OOM BOY GREEFF
Oom Boy Greeff, jarelange poliesman op Nelspruit en van die stoutste mense wat die liewe Heer ooit geskape het. Hy het in die Sandveld groot geword ,op Hopefield skool gegaan en toe later n polisieman geword. Met die uitbreek van die Tweede Wereldoorlog het hy geweier om teen die Duitsers te gaan veg. Vir sy straf verplaas hulle hom Laeveld toe en woon hy op Nelspruit. Hy kry n swart konstabel en twee donkies om die Laeveld op te pas. Daai dae was dit nog n wilde plek. So word hy n legende daar.
Saam met hom was ek ook die eerste keer in die wildtuin en daar het hy my gewys hoe skiet jy n wilde bobbejaan met n kettie. Kyk uit vir n groot trop en wag totdat hulle gewoond raak aan jou teenwoordigheid. Dan soek jy een uit wat lekker rustig eenkant sit en skiet hom op die boud. Die bobbejaan voel net skielik die brandpyn maar weet nie waarvandaan dit kom nie. Wag tot hy weer rustig word en skiet weer. Hy vryf sy boud en is duidelik die moer in en klap sommer n ander onskuldige bobbejaan bo van n tak af !
Oom Boy het altyd n sak vol ball bearings saamgery . Dan smous hy dit aan die Shanganis langs die pad as saad waarmee jy n ysterpot groei. Verskillende grootes. Die klein ball bearings n tiekie elk en die heel grootes vir n shieling. Hy het n hele resep hoe om dit te plant : n bietjie mopanie as en net met volmaan, buite om gooi jy bokdrolle en elke tweede dag katpis. Die Laeveld lê nou nog vol ball bearings.
Hy was n gerespekteede man onder die stamhoofde en moes dikwels as bemiddelaar optree. So word hy een dag dringend uitgeroep en hy nooi vir Jannie Visser, sy susterskind van Wellington wat by hom kuier, saam.
Jannie vertel hul ry diep die bosse in en kom by n stad met beeskrale en baie hutte. Oom Boy word soos n koning ontvang en die manier wat die hoofmanne hom groet kan mens sien die mense respekteer hom. Daar is so n kring afgesaagde boomstompe en almal gaan sit en n kalbas word omgestuur. Jannie sê aan die begin was die bier vir hom sleg maar soos die kalbas verbykom raak dit al lekkerder en begin hy diep sluk-- die bier loop naderhand hier teen sy bors af. Toe bring hul die jong meisies om te kom dans. Hy sê soveel skuddende tiete op een slag het nog nooit gesien !
Hy kyk vir Oom Boy maar dié geniet die dansery net so al moes die hoofman hom tweekeer weer op sy stomp help sitmaak. Later stop die dansery en die hoofman laat n jong man kom wat in die middel van die kring gaan sit.
Die hoofman stel sy saak: die jongman en een van sy maats het n skyngeveg oor n meisie gehad en toe steek die outjie die ander ou per ongeluk dood. Die outjie is egter n voorbeeldige seun en hulle wil nie hê dat hy van moord aangekla word nie. Wat sê Oom Boy ?
Jannie sê Oom Boy beduie hy het tyd nodig om oor hierdie gewigtige saak te dink en vra vir die kalbas. En Oom Boy dink en hy dink en almal wag en wag. Oom Boy vat n laaste sluk uit die kalbas, vee die skuim van sy mond af en vra vir die hoofman wat se straf hulle in gedagte gehad het. Die hoofman sê twaalf houe met n kats. Oom Boy dink weer terwyl almal wag vir sy uitspraak. Toe sê hy: "Sit nog twee by !"
Die saak is afgehandel en die Law het gepraat.
DANIE DU TOIT
13 JUNIE 2016