ʼn Vriend en sy vrou ry vanoggend hier by ons aan vanaf Bettysbaai op pad Kaap toe vir ʼn ontbyt. Ons het mekaar lanklaas gesien maar toe hy uit sy ‘86’ klim merk ek hy lyk so ʼn bietjie anders as toe ons mekaar laas gesien het.

 

Ons skink ʼn rooi Muskadel op die nuwe jaar en vra uit oor die vakansie. Die weer op Bettysbaai was glo vanjaar minder gunstig vir ʼn seevakansie. Dit pla my egter die hele tyd dat hy anders lyk en ek beloer hom weer so onderlangs sodat hy nie moet agterkom ek kyk vir hom nie. Dis toe dat ek agterkom wat fout is : dis sy hare! Hy lyk soos ʼn seuntjie wat so pas ʼn goeie haarknip gehad het voordat hy die nuwe skooljaar begin.

 

Toe kom die storie uit. Sy hare is lank en hy kan nie Maandag daar by sy kantoor instap en lyk soos ʼn ‘surfer’ uit die sestigers nie en besluit om sommer op Kleinmond sy hare te laat sny. Met die stilhou in die hoofstraat van Kleinmond merk hy ʼn haarsnyplek op aan die oorkant van die straat. Hy wil net oor die straat stap toe sê sy vrou nee kyk jy het reg voor ʼn haarkapper stilgehou. Stap sommer hier in. Hy stap in en die eerste ding wat hom opval is die musiek wat daar speel. Hy is nie ʼn groot kenner van musiek nie maar dit klink nie soos Kurt Darren se “Span die seile nie”. Daar staan ʼn groot swart ou met ʼn bont hemp sonder ʼn kraag wat hom vriendelik in ʼn Afrikataal groet maar dit klink nie soos Zulu nie. Beslis ʼn man uit midde Afrika. My vriend vra ewe beleefd maar waar is die haarkapper en die ou sê ‘I am the barber”.

 

Hy steek in sy spore vas en kyk benoud rond. Die barbier staan nou al klaar met ʼn wit doek in sy hand en uitkomkans is daar nie. Hy oorweeg dit vir ʼn oomblik om terug te draai maar kan al klaar die hoofopskrif in Maandag se ‘Son’ sien : “ RASISTIESE REGTER VAN DIE KAAP”. Hy gaan sit en kyk om hom rond. Die plek is netjies en hy merk anderhande potjies en botteltjies wat rondstaan. Daar staan ʼn groot blou pot: “Long Lasting Hair Straightner , Blue Seal Vaseline en ʼn bottel Johsons Baby Powder. Hierdie barbier ‘cater’ beslis vir die hele Kleinmond. Sy moed wil hom net weer begewe maar dit is klaar te laat want die wit doek is nou klaar styf om sy nek. Hy kyk rond vir sy vrou maar sy is nêrens te sien nie. Kan mens Ebola in ʼn barbierwinkel kry?

 

Die barbier is egter heel professioneel en vra hoe hy sy hare gesny wil hê. “ Kort om die ore en sy kuif moet teruggesny word”. OK Sir”. Die man haal daar twee knippers uit, een met sulke lang tande en ʼn kleiner een met kort fyn tandjies en begin hulle met ʼn borsel afstof en hy merk die vorige klant se hare was heelwat digter as sy ou yl haartjies. Die knippers word nou goed geolie met Q-20 en die kamme in potjie met Dettol uitgespoel. Sy oog vang die lang skeermes en ʼn benoudheid spoel oor hom maar dis nou te laat. As hy hier lewendig uitkom sal hy sy tiende moet opskerp!

 

Die barbier druk sy kop vorentoe dat sy ken later teen sy bors druk en steek vir langtande hier agter sy nek in en begin werk hom nou boontoe. Ook nie tot heelbo nie want halfpad trek hy hom uit. So werk hy hom al om sy kop langs en toe my vriend weer kans kry om in die spieël te kyk skrik hy hom vrek. Sy kop is nou aan die kante kort geknip maar bo-op is al sy hare nog en sy kuif hang in sy oë. Hy lyk nou soos ʼn skoupoedel! Die musiek kry nou so Afrika ritme en hy betrap hom dat hy met sy regtervoet so liggies saamklop. Die barbier is besig om ʼn skêr te slyp en begin nou die oorblywende hare op sy kop te sny. So stadigaan begin dinge beter lyk maar toe hy die lang mes nader bring en hier om sy slape begin werk word hy weer onrustig. Later bring hy vir korttandjies nader en rond dinge af hier om sy ore en agter in sy nek.

 

Die barbier gooi poeier in sy nek en stof hom af. My vriend kyk in die spieël en merk dat dit nou nie heeltemal soos sy Kaapse haarstyl lyk nie maar hy is so verlig dat hy vra: “What do I owe you?” “ R30 Sir!” en jy sien net tande!

 

Danie du Toit

 

Januarie 2015