Dit is tog so dat ʼn vliegtuig ʼn mens se verbeelding aangryp en dat jy ʼn heimlike begeerte het om soos ʼn voël in die lug rond te sweef. Ek was destyds self ʼn
lid van Estcourt se sweefvliegtuigklub en het dit baie geniet. My uitgangspunt was dat ek sommer van die begin af moet leer om ʼn vliegtuig sonder ʼn enjin te kan vlieg en nie te wag totdat die
enjin daar bo gaan staan nie. Dit was ʼn onvergeetlike ervaring om so geluidloos daar bo in die wolke te sweef en ʼn klomp aasvoëls kom val hier langs jou in en jy kyk hulle direk in die oë. Ek het
toe die sweeftuie later gelos, veral na ʼn sekere insident, om te verhoed dat dieselfde aasvoëls eendag op my kom sit as ek daar onder op die grond lê.
Gedurende my studente jare op Pietermaritzburg het ek en Swartjan Fourie dikwels saam met Toit Fick in sy 1951 TRI-PACER rondgevlieg. Toit het op die plaas Tierhoek, aan die voetheuwels van die Drakensberge, in die Kamberg distrik van Mooirivier geboer en ʼn aanloopbaan op sy plaas gebou. Ons vlieg een Saterdagmiddag na die Drakensberg Hotel om te gaan snoeker speel, al tussen die klowe deur. Wat my daardie dag bang gemaak het, was die manier waarop Toit die TRI-PACER moes opwen om oor die koppie aan die onderkant van die aanloopbaan by die hotel te kan opstyg. Op Tierhoek het hy eers laag oor die aanloopbaan gevlieg om die skape weg te jaag sodat ons kan land.
In die vroeë sewentigs byt die gogga ook my vriend Ron McLaren om te leer vlieg en hy sluit by die Oribi vliegklub van Pietermaritzburg aan. Hy was ʼn ywerige student en ook nie lank nie toe kry hy papiere om solo te vlieg en kort daarna koop hy ʼn gebruikte wit en rooi Piper Cherokee 140 vir R6500 sodat hy ongesteurd kan vlieg wanneer hy lus voel. Elke Saterdagoggend as die weer dit toelaat, vlieg hy en Maynard, toe ʼn klein seuntjie, in die omgewing van Pietermaritzburg rond. Toe Maynard die eerste keer die oranje windkous sien roep hy uit: “Pa ! Kyk daar hang ʼn geelwortel !
Ek word ook een Saterdagoggend genooi om saam te vlieg en is skrikkerig maar troos myself dat ek weet Ron is ʼn baie presiese ou en dat hy nie sommer iets onverantwoordeliks sal aanvang nie. Dis ʼn mooi dag en ons vlieg oor Midmardam en die Natalse Middelande. Die stuurkajuit met al die meters en goeters beïndruk my en ek vra hom uit. Hy sê hy weet nie waarvoor alles daar is nie maar hou meestal net daai groot meter met die horlosiewysters dop, as dit te vinnig in die verkeerde rigting draai is daar moeilikheid!
Ron se ouers bly op daardie stadium in Calitzdorp en hy en sy familie gaan dikwels daar vakansie hou. Dis toe net daar dat Ron besluit hy gaan vir oom John en ma Sophie verras en met sy vliegtuig kom kuier. Op ʼn Nel se plaas net buite die dorp is daar ʼn aanloopbaan. Dink nou net as hy sy pa daarvandaan bel om te sê, ons is hier !
Die Piper word gewas en die ruite skoongevryf en Ron sorg dat die bagasie net die regte gewig is. Maynard en Bruce, toe ook nog ʼn klein seuntjie net uit die doeke, sit agterin en Erna met ʼn koekblik vol toebroodjies en drinkgoed op haar skoot voor langs Ron. Erna moes ook as hulpnavigator diens doen en gereeld verslag doen as hulle oor ʼn groot rivier of dorp vlieg. Dis ʼn pragtige dag toe die Piper van Oribi lughawe opstyg en Ron Port Elizabeth as bestemming bevestig. Alles gaan voor die wind maar hoe langer hulle vlieg hoe warmer word dit en die klein vliegtuigie begin later soos ʼn oond te voel. Om alles te kroon begin Bruce neul: “Ek kry warm ! Ek kry warm!” Omdat Ron al die wysters hier voor hom moet dophou en nie konsentrasie kan verloor nie begin Bruce se gekerm hier van agteraf hom irriteer en oplaas sis hy deur sy tande: “ Erna ! Gooi die kind by die venster uit !”
Dit was maar die begin van Ron se probleme want duskant Oos-Londen begin die weer toetrek, ʼn koue front uit die Kaap. Daar is geen ander uitweg nie en hulle word genoodsaak om in Oos-Londen te land waar hulle vir ʼn paar dae in die Holiday Inn bly en Ron met die kinders op die strand speel. Uiteindelik verbeter die weer so dat hulle kan opstyg maar nie sonder teëspoed nie. So ʼn entjie weg begin die radio moeilikheid gee en hulle moet op PE land sodat iemand daarna kan kyk. Die herstel van die radio sal egter ʼn paar dae neem en Ron en sy familie vlieg toe maar verder met SAL tot op George waar oom John hul kom haal.
Terwyl die familie op Calitzdorp kuier ry Ron Kaap toe waar hy ʼn weeklange seilvaartkursus bywoon. Hy onmoet daar ʼn tandarts wat ook met sy eie vliegtuig van êrens uit die Vrystaat Kaap toe gevlieg het.
Terug op Calitzdorp kry hy ʼn oproep dat die Piper weer reg is. Die vinnigste manier om nou in PE te kom, is om te ryloop. So gaan staan Ron met sy pilot bril, kortbroek, langkouse, Grashoppers en ʼn togbag aan die Oudtshoorn kant van Calitzdorp. Dis warm. Hy hoor die kar voordat hy hom sien. ʼn Mostertgeel Cortina Big Six met ʼn Ladysmith nommer gooi ankers en dis duidelik die bestuurder is haastig. Die ou het so ʼn klein keppie op sy kop en tussen sy lippe hang ʼn Lexington, uit sy bosak haal hy ʼn pakkie dertig en bied Ron ook een aan. Hulle moet hard praat want die radio is vol oopgedraai op Goo Goo Dolls van die Klaxons. Die ou sê hy is oppad Kareedouw toe om vir sy meisie te gaan kuier en sy vriend Bertie van die koöperasie het hom gehelp om die Big Six ʼn “straight throe” aan te sit. Nou vat hy nie meer k..k van ʼn Alfa nie. Hy sê vir Ron hy moet uitkyk vir ʼn tweedehandse Anglia want hulle is goedkoop en dan hoef hy nie so langs die pad in die son te staan nie. Sy eerste kar was ook ʼn Anglia 1200 wat hy later ʼn dubbelkeel 36DCD Weber opgesit het. So begin almal maar eers hier onder. Hy weet hoeka van ʼn ou op Barrydale wat syne wil verkoop. Later vra hy: “Waarheen is jy nou eintlik oppad ? PE toe, sê Ron. Om wat te gaan maak? Nee, om my vliegtuig te gaan haal ! “ Die ou kyk hom met ongeloof aan, trek ʼn diep skyf aan die Lexington en trap die Big Six se petrol nog so ʼn bietjie dieper in.
Ron het sonder voorval in Calitzdorp op die plaasaanloopbaan geland.Met die terugkeer het die McLaren familie via Bloemfontein gevlieg om die slegte weer langs die kus te vermy. Die middag toe Ron weer veilig op Oribi lughawe in Pietermaritzburg land, verneem hy dat sy tandarts vriend êrens in die Vrystaat teen ʼn berg vasgevlieg het. Nie lank daarna nie het hy die Piper verkoop.
Indien hy en sy familie destyds met sy rooi Valiant stasiewa na Calitzdorp gereis het, sou dit 14 uur geneem het in plaas van die paar dae. Daar is egter ʼn gesegde wat sê : “ If you have time to share, travel by air”.
(Oktober 2015)