‘n Verkeerdekonstabel stop my die ander dag tussen Harrismith en Warden omdat ek te vinnig gery het. So met ons groetery kyk hy na my nommerplaat en vra; “waar in die wêreld is NPG?” Dit gee my toe ‘n kans om ‘n geselsie aan te knoop en ek beduie vir hom NPG is Pongola en Pongola is daar doer vér . . . . . baie, baie vér in die hartland van Zoeloeland . . . . . die bakermat van Koning Chaka, op die grens van Swaziland, en so babbel ek voort.

 

Die verkeersbeampte, ‘n Basoetoe van herkoms, het my sò staan en uitluister en reageer toe in mooi Afrikaans . . . . . “die hart van Zoeloeland? . . . Zoeloes?, Chaka?, Dingaan?. . . . meneer, dis leeuwêreld daai! . . . . . ek sien jy het nog ver om te ry en dit raak laat, jy kan maar gaan.”

 

Nou ja, my buurman in hierdie Leeuwêreld is die legendariese Pollol Nel. As ‘n jong skoolseun het hy amper sy een been in ‘n motorongeluk verloor. Dit was so erg dat hy vandag van die knie af ondertoe bykans geen spierweefsel oor het nie. Hy het nogtans na sy skoolopleiding ‘n renjaer vir Volvo geword, hy was onder meer ook ‘n grootwildjagter wat ‘n konsessiegebied in Botswana aangrensend aan die Moremi-wildtuin vir etlike jare bedryf het. Pollol was ook ‘n kranige vlieënier. Hy hou ook die onbetwiste rekord in Zululand as die man wat die meeste Castles kan wegsit!

 

Dit alles ter agtergrond.

 

Nou, so gebeur dit op ‘n dag dat Pollol en ‘n ou jagmaat van hom, Japie Botha, na ‘n jagtog in Botswana die lang tog huiswaarts aanpak met ‘n swaargelaaide ou Landie. Die ou Landies van toentertyd was nie net stadig nie, dit was ‘n pyniging wat die insittendes genoodsaak het om te stop waar daar nou ookal ‘n stopplek was om seer lywe en bene te rek en natuurlik stof uit die kele te spoel!

 

Moeg en vaal van die stof kom hulle laataand op Amsterdam aan en parkeer die ou Landie ewe netjies reg voor die kroegdeur. So met die inloop kom daar ‘n liggaam so horisontaal deur die swaaideure uitgevlieg wat vir Pollol en Japie amper onderstebo slaan. Met die intrapslag sien hulle die spanning binne die kroeg loop hoog . . . . . die manne gluur mekaar aan en wil net nog appels swaai.

 

Pollol en Japie druk vir hulle ‘n staanplek in die hoek oop en voor die kroegman nog ‘n bestelling by hulle kon vat, draai Pollol om en so met sy rug teen die toonbank kyk hy die manne kwaai aan en laat waai met; “wat de donner gaan met julle aan? Julle baklei net soos ‘n klomp hooligans! Soos ‘n klomp lafaards! Sies, ek skaam my vir julle!”

 

Een van die ou hande kom toe ook so uitdagend ‘n treë nader en vra; “en waar kom julle vandaan? , wie dink julle is julle?”

 

Japie skop vir Pollol op die skeen in ‘n poging om hom stil te kry maar dis pure verniet. Pollol trek los; “ jy vra waar ons vandaan kom en wie ons is? . . . . . nou laat ek jou vertel. Ons is grootwildjagters wat van Botswana af kom. Ons het vir die afgelope drie maande oliefante en leeus gejag. Om die waarheid te sê ons jag elke jaar leeus. Weet jy hoe jag ons leeus? Ons maak beurte. Een van ons gaan lê as lokaas en as die leeu kom dan skiet die ander een hom. Verlede jaar was my beurt gewees om lokaas te lê en toe die leeu my storm het Japie se geweer so wragtag op daardie kritieke oomblik gaan staan en weier met die gevolg dat die leeu my aan die been gegryp het. Japie het die geweer weggegooi, die leeu gestorm en hom met sy mes tussen die blaaie gesteek!”

 

Op hierdie dramatiese oomblik vat Pollol sy been, swaai hom op ‘n kroegstoel en trek sy broekspyp op met; “ja! soos julle kan sien . . . . . ‘n leeu kan blerrie seer byt!”

 

‘n Geskokte stilte het vir ‘n paar oomblikke oor die kroeg gesak terwyl die ouens so staan en Pollol se been aanskou en aan sy storie kou. Die ou naaste aan hom begin soos ‘n perkinsenjin in die winter te sidder en bewe, steier so ‘n paar tree terug en hyg . . . . . “Brrrrr, ek gril my dood!. Met dié kom een van die manne van buite af deur die swaaideure in en sê: “Kêrels die man praat die waarheid! Kom kyk - hulle Land Rover staan hier reg voor die deur. Die ding is propvol vleis en velle en goed!” ‘n Ander een, terwyl hy met groot eerbied vir Japie aanstaar, laat loop daar van die dartbord se kant af met . . . . . “Bliksem! Julle IS donners onverskrokke!. Ek sou my gat af gehardloop het!”

 

Pollol en Japie het daardie aand tot baie laat gekuier sonder dat dit vir hulle nodig was om vir ‘n enkele drankie te betaal.

 

Hierdie twee Pongoliete is nie alleen net lojale vriende teenoor mekaar nie, nee, hulle lojaliteit teenoor, onder andere, ‘n kortstondige Griekse vriend het hulle amper in die tronk laat beland.

 

Die ding het sò gebeur . . . . .

 

Pollol en Japie moes vir besigheid Durban toe gaan. Terwyl hulle in Durban was en dit hier by etenstyd kom val dit hulle by van dié Griek wat hulle by geleentheid iewers in ‘n kroeg in Zoeloeland ontmoet het, ‘n hond uit ‘n bos uit mee gekuier het, en wat die eienaar van ‘n restaurant in Durban is. Lojaal aan ‘n ou vriendskap gaan eet hulle toe by Zorbas. Hulle ou pel is nêrens te sien nie, maar die wyn en die kos is lekker. Die plek het ook ‘n lekker atmosfeer met polsende Griekse musiek en uitbundige gaste.

 

Dit raak naderhand al hoe later en al hoe kwater en Pollol en Japie kuier sommer lekker.

 

Meteens vat een van die gaste sy bord en hy gooi hom so oor sy skouer dat jy net skerwe sien spat. Japie kyk vir Pollol en vra: “Wat gaan nou aan?” Pollol was nog besig om te sê: Nee, ek weet nie” toe die tweede gas sy bord oor sy skouer gooi dat die skerwe spat. Japie sê toe vir Pollol; “nee, magtag man, hulle is mos nou besig om ons pél se goed te breek! Ons kan dit mos nie toelaat nie!”

 

Met dié staan Japie op en stap na die brekers toe en terwyl hy nog beduie dat hulle nie sy pél se borde moet breek nie kyk die een hom so snaaks aan, vat sy bord en gooi dit oor sy skouer. Nou kyk, jy doen dit nie ongestraf met Japie nie! Japie vat die mannetjie voor sy bors, lig hom uit sy stoel uit en stuur hom mooi liggies droomland toe met so ‘n kort regtertjie . . . . . niks buitensporig nie!

 

Meteens is dit asof daar ‘n oorlog uitbreek . . . . . dis ‘n gegil en ‘n geskreeu, stoele en borde vlieg rond en vuiste klap. . . . . totale chaos! Die eienaar kom asof van nêrens ingestorm (dis nou Pollol en Japie se pél) en begin luidkeels skreeu: “STOP!!!!, STOP!!!! Dis ees my frénds! They are having a Greek Party! You are ruining the Party!!!! Get OUT!!!!, OUT I say!!!! I am callink de Police!

 

So beland Pollol en Japie toe buite in die straat . . . . gehawend en verskeur, vol knoppe en opgeswelde kneukels . . . . . en met ‘n Griekse vriend minder! So met die wegstap sê Japie vir Pollol . . . . . “Ja, my ou maat – DIS NOU STANK VIR DANK!”

 

(Geskryf deur: Chris Hattingh, 14/4/2015)

 

NASKRIF: Hierdie stories is gebaseer op oorvertellings. Dit is dus fiksie. Enige karakter wat moontlik met ‘n lewende persoon verbind kan word is bloot toevallig. As jy egter vind dat die skoen jou dalk pas is jy baie welkom om hom aan te trek. Dit is jou keuse.