In die jare vyftigs was toiletgeriewe veral in die platteland maar baie basies. Elke huis het ʼn puttoilet of ‘kleinhuisie’ gehad wat so ʼn entjie van die huis gesit het, gewoonlik ʼn mooi netjiese geboutjie met ʼn reghoekige muur voor die deur om privaatheid te gee. Binne was die ‘troon’ netjies met hout gebou met ʼn deksel wat jy eers moet opslaan. Baie mense het hul kleinhuisie heel gerieflik ingerig sodat die besoeker dit ook as ʼn plek van bepeinsing kon gebruik. Daar was aller soorte tydskrifte en ou koerante om tyd mee te verdryf asook ʼn kers in ʼn blaker en vuurhoutjies vir die nagtelike besoeker. Menige skelm sigaret of zol is ook hier gerook. Nic Mostert vertel dat dit ʼn goeie plek was om tyd te verwyl en dat hy ʼn Landbou Weekblad daar kon sit en deurlees terwyl hy skelm rook. Hy het glo eendag drie ure daar deurgebring want die rustigheid het hom lomerig gemaak en toe hy wakkerskrik was dit kort duskant middagete.

 

Die koerante en tydskrifte in die kleinhuisie het baie keer ook die politiek van die huishouding weerspieël. Die Natte het die Burger en die Huisgenoot gelees en soms het daar ʼn kerkalmanak agter die deur gehang. Die Sappe het weer die Landstem gelees en die Natte het hul dikwels beny want dit was die enigste koerant met half n kaal meisie op bladsy drie. ʼn Tydskrif soos die Scope is op ʼn plek weggesteek sodat jou ma dit nie kon kry nie.

 

ʼn Kleinhuisie was ook nie sonder insidente nie. Sommige huisies het agter ʼn deurtjie gehad vir ventilasie en gedurende die somermaande het dit soms half oopgestaan om die bedompigheid te verdryf. So gaan sit ʼn lywige tante een oggend in Februarie in die ‘gemakshuisie’ om die tyd te verwyl. Februarie is die warmste tyd van die jaar in die Sandveld en dis ook die tyd wanneer ʼn geelslang op sy bedrywigste is, almal sorg dus dat jy uit sy pad bly. Die vorige week het die plaasmense kom sê dat hulle ʼn geelslang in die houthoop langs die kleinhuisie gewaar. Die tante het net lekker haar sit gekry met die Huisgenoot op haar skoot toe pik die geelslang haar op ʼn ongemaklike plek! Die klein deurtjie agter was al die tyd oop. Sy spring daar op met ʼn vaart en gil dat jy haar doer kon hoor en begin hardloop in die rigting van die huis met die bloemer nog om haar enkels. Kort duskant die kombuisdeur slaan sy neer en die huismense moet haar verder die huis indra. Al wat sy kan uitkry is “geelslang ! geelslang !” en beduie in die rigting waar sy gewond is. Hulle dra haar verder tot op die sofa in die sitkamer en toe hulle haar omdraai sien hul die merk waar die geelslang haar gepik het. Nou moet hulle vinnig maak want die mense sê ʼn geelslang se gif trek soos blits tot by jou hart en dan is dit langbome toe met jou. Die oom bring ʼn halfglas koekemakranka brandewyn om te help dat die gif versprei maar blykbaar is dit klaar te laat want met die laaste sluk sak die tante inmekaar. Nou moet hulle die gif uitsuig en met ʼn Minora lemmetjie maak die oom ʼn kruissnit op die bytplek. Daar ontstaan nou ʼn probleem want niemand kom na vore om die suigwerk te doen nie. Sien, die bytplek is gevaarlik naby ʼn baie privaatplek. Die oom moet toe maar self suig. Hy maak sy oë toe en dink aan sy jong dae.

 

Na ʼn halfuur begin die tante weer beweeg en dit blyk dat die brandewyn en die uitsuig van die gif haar deurgehaal het. Sy is heel vrolik en vra nog ʼn slukkie brandewyn en begin sommer dadelik orders gee dat hulle die geelslang moet gaan soek. Die plaasmense word bymekaar gemaak en met stokke en kieries word die hele houthoop omgekeer maar die geelslang is nêrens te sien nie. Iemand kyk by die klein deurtjie van die kleinhuisie in: daar sit die broeis hoenderhen op haar nes !

 

Hopefield het nog ʼn emmerstelsel bedryf en een keer ʼn week het die nagwa met vier helpers die emmers kom omruil. Voor was twee perde en langs die kante van die wa het lanterns gehang. Ons het baie nagte deur die koshuis se vensters die gedoente dopgehou. Frans Muis het eenkeer uitgeglip en een van die emmers reg voor die ingang van die koshuis omgedop. Een nag was daar ʼn insident toe die bodem van ʼn emmer meegee terwyl die helper dit op sy kop dra. Die gevolge was, om oom John Voster aan te haal: “Too gastly to contemplate “. Die snaakse ding van die nagwa was dat jy hom eers geruik het as hy ʼn ent weg was.

 

Jan Vercuil het die nagwakontrak gehad en bedags was hy die blokman in oom Kleinman van Zyl se slaghuis. Jan was ʼn growwe karakter en het baie kreupel geloop. Boetie Maas het eendag gesê as oom Jan so in die straat aangeloop kom sien jy net honde hardloop want dit lyk kompleet asof hy klippe optel. Van sy vriende het hom ‘Trap in die gaatjie genoem’. Bedags het die perde in ʼn kampie net buite die dorp gewei. Dit het as Poephoek bekend gestaan.

 

Daar loop toe ʼn storie by die skool dat ʼn sekere tante in Rivierstraat vir haar ʼn watertoilet laat installeer het. Glo buite op die stoep. Dit het die kinders baie gefassineer want sulke tegnologie was ʼn eerste vir Hopefield en niemand kon uitwerk hoe so iets kan werk nie. Iemand het wel te vertelle gehad dat sy oom ʼn watertoilet op hul plaas gepraktiseer het. Hy het met sinkplate ʼn toilet gebou en dit stroomaf van die huis, bo-oor ʼn waterstroom staangemaak en beweer hy bemes die lemoenbome terselfdertyd. Na ʼn groot storm een nag het hulle die watertoilet in die lemoenboord opgetel.

 

Die watertoilet het vir twee nefies, Batterie Basson en Janneman van der Westhuizen baie geïnteresseer en hulle het ʼn plan beraam om dit eerste te sien. Hulle het op buurplase naby Langebaan grootgeword en het die reputasie gehad as die twee ondeundste seuntjies van die kontrei. Toe hulle op Hopefield begin skoolgaan is hulle nie koshuis toe nie maar het by tant Sêrra Maritz in Rivierstraat loseer juis sodat iemand ʼn oog oor hulle kon hou. Tant Sêrra was bekend dat sy nie nonsens vat nie. Die twee mannetjies het ʼn reputasie gehad dat hulle snaakse goed aanvang en veral Janneman was geneig om goeters te breek.

 

So kom dit dat tant Sêrra se vriendin met die watertoilet, haar vir tee nooi en Batterie en Janneman gaan saam. Terwyl die twee tantes op die hoë stoep sit en tee drink speel die twee mannetjies heel soet onder in die sand met hul karretjies. Wat die twee tantes nie weet nie is dat hulle al klaar planne agtermekaar het om die watertoilet te toets. Dis ook nie lank nie of Batterie vra permissie om die toilet te gebruik. Die kyk wat tant Sêrra vir hom gee toe hy verbystap laat hom mooi verstaan dat hy nie moet aanjaag nie. Die toilet is op die punt van die stoep aangebou, nie vêr van waar die twee tantes sit en tee drink nie.

 

Batterie stap in en is verbaas dat dit heel aangenaam ruik teenoor die emmerstelsel se bedompigheid. Hy bekyk die spulletjie so en probeer uitwerk hoe die waterstelsel werk en kom gou agter dat mens die lang ketting met die ring moet trek sodat die wonderwerk kan plaasvind. Daar is ook nie ou koerante nie maar ʼn sagte wit toiletrol wat jou boude streel. Hy het nie geweet ʼn mens kry sulke weelde in ʼn toilet nie – daar hang selfs ʼn portret van ʼn groot waterval omring met hoë bome en op die vloer lê ʼn matjie wat mens net in ʼn slaapkamer kry. Op ʼn klein tafeltjie staan ʼn waskom met ʼn geblomde lampetbeker, ʼn stukkie Lifeboy seep en ʼn handdoek maar terwyl hy nog so sit en uitwerk wat mens daarmee doen, skree tant Sêrra dat hy nou moet klaar maak. Hy trek die ketting en is verstom om te sien hoe die water met ʼn vors vanuit die vier gelling tenk afkom en alles in die toilet wegspoel! Die kinders by die skool sal dit nooit glo nie.

 

Janneman wil bitter graag weet hoe die besigheid werk maar Batterie sê hy moet liewer self gaan kyk, maar ten spyte van ʼn groot nood wat hy al heeldag spaar vir die geleentheid, kan hy nie dadelik gaan nie anders sal tant Sêrra onraad merk. Uiteindelik skraap hy al sy moed bymekaar en vra permissie om die toilet te gebruik. Hy kry ook ʼn waarskuwingskyk met die verbystap. Intussen het hy ʼn ernstige nood opgebou en is daar nie baie tyd vir rondkyk nie en hy gaan sit. Toe hy klaar is kyk hy af maar sien tot sy verbasing dat die water niks weggevat het nie. Omdat hy die reputasie het dat hy soms ʼn ongelukkie kry is sy grootste vrees nou dat tant Sêrra sal agterkom dat hy wragtag ook die eerste watertoilet in Hopefield gebreek het en dat mense uit die Kaap sal moet kom om dit reg te maak.

 

Hy kyk en sien daar dryf twee stewige bedrywe waarvan hy ontslae sal van moet raak want dis dodelike ‘evidence’.Hy druk met sy vinger op die een om hom aan te moedig om te verdwyn maar dit sak net so ʼn ent weg en pop weer terug. Hy probeer die kleiner een maar die is net so halsstarrig. Batterie het vir hom gelieg dat die water alles wegvat en nou is ʼn pak slae sy voorland. Die volgende oomblik skree tant Sêrra daar van die stoep af dat hy nou moet klaarmaak want sy wil ry. Janneman is nou in die moeilikheid en hy sal van die bedrywe ontslae moet raak en vinnig ook want soos hy tant Sêrra ken sal sy nou - nou kom kyk hoekom hy so lank vat. Hy kyk rond en merk ʼn klein venstertjie hoog bokant die toilet en hy kry ʼn plan. Versigtig benader hy die bedrywe en gryp een vas tussen sy duim en voorvinger maar dit breek middeldeur want die goed het mos ʼn gewoonte om bros te word as hul te lank in water lê. Hy kry darem ʼn gedeelte beet, klim op die toilet en gooi dit saggies deur die venstertjie. So verdwyn die bedrywe een vir een deur die klein venstertjie!

 

Die volgende oggend by die skool is Batterie die middelpunt van belangstelling en verduidelik vir almal die wonder van ʼn watertoilet maar Janneman bly tjoepstil.

 

Die toilettegnologie het uiteindelik vir Hopefield ingehaal. Charl Baard het later vir Poephoek gekoop en vandag is dit deel van die nuwe sportgronde.