Daar is baie stories oor die ou transportryers en hul wedervaringe. So vertel ʼn ou my jare gelede die storie van ʼn grootoupa van hom wat uit die Baai transport gery het met ʼn ossewa tydens die ontstaan van die goudmynbedryf.
Die wêreld was nog ongerep en die transportroete was net ʼn waspoor deur die veld. Dit het weke geneem om die roete te voltooi en was harde en eensame werk. Die oom sê hy is later deurgeëet aan wildsvleis en hy ontwikkel ʼn helse lus om ʼn slag vis te eet en kan oor niks anders dink nie. As hy maar net iets visserig in die hande kan kry.
Hy sê hy wyk so effens af van sy gewone roete om ʼn makliker pad te vind en daar onder in ʼn kloof sien hy ʼn groot natuurlike dam, vol water na die goeie reën. Hy kyk nog so na die baie water toe sien hy maar daar roer mos iets in die dam. Hy skree vir die touleier om die osse ʼn blaaskans te gee en op sy tyd bespied hy die dam. So wragtag, daar sien hy weer die rimpel op die water en hy merk dis nie iets kleins wat daai water laat roer nie. Nee boeta, daai ding roer die water sommer behoorlik en dit kan net ʼn groot vis wees.
Net daar besluit hy om vir die dag uit te span want sy lus vir vis het nou die oorhand gekry. Terwyl die touleier die osse uitspan gee hy vir sy agterryer opdrag om ʼn lekker groot vuur te pak met droë mopaniehout. Op sy wa kry hy ʼn lang stuk staal en hy sit dit tussen die warm kole dat dit later rooi gloei. Hy gaan haal sy aambeeld en ʼn vyfpond hamer en begin ʼn groot hoek maak – sy een oog bly op die dam. Toe hy klaar is staan hy terug en bewonder sy handewerk. Dis ʼn meneer van ʼn hoek.
Hy vat sy geweer en loop die veld in opsoek na ʼn duiker. Die wild is volop en dis nie lank nie toe kry hy sy bok. By die kamp aangekom slag hy die duiker af maar hou dit heel. Sorgvuldig bind hy die bokkie aan die hoek vas en gaan haal sy sterkste en langste osriem wat hy deur die oog van die hoek knoop. Hy beveel sy touleier om die twee agterosse na die dam te jaag terwyl hy en sy ander handlanger die bok en hoek dra. By die dam laat hy die twee osse gatkant dam toe staan en bind die osriem stewig aan die juk vas en beveel die touleier dat hy voor die osse moet staan en gereed moet wees om hulle te laat trek as hy die bevel gee.
Hy sê maar die ding in die water moes agterkom het daar is iets aan te gebeur want hy maak nou branders laat dit later soos die see in die Baai lyk ! Hulle plooi die osriem mooi uit sodat dit nie moet knope maak as dit styftrek nie en tweeman vat die bok en begin dit te swaai om momentum te kry. Die bok trek deur die lug maar raak skaars die water toe gryp ʼn ding dit,so amper asof hy vir hom lê en wag het. Die osriem rol vinnig af en staan later soos ʼn kitaarsnaar. Die oom skree vir die touleier hy moet die osse laat trek maar hulle bly staan net so in hul spore en beweeg nie vorentoe nie. Toe hy weer sien begin hulle agteruit gly soos die vis hulle trek! Kyk, daardie twee agterosse van my is bekend dat hul menige wa deur ʼn drif kon sleep maar vanmiddag is hier ʼn ding wat hul beproef! Die ding in die water baklei nou dat die skuim so staan en as sy stertvin so nou en dan bo die water uitkom kan mens sien hy is nie van hier nie. Die agterosse staan later met hul hakskene in die water soos die vis hul intrek en indien hulle dieper ingaan, sal hulle op die modder begin gly en sal hy die riem moet sny.
Nee wragtag so kan dit mos nie aangaan nie. Sypie Mostert se osse is mos bekend onder die transportryers en wat sal die mense sê as hulle moet hoor ʼn vis het hulle die water ingesleep! Hy gaan vat self voor en begin mooi praat met sy osse en met sy stem moedig hy hulle aan. Stadig maar seker begin sy osse die oorhand kry en toe hulle eers op die harde grond kom,loop hulle met hom. Die vis spartel nou verwoed maar die osse trek hom tot op die damwal waar die oom hom ʼn doodskoot gee.
“Oom Sypie, en hoe groot was die vis toe ?” “ Nee, hy was te groot om te weeg maar toe ek na die dam se water kyk sien ek dit het met twee voet gesak!!”
Danie du Toit
November 2014