Danksy LangVermaas se ywer en voortreflike organisatoriese vermoëns kon ons klompie ou manne van Eendrag weer ʼn slag lekker saamkuier by die Cattle Baron buite Stellenbosch.

 

Ons het die oggend eers by Eendrag bymekaar gekom om darem weer ʼn slag deur die koshuis te kon stap. Ná so 50 – 55 jaar lyk dinge ʼn bietjie anders en die feit dat ʼn brand die boonste verdieping so ʼn paar jaar gelede verwoes het, maak ook ʼn verskil veral as mens rondloop en na herinneringe soek. Die plek is baie netjies oorgebou maar bv. die name wat agter kasdeure geskryf was, is ook daarmee heen. Die reuk van koffie en tabakrook in die gange was ook afwesig .

 

ʼn Gedeelte van die ontspanningsaal aan Simonsberg se kant, waar die koffiekanne saans gestaan het, is nou afgeskort en huisves ʼn argief. Daar is nie baie oor die jare sestig te sien nie en miskien is van die geskiedenis in die brand verwoes. Die binnehof is pragtig en die reuse bome ʼn aanwins. Waar die linnekamer en wassery eens was is nou ʼn kroeg. Dit sou totaal nutteloos in die sestigs gewees het want drank is mos nie eintlik toegelaat nie !

 

Terwyl ek so op die lang stoep van die binnehof afstap, dink ek aan die aand van die 1965 huisdinee toe ʼn klomp van ons as kelners moes instaan. So ʼn dinee was ʼn uithang geleentheid met ʼn eregas en ʼn lang spyskaart. Dit was baie voordelig en ekonomies om kelner te speel want behalwe dat jy al die mooi meisies met jou swart kerkpak en strikdas kon beïndruk, was die drank en kos verniet. Dit is dan ook so dat die kelners later in die aand al hoe meer oorlams raak en sommer tussen die gaste begin inskuif en saamkuier. Die rede: hulle moes darem eers die wyn proe voordat dit aangebied word want ʼn mens kon mos nie suur wyn bedien nie! Later die aand het kelner vir kelner begin bedien. Die eintlike ding het begin met die bediening van die likeur – ʼn proeseltjie hier en ʼn slukkie daar en hoe verder ons gaan hoe verder gaat ons. Aan die einde van die dinee staan die tafels vol halfgedrinkte likeurs en ons besluit om alles bymekaar te maak in ʼn bottel of twee. ʼn Likeur is mos soet en lekker maar hy vat jou later onverwags.

 

Dis toe wat my kamermaat, Lood Gertsner, wat nooit gedrink het nie maar hom daardie aand vergryp het aan kelnerwees, besluit om vir Daan Erasmus, ook ʼn kelner, uit die grond te probeer loop. Lood was kort en stewig, voorryman vir die eerste span, en Daan lank en lenig met ʼn swartbelt in karate. Ons maak plek op die stoep vir Lood se aanloop en Daan staan en wag vir hom aan die onderkant regoor die ingangsdeur. Lood laat sak sy kop en brul vorentoe deur die skare met Daan wat so half gebukkend met sy regtervoet vorentoe staan en wag. Met die kontakslag sien jy net arms en bene en Lood wat kop eerste die stoep induik. Ons help hom op die been maar hy is skoon deurmekaar en die likeur wat netnou nog so lekker soet was, verlaat sy lyf saam met ʼn suuruitjie en ʼn paar stukkies hoendervleis – op Lex Conradie se nuwe kerkskoene ! ʼn Week daarna het Lood nog links geskryf.

 

In die argief val my oog op al die foto’s van die rugbyspanne maar ek kry nie die 1966 tekkiesspan nie. Dit was die eerste Eendragspan wat ooit ʼn oorsese wedstryd gespeel het : teen die tweedespan van Robbeneiland se bewaarders. Ek het saamgegaan as spanbestuurder en die spanlede met die hand voor die tyd uitgesoek, Swartjan Fourie is onder andere as voorryman gekies. Die Eendragspan draf eerste op en ons wen die bewaarders maklik. ʼn Huis Maraisspan wat ook uitgenooi was, pak die bewaarders se eerste span daarna. Drank op die eiland was goedkoop weens die afwesigheid van aksynsbelasting en terwyl die Huis Maraisspan sake uitspook teen die bewaarders se eerste span geniet die Eendragspan ʼn versnaperinkie of twee in die klubhuis. Die bewaarders het ons later me ʼn bussie op ʼn besigtigingstoer rondgeneem en so hier en daar het ʼn man oor een van daai ou seerower kanonne gestruikel. Met die seereis terug Kaap toe het ʼn lastige Noordwester die branders rof gemaak en moes sekere ouens oor die kant van die boot hang. Moeg en uitgeput kom ons laataand weer by Eendrag aan en dis toe dat Rudi Walters twee seemeeukuikens uit sy toksak haal! Ons het toe vir die voëls ʼn dam op die balkon van die tweede vloer gemaak deur die afleivore toe te stop. Die seevoëls het egter moeilik by die koshuislewe aangepas.

 

Daar is dikwels op ʼn Saterdagaand in die ontspanningsaal saam met die Irene meisies ʼn informele dansparty gehou, sommer so rondom die koffietafels. Dit was ʼn losdansery en jy het die eerste beste meisie gegryp net om haar weer te los vir ʼn ander een as die musiek ophou. Toe die ligte weer eenkeer afgaan en “Are You Lonesome Tonight” begin speel, gryp ek so ʼn langerige meisie. Sy was anders as die meisies waarmee ek vroeër die aand gedans het. Toe ek haar so effens nader trek kom lê sy met haar lenige lyf sommer styf hier teen my. Ek skrik want dis ʼn nuwe ervaring vir iemand van die Weskus wat net aan volkspele gewoon was. Sy sit later haar linker arm hier bo-oor my skouer en ek kry ʼn tinteling in my lyf wat ek nog nooit voorheen ervaar het nie. Toe stop die musiek. Ek dink, wag, laat ek net gou ophardloop kamer toe vir ʼn paar slukke Old Brown Sjerrie. (ek het altyd ʼn bottel vir ʼn noodgeval in my kas gehou). Dis duidelik dat ek vanaand versterkings gaan nodig kry.

 

Net toe ek weer die saal instorm begin die musiek en die ligte word verdof. Ek gryp haar vas want hierdie keer het ek ʼn plan. Iets is egter nie lekker nie. Dis soos ʼn kar wat se handrem opgetrek is. Hoe meer ek haar probeer nadertrek hoe steekser word sy en beur al eenkant toe – weg van my af. Ek probeer haar later met altwee my hande nader bring en verloor eintlik my two- step soos ek spook. Toe die ligte aangaan sien ek maar dis ʼn heel ander meisie, ʼn tokkelina!

 

Barry Kraut het ʼn ou album vol foto’s saamgebring en dit omgestuur terwyl ons almal aan die tafel sit. Daar was foto’ van die osbraai, die staptoer Kaap toe, Eendrag se eerste karnaval met die seksie Sandy van Irene wat die drompoppies lei en vele ander nostalgiese oomblikke. Ook ʼn foto van Scheffler se warmlugballon.

 

Scheffler se eerste warmlugballon was ʼn kleintjie maar mettertyd het die ballonne al hoe groter geword. Die ballon het bestaan uit ʼn raamwerk van bamboes, oorgetrek met dun papier en ʼn bakkie met spiritus aan die onderkant wat aan die brand gesteek word vir warm lug. Op ʼn sekere hoogte het die spiritus uitgebrand en val die ballon heel onskadelik aarde toe.

 

Toe bou Scheffler ʼn megaballon. Ons het heel dag help bou en toe dit laatmiddag klaar was, moes iemand op die tweede verdieping met ʼn visstok die boonste gedeelte regop hou. Onderaan het ʼn stewige houer met spiritus en watte gehang want hierdie ballon sou baie warm lug gebruik. Die romp het uit kleurvolle materiaal bestaan wat pragtig in die aandlug sou vertoon. Om die meesterstuk nog meer indrukwekkend te maak het Scheffler sulke stringe klappers aan die onderkant gehang wat op ʼn sekere hoogte een na die ander sou afgaan. Daardie aand nege uur vergader die hele Eendrag in die binnehof om die lansering van die megaballon te aanskou.

 

Scheffler steek die spiritus aan die brand en stadig begin die ballon uitbol. Hy gee die teken dat die man daar bo op die tweede verdieping maar kan los. Stadig begin die ballon opstyg. Net toe hy bokant Eendrag se dak uitstyg, gryp ʼn ligte windjie die ballon en sy kop knak in die rigting van Merrimanlaan. Ons hardloop uit straat se kant toe net om te sien hoe die ballon in ʼn vuurbol bo-op die dak van die huis oorkant die straat neerstort. Toe is daar chaos! Manne hardloop met emmers water en terselfdertyd begin die klappers soos geweerskote afgaan. Die inwoners van die huis dink dis ʼn terroriste aanval soos die klappers skiet. (dit was immers die tyd van die Poqo aanvalle in die Paarl). Gelukkig was daar geen skade nie en die huiseienaar het dit as studentepret afgemaak. Scheffler se sin vir die bou van warmlugballonne het toe opgeraak.

 

In die album lê daar so ʼn los foto’tjie van die markiestent van die 1966 reünie. Eendrag se eerste vyfjarige reünie. Wat ʼn pragtige tent met sy blou dak, gekleurde sykante en die vrolike klein vlaggies wat bo-oor span. Die tent is opgeslaan op die groot grasperk aan die kant van die koshuis en ek merk dat al die koshuisvensters versierings in het. Op spesiale versoek van Barry Kraut skryf ek die storie oor die tent en die 47 gelling wynvat :

 

Met die goedkeuring van die reëlingskomitee organiseer my kamermaat, Chris Steyn, ʼn vat wyn vir die reünie. Omdat die reëlingskomitee nie spesifiek was met die volume wyn nie neem hy ʼn 47 gelling vat van hul plaas en laat dit by die Helderberg Kelder volmaak. So kom hy dan ook daardie Vrydagmiddag met die plaasbakkie, ʼn geel 1958 Morris, by die koshuis aangery. Gewillige hande help die vat aflaai en staanmaak op ʼn fietsrak in die middel van die tent en die swik met die kraantjie word ingeslaan. Nicho Rabie (Rubber) moet eerste proe want hy is die oudste. Hy tap so ʼn drievinger in sy glas, vat ʼn mondvol, spoel die wyn in sy mond rond en sluk. Weer teug hy diep, sluk en haal ʼn enkele Stuywesant sigaret uit sy bosak , vra vir Koos Koen vir ʼn sigaretaansteker en blaas die rook deur sy neus. Toe maak hy ʼn spiets wat niemand kon verstaan nie. Die vat is nou oop en almal staan nader. Die hele naweek word daar gesellig om die vat gekuier. Met skemer die Saterdagaand stap ek en Chris Steyn na die tent om seker te maak alles is nog reg met die vat. Om die vat lê net wyn. ʼn Beswaarde tokkelok het so wragtag die kraantjie effens oopgedraai sodat die wyn kan uitloop. Gelukkig was ons net betyds en kon ons die res red.

 

Omtrent nege uur die Maandagoggend stop die groen Thames lorrie van die Kaap met die manne wat die tent moet kom afbreek. Die span is traag en klim so rek-rek af en een ou drentel lui die tent binne net om die volgende oomblik weer met ʼn vaart en swaaiende arms uitgehardloop te kom. Drie uur daardie middag is die tent eers weer terug op die lorrie. Toe hulle daar wegry klink dit soos die Kaapse klopse soos hulle sing en lawaai.

 

Daar staan die 47 gelling toe stoksielalleen op die grote grasperk. Henry die tuinman sit op sy hurke langs die vat met ʼn klein vurkie en onkruid uittrek. Die opdrag van die reëlingskomitee is ferm : verwyder daai vat onmiddellik, Eendrag se naam kan nie geskend word nie. Almal wat verby ry sien die vat. Die geel Morris bakkie word nadergetrek maar toe ons die vat wil optel, kom ons agter daar is wraggies nog wyn in. Ons roep vir Henry nader en hy gaan haal ʼn oopgesnyde 5 gelling paraffienblik waarin ons die wyn uitgooi. Vol tot bo, sodat dit oorloop. Ons help vir Henry om die blik op sy regterskouer te balanseer want met dié dat hy so heeldag al om die vat geskoffel het, is sy balans ook nie meer watwonders nie. Henry kan nie glo watter geluk hom tref nie en hy belowe hy sal die blik oorkant in die Maraispark gaan bêre. Nooit weer het ek so ʼn vrolike man gesien nie : die wyn spoel hier oor sy skouers soos hy aanstap en sing. Net toe hy die teerpad wil oorsteek haak sy voet aan een van die denneboomwortels en hy slaan neer dat die wyn so ʼn nat streep oor die pad spoel. Die lekseltjie wat toe nog oorbly, sit hy sommer net daar op sy hurke langs die pad en uitdrink.

 

Die 47 gelling is weer saam op die geel Morris bakkie terug plaas toe. Vir lank was daar so ʼn geel kol op die grasperk waar die vat diens gedoen het.

 

ʼn Seëngroet aan al die manne van die sestigs wat Eendrag so ʼn wonderlike plek gemaak het : “ Laat julle se voete al die dorings mis trap !”

 

Danie du Toit (Vlooi)