Dis darem snaaks hoe dinge soms kan verkeerd loop as mens jou op ʼn vreemde plek bevind.

 

ʼn Goeie ou vriend van my daar van Pongola se wêreld het so ʼn ervaring opgedoen. Hy en sy seun moet dikwels Pretoria toe vir werk en dan word daar in ʼn gastehuis oorgebly. Die betrokke dag moes hulle weer die aand oorslaap maar die gastehuis waarin hulle gereeld oorbly was vol bespreek. Op ʼn aanbeveling van ʼn kennis bespreek hulle akkommodasie in ʼn baie luukse gastehuis êrens in die Noordelike voorstede van Pretoria.

 

Die plek beïndruk hulle met die instap en na ʼn glasie port word hulle na hul onderskeie kamers geneem. My ou vriend word in die ‘honey moon suite’ ingeboek want die gasvrou wil hê hy moet gerieflik bly. Hy dink by hom selfwers dis darem nou baie jammer dat Ma nie saamgekom het nie. Dis ʼn groot ruim kamer met ʼn enorme bed en oral sien hy handdoeke en gekleure gesiglappies en goetertjies.

 

Hy stap die badkamer binne en skrik eintlik vir die groot ronde bad. Op Pongola kry mens net storte want daar is dit te warm om in ʼn bad te lê Nêrens sien hy ʼn stort nie. Wat hom interesseer is dat die bad sulke blink spuitkoppe al in die rondte het – amper soos ʼn beesdip. Nee dink hy, hierdie bad gaan hy vanaand uitprobeer. Hy draai die grootste blink kraan oop en laat die water inloop. Intussen gooi hy vir hom ʼn lekker lang Gin en Tonic met baie eish en twee suurlemoenskyfies wat hy uit die klein yskassie opdiep en sit die drankie op die rand van die bad, binne reikafstand as hy op sy rug sou lê. Toe die bad so halfpad vol is gly hy in. Ai, waar is Ma tog dat sy hom nou kan sien !

 

Hy vat ʼn slukkie G&T en lê agteroor. Salig! Nou sien hy eers al die botteltjies wat soos soldaatjies mooi in ʼn ry al op die binnerand van die bad staan. Hy het al gehoor die vrouens praat van badsoute en olies wat hulle in die badwater gooi om te ontspan en hy dink dis nou net die regte ding na ʼn stresvolle dag. Hy het nie sy bril op nie want dit stoom te veel dus vat hy maar so botteltjie vir botteltjie en gooi in. Dis tog te lekker en dis asof alles later so glad word as hy aan sy lyf vat. Later bly daar so ʼn groen bottel met ʼn lang nek oor. Hy skroef die prop af en maak die hele inhoud leeg in sy badwater. Ontspanne, sit hy agteroor en vat ʼn slukkie van sy drankie.

 

Hy bekyk die wêreld en sien die ronde knop met ʼn klein rooi kolletjie in die middel. Wat sal dit nou wees ? Hy druk hom. Die volgende oomblik kry die bad lewe. Die spuitkoppe hier om hom spoeg sulke gedraaide waterstrale wat hier teen sy lyf vasslaan dat hy eintlik voel hoe sy longe tril. Hy kom agter ʼn man moet mooi sit sodat een van daai waterstrale nie per ongeluk teen ʼn sagte plek vas spuit nie. Die volgende oomblik sien jy net skuim soos die spuite die water deurmekaar roer. Hy soek sy Gin maar kan dit nie sien nie so dig is die skuim. Hy voel vir die ronde knop maar die kry hy ook nie raakgevat nie – alles is nou seepglad en die skuim begin nou-al bo-oor sy kop stoot. Ai, as Ma tog maar net hier kon wees want sy sou geweet het wat om te doen !

 

Die badkamer is nou so vol skuim dat die ligte eintlik begin verdof. Intussen loop die spuite hier om sy boude en maak net nog meer skuim. Hier sal hy moet uit anders versmoor hy vanaand in die mis. Hy probeer opstaan maar alles is so glad van die baie olies wat hy ingegooi het dat hy nêrens ʼn vastrapplek kan kry nie en die skuim is so dik dat hy niks kan sien nie. Die paniek begin so vat-vat aan hom maar hy bedink hom. Wat sal die mense van Pongola sê as hulle in die koerant moet lees hy het in Pretoria in ʼn borrelbad verdrink. Hulle kan hoeka so lekker skinder : “Die ouderling het nog sy Gin in sy hand

gehad !”

 

Hy het nou die aand op National Geographic gesien hoe seil daai ou groot walrusse op hul vet pense teen die rotse in die see in. Dis wat hy moet doen : hy moet uit die bad uit seil want sy lyf is mos lekker glad van die olie. Hy kry hom half omgedraai en gooi sy arms oor die bad se rand. Nou moet hy net êrens kan vastrap om hom te kan ‘launch’. Hy kry egter nie sy maag oor die bad se rand nie. Sy vrou se woorde die ander dag kry nou betekenis : “ Nee Pa, jy sal darem iets aan daai maag van jou moet doen !”

 

Hy is nie ʼn man wat sommer moed opgee nie en in ʼn verdomde borrelbad gaan hy nie verdrink nie. Hy draai na die ander kant toe om weer te probeer. Dis toe dat een van daai nossels hom in ʼn onbewaakte oomblik vol op ʼn strategiese plek tref. Toe “launch” hy sommer vanself bo-oor die bad se rand tot teen die badkamer se deur. Hande viervoet kruip hy tot voor sy bed en voel vir ʼn ding om die skuim uit sy oë te vryf. Net toe is daar ʼn ligte klop aan die kamerdeur en die kelner wals binne met ʼn bordjie eetgoed. Hy skrik en tree terug : “ Oubie! Jy lyk dan nou soos ʼn OMO advert !”

 

Danie du Toit

 

Junie 2017