KOPERFONTEIN STORIES
Die plekkie Koperfontein lê so 8 km duskant Hopefield op die Malmesbury pad na die Weskus. Dit word vandag gekenmerk deur die 38 reuse windturbunes, een van die groot windplase aan die Weskus. Die graansilo’s van die koöperasie sien mens al as jy daar oor Karbonaaitjieskraal se hoogte kom.
Ons grootword jare op Koperfontein het destyds anders gelyk. Die teerpad vanaf Malmesbury het vlak verby Karbonaatjieskraal se plaashek geloop om langs die treinspoor vanaf Ganskraal Koperfontein binne te kom. Die spoorlyn is nou aan jou linkerkant en die bruin klipstore van die koöperasie en al die ander geboue aan die regterkant. Op die hoek, waar die pad afdraai na Koringberg, staan die koöperasie se sinkstoor met my ma se winkel aan die oorkant. Oupa Koos se koringmeul lê styf teen die winkelgebou met oom Klaas Koch se winkeltjie verder aan met die pad. Oorkant en parallel met die teerpad loop die treinspoor met ʼn ‘goetset’( goods shed) en die laaibank.
Vir die boeregemeenskap was Koperfontein belangrik en ʼn heel bedrywige plek gedurende die week, veral met oestyd. Dit is die dae voor massa hantering van graan en koring is in 200 lb sakke vervoer en geberg. Op Koperfontein kon ʼn boer sy landboubenodighede kry, skaap laai, kruideniersware aanskaf, vaaljapie as rantsoenwyn koop, koring laat maal, aan sy bakkie laat werk en sosiaal met medeboere verkeer ( lees twakpraat). Al hierdie aktiwiteite het tot baie interessante gebeure gelei.
Een oggend staan ek saam met oupa Koos en oom Niekie Loubser, die koöperasiebestuurder, aan die oorkant waar die Koringbergpad ʼn tee-aansluiting met die hoofpad maak. Oom Niekie is besig om die leë Voco
dromme te tel. Die trekkers van daardie dae het kragparaffien as brandstof gebruik en alles het in 44 gelling dromme gekom. Voco was die handelsnaam vir die kragparaffien en almal het van Voco gepraat. Ek onthou nog daai sterk dik gegalvaniseerde dromme met die staal hoepels.
Ons sien ʼn rooi stofwolk aankom daar teen die bultjie duskant Boorwater. Volgens die grootte van die stofwolk is dit duidelik dat die man haastig is. Daardie dae het ons almal se karre geken en toe dit nader kom, sien ons dis oom Japie Soutkloof met sy maroon Hudsen Hornet. Toe hy die dippie daar voor ons huis vat, is daar nog geen teken van afslek nie en by die T-aansluiting moet hy of links of regs gaan of hy beland tussen die Voco dromme. Dis toe dat oom Niekie skree “ Oom Koos ons sal moet opsy staan!” Toe die Hudsen se voorwiele op die teerpad kom, krink oom Japie hom regs in die rigting van Hopefield. Die plat Hudsen skuif oor die teerpad dat sy bande skree en skuif oor tot anderkant op die gruis maar oom Japie kry weer sy neus in die regte rigting en gee vet. Die Hudsen het nou tot teen die “goedset “ geskuif en sy groot chroom linker agter buffer haak nou aan die sinkgeboutjie. Dit skree so “grrrrritt” soos die buffer teen die hobbels van die sink skuur. Wat vir my die merkwaardigste was, is dat oom Japie nie eens omgekyk het nie! Hy het net daardie plat hoed van hom so effens reggedruk en laat waai. Oom Niekie het later vir Hansie Abrahams gestuur om twee van die Hudsen se wieldoppe daar oorkant die spoorlyn te gaan bymekaar maak. Bennie, van die garage op Hopefield, het later gesê oom Japie het kom vra dat die Hudsen se brieke aangestel moet word.
Hannes Slabber van Holvlei was ʼn man wat verskriklik kon skrik. As hy groot skrik het hy die gewoonte gehad om hard boontoe te roep en wild met sy arms te swaai. Hy was ʼn groot man van oor die ses voet en as jy te naby hom gestaan het met so ʼn skrik en een van daai arms vang jou ..... Dis oestyd en almal lewer koring op Koperfontein. Die trekkers met waens en lorries staan so ʼn lang tou om hul beurt af te wag. Daar is ʼn verskeidenheid van trekkers :
Massy Harris K44, John Deere, Hanomag, Case , Internasional, Deutz, Field Marshal, Farmall, Ford Mayor en selfs ʼn geel Moline Minneapolis. Die lorries was omtrent almal vyfton en bekende modelle soos Ford , Chev, Thames, International , Bedford, Dodge en oom Paul Rust se rooi Diamont –T.
Niemand is haastig nie en die manne staan in groepies en gesels. So kom ou Eerwaarde Suutjiespoep Stadler daar aan en gaan staan ook in ʼn kringetjie om saam te gesels. Langs hom staan groot Hannes Slabber. Almal praat baie mooi bedees om die Eerwaarde te beïndruk. Hannes roep die Eerwaarde later eenkant want die sendingkerk wil aanbou en hy wil graag sy stene, wat hy op die plaas maak, aan die Eerwaarde smous. Hy is net lekker op stryk met sy onderhandelinge toe Jack Schreuder verbystap en ʼn stuk gevlegte baaltou oor Hannes Slabber se nek gooi. Eerwaarde Suutjiespoep het nooit gesien wat hom getref het nie! Hulle het hom daar van die grond af opgehelp, afgestof, sy hoed weer op sy kop gedruk en hom in sy Opel karretjie loop sitmaak. Met die wegtrek het die Opel tweekeer doodgetrek en die ou was al daar by my ma se winkel verby toe skree die Opel nog in sy tweede rat! Hannes het nie die sendingkerk se baksteenkontrak gekry nie.
Eendag kom die einste Hannes Slabber met sy klein blou Austin bakkie van die laaibank af verbygery toe Frans Mallies ʼn stuk fanbelt deur die oop venster gooi. Hannes spring so in die ry met sy groot lyf uit die bakkie en slaan so slag of twee bollemakiesie maar toe sy voete vastrapplek kry, hol hy eenstryk langs die treinspoor af.
FC Rust het so ʼn groen Bedford lorrie gehad, daai soort met die ligte wat soos padda-oë op die modderskerms sit. (Oom Hennie Louw het met so ʼn lorrie transport gery). Nou, FC was ook ʼn man wat kon skrik. Thys Stap gaan toe stilletjies en konnekteer ʼn “bom” aan die ‘coil’. Sodra jy die enjin aansit is daar ʼn moerse slag met dik wit rook. Ek was op daardie dag die skaalman by die koöperasie en FC se Bedford was die volgende om geweeg te word. Almal behalwe FC het van die “bom” geweet. Ek beduie hy moet kom en ewe haastig draf hy na sy groen Bedford, klim in en toe hy die sleutel draai is daar ʼn helse slag en jy sien net rook uitborrel. Maar hardloop daai FC! Hy het hoog en laag gesweer dat hy vir Thys Stap sal terug kry. By Miss Girlie se winkel moes my ma later vir hom suikerwater gee. Sy linkeroog het hy altyd so effens toegeknyp as hy met jou praat. Thys Stap sê hy spaar die oog net so ʼn bietjie!
Oom Fanie Carstens het ook op Koperfontein gebly in een van daardie sinkhuise wat destyds so gewild was. Die huisie staan vandag nog. Hy was ʼn groot man met ʼn vooruitstrewende maag wat saans die kers op sy maag staan gemaak het as hy die Landstem lees. Oom Fanie het ʼn vyfton Chev lorrie gehad waarmee hy transport gery het en seun, Thys Kiepies, was die drywer. Destyds het die boere hul eie saadkoring gemaak deur hul beste koring te laat skoonmaak vir die volgende jaar se plant. Oom Fanie het so ʼn skoonmaak-sifmasjien(“sceen”) op wiele gehad wat hy van plaas tot plaas met ʼn GMC bakkie rondgesleep het. Hy het graag kaart gespeel en soos die gebruik was, is daar ook altyd ietsie gevat. So “screen” hy eendag by FC Rust op die plaas Hamburg en hulle speel kaart terwyl die masjien loop en vat so nou en dan ietsie vir die keel. Met entjieson stop oom Fanie die masjien en maak aanstaltes om huis toe te ry. Intussen het FC die linker agterwiel van die GMC net so effens van die grond gelig en die as op ʼn paar bakstene laat rus. Oom Fanie groet, klim in en trek met ʼn vaart weg maar niks gebeur nie! Die ‘straight six’ enjin skree soos hy vet gee maar die bakkie staan doodstil. Hy probeer vorentoe en agtertoe en krap die ratte maar die GMC beweeg nie. “ Ja”,sê oom Fanie, “nou issie donnegse gêrboks ook in sy moerg!” en roep ʼn paar slag boontoe. Hy was baie verlig toe FC hom reghelp.
Dit was nie die einde van FC se poetse met ou Fanie nie. Die dag toe hy klaar “gescreen” het, is daar weer kaartgespeel en nadat hy ‘afgereken’ (betaal is) het, trek oom Fanie daar weg met die “screen “agter die GMC. Toe hy op Koperfontein voor sy huis stilhou is die masjien weg ! Net voor hy wegtrek het FC stilletjies die “screen” ontkoppel en ou Fanie was so haastig huis toe dat hy nooit in sy truspieël gekyk het nie!
Koperfontein was ook nie sonder sy tragedies nie. In 1952/53 is daar vir die eerste keer van lugbespuiting gebruik gemaak. Leon Steyn het met sy klein Piper Cub die diens aan die boere verskaf. Dit was gevaarlike werk en daardie
dae het die Eskom kragdrade nog op lang houtpale gestaan en nie op die hoë staalstrukture van vandag nie. Ten spyte van die gevaar is daar onderdeur die kragdrade gevlieg. Op ʼn wintersoggend in 1953 het iets vreesliks gebeur. Boela Truter, jong boer van Koperfonteinplaas , moes die dag met ʼn wit vlag die rigting vir die vliegtuig aandui. Die reël was dat mens plat moes gaan lê as die vliegtuig naderkom. Boela het reg onder die kragdrade gestaan en net so effens vooroor gebuig toe die vliegtuig hom tref. Ons het almal die rook sien trek toe die vliegtuig aan die brand slaan. Leon Steyn is betyds uit die wrak getrek en het die ongeluk oorleef. Iemand uit die Kaap het Boela se Singer sport motortjie ( die enigste een in die Sandveld ) gekoop.
Die koöperasie se werkers is elke oggend op Hopefield gaan haal en saans weer teruggeneem. Een namiddag met die winterson wat laag in die weste sak, trek die koöperasie se drieton Chev lorrie weg Hopefield toe. Van die ouer werkers sit reg agter die kap waar die minste wind is en die ander jong klomp sit los rond. So drie kilometer verder draai die pad effe links en dan vang die son jou skielik reg in die oë en dis net daar waar die lorrie oor die middelstreep beweeg en ʼn 1938 Chev tref. Die oom en tante is opslag dood en twee van die koöperasie werkers wat reg agter die kap gesit het, is ook oorlede. Die ander werkers het deur die lug getrek en gelukkig in die sagte sand langs die pad beland. Dis almal mense wat jy elke dag mee te doen gehad het en die hartseer was diep.
ʼn Mens kry mos soms iemand wat altyd iets oorkom en dis so asof hy die moeilikheid nadertrek. So ʼn man was Piet Stoffels, ʼn plaaswerker op Smitsvlei. As daar iets op die plaas gebeur dan moet jy weet ou Piet is in die moeilikheid. Miskien was dit omdat hy altyd so effens in ʼn dwaal was. Die inspan van die esels met oestyd was altyd ʼn moeilike taak want hulle het mos vir ʼn lang tyd nie gewerk nie en is lekker vet en uitgevreet en onwillig. Piet sit bo-op die wa en moet die leisels vashou terwyl die ander werkers sukkel om die koppige esels ingespan te kry. Sy aandag is nie by sy werk nie en hy kyk met verwondering na Piketberg se blou berg in die verte.
Die volgende oomblik skrik die esels en stamp die touleier onderstebo en begin onbeheerst hardloop. Die wa ruk agterna en Piet word onkant gevang en val vooroor op die tuie waar hy verbete vasklou. Nou is dit chaos op die werf want die span esels hardloop wild en wakker en niemand kan hul keer nie. Jy sien net stof staan soos die leë wa dan hierdekant en dan daardiekant toe op twee wiele hardloop. Op die tuie lê Piet Stoffels met sy een hand wat sy hoed vasdruk en met die ander hand wat verbete vasklou. Hulle probeer die esels in ʼn hoek vasdruk maar elke keer breek hulle deur. Op ʼn slag beland die wa amper in die dam. Die plaaswerf is groot en die hande te min om die spul tot bedaring te bring. Gelukkig kom help die buurman, Koolman, met sy span werkers en bring alles tot bedaring.
Piet moes vir ʼn volle vyftien minute vir sy lewe veg en hy is asvaal geskrik en rooi van die stof toe hulle hom daar aftel. Die werkers sleep-dra hom na die waenhuis waar hulle hom sitmaak en Kamas vir hom ʼn stywe dop vaaljapie skink sodat hy tot verhaal kan kom. Na ʼn rukkie vra Kamas vir hom “Sê my Piet, waaraan het ou dan gedink toe ou daar so op die tuie lê ?” “Ai oubaas, ek het gedink ek sien nooit weer die dorp nie !”
Daardie dae is die koring eers met ʼn snymasjien afgesny en die gerwe in hope gepak en dan op ʼn wa gelaai waar dit in ʼn mied gepak word vir die dorsmasjien. Met ʼn tweetand vurk is elke gerf gesteek en met ʼn swaaibeweging boontoe op die wa geskiet. Dis warm werk en mens doen dit later outomaties. Toe Piet sy laaste gerf opskiet, steek hy die vurk langs hom in die grond, maak sy gulp oop en slaan met groot genot water af. Toe hy afkyk staan en pee hy op ʼn geelslang wat so bakkop voor hom staan!
Op Koperfontein het ons met beurtkrag groot geword -- daar was nie krag nie ! As jy die laaste kers of Aladin lamp doodblaas is dit pikdonker. Soms het die volmaan darem help lig maak. Dan lê jy maar en luister na die naguiltjies of ʼn jakkals wat na sy maat roep. Dis dan wanneer jy die treintjie met die lang skoorsteen daar van Ganskraal se kant hoor aankom en asem ophou dat hy tog die steil bult vanaf die brug oor die Soutrivier sal opkom. Stoom wat afblaas, trokke wat aan en af gehak word en dan ʼn kort skerp fluit en die enjin wat tjoef-tjoef wegtrek en begin spoed optel in die rigting van Hopefield. Die flou rooi liggie agter op die ‘goods van” verdwyn in die donkerte. Die volgende oggend maak die geklop van Oupa Koos se Rusten Hornsby ,wat rustig die koringmeul trek, jou wakker.
Daar het soms ʼn ledeprediker op Koperfontein aangekom en vir twee dae met ʼn ou kombi op die oop stukkie grond anderkant oupa se meulhuis gestaan. Op die kombi se dak was ʼn luidspreker. Saans net na die Soetmelksvlei radiostorie begin hy preek. (Miskien het hy ook eers die storie klaar geluister). Dan sit ons saam met oupagoet op die donker agterstoep met net ʼn kers wat in die kombuis brand, en luister hoe ʼn mens op die breë weg moet bly. Van die bruinmense staan en loer van agter die koöperasiestoor, te bang die prediker sien hulle want die storie loop as hy jou raaksien is dit reguit hel toe. As die laaste klanke in die donker nag verdwyn, het ouma Lenie tee en gemmerkoekies voorgesit. Die volgende oggend het sy vir die prediker ʼn vars gebakte brood en hoendereiers gevat.
Almal moes deur Koperfontein ry met die gevolg dat jy mense se bewegings kon volg deur net na die dreuning van hul motors te luister sonder om hulle te sien. Die motors van daardie tyd het mos hulle eie kenmerkende enjin geluide gemaak. Soos uitlaatstelsels vervang word, het party ouens se karre unieke resonansies veroorsaak. Dit was amper soos ʼn vingerafdruk vir elke kar. Pieter Slabber van Leliefontein met sy blou 1958 Beetle kon mens maklik uitken – dit was ook die enigste Beetle in die kontrei. Toe hy later die uitlaatstelsel vervang met so ʼn eenpyp bosal, sonder ʼn knaldemper, kon jy hom sommer eien met die ‘opstart’ daar op Leliefontein drie km daarvandaan. Ben Ehlers van Boorwater met sy 1958 Peugeot 403, Frans Mallies met sy enige in sy soort Simca Vedette 2.4 l V8, Thys Stap met ʼn 1961 Studybaker Lark en sy broer Japie Stap met ʼn 1960 Ford Customline, Oom Piet brand met sy blou 1959 Plymouth met die vlerke, Oom Piet Serdyn met ʼn geel 1957 Chev, Oom Tiennie Enkelvlei met ʼn 1958 blou ‘two tone’ Ford Fairline ( seker die mooiste kar van almal), Ds.Beukes met ʼn Rover 90 wat hy uit Rhodesië saamgebring het, oom Boeta Baard met ʼn 1958 Chev met die plat vlerke, Konstant Laubcher met sy blou 1958 VW kombi, Oom Fanie Karstens met ʼn 1948 Pontiac. Ou dominee Fourie het ʼn 1952 Jeep met ʼn toekap gery waarmee hy die sandpaaie tydens huisbesoek moes aandurf. Met sy wit stofjas aan hou hy voor oupa se deur stil en drink eers ʼn glasie soetwyn voordat hy verder ry.
In die jare vyftig het die Weskus oorgeloop van die vis. Snoeklorrietjies het met swaar gelaaide vragte snoek so ʼn nat pekelstreep voor ons winkel verbygery op pad Kaap toe. Die snoeklorries van Velddrif was meestal drieton Chev’s met houtbakke waarvan die boonste 100 cm van die sykante so 45 cm uitwaarts gestaan het. ʼn Veldddrifse visserman het jy maklik uitgeken : ʼn bruin Gaberdene broek met 28 duim wye broekspype en ʼn stewige gordband om die middel met kruisbande oor ʼn langmou hemp met half opgerolde moue. Aan sy voete was ʼn paar Clanwilliam Strasbergers of topboetse. Hy was nooit sonder sy plat hoed met die stywe rand en ʼn sigaret tussen die vingers nie.
Saans kook my ma die groot snoekkoppe met blink oë op die swart koolstoof en ons eet dit saam met vars growwe brood en korrelkonfyt. Dit was voor die mense begin snoek braai het en snoek was altyd opgekook. ʼn Vars gekookte snoek het mos so ʼn soet smaak. Die heel lekkerste was die pens van ʼn vet snoek so heel oor ʼn vars sny brood, dik met die plaasbotter gesmeer. Die geel plaasbotter van Ant Bettie Ehlers van Boorwater het mos ʼn manier gehad om so ʼn blerts water in jou oog te spuit as jy dit so dik aansmeer.
Sondae het die karre, mooi blink gevryf, op ʼn streep kerk toe verbygery. Die NG kerk van Hopefield het in 1852 tot stand gekom en is die oudste in die Sandveld. Dit was ook die dae dat ʼn vrou nie sonder ʼn hoed in die kerk gesien is nie. Later het dit soos ʼn modeparade gevoel soos die anties Sondae hul hoede kom uitstal. As jy vroeg jou sitplek inneem kan jy almal sien inkom. My ma was darem self lief vir ʼn mooi hoed en kon ook nie wag dat dit Sondag word sodat sy kan gaan spog met ʼn nuwe hoed nie.
Dit was egter Ant Toy Stap ( du Toit) en dogter, Suster Stap, wat die koek gevat het. Hulle was albei mooi en lank en kon ook besonders skeppend aantrek. Maar ai ,daai hoede! As hulle ʼn slag in die Kaap gaan inkopies doen het, moet jy weet daardie Sondag sien jy iets besonders. Moenie dat Ant Toy voor jou in die kerkbank inskuif nie – daardie hoed is so groot en wyd dat jy net die bopunte van die orrelpype kan sien. Ou dominee Fourie is net ʼn stem en jy hou jou maar besig om die kwaste in die kerkbank te tel.
Een so ʼn Sondag kom sit Suster Stap reg voor ons. Met die inskuifslag sien ek maar die hoed is iets besonders. Behalwe ʼn baie wye rand wat so na die eenkant afkrul , lyk die res van die hoed soos ʼn blommerangskikking. Dis natuurlik als droë blomme , blare en goeters met sulke blink krale tussen in. Ek sit my nog so en verwonder aan die skepping toe loer daar ʼn skerpgesig muis tussen die droë blomme uit. Ma ma-hulle kom nog niks agter nie maar ek beduie vir my broer Kobus. Net as ons vorentoe leun verdwyn die muis maar is self nuuskierig en kom weer uit om vir ons te loer. Later word die muis al hoe makker en op ʼn slag kom hy uit, doen ʼn strekoefening en lek homself. Intussen preek ou dominee Fourie vuur en swael en die ouderlinge sit en sweet in hul stywe boortjies en dink wat hulle vir middagete gaan braai.
My ma kom agter iets trek ons aandag af en sien ook die muis. Sy kon haar lag nie hou nie. Toe my broer vir die muis ʼn stukkie Marie biscuit wou gee het sy ons verbied om verder met die muis te speel. So is die ‘kerkmuis’ saam met die hoed weer terug Karbonaatjieskraal toe.
Dis interessant hoe reuke mens se herinneringe kan oproep. Al die jare wat ek in Pietermaritzburg gebly het, het ek nooit ophou verlang na die Weskus nie al was Natal wonderlik mooi. Saans as ek in my bed lê en verlang, het ek altyd die reuke van die verskillend tye van die jaar probeer visualiseer: Oestyd in November met die reuk van ʼn varsgesnyde koringland, ʼn skielike bui reën op koringstrooi, die eerste winterreën in Meimaand op ʼn droë sandpad, die reuk van ʼn miskus plant as jy hom raak skop, die effens stinkerige walms van treinrook net nadat die stoker kole gegooi het, ʼn bedompige kleinhuisie in die laatmiddag, die soet reuk uit die uitlaatpyp van oom Hennie se ou Ford kar, die reuk van Flint in ʼn toe kombuis nadat daar vir vlieë gespuit is, ouma Lenie se vars gebakte brood, en die eerste trekke van Jantjie se zol,gerol met Boxer tabak.
Langs ons het oom Hennie Oukop Greeff gebly (van Kasteroliespook faam). Nadat hy sy plaas verloor het, het hy ʼn smidswinkel kom oopmaak en allerhande ysterwerk gedoen soos om ploeë reg te maak en yster vellings oor wawiele te trek. Hy het ʼn wit handlanger gehad, oom Gielie, so ʼn lang maer, effens vooroor man, wat in die buitekamertjie gebly het. In ʼn groot blaasbalk het oom Gielie die ysters rooiwarm gemaak en dan het hy en oom Hennie dit op ʼn aambeeld gesmee – oom Hennie met die groot hamer en oom Gielie met sy klein hamertjie wat die pas aangee. Eers die ‘tik” van die klein hamertjie en dan die ‘taang’ van die groot hamer dat die vonke so spat. Die ‘tik’ ‘taang’, ‘tik’ ‘taang’, ‘tik’ ‘taang’ van die twee hammers wat ritmies op die rooi stuk yster val en niemand wat praat nie. Dan druk oom Gielie die warm yster in ʼn bad koue water dat die stoom so staan en oom Hennie, met sy groot maag, wat terugstaan en die sweet van sy gesig en kaalkop afvee met ʼn blou sakdoek.
Saans sit hulle om die kombuistafel, oom Hennie en tant Miemie aan die bo-ent en oom Gielie aan die onder-ent. Voor oom Hennie lê ʼn Weskus snoek wat hy dubbel vou en alleen opeet en arme oom Gielie met ʼn droë maasbanker bokkom, ʼn smeersel varkvet op growwe brood en ʼn enamel beker swart koffie. As kind kon ek dit nie verstaan nie totdat oupa Koos vir my verduidelik ʼn kneg eet nie dieselfde kos as die baas van die plaas nie. Oom Gielie het graag in die veld gestap en dan bring hy vir ons koekemakrankas. Die kort dikkes het ons Sandmanne genoem en die lang dunnes Katpielietjies.
Na tant Miemie se dood het oom Hennie alleen gebly en ma en ouma het maar die eetgoed oorgestuur. Oom Hennie het so ʼn 1929 Ford V8 gehad en altyd met die een arm, wat so hy die venster uithang, bestuur. Toe ek vir oupa vra hoekom hang die oom sy arm so by die venster uit was sy opmerking : “Dis van windmakerigheid “. Een mistige wintersoggend in Julie in 1956 moes oom Hennie met die Ford Moorreesburg toe om ʼn bus te haal na die Kaap om vir sy kinders te gaan kuier. Dit was vroegoggend, donker en met digte mis, toe hy vertrek. Die Ford se flou ligte gooi net so ʼn vaal kol in die mis en oom Hennie ry met twee wiele op die gruis en die ander twee op die teerpad sodat hy darem rigting kan hou. So karring hy aan totdat die pad daar anderkant die Moorreesburg afdraai skielik onder hom wegraak en die Ford met sy linker voorkant tot onder in ʼn diep sloot duik. Sy stukkie grondpad het opgeraak daar waar die “culvert” oor die sloot gebou is. Daar lê hy toe onder in die sloot met sy voete in die water. Dis pikdonker en niemand weet van hom nie en sy groot lyf sit vas. Toe dit later begin lig word kon hy karre hoor ry en hy en sit sy hoed op sy kierie en steek dit by die venster uit. ʼn Jong boer sien gelukkig die alleenhoed met die verbyry en kom tot sy redding. Hulle moes oom Hennie met ʼn “block and tackle” uit die kar hys. Gelukkig het hy niks gebreek nie en vir dae daarna so styf- styf geloop.
Koperfontein het ook ʼn Springbok opgelewer, nl., Bubbles Koch. Sy pa, oom Klaas Koch het die ander plaaswinkel op Koperfontein besit. Die dag toe Bubbles vir die Springbokke teen die All Blacks op Nuweland uitdraf was dit vir almal in die kontrei ʼn groot gebeurtenis. Oom Klaas het drie kaartjies op die spoorwegpaviljoen bekom en hy nooi vir Jan Stap du Toit van Karbonaatjieskraal en vir Jan Patat Visser van Hopefield saam. Hulle vertrek die Saterdagoggend heel vroeg want die Kaap is vêr. So 20 km vanaf Koperfontein op die Malmesbury pad is daar ʼn afdraaipad links na Rust Stasie en 2 km verder op die grondpad lê Oupos, ʼn klein plattelande hotelletjie. Dis toe dat Jan Patat vra of hulle nie maar gou iets moet gaan drink nie want sy keel is hoeka droog. Jan Stap, wat bestuur, draai af en dis net daar waar hulle moeilikheid begin.
Dit bly nie by een dop nie en later eet hulle spek en eiers saam met die versterkings. Eindelik vat hulle die pad Malmesbury toe net om weer by die Swartland Hotel te stop want toe is die dors groot. Daarna vorder hulle tot by die Killarney Hotel om sommer iets te eet maar daar gaan dit tog te lekker veral toe die manne hoor dis Bubbles Koch se pa. Met moeite neem hul afskeid van hul nuwe vriende en mik vir Nuweland. Op Nuweland aangekom kan hulle hoor die wedstryd is al aan die gang want die toeskouers skree en raas. Hulle koop gou ʼn sakkie naartjies en sukkel tussen die mense deur om by hul sitplekke uit te kom. Net toe hulle mooi sit, blaas die eindfluitjie !
Op die hoek by my ma se winkel waar die pad van Koringberg ʼn T-aansluiting maak het daar altyd iets met ʼn kar gebeur. Oupa vertel een van die Greeff ooms van Lemoendrif kom eendag met ʼn Dodge ( daai met die hout speekwiele) van Hopefield en hou om die hoek stil om iets in die winkel te koop. Die ou karre het mos ʼn handpetrol hier langs die stuur gehad en jy moes hom met ʼn slinger start. Die oom is haastig en sommer so deur die venster trek hy die handpetrol ʼn paar kepe op maar hy vergeet om die Dodge uit trurat te haal. Met sy linkerhand druk hy op die radiator en gryp die slinger met sy regterhand . Die Dodge is lekker warm geloop en met die eerste draai van die slinger kry hy lewe maar spring met ʼn vaart agtertoe en daar gaat hy , oor die teerpad spoorlyn toe. Die agterwiele wip oor die eerste spoorlyn maar die voorwiele draai dwars saam met die lyn en nou hardloop die Dodge al wippende teen die spoorlyn af en dit is nog boonop afdraande na die Soutrivier se toe. Die oom skree : “Hô NOU! Maar ek sê mos Hô NOU!” Dis egter nie ʼn perdekar nie! So kos dit mens hardloop om daai Dodge weer in te haal !
Dieselfde Greeff oompie het een aand amper met sy eie .22 patroon verongeluk. Hy het die gewoonte gehad om sy pyp saans te stop en terwyl hy in die bed lê, dit aan te steek, net een trek te gee en dit dan voor sy bed te los vir môre oggend se eerste skyf saam met sy koffie. Die plaashuis het sulke lae skuifraamvensters gehad en die onderste raam was opgeskuif vir die koel aandluggie. Met die tweede trek aan die pyp is daar ʼn helse slag en iemand skiet deur venster die pyp uit sy mond. Die Tante val skoon van die bed af soos sy skrik. Die oom skree vir die seuns in die buitekamer op die stoep om die moordenaar agterna te sit. Buite op die werf is dit egter doodstil en die honde groet hulle met swaaiende sterte. Hulle gaan slaap toe maar weer. Die volgende oggend toe die tante die oom se broeksakke omdop kry sy nog ʼn .22 patroon tussen die los tabak in sy sak. Hy het die gewoonte gehad om die tabak los in sy broeksak te dra en dan sommer die pyp met sy duim te stop. Daar is die vorige dag vark geslag en van die .22 patrone het saam met die twak in die broeksak beland.
Op Rosiesvlei, so halfpad Hopefield toe, was daar ʼn plaasslaghuis. Dit was ook die blyplek van ʼn groot en baie moedswillige bokkapater wat los rondgeloop het. Die oudste seun van oom Klaas en tant Lizzie Louw, ook van Koperfontein, kom een vakansie vanaf Johannesburg kuier met ʼn pikswart 1958 Buick Special. Dis ʼn kar wat jy nie in ons wêreld gekry het nie – ingevoerde LHD. Dit was ook seker die motor met die meeste chroom wat jy aan kar kon kry. Hier van sy middel agterdeur tot by die agtervlerke, net bokant die wiele, loop daar ʼn 400 cm chroom strook en om die groot agterligte is daar sulke dik chroom stroke wat invloei in ʼn reuse chroom buffer. Die voorkant het met ʼn ewe indrukwekkende chroom rooster en groot chroom buffers gespog. So ry hulle Rosiesvlei toe om skaaptjops te gaan koop. Die bokkapater het dadelik kom kennis maak en terwyl die eienaar vleis koop ,stap hy verby die Buick en sien ʼn ander bokkapater wat vir hom staan en kyk. Hy knik sy kop en die indringer knik vir kom terug. Hy blaas en kap met sy voet maar die kapter staan nie terug nie. Op hierdie werf is hy die baas en hy staan terug en gaan haal uit, kop omlaag. Wragtag daar staan hy weer vir hom en knik. So vat die Bokkapater die Buick van ʼn kant en stamp hom vol duike.
Misdaad op Koperfontein was ongekend en tog was daar ʼn insident wat mense dae oor gepraat het. Oom Kosie Smith het destyds ʼn garage bedryf met ʼn Pegasus handpetrolpomp. Een skemeraand hou daar ʼn Chev bakkie met ʼn Kaapse nommer stil en die bestuurder vra om dit vol petrol te maak. Oom Kosie se oudste seun, Theo, gaan help toe om die petrol te pomp maar net voordat die laaste gelling inloop, spring die Kaapse man agter die stuur in en trek met ʼn vaart weg. Theo spring agterop die bakkie en gryp die wielspanner wat daar lê en slaan die agterruit stukkend en begin die bestuurder dwing om stil te hou deur hom van agteraf met die spanner by te kom. Die man staan later op die ‘running board’ en bestuur maar spring af toe dinge te warm begin word en hardloop die donker nag in. Theo kry die bakkie onder beheer en ry terug huis toe.
Die volgende dag trek hul die misdadiger daar duskant Darling vas en ou sersant Bleeker met sy Harley Davidson en ‘side car’ gaan haal die dief en bring hom Koperfontein toe. Dis die eerste keer dat ek ʼn skelm van naby sien.
Hy het maar bra ongemaklik gelyk so in die boeie en het ʼn bloedstreep bokant sy oor gehad. Hy het ook die hele tyd net voor hom uitgestaar. Die ding wat my egter die meeste gefassineer het, was ʼn netjiese pakkie toebroodjies wat voor op die bakkie se sitplek gelê het. Dit was wit brood, perfek in dun snye gesny met bloedrooi vissmeer tussen die snye. Ons het mos nie witbrood geken nie! Ai, dit moes darem lekker gewees het om in die Kaap te bly en elke dag sulke brood te kon eet.
Die lewe op Koperfontein was soos ʼn rolprent in stadige aksie. Mense het met hul daaglikse take voortgegaan, insidente het plaasgevind, seisoene het gekom en gegaan. Dit was ʼn eenvoudige lewenstyl, min was welvarend, maar tog was hul innerlik ryk. Vir my was dit ʼn voorreg om in so ʼn samelewing groot te word.
Ek haal graag my vriend, Daniel Louw, se vertaling uit Duits aan : “Oomblikke van vreugde en opwinding : moenie daaroor huil dat dit onherroeplik verby is nie, maar lag daaroor met die besef dat dit inderdaad bestaan het en deel was van jou lewenservaring”.
Danie du Toit
April 2015