blikkie vas sodat hy met sy lang rooi tong die laaste bietjie lekkerte daar onder kan uithaal.Teen die kante langs en versigtig al om die gesnyde rande van die deksel. Dis net ń ekspert wat ń blik so skoon kan uitlek.

 

Waar sal mens ń standbeeld vir ń blikkie kondensmelk kan oprig ?