Ek en Hennie Vermaas praat dikwels oor ons dae in Eendrag en die blywende effek wat dit op ons latere lewens gehad het. Die antwoord is natuurlik die inwoners van Eendrag ! Daarom was dit lekker om al die manne tydens die reünie op Salie se plaas weer so bymekaar te sien al het dit soms twee keer se kyk gekos om ʼn man te eien. Niks het verander nie --- begin jy met die man praat is hy nog net dieselfde.

 

Toe lê ek en dink : Sê nou net ʼn mens kan weer die geleentheid kry om vir ʼn week so saam met daardie jare se manne van Eendrag te verkeer.

 

Daai koue wintersaande met almal wat onder in die saal om die koffiedrinkplek saamdrom. Nicho Rabie ( Rubber )met net een Stuywesant in sy bosak sodat niemand ʼn sigaret by hom kan ‘bum, nie. Reg Dodds en Hondehok geboë oor die skaakbord. Een aand het Rubber met so ʼn rooi serp om sy nek opgedaag en iemand maak die opmerking hy lyk soos die Rooi Baron na aanleiding van ʼn destydse strokiesprent. Hy het die ou behoorlik uitgevreet alhoewel niemand kon verstaan wat hy sê nie !

 

Nicol Retief met sy 1966 wit Cortina GT wat dwars deur die hek skuif en ons met verwondering luister hoe die GT se ratte soos sweepslae verander al teen Merrimanlaan af.

 

Lood Gerstner wat met sy nuwe Baker kerkskoene deur die kole loop tydens ʼn osbraai.

 

Die bymekaarkom en blydskap om mekaar weer te sien na ʼn lang vakansie. Vir ʼn week lank is daar min geswot.

 

ʼn Informele koshuisdans in die ontspanningsaal met die meisies van Irene wat in ʼn kring sit soos blommetjies wat gepluk moet word en die manne wat onwettig versterkings uit ʼn Anglia se kattebak skink.

 

Anton Krynauw met Mobi Dick (sy 1939 Chev ) en Jan Wiidt, met ʼn sigaret tussen sy lippe, as passasier.

 

Die Sondag middagetes met die reuk van gebraaide skaapboud en gebakte aartappels en antie Veggeneraal wat dophou dat ʼn man nie buite sy kwota skep nie. Wie kan die frikkadelle en ‘mash’ met die lang sous vergeet ?

 

Tekkies Geldenhuys met ʼn eenman vertoning tydens ʼn sotkonsert oor ʼn vlooi genaamd “Tekkies “, vandaar sy bynaam.

 

Piet Stark wat ʼn Engelse toespraak tydens middagete maak om ʼn belangrike gas welkom te heet en ons ander wat nie ʼn woord verstaan nie.

 

Koos Serdyn wat ʼn vraag op Engels tydens sy “ verkiesingsveldtog “ vir huiskom moet beantwoord. Binky du Preez onthou die insident baie goed : “Dit was in 1963 en Paul Verdoes was primarius. Dit was by geleentheid van die voorstellingsvergadering van aspirant kandidate vir 1964 se huiskom. Paul kon nie by die vergadering wees nie ek moes toe as onder- prim voorsit. Toe Koos aan die beurt kom staan Hondehok op en stel ʼn vraag aan hom in hoogdawerende Engels wat min of meer soos volg gelui het : “ Mister Serdyn how will you react if you catch an inhabitant of this residence under the influence of an intoxicating substance in a state of inebriety “. Koos kon die vraag nie verstaan nie en soek toe hulp by my. Ek vra toe vir Hondehok “to repeat the question please”, wat hy toe ook doen. Maar steeds kon Koos nie kop of stert uitmaak nie. Weer wend hy hom tot my met ʼn baie benoude : “wat de donner sê die man? “ Ek fluister toe vir hom: Sê vir hom “I will chuck him out ! “ Hy maak toe so en daarna lig die dak van die eetsaal. Koos het ingekom.” Hy het ook ʼn nuwe naam gekry : Sir Koos Dyn.

 

ʼn Vrydag middag in 1963 op ʼn nat Coetzenburg tydens ʼn koshuis wedstryd met die Eendragters wat hul span aanmoedig en oom Piet Kriel, die afrigter, wat vir Nelis Pistorius , die kaptein, raad gee hoe om agterstevoor ʼn losskrum in te gaan : “ God gave you elbows to fight ! “

 

Die 1964 Eendrag Sauerspan vat die Sauer beker daardie jaar. Tom Fourie was die afrigter en Henk Wessels die kaptein. Die spanlede was :

 

David van der Merwe, Vlooi du Toit, Herbert Penzhorn, Koos ( Jokkel ) Crouse, Sterk Willem van Rensburg, Karel le Roux , Chris Loubser, Piet ( Prikkels) Bauermeister, Dirk Botha, Du Toit van der Merwe, Japie van Wyk, Paul van Blommenstein, Tienie Verster, Henk Wessels, Johan Gous en Mike Stewart.

 

Hans Genis wat pens en pootjies bo-op sy lessenaar sit en leer ʼn uur voor ʼn toets.

 

Dirk de Vos wat die grote Johan Tromp met ʼn ouvolk akkedis, wat Mike van Rensburg van Senekal na ʼn vakansie saam gebring het, die gange afjaag.

 

ʼn Huisdinee saam met Nicho Rabie, Koos Koen, Lood Gerstner en nog ʼn paar ander waar ons as kelners moes diens doen en toe later saam met die gaste aan tafel likeur (te veel) drink.

 

Lood Gerstner wat na die dinee vir Daan ( Judu- man) op die stoep in die binneplaas storm en Daan wat hom met sy Judu tegniek omkeer dat Lood hom disnis val en vir ʼn week links skryf. Dr. Charlie Fensham, inwonende hoof, wat bekommerd van agter sy gordyn in sy studeerkamer loer en wonder of daar darem ook ʼn plekkie vir hulle in die hemel sal wees.

 

Piet Prikkels wat die manne op ʼn verhoog hipnotiseer sodat Piet Stark en Lex Conradie saam dans. Hy moes dit later stop toe Piet begin binneboud dans.

 

Oktobermaand as die akkerbome begin bot en die meisies ligte rokkies dra, ry die ouens eerder Strand toe as om te swot.

 

Scheffler wat lugballonne in die binneplaas bou en een aand amper die huis aan die oorkant van die straat afbrand.

 

Wolf wat een aand reg voor die koshuis agter vanaf ʼn Lambretta scooter val sonder om ʼn vyfgelling kan wyn te breek.

 

Kosie Delport wat Lex Conradie se meisie tydens ʼn vakansiekamp afvry en ons vir Lex Tollies toe vat om te simpatiseer. Dis toe wat Swartjan Fourie sê : “ ʼn Tokkelok met ʼn kombers is gevaarliker as ʼn duiwel met ʼn slypsteen !”

 

Ons sit in die Baracuda en koffie drink en Tekkies wat opgewonde uitroep : “ Check hoe smile daai girl vir my !” Mellie Toerien merk droogweg op : “ Jy kan bly wees sy bars nie hardop uit van die lag nie “.

 

Ons sit almal bo in die galery van die Reg fliek ( net langs Tollies ) nadat daar eers ietsie by Tollies gevat is. Op ʼn dramatiese oomblik toe iemand vir die hoof akteur ʼn briefie gee en almal in afwagting wag, skree Lindie van Deventer: ” Its a boy !!” Daar is pandemonium soos die mense lag en die kwinkslae van Lindie , Piet Bek en Hondehok en kie hou net nie op nie. Niemand weet hoe die storie geëindig het nie.

 

Tydens die jaarlikse fotosessie in die binneplaas moes die agterste ry manne op tafels staan maar elke keer swik dit onder die gewig. Ernst van der Walt, toe primarius, staan voor en beveel : “ Laat die voorste ry op hul knieë staan !” en Johan van Rooyen sê : “ En bid dat daar nie weer iets breek nie !”

 

J J du Preez wat op ʼn Vrydag middag voor die koshuis met ʼn 1960 Porsche 356 afslaankap stilhou en Johan van Rooyen met ʼn swart pluiskeil op sy kop die Porsche “binnestap” en agter op die kapgedeelte gaan sit en vir Odd Job , Goldfinger ( 007 fliek ) se ‘henchman’ namaak deur die keil so te spinswaai.

 

Vlooi met, CR 933, sy 1957 Beetle LHD wat twee eerstejaars saamry om die Beetle aan die brand te stoot om die battery te spaar.

 

Chris Steyn en sy blou 1958 Beetle met ʼn Andy seilboot op ʼn sleepwa wat amper Hennie Vermaas se ligbruin 1963 Volvo 122S Amazone moertoe stamp met die agteruit ry.

 

Rubber wat elke Sondagaand vir Chris Steyn kom kuier vir ʼn totjie 5 jaar KWV wat hy dan in beker warm maak om sy omgekrapte maag te stabiliseer.

 

Deon Joubert wat al gillende uit sy kamer storm toe hy ʼn meisie langs hom in sy bed ontdek. Sy kamermaat, Gobabis, het ʼn meisie ingesmokkel en haar langs Deon laat inkruip terwyl hy slaap.

 

Dawid Têk wat Tienie Verster se kamer binnekom om sy bed op te maak met : “Toe - toe roer jou vet gat, ekhettie di hele dag tyttie !”

 

Wilmer Muller beskryf sy ervarings so :

 

Die eerste rugbywedstryd in die oranje truie en swart broekies nadat die huiskom opdrag gegee het dat die ou grys truie vervang moes word en die opgewondenheid waarmee ons die nuwe truie gaan uitsoek het by Wilhelm’s sportwinkel.

 

Die berugte dinee van 1964 waar ons bo en behalwe die aangekoopte alkoholiese versnaperinge ook nog 12 kartonne wyn via oom Tom Fourie, ons rugby afrigter wat by Farmers werksaam was, gratis ontvang het. Na die verrigtinge ,waar oa. Lood Gertsner een van die kelners was, het hy met twee oop,vol bottels wyn uit die saal gehardloop en oor ʼn trappie geval sonder om ʼn druppel te stort. Hy het een bottel in my hand gestop wat ons sommer daar op die stoep na lug laat hap het. Dit was die laaste strooi voor ek my tande verloor het!

 

Die Bartholomeusnag van ons inlywing in die tweede jaar waar Lindie van Deventer byna jou wind in die ontspanningsaal uitgeslaan het voor die nag se afsluiting met die modderbad in die vierkant.

 

Die ontgroening in die tweede jaar waar ons bene so seer was dat ons die trappe agteruit moes op en af klim.

 

Hans Dons wat een aand aan die draad voor die koshuis gehang het met twee arms oor die boonste draad en sy voete oor die onderste.

 

Andre Scheltema wat by die osbraai vir hom wipers gemaak het vir sy bril.

 

Die brugspeelnagte op Vrydagaande saam met Greeff (Grefie), Piet Brand, Nols Louw en Nico Jooste (Krappie).

 

Die wen van die Sauerbeker in rugby en die ry met Gobabis (Fanie Schoeman) se Cortina (G 8) voor op die bonnet met die trofee en groot geraas.

 

Piet Walters se ingeboude motor radio (valve stel) onder sy Volla se agterste sitplek. As jy van stasie wou verander moes die agterste passasiers eers uitklim sodat die sitplek opgelig kon word.

 

My kamermaat, Nols Louw, se gesegde : “Ek vat eerder ʼn sterk 3 as ʼn swak 4 vir ʼn predikaat”.

 

Mike Stewart wat altyd die meisies in die ontvangskamer onthaal het

 

Rudi Walters wat een aand die swaar voordeur kosyn uit die muur loop ( met die tweede probeerslag ) en deur die huiskom betig word – hy moes vir die skade betaal.

 

Wilmer Muller wat ʼn hele paar meters van ʼn trapreling na benede stort en feitlik niks oorkom nie. Sy kop was wel die volgende oggend seer maar nie van die val nie.

 

Jan Wiidt met sy ‘black babies’ swot pille. As jy dit in die aand drink word jou voete koud en jou kop voel groot en warm en kan jy die hele nag deur swot sonder om vaak te word. Net een probleem : die volgende aand met die toets kon jy niks onthou nie.

 

Die nag toe Rubber opstaan en sy pantoffels soek, toe dryf hulle soos kreefbakkies van Elandsbaai in die kamer rond. Die manne het ʼn walletjie voor sy deur gebou en toe met ʼn tuinslang sy kamer vol water laat loop. Gelukkig kon niemand verstaan wat hy gesê het nie!

 

In 1964 hou Eendrag die eerste karnaval na die afskaffing van die Jool. Irene se meisies het ons bygestaan. Dit was een groot fees!

 

Die eerste Eendrag reünie vind in 1966 plaas. Dink net hoe jonk was die oud Eendragters toe. ʼn Groot tent word op die grasperk aan die Oostekant opgeslaan met stoele en tafels vir saamkuier. Chris Steyn onderhandel ʼn 47 gelling vat wyn by Helderberg kelders en ry dit aan met sy pa se geel 1958 Morris bakkie. Gewillige hande laai die vat af en plaas dit op ʼn staander. Die manne staan nader met bekers en na die eerste proesessie is almal dit eens die wyn is van voortreflike gehalte. So is daar heel middag ʼn aanloop om te kom proe. Die aand met sterk skemer gaan Andre Veldsman ( Boskraai) weereens proe maar met die naderstap maak sy skoene so slohss-slohss in die wyn. ʼn Beswaarde tokkelok het so wragtag die kraan gaan oopdraai! Gelukkig kon hy darem die skade betyds stop.

 

Die res van die naweek het goed verloop. Daardie Saterdagaand laat kom iemand met Koos Meiring daar aan. Koos was nie deel van ons reünie nie maar hy het nietemin kom groet. Hulle maak hom staan op ʼn asdrom en twee ouens hou hom vas sodat hy nie kan omval nie. Koos begin ʼn spiets deur te sê : “ Ek het nooit ʼn probleem met ʼn eksamen gehad nie want ek het altyd my kripnotes uit my kop uit geleer !”

 

Die Maandag oggend hou die Kaapse lorrie met werkers stil om die tent af te breek. Hulle klim lui-lui af en een ou drentel na die tent toe en kom met ʼn vaart uitgehardloop om die res van die span te roep. Hulle kon hul oë nie glo nie want in die middel van die tent staan ʼn wynvat met wyn. Vieruur die namiddag trek die lorrie eers daar weg en jy kon hoor die manne is vrolik.

 

Daar staan die 47 gelling toe stoksielalleen soos ʼn boklam wat sy ma verloor het. Om hom skoffel ons tuinman die onkruid uit, trouens dit is wat hy nog die hele dag doen. Daar kom ʼn opdrag van die huiskom dat die vat so gou as moontlik verwyder moet word want almal wat verby ry sien die vat wat so op sy eie staan. Toe ons die vat wil laai kom ons agter daar het nog ʼn bietjie wyn oorgebly. Ons roep ʼn baie gewillige tuinman nader en hy bring ʼn paraffienblik waarin ons die orige wyn gooi met die opdrag dat hy dit van die perseel af moet verwyder. So help ons hom om die blik op sy skouer te kry en hy begin koers kry in die rigting van die park oorkant die koshuis. Met die wat hy heeldag al om die vat gewerk het, is hy ook nie meer so vas op sy voete nie en soos hy loop stort die wyn so oor hom. Nooit weer het ek ʼn man so gelukkig gesien nie. Net toe hy die teerpad wil oorsteek haak sy voet aan ʼn boomwortel en slaan hy lankuit neer met paraffienblik en al dat die wyn so ʼn nat streep oor die pad spat. Nooit weer het ek ʼn man so droewig hoor huil nie !

 

Koos Draadloos wat voor die koshuis stilhou vir ʼn radiolisensie inspeksie. Voor hy nog behoorlik kon uitklim, weergalm dit in die gange : “Koos Draadloos ! “ Ek wonder of hy ooit een draadloos te sien gekry het! Indien hy wel iemand met ʼn draadloos betrap het, was dit in elkgeval sy ouma sin wat hy vir die week geleen het.

 

Rodu Peyper op sy dunwiel ‘drop handle’ fiets wat hy vir £ 2 gekoop het --- dieselfde een wat Lood met ʼn 125 cc Vespa scooter onder in die kelder moertoe gestamp het.

 

Hannes Loots wat soos ʼn spook met rooi oë kom koffie drink. Is daar iemand wat harder as hy geswot het ?

 

Swartjan Fourie se ouma wat elke Donderdag verjaar sodat ons dit met ʼn bottel wyn aan tafel kon vier. ( Hy is tragies op 16 Desember 1972, op 28 jare ouderdom, in ʼn motorongeluk naby Hopefield aan die Weskus dood).

 

Laataand huisvergaderings en die Kos Aangeleentheid Komitee (KAK) wat verslag moet doen. Dinge soos die wors se punte wat te na aan mekaar sit asook die gehalte van die tamatiekonfyt is bespreek. Aan die einde van die vergadering het daar altyd iemand opgestaan en ʼn mosie van vertroue in die kombuispersoneel ingestel.

 

Middernagtelike serenades by dameskoshuise.

 

ʼn Weskus kreef in ʼn pot op ʼn gasstoof in die kamer en rooiwyn uit koffiebekers en oom Bun wat kom gelukwens met die verjaarsdag en maak of hy niks onwettig raaksien nie.

 

Die 1964 intervarsity op Nuweland was iets besonders. Met padkos ( vloeibaar) in drasakke en Matie baadjies klim ons die trein Kaap toe. Die opwinding, gelag en geskerts en sommige manne wat die meisies probeer beïndruk dra by tot ʼn ongelooflike ervaring. Die saamsing op die paviljoen en Mike van Rensburg wat daardie dag vyf drieë vir die Maties se tweede span druk. Koos Serdyn is ook in ons groep en toe ons weer onder die paviljoen besoek aflê vir versnaperings, kom daar ses Ikey meisies aangeloop. Dadelik is Koos op sy stukke en dis nie lank nie of is hy saam met hulle daar weg – Engels of te not. Koos daag eers weer die Woensdag op , gehawend en met kringe onder sy oë. Ons vra hom waar was hy al die tyd ? Al wat hy sê is : “ Daar was te veel van hulle “.

 

Die teenwoordigheid van oom Bun Booyens en sy belangstelling in ons studente sal my altyd bybly.

 

Ek haal weer Daniël Louw se skrywe aan : “Oomblikke van vreugde en opwinding : moenie daaroor huil dat dit onherroeplik verby is nie, maar lag daaroor met die besef dat dit inderdaad bestaan het en deel was van jou lewenservaring”.