Ek sien n ou foto van n luidspekerboksie van die Inryteater wat aan die binnekant van n motor se klein venstertjie hang. Dit laat my terug dink aan daai wonderlike dae van Inryteater. Vir ons aan die Weskus was die naaste Inry Malmesbury, ongeveer 40 km weg .Dit was dus n wêreldreis om Inry toe te gaan en het ook heelwat beplanning gekos. As mens Inry toe gaan is die etery mos een van die hoogtepunte en daarvoor moet jy al vroeg jou staanplek kry sodat jy klaar geeet kan wees as die fliek begin.

 

Frikadelle in koolblare gerol, hardgekookte eiers van Leghorn weglêhoenders, toebroodjies met waatlemoenstukke konfyt tussenin , rooijellie met tuisgemaakte klonterige fla, in klein bakkies bedien. Koffie of geel aangemaakte Oros koeldrank.

 

In die somertyd hier in die Kaap sak die son mos eers laat en dit was n lang wag voordat die donkerte toeslaan. Vir een of ander rede het die grootskerm altyd Wes gewys, dus as jy vroegaand jou plek inneem, het pa altyd die enjinkap oopgemaak sodat die son nie so direk in ons oë skyn nie.

 

Die spekerboks is altyd deur die klein linkervenstertjie van die Ford Falcon gehaak en die vooraf musiek het n karnaval atmosfeer geskep. Die afwagting was groot. Eers die Movietone nuus gelees deur n omie met n sterk Engelse aksent wat vir ons vertel wat in die wêreld aangaan. Dan oplaas die leeu wat eers brul en die kleintjies wat benoud op hul ma’s se skoot skuif en eers kyk of al die deure toe is. Die Cowboy flieks was die gewildste met John Wayne wat met die Rooi Indiane slaags raak en gereeld n ander ou met lang hare betrap waar hy om n vuur sit n bake beans eet..

 

So gaan Oupa Koos ook een aand saam --- sy eerste Inryfliek.

 

Na die koue frikadelle en ham vee hy sy snor af en kry sy sit links voor langs die spekerboks. Hy was nie Engels magtig nie en ons,wat ook nie alles verstaan nie, moes help beduie. Met n Cowboy fliek hoef mens eintlik nie Engels te verstaan die want die storie vertel hom mos self. Vir Oupa was die perde, waarmee hy groot geword het,alte mooi veral as John Wayne sy groot hoed met die een hand vasdruk en sy mêrrie in die lieste kielie dat jy net stof sien staan soos sy vorentoe spring. Later die aand vra Oupa,,nadat John n kroek in die hoofstraat "gedraw" het : "Is dit waar ?"

 

As "The End" op die skerm flikker hoor jy net karre start soos almal tegelyk my die hek wil uit. Dan lyk dit soos vyfuur verkeer in Adderleystraat..My pa was altyd een van die haastiges om uit te kom. Met die wegtrek hoor ons net n klapgeluid soos die spekerboks die klein vensterjie uit sy skaniere ruk. Dit was oupa se werk om die speker terug te haak en hy het vergeet ! My pa het die Falcon met die gebuigde venster so verkoop.