Hierdie skets is deur my ma (Girlie du Toit) geskryf toe sy haar huis na my pa se afsterwe en ʼn leeftyd se bly op Koperfontein, moes opgee om na ʼn klein woonstelletjie in Somersetwes te trek.
Ek het drie uur die oggend wakker geword en geweet die slaap is verby – maar wat hinder my so, hoekom voel ek so bekommerd ? Toe meteens het dit tot my deurgedring en asof iemand ʼn gloeiende vuuryster teen my kop druk het ek regop gespring en onthou : ek trek mos van dag !
Na ʼn leeftyd neem ek vandag vergoed afskeid van my ou huis. Hierdie huis vir wie ek so lief was. Die koel voorstoep met die bruin pilare en rooi bouginvilla. Die son –agterstoep met sy halfmaan kliptuintjie.
Vir dae al neem ek afskeid. Afskeid van ʼn voëldammetjie in die middel van my tuin, waar voëltjies op die riete swaai, waar my twee seuns karretjie-karretjie gespeel het. Geterg, baklei, gehuil en gelag het. Waar my kleinkinders gegly en geval het – papnat !
Die duiwehok, een van my seuns se eerste boerderytjie. Sjieling vir ʼn gewone duif, een- en – ses vir ʼn pronkduif.
Afskeid van ʼn hoenderhok, my eie boerderytjie. Die wit Leghorns met die lang geel bene, die lê- hoenders. Die groot bruines vir die slag.
Afskeid van my somerhuisie, by die braaivleisplek. Die ou wit houtbank skuins agter. Die wit stoele en tafel voor. Die pink rank-bougainvilla met die dubbele blomme vir die koelte.
Ek ruik die sissende vet skaaptjops, boerewors, braaibrood en korrelkonfyt. Ek hoor die gelag en geskerts. ʼn Leeftyd se lekkerte en versadiging het hom hier afgespeel. Gister se dae !
Afskeid van bloublom koppietjies. Gouerand borde. Vleisborde, skottels en skottels. Messe en vurke. Party amper nuut, ander met krom stele, uitgedien. Elkeen met ʼn eie storie.
Maar vanmôre? Vanmôre moet ek ʼn beslissing maak. ʼn Beslissing wat emosies in my ontkiem waarteen ek geen weerstand het nie.
Hier staan my ou groot blink kastrol nog altyd, van hom kan ek nie afskeid neem nie.
Gisteraand het ek met mening die karton gevat. “ Ja wat, hy sal net mooi inpas “ het ek gedink – maar asof vanself het die karton weer uit my hand gegly en het ek tot die besef gekom --- ek kan nie, nie hierdie kastrol nie. Nee hy is te groot. Waar moet ek hom inpas in die kleine woonstel met die piepklein kombuis met net een wit kassie ? Ek het hom met mening opgetel en aangespreek, asof met ʼn mens. Hardop gesê: “Jy moet bly, verstaan jy my ?” en hom hardhandig teruggesit. En toe ? Het ek my dit verbeel ? Het hy droewig en ongelukkig gelyk of is dit my eie gesig wat in die blink opgevryfde deksel weerkaats ?
Hierdie kastrol, dink ek, is amper net so oud soos my oudste seun. Een van die eerste huis-opsit aankope.
Ja , het my man beaam : “Hy is net reg – lekker groot”. En hy was groot – maklik het twee eende hul lê gekry in hom. Bruin gebraai vir ʼn Kersmaal. Ja, hy het vir baie , baie doele gedien : braaikastrol, konfytkastrol, sopkastrol, tot waterkastrol vir ʼn lekker warm bad. Vir baie, baie jare ʼn getroue ou vriend deur dik en dun en altyd was sy plekkie op die agterste groot plaat van die ou houtkoolstoof.
Ek het my hand liefderik oor hom gevryf en gedink : Ja, jy was gelukkig, hier staan jy blink geskuur maar wat van jou maat ? Die kleiner een ? Hy lê lankal baie, baie jare begrawe met vleis en al in ʼn diep gat agter die hoenderhok. Die vleis was so houtskool verbrand dat die kastrol eintlik skewebek getrek het. Al genade was begrawe ! Gelukkig was daar die middag nog ʼn blikkie Bully Beef op die spensrak.
Ek het stadig my een oog toegeknyp, my hand gelig en met nuwe ywer my blink kastrol opgetel en met mening toegevou in die vaal karton. “ Natuurlik gaan jy saam “, het ek gesê. “ Nevermind die klein kombuisie. Ek maak vir jou ʼn plekkie, net vir jou. Bo-op ʼn rak of iets .Ter ere ? Ter ere van verdienstelikheid!”
Girlie du Toit
1985