So kuier ek by Koos Louw op Langebaan en hy vertel my van sy oom Sollie Bester, ʼn legende van die Ondersandveld wat daar langs die Bergrivier geboer het.

 

Aan die einde van elke oestyd, dit is nou vroeg Desember, moes die boere Moorreesburg toe om by die koöperasie se hoofkantoor te gaan ‘afreken’. Dan vat hulle die papiertjie waarop oom Niekie Loubser, die koöperasie bestuurder op Koperfontein, die hoeveelheid koring wat hulle gelewer het neergeskryf het saam. Die hoofrekenmeester is ʼn man met die naam ‘Boekies’ Kotze, so genoem omdat hy met die koöperasie se boeke werk. Vir Boekies was die meeste boere maar lugtig want sy somme kon ʼn man nogal laat sweet.

 

Wanneer Boekies daai papiertjie met al die lewerings vat en uit ʼn ander boek die jaar se aankope en al die ander aftrekkings begin bymekaar tel en hy hou aan met optel en aftrek dan begin ʼn man twyfel of jy anderkant gaan uitkom. Dan dink jy jy kon seker maar ʼn bietjie dunner kunsmis gestrooi het en daardie klomp baaldraad was seker te veel want daar lê nog heelwat oor in die pakstoor. Dit was seker ook nie nodig om nuwe bande vir die sleepwa op te gesit het nie want jy kon mos die buurman se wa geleen het. So vlieg die gedagtes en verwyte deur ʼn man se kop en jou handpalms ʼn klammerigheid begin kry. Dit lyk ook asof die lewerings daar by Koperfontein effens minder was en die verdomde skepelgewigte ook laer was as wat jy gehoop het. Die koring het vir jou mooi gelyk maar die papiertjie wys nou heelwat tweedegraads. Intussen werk Boekies se optelmasjien oortyd en skop dit sulke lang repe papier uit. Dis wanneer hy stop, ʼn vars sigaret opsteek en ʼn nuwe rolletjie papier in sy masjien sit, dat die benoudgeit hier in ʼn man se keel kom sit.

 

So moes oom Sollie ook een Woensdagoggend Moorresburg toe om te gaan afreken. Vroegoggend laat hy een van sy plaaswerkers sy vaalgroen 1956 Mercury met die linkerhandstuur was en binne afstof. ʼn Man moet darem agtermekaar lyk as jy daar voor die koöperasie stilhou. Hy is hoeka nie ʼn bietjie trots op die Mercury nie want die kar het hy by sy stiefbroer gekoop wat dit weer in die Kaap by ʼn ou Engelsman geruil het. Enig in sy soort, die kar van hom.

 

Toe oom Sollie die wagkamertjie voor Boekies se kantoor instap, sit daar al ʼn paar manne. Hulle gesels boerdery en drink koffie,met die een oog op Boekies se kantoordeur, want dis waar die sekretaresse jou inlaat as jou beurt kom. So begin die manne praat oor hul trekkers. Dis nou een onderwerp waar daar wyd oor ʼn trekker se bekwaamheid uitgewei word. ʼn Massey Harris, John Deer, Hanomag, McCormick ,Case, Fordson, Minneapolis-Moline, ʼn Vaaljapie, noem maar op, die een is beter as die ander.

 

Oom Sollie maak keelskoon: “En toe koop ek mos vir my ʼn Landini. Koed kêrels, maar is dit nou vir jou ʼn lekker trekker! En sterk! Kan daai ding vir jou ʼn ploeg trek! Jy moet hom eintlik inhou of hy hardloop met ploeg en al skoon onder jou uit! Met ʼn grop agter hom sien jy net stof staan en by die wenakkers moet jy wakker wees of jy ry deur jou buurman se grensdraad. En lig op paraffien! ʼn Man vergeet eintlik om vol te maak en na ʼn week se werk is die tenk eers half! En kan daai blou Landini nou vir jou met ʼn wavrag koring op pad Koperfontein toe hardloop! Piet Brand moes nou die dag met daai Plymouth van hom sommer uithaal daar teen Leliefontein se skuinste om by te hou toe ek die Landini in sy top gear gooi!

 

Nee kyk, dis ʼn klaargemaakte trekker! En moeilikheid gee? Nie nooit ʼn dag se moeilikheid nie!

 

Net toe roep die sekretaresse oom Sollie se naam en hy is by die deur in. Boekies het die papiertjie gevat en sy somme begin maak en gemaak. Toe lyk oom Sollie se dinge aan die einde van die afrekening glad nie soos hy verwag het nie.

 

Met die uitkomslag het hy so ʼn lang reep optelmasjienpapier in sy regterhand en met sy linkerhand druk hy sy hoed op sy kop vas en sê :  "Koed kêrels, hoe lyk dit dan nou vir my die Landindi gee vanmôre vir my die eerste keer moeilikheid!"

 

Mei 2018