VAKANSIE IN DIE KLEIN KAROO
Ons gaan vanjaar vir die eerste keer in 25 jaar nie by die see vakansie hou nie. Ons het besluit om die Klein Karoo ons vakansiebestemming te maak en wel op die familieplaas, Kruisrivier, geleë aan die voet van die Swartberge, ongeveer 17 km van Calitzdorp. Jan en Cobus besluit toe om hul karavaan al die pad van Pretoria te sleep en saam te kom vakansie hou.
Vrydag 19 Desember 2014.
Vertrek vanoggend 9h00 vanaf Somersetwes en nie sonder ʼn bietjie weemoed in ons harte oor ons hondekind, Niklaas, wat vir 15 jaar orals saamgery. Klaas het op 4 Desember finaal hondehemel toe verhuis.
Net anderkant Sir Lowry’s Pass draai ons by die Perigrine padstal in vir koffie en ontbyt( skaars 20 km van die huis!) Dis ʼn pragtige dag en die golwende heuwels van die Overberg gly verby. Om 12h00 draai ons regs net buite Swellendam waar die aanwyser sê : Bontebokpark. Ek het die vorige dag bespreek en met EFT betaal: R222.20.Met die inboek deel hul my mee die bespreking is gekanselleer want ek het slegs R222 betaal en skuld die Parkeraad 20 sent! Wat ʼn pragtige plek. Ons staan langs die Breederivier op ʼn groen grasperk. Kinders baljaar in die water. Baie voëls ook. Met ʼn koue Hansa in my hand en kaalvoet is die saak reg. Geen ligte hier in die rivierkamp nie en mens hoor net die paddatjies en die geruis van die water. Salig!
Saterdag 20 Desember
Ry deur Zuurbraak en draai links op teen die Tradouwpas. Dit bly een van my gunsteling roetes en die helder somersdag maak dat ons verskeie kere stilhou om die natuurskoon te bewonder. Ons ry Barrydale binne en kry skielik lus vir ʼn laat ontbyt. Dis Saterdagoggend en die plaaslike bevolking is daar om hul inkopies te doen. Daar heers ʼn feestelike stemming en elke winkelstoep sit vol mense. Op die stoep voor die drankwinkel gaan dit veral jolig en Martie moet my net keer toe ek ook soontoe wil beur.
Die Blue Cow restaurant lê aan die kant van die dorp teenaan die plaasdam (“Barrydale at the waterfront”) , op die plaas van die Cook familie. Die restaurant het ʼn uitgeboude dek oor die dam. Brood word aan karp en eende gevoer, hulle staan en wag met oop bekke. Vandaar ry ons na die oorkantse kleinhoewe om olywe by die McDonald’s te koop. Hulle boer met ʼn 1000 olyfbome en produseer die lekkerste olywe.
Ons ry rustig voort in die rigting van Ladysmith en draai regs na Calitzdorp. Die vistas van die Klein Karoo bly besonders. Dis Saterdag middag op Calitzdorp en al die stoepsitters is al huis toe. Net die papiere het agtergebly.
Dertien kilometers anderkant Calitzdorp draai ons af op die Kruisrivierpad. Dis 17 km goeie grondpad deur die pragtige rooi sandsteen koppe.
Basie en Manie Strydom ontvang ons asof ons lang verlore familie is! Net toe hou Jan en Cobus met hul Ford Ranger en Fendt karavaan agter ons stil. Hulle het die vorige aand op die plaas Mieliefontein duskant Hanover oorgebly.
Ons slaan kamp op en dit is ʼn belewenis om al Jan-hulle se’ gadgets’ te sien wat hulle saambring –tot ʼn satellietskottel vir die internet! Ek merk ook ʼn baie fancy ysmasjien en dit bring ʼn rustigheid oor my. Bells met soda en baie ys laat my altyd so voel!
Martie haal die Snappy Chef uit en begin die skaapnek en groente regkry vir ʼn Maleise Pinang. Toe ons die ligte om tienuur afskakel is dit pikdonker met ʼn sterrehemel bokant ons en die spruit wat vêrlangs kabbel.
Sondag 21 Desember
Dis ʼn lekker koel oggend en ons drink koffie en eet ontbyt. Die rustigheid bekoor ons. Kobus mik af na die rivier met sy kamera om foto’s te neem. So 800 meter verder op met die pad waar die twee paaie vanaf Calitzdorp bymekaarkom is die studio van Rodger Young en Phyllis Midlane by De Kruis. Rodger is ʼn bekende fotograaf en sy uitstalling is iets besonders. Baie van sy foto’s is van die omgewing se mense en elkeen spreek ʼn verhaal, soms hartroerend. Phyllis, ʼn eks ballerina, maak vir ons koffie met tuisgebakte Biscotti koekies. Sy is ʼn kostuumontwerper en was betrokke met die vervaardiging van die perde in die opvoering “WAR HORSE”. Sy het altesaam 63 perde gebou! Rodger maak ook die mooiste hardehout meubels.
Ons stap terug vir ʼn ligte middagete met ʼn koel Rose wyntjie. Die ligte windjie waai deur die bome en dit is lekker koel in die skaduwee. ʼn Mens vat sommer ʼn middagdutjie so in die gemakstoel. Laat die middag stap ek en Martie al langs die rivier af in die koelte van die populierbos terwyl Tjommie en Milo, die twee Labradors van die plaas, die pad aandui. Saam met ons stap JR, Jan se driebeen Jack Russel, wat saamgekom het vir die vakansie. Ons moet hom oor die groot stompe en deur die rivier dra want met net drie bene is hy nie so rats nie.(Jan het vir JR by die SPCA gekry nadat ʼn groot hond sy regter voorbeen so verniel het dat dit geamputeer moes word. Hy pas egter goed aan en het ʼn dierbare geaardheid. Onder die kinders in die kamp is JR ʼn groot ‘hit’.)
Dis Jan Cobus se beurt om kos te maak en hulle stel nie teleur nie. ʼn Gebraaide plathoender met potgeroosterde groente word voorgesit saam met koue Sauvignon Blanc.
Die ligte word sommer vroegaand uitgedoof !
Maandag 22 Desember.
ʼn Mens slaap lekker hier in die Klein Karoo want dit koel snags af en soms wil- wil jy net nog ʼn kombers nadersleep.
Ek sny die waatlemoen, wat heelnag buite gelê het, in skywe vir ons ontbyt.
Ons ry vanoggend al met die oupad langs Calitzdorp toe om voorrade aan te vul. Die pad is relatief nou en kronkel tussen die heuwels al met die vallei langs. Dis ʼn ouwêreldse gevoel en die plase met die opstalle van vergange jare lê al langs die vallei op met waterstroompies wat orals vloei. By een plaas staan daar reuse pekanneut bome en net toe kom die eienaar met sy Toyota bakkie aangery. Ek stop hom om eers uit te vra. Hy is ʼn Nel en sy voorouers het die plaas in 1763 staangemaak.
Op Calitzdorp ry ons reguit Boplaas Kelder toe om wyn te koop. Die plek is gewild en hul wyne uitstekend. Ons koop Katvis Pinotnoir, Chardonay, Pinotnoir vonkelwyn en Tinta Barocca. Daarna gaan eet ons by Ebenharts Restaurant. Die eienaar, Ebenharts, is ʼn spesialis pypmaker wat sy pype wêreldwyd uitvoer. Al sy pype word van eksklusiewe Suid Afrikaanse hardehout vervaardig. Hy maak ook pepermeultjies en penne van hout. Sy ander voorliefde is om ou karre in moderne blitswaens om te bou. Voor die deur staan ʼn bloedrooi 1938 Chev Coupe met ʼn Jaguar suspensie en ʼn woelige agtsilinder engin.In sy garage staan ʼn 1939 International Bakkie waarmee hy besig is.
Ons ry huis toe vir ʼn middagslapie.
Vanaand braai ons steak en wors saam met n Boplaas Chardonay. Eers skink ons ʼn Boplaas PINOT NOIR CC BRUT. Die Klein Karoo maak darem uitmuntende drinkgoed!
Dinsdag 23 Des.
Vandag doen ons die toeriste goed. Ons ry eers by die Kango grotte aan om toegangskaartjies vir die namiddag te kry en ry verder aan om die Ranger op Oudtshoorn vol diesel te maak. Vir middagete ry ons na die Buffelsdrift wildpark want Martie wil die olifante sien.
Daar is drie Afrika olifante, ʼn koei en twee bulle wat opgelei is om met mense te kan werk. Wat ʼn belewenis om aan ʼn olifant te vat en selfs op sy rug te klim. Die hoogtepunt is toe die olifant sy slurp om my nek sit en ʼn drukkie gee. ʼn Mens besef net weereens hoe groot en sterk die diere is en dat mens nie met hulle in die natuur moet lol nie. In die wildtuine hou mense te na aan hulle stil sonder om te besef hoe gevaarlik hulle eintlik is. Die drie het ook vir ons gewys hoe om ʼn sokkerbal te skop en ek dink die Bafana afrigter hoef nie verder te soek nie.
Die besoek aan die Kango grotte bly ʼn belewenis ten spyte van die feit dat dit baie besig is. Die fasiliteite is baie opgegradeer en duisende mense besoek dit daagliks, maar ten spyte daarvan werk alles seepglad en is die mense baie vriendelik.
Vanaand maak ons ʼn heerlike skaapnek potjie met groente en witwyn.
Woensdag 24 Desember.
Dis ʼn heerlike koel oggend met miswolkies wat oor die pieke van die Swartberge lê. Ek en Cobus besluit om die plaas met bergfietse te verken. Cobus op die bekende blou Gaint van Francois (daai fiets het al op St Helena geloop) en ek met my Scott. Milo en Tjommie hardloop saam en swem in al die rivierpoele. Dis pragtig in die klowe en ʼn groot trop bobbejane hou ons dop.
Later die oggend ry ons oor die Swartbergpas na Prins Albert. Dit bly ʼn indrukwekkend pas en slaan Cobus se asem weg. Die feit dat beide hy en Martie aan hoogtevrees lei help ook nie veel nie en Jan word dikwels aangespreek oor sy bestuurstyl. (Bergpad) Ek moes hulle ook herhaaldelik herinner dat ek al twee keer oor die Swartberg met my bergfiets gery het, selfs eenkeer tot onder in die Hel en terug. Nie dat hulle hul aan ou Ballie stories steur nie! Ons ry weer terug oor die Swartberg nadat ons Gauteng pryse vir ʼn ligte middagete betaal het. Toeriste vangplek !
Met die afkomslag ry ons aan die onderkant van die pas eers by ‘Kobus se Gat’ aan vir ʼn koue bier. Vanaand braai ons skaaptjops en boerewors. Hier kom Jan nou net aangestap met ʼn glas koue LABORIE BRUT CC. Dit gaan vanaand nog lekker word hier op Kruisrivier !
As die son agter die populierbos ondergaan, sak daar ʼn rustigheid oor die vallei en die warmte van die dag word vervang met ʼn koel aandluggie wat mens inspireer om tot laataand buite te sit en gesels.
Ons deel kersgeskenke uit en geniet ʼn laataand versnaperinkie.
Donderdag 25 Desember.
Kersdag. Die oggend is helder en mens kry die gevoel dit gaan lekker warm word. Ek en Cobus ry so 15 km in die rigting van Calitzdorp maar dit word te warm en ons water min. Langs die pad stop ons by Johan Meyer se opstal waar hy en ʼn vriend in die koelte van die huis se stoep sit en koffie drink. Hy gaan haal vir ons yswater en maak ons waterbottels vol. Net toe stop daar ʼn VW Syncro Kombi en ʼn groot ou met ʼn baard klim uit om die pad te vra na die Hel. Hy en sy familie gaan daar kamp. Party ouens steur hulle ook nie aan hitte nie!
Die Kombi lyk goed ingerig met sy ‘off road’ wiele, dakrak met al die kampgoeters, en twee dogtertjies wat opgewonde agter deur die vensters loer. Toe daai Kombi wegry met die stof wat so trek met die kenmerkende brul van die Audi vyf silinder enjin en sy ‘gemodifaaide exhaust’, wil ek net saamry! Daar is darem niks soos ʼn grondpad nie – dit maak mens avontuurlustig.
Ons maak vuur en ek stop die skaapblad met knoffel, speserye en olyfolie en draai dit toe in tinfoelie. Die blad word vir twee uur hoog bo die vuur gesit en vir die laaste 40 minute uit die foelie gehaal en mooi bruin gebraai. Doeksag soos die ou mense sou sê. Die res van die Kersmaal bestaan uit slaaie en groente saam met Boplaas se Chardonnay. Net die bene bly oor en Tjommie en Milo is maar te bly. Milo jaag ʼn boomslang tot in die boom waaronder ons sit en die slang loer die hele tyd vir ons daar van bo af. Hy het later belangstelling verloor en toe ons weer kyk is hy weg.
Dis nou lekker warm en ons geniet ʼn middagslapie in ons lugverkoelde karavane. Laatmiddag waai daar ʼn koel windjie en toe die son sak word daar na ʼn trui gesoek. Basie en Mandi Strydom, eienaars van Kruisrivier, kom loer later in en ons vind meer uit oor die geskiedenis van die plaas.
Toe ons gaan lê trek ek ʼn kombers oor my. Dis doodstil. Die gedrup van reëndruppels sus ons aan die slaap.
Vrydag 26 Desember.
Ons word vanoggend wakker met ʼn heerlike koeligheid hier in die vallei. Cobus is drie uur vanoggend hier weg om vriende op Kaapstadse lughawe te kry. Daar word omelette voorgesit vir ʼn laat ontbyt saam met Boplaas Vonkelwyn. Die res van die dag word rustig deurgebring met leeswerk. Laat die middag gaan stap ons met die honde al langs die rivier af.
Dit is verbasend hoe JR, die driebeen Jack Russel, aanpas en saam met die groot honde hardloop.
Ons braai van Calitzdorp se lekker boerewors.
Later die aand sit ons almal in die Fendt waar Jan ʼn fliek op die TV aan die gang kry. Ek moet bieg dat ek nie die einde van die fliek gesien het nie!
Saterdag 27 Desember
Dis bewolk toe ons wakker word en die oggend is windstil. Ek bestyg my bergfiets en ry 10 km in die rigting van Calitzdorp voordat ek weer omdraai. Langs die pad kom ek verskeie plaasmense teë en knoop ʼn geselsie aan. Ek gesels met Christina Conradie wat terugstap van die klein Apostoliese kerkie verder op teen die pad. Sy is netjies uitgevat in haar Sondagrok en hoed. Sy het grootgeword in die vallei en haar oupa was ʼn Duitser, vandaar die ligte gelaatskleur.
ʼn Groot bergskilpad wei langs die pad en ek hou stil. Ek wonder hoeveel hy weeg en tel hom op om te voel hoe swaar hy is – seker maklik 20kg of meer. Verder aan kry ek ʼn 10 jarige dogtertjie wat sukkel om die ketting van haar fiets terug te sit en ek help haar. Sy is op pad na die klein plaaswinkeltjie by De Kruis.
By die kamp bak Martie eiers saam gisteraand se boerewors. ʼn Koue Hansa rond die ontbyt af. Dis was so pas 12h00. Seker darem te vroeg vir ʼn middagslapie. Gelukkig kom Basie Strydom verbygestap en ons raak aan die gesels. Hy vertel ons hoe die kwarantyn tydens die uitbreek van die voëlgriep onder volstruise hom finansieel verniel het. Hy het nie meer een volstruis oor nie. Ons gaan stap langs die rivier en kyk hoe JR met net drie bene oor die klippe spring.
Vanaand maak ons ʼn lekker warm Maleise Pinang saam met ʼn Portugese wyn.
Ek lees Bill Bryson se ‘ONE SUMMER: AMERICA 1927’ maar die boek val op my gesig en ek sit maar die lig af.
Sondag 28 Desember
Die oggend is bewolk en ek ry met my fiets tot op Buffelspoort waar ek omdraai. Martie maak spek en eiers en ek vul dit aan met ʼn koue Hansa. Met middagete berei Jan ʼn lekker Tuna slaai voor saam met ʼn ligte wit wyn.
Later die middag wys Basie vir ons hoe hy en Mandi die ou waenhuis in akkommodasie omskep het. Hy het die ou stal so verander dat die lang krip met sy oorspronklike houtbalk waaraan die perde vasgemaak was behou en dis nou ʼn slaapplek vir kinders , kompleet met klein lanterntjies. (Lanterns)In die gedeelte langsaan is nog akkommodasie maar wat dit uniek maak is die 150 jarige koets/wa wat in die kamer staan ! Teen die muur agter glas, hang die oorspronklike wit volkspelerok van die ouma grootjie. Basie sê die wa is uniek omdat dit kombinasie van ʼn koets en ʼn wa is. Sy oupa grootjie-hulle het gewoonlik ses esels ingespan as hulle oor die Swartberg na Prins Albert moes ry. Blykbaar het ʼn esels meer stamina as ʼn perd.
Laat die middag gaan stap ons weer teen die rivier langs en JR jaag ʼn haas op. ʼn Hond kort egter vier bene om ʼn haas in te hardloop.
Skemeraand maak ons vuur met doringhout en braai dik ‘rump steaks’ tesame met ʼn rooiwyntjie. Ingelegte perskes met vanilla vla volg daarna. Ek probeer weer om ʼn fliek te kyk – sonder sukses !
Maandag 29 Desember
Vanoggend met my fietsry ontmoet ek verskeie mense langs die pad. Dit is interessant om die verskeidenheid van Afrikaanse vanne te hoor. Ek kry vir Karin Claasen en haar Jack Russel, Peanut, langs die pad op oggend draffie. Hulle huur die plaas Buffelspoort.
Ons middagete bestaan uit koue biefstuk, olywe en bekuitjies.’ Gin and Tonic on the side’.
Cobus arriveer ongeveer 16h00 vanaf Kaapstad met sy gaste, Karanja en Brad. Hulle is van Nairobi en werk vir NETCB en dis hul eerste keer in die Kaap. Kannie ophou praat hoe mooi dit is en hoe vriendelikdie mense is nie. Ons braai skaaptjops en boerewors dat die rook so staan. Intussen word daar ʼn paar wyne van Muratie weggesit. Hulle sê dat die mense in Kenia begin nou in wyn belangstel maar uitvoere daarheen is skaars.
Dinsdag 30 Desember
Weereens ʼn lekker koel oggend en ek doen 20km op my bergfiets.
Ek, Martie en Jan ry Calitzdorp toe vir ʼn heerlike ontbyt by die ou ‘Handelshuis’. Hulle maak die heerlikste omelet tesame met moerkoffie. Heelwat toeriste en die dorp is besig. Ons ry teen die ou Rooibergpas uit in die rigting van Vanwyksdorp en kan kilometers vêr sien.
Die pas laat my terugdink aan die Huisrivierpas in 1952 toe ons met my pa se 1951 Ford Consul daar oor is met die wiele van die ou karretjie wat so skop-skop teen die steiltes uit.
Die pas was baie nou en die afgronde hoog. Ons het die vorige aand in die Seweweekspoort gekamp en langs die rivier onder die sterre op matrasse geslaap.
Ek kan nog onthou hoe bang ek was!
Terug op die dorp koop ons skaaptjops en wors vir ons Oujaarsdagaand braai. Ek koop ook sommer nog twee bottels Muskadel vir die ontbyt soggens.
Vanaand maak ons ʼn groentepotjie.
Woensdag 31 Desember
Ek nooi vanoggend vir Cobus om saam fiets te ry. Dis gelukkig ʼn koel oggend want ou Cobus moet al die oordadigheid van sy besoek aan die Kaap afwerk wat meebring dat ons verskeie kere met die terugtog moet stop sodat hy kan asem skep! Ja-nee daar is ʼn prys vir elke ding.
Dis interessant hoe gewild motorfietse geword het en veral die ouens wat die grondpaaie toer. Omtrent elke motorfiets wat verbykom is ʼn BMW GS 1200 met sy kenmerkende boxer masjien gebrom. Die grondpaaie hier tussen die plase is ʼn gewilde roete is en veral die Swartbergpas tot in die Hel .( Plaas dat ek dit met ʼn motorfiets ipv ʼn bergfiets gedoen het !) Die manne kom hier aan met hulle vrouens of skelmpies agterop en slaap dan in klein tentjies met min beweegruimte. Dit vat nogal ʼn spesiale vroulike spesie om so heeldag agterop ʼn motorfiets in die stof te sit met al daai warm klere en vanaand die kos te maak en dan nog die skottelgoed ook te was terwyl die manne met ʼn dop in die hand die kwaliteite van hul BMW’S bespreek. Tel jou seëninge!
Cobus, Brad en Karanja ry Calitzdorp toe vir ʼn uitstappie en om voorrade aan te vul. Martie, Jan en ek bly agter en geniet die rustigheid van die kamp want dis weer ʼn lekker koel dag.
Daar word ʼn ‘straatbraai’ vir die aand gereël en die meeste van die kampeerders kom al sesuur bymekaar en stoot die braairoosters langs mekaar en begin stoele en tafels aandra. Die dogtertjies het lanterns van kerse en papier gemaak met ‘streamers’ wat hulle in die bome ophang. Daar heers ʼn feestelike stemming en dis ʼn pragtige aand met ʼn halwe maan wat loer. Dis nou een ding van Kruisrivier en dis die lieflike aande wat mens noop om tot laataand buite te sit.
Basie Strydom, eienaar van Kruisrivier, laai ʼn vrag doringhout stompies af en ons maak ʼn groot vuur. Om die vuur sit : Tiaan en Johanna Joubert ( Vereniging), Jacques en Marlene Qiunot (George), Christiaan en Theresa Barnard(George) ,Brad Kamunta(Uganda),Karanza Nzisa(Nairobi),Matt en Ladi Gervais(Kaapstad),Basie en Mandi Srydom(Kruisrivier),Henry en Nastashia Botha(Mosselbaai),Jan en Cobus, Martie en Danie.
Mandi bring groot warm, pasgebakte brode en ons sny eerste die korsies af. Dik plaasbotter met konfyt word op die warm brood gesmeer. Wat is nou lekkerder? Die partytjie begin spoed optel en die manne gooi allerhande lekker vleiskosse op die rooster. Daar word gelag, geskerts, politiek gepraat en wyse dinge kwytgeraak. Die Keniane ervaar hul eerste boerebraai en dra by tot die lewendige gesprekke. Dit is nogal interessant om hul indrukke van Suid Afrika aan te hoor en sommer terselfdertyd te hoor oor die situasie in Kenia. Blykbaar is korrupsie daar endemies, veral onder die politici en hulle word nie beskerm deur ʼn Grondwet soos in SA nie. Die stelsel daar is gebaseer op ‘tribes’ en elke faksie het sy eie politieke agenda. Hulle vind dit egter snaaks dat ons land deur ʼn ‘tribal chief’ met vyf vrouens, regeer word. Dis blykbaar ʼn groot grap in hul Kenia.
Die vure brand tot middernag en party mens word later soos die kole : al hoe dowwer! My kool het net-net tot die Nuwejaar gehou!
Donderdag 1 Januarie 2015
Eers hier duskant 8h00 begin die kamp lewe kry. Die Joubert’s is egter dou voor dag weg Hel toe.
Ek dink die plek sal vandag sy naam gestand doen want dis ʼn pragtige wolklose dag en die sonnetjie kom sterk deur. Ons pas vir Voëltjie, hul African Grey, op en hy vermaak ons met die geluide wat hy namaak.
Die Qiunt’s kom verbygery en vra of ons na Mac, hul 1.1 kg miniatuur Yorkie, sal kyk terwyl hulle Oudtshoorn toe gaan.
Ons maak omelette en boerewors en drink sjampanje. Daar is sekere ouens wat nou ongesiens wegsluip vir ʼn oggendslapie. 2015 kan ʼn harde jaar wees!
Die dag word verder rustig deurgebring met ʼn biertjie en ʼn glasie wyn so tussenin. Ons hoor ʼn onrustigheid daar onder by die swembad en sien ʼn 1.5 m lange geelslang met ʼn padda in sy bek.
Die slang seil met die padda in sy bek tot langs die pomphuisie maar elke keer ontsnap die padda en beur in die rigting van die swembad en dan kom haal die slang hom weer.
Dit gebeur vyf keer voordat die slang uiteindelik sy prooi insluk. Hy seil nou in die rigting van die onderste kampplekke en word daar gestenig deur die kampeerders! Dit ontstel my.
Vanaand braai ons weer vleis en eet van Martie se Krimiskoek met vla.
Ons gaan vroeg slaap want Oujaarsaand begin nou sy tol eis!
Vrydag 2 Januarie 2015
Ons ry vanoggend vir die laaste keer met die bergfietse en dis gelukkig lekker koel so sewe uur in die oggend. Cobus en Jan besluit om vir die Keniane die Kango grotte te gaan wys en ek is dankbaar om agter te bly en die koelte van ons kampplek vir oulaas te geniet. Twaalfuur sit ek en Martie met ʼn yskoue Hansa en wonder of ons buurman, Dyreck Hurter, al uitgekuier is op Stanford. Ons bel hom. Nee, hy ry more huis toe, hy is klaar gekuier. Net soos ons gedink het!
Ek stap oor na Basie Strydom. Hy wys vir ons die ou koringmeul wat al die jare op Kruisrivier in bedryf was. Die meul is deur ʼn waterwiel aangedryf en die konstruksie staan nog net so maar die waterwiel is tot niet. ʼn Mens stap in die geskiedenis in as jy in die meulhuis staan en verwonder jou aan die vernuf van die ou mense om ʼn bestaan te voer. Die meul het blykbaar vir die hele omgewing koring gemaal.
Ek blaai deur die afskrifte van die ou Koringraad se dokumente en merk dat daar is soms tot sewe ton koring per dag gemaal is. (Alle meulenaars was onder beheer van die Koringraad). My oupa Koos wat ook ʼn meulenaar was, het altyd ʼn heilige respek vir ʼn Koringraadinspekteur gehad!
Daar is heelwat interessante goed in die meulhuis wat my oog vang.
Gedurende die oorlogsjare mag niemand meel gesif het nie en fyngesifte meel vir koekbak is skelm met so ʼn klein handsiffie gedoen wat die antie gewoonlik onder die kooi weggesteek het. Basie wys my sy ma se ou siffie. Die hele meulhuis is gepak met goed uit vergange dae.
Die plaas Kruisrivier is al geslagte in die besit van die Strydom familie.
Ek lees in die voorhuis van die ou huis die volgende: “De Krys Rivier voor aan die Cango, gelegen over de ‘Oliphantsrivier’ was geregistreer in Januarie 1759 in die naam van Johannes Strydom”. Dit was ook die eerste keer dat die naam “Cango” gebruik is. Die ‘Cango’ is blykbaar die bergpieke van die Swartberg oorkant die plaas.
Ek blaai deur die familieregister en merk dat JG Strydom, Eerste Minister van Suid Afrika (1954 – 1958) ʼn afstammeling van Matthys Strydom (1690 – 1711) ook deel van hierdie familie is.
Basie sê dat sy ouma Dirkje (1855 – 1933 ) verskeie sêgoed gehad het : “Fyne Neeltjie skuur sy gat met ʼn baksteen” (iemand wat voorgee hulle is verhewe bo ander maar agteraf knyp hulle die kat), of,”Hoogmoed met lae opslae (iemand wat voorgee om belangrik te wees maar eintlik niks is nie).
Jan-hulle is vandag hier weg om vir die Keniane die Kangogrotte te gaan wys. Ek en Martie het ʼn lekker lui dag van boeklees en rondkuier en met almal te gesels.
Later die middag maak ek en ʼn kerrie groentepot. Almal het twee keer kom skep! Ons drink wyn en gesels tot laataand terwyl Jan sy kamp begin oppak vir môre se vertrek. Dis weereens een van daardie lekker koel aande in die Klein Karoo.
Saterdag 3 Januarie
Na twee weke kom ons vakansie op Kruisrivier tot ʼn einde. Die tyd het gevlieg en ons neem swaar afskeid.
Ek, JR ,Tjommie en Milo het vanoggend vir oulaas langs die rivier gaan stap. Dit is interessant hoe JR as hond ontwikkel het. Hy ken net beperkte spasie en moes vir vyf maande in hondehok by die SPCA bly nadat sy voorbeen geamputeer is en Jan hom daar kom red het. Nou hardloop hy saam met die groot honde, het self ʼn haas opgejaag en speel met die kinders.
Uiteindelik is alles opgepak en gaan groet ons vir Basie en Mandi en al die ander kampeerders om ons. Ons ry tot by die R62 waar ons vir Jan –hulle wag en afskeid neem.
Ek en Martie ry by Calitzdorp aan vir ʼn ontbyt by die Handelshuis en koop lekker wors. Dis 30 grade en 11h00 toe ons daar wegtrek. David Kramer sing: “Die son brand die Langeberge aan die brand”. Die R62 is seker een van die mooiste roetes wat mens kan ry met sy pragtige landskap. Daar by “Ronnie se Sex Shop” staan baie motors en motorfietse soos die mense langs die roete kuier. Die plekkie met die grootste verskeidenheid eetplekke is seker Barrydale, Montagu is net so besig.
By Robertson lyk die wynkelders ook bedrywig. Die N2 is seker ʼn vinniger pad Baai toe maar die R62 bied net soveel meer.
Ons draai regs by Aan de Doorns en ry oor Villiersdorp en Grabouw waar ons weer by die N2 duskant Sir Lowryspas aansluit. Nog een van ons gunsteling roetes. Toe ons die namiddag 14h30 by 10 Uitsig indraai is dit 28 C grade met ʼn noordewind. Ek verlang al klaar weer na die rustigheid van Kruisrivier!
Danie du Toit
4/01/2015