WINTERTYD IN DIE KAAP

 

Ek word Woensdagoggend wakker van die hek se klokkie. Kyk uit maar dis donker. Die ding lui weer ʼn dubbelslag. Wie kom pla my in die middel van die nag ? Ek staan op en kyk op my horlosie: dis 7h35 ! Dis my tuinman wat kom werk.

 

Ek het vergeet dis wintertyd in die Kaap! My buurman bring ʼn Weskus snoek met die waarskuwing: "Pasop hy drup die kole dood so vet is hy !" Vanaand is daar net een lêplek vir hom – kole toe.

 

Ek lê die snoek lankuit op ʼn bakplaat en smeer sy gladde lyf met ʼn botter en suurlemoensap mengsel. ʼn Snoek hou daarvan om so gevryf te word -- sy oë word glaserig, amper soos die meisies desjare toe ons hul boude daar onder by Melkbaaistrand met sonbrandolie ingevryf het.

Vroegmiddag het ek ʼn paar van Stanford se rooi patats in die oond gedruk. Ek pak rooikrans stompies, maak dit brand en gooi ʼn glasie Windmeul Rooi Muskadel vir iets soets. Toe die vuur lekker brand skiet die prop van ʼn Darling Shiraz.

 

Ek krap die kole uit en wag dat dit ʼn bietjie afkoel. ʼn Snoek hou nie van ʼn te warm vuur nie. Eers smeer ek hom alkant met die bottermengsel sodat hy nie aan die rooster moet vassit nie, dan knyp ek hom toe in die rooster en lê hom vleiskant eerste vir so vyf minute. Draai om en smeer ʼn bietjie sousies oor sy vleis maar moet hom nie alleen los nie. Na ses minute moet jy hom mooi bekyk. Ek vat ʼn vuurhoutjie en steek dit deur die dikvleis, amper soos ouma Lenie ʼn koek getoets het. As die vuurhoutjie deurglip maak jy die rooster se eenkant op sy velkant oop, skuif die plat oondpan oor die snoek, maak weer toe, draai om, siedaar hy lê netjies in die pan!

 

Breek die kop af en sit dit eenkant -- myne alleen vir later. Sny die pens uit en verdeel in twee -- wees regverdig ! Breek ʼn louwarm patat oop en top hom op met ʼn klont botter. Vat die kop, breek sy kakebene af en krap die wangvleisies uit. Die sappige oë en die soet kopmurg kielie my smaakkliere met ʼn onbeskrylike lekkerte.

 

Nee wat, hierdie tyd van die jaar gee ons nie om vir die weer in die Kaap nie !