In 2016 besluit ons om die warm weer van die KZN Suidkus op te soek. Ons het jare laas daar besoek afgelê.

 

Ons pak die Ducato Camper en vertrek Vrydag 26 Mei 2017. Sommer net oor Sir Lowryspas stop ons by Grabouw vir ontbyt. Ons ry graag agterlangs tussen die klowe deur Vyeboom en Villiersdorp om dan anderkant Aan de Doorns by die R62 aan te sluit. Die Theewaterskloofdam lyk soos Sossusvlei daar in die Namib. Stop eers by die Aan de Doorns wynkelder om ons voorraad Muskadel aan te vul.

Verby die  Die Theewaterskloofdam (foto regs) en dan verder met die  R62 omdat dit so mooi is al langs die berge af en die Kleinkaroo is pragtig. Maar ai, ons het nie rekening gehou met al die padwerke nie. Vanaf duskant Aston tot regdeur die hoofstraat van Montagu is dit net een groot uitgrawing ! Dit gaan seker ʼn jaar of wat neem voordat daardie pad weer rybaar is. By Barrydale staan oral motors voor die verskeidenheid eetplekkies en verder aan by Ronnie se Sex Shop maak ʼn paar manne keelnat. Ladysmith met sy pragtige Victoriaanse huise fassineer my altyd en ons ry eers ʼn draai deur die dorp. Op Calitzdorp sit die winkelstoepe vol mense en die ander drentel rond. Dis mos Vrydagmiddag en almal kom koop ietsie vir die naweek.

 

Die Huisrivierpas , net duskant Calitzdorp, is seker een van die mooiste bergpasse in die Kleinkaroo en bring spesiale herinneringe. As klein seuntjie op die agtersitplek van my pa se 1951 Ford Consul , is ek die eerste keer oor die pas. Die amperste tweespoor grondpad met loodreg kranse op sommige plekke, die Consul wat klippe skop soos my pa hom teen die steil opdraandes in eerste rat laat uitbeur en my ma se benoude gilletjies. Ons het die vorige aand in die Seweweekspoort langs ʼn riviertjie geslaap – ek en my broer in die Consul en my pa en ma op ʼn matras buite langs die vuurtjie.

 

Die Kleinplasie karavaanpark in Oudtshoorn is ons oornag plek en spog met die mooiste en skoonste badkamers. Ons stap teen skemeraand deur die dorp met sy mooi ou huise. Daar is darem iets aan ʼn Karoo huis wat mens nie op ander plekke kry nie.

 

Die volgende dag ry ons deur De Rust waar mense op die stoepe van eetplekkies koffie drink en ontbyt eet. Ons druk deur tot op Willowmore en is verbaas om te sien hoe bedrywig die plekkie is. Die eetplek, Sophie’s Choice is stampvol en ons eet ontbyt langsaan my Belly’s. Die eienares vertel dat die dorp baie gewild is en geen huise in die mark is nie.

 

Aberdeen is ʼn ander storie. Die dorp lyk verlate en afgeleef. Tog was dit een van die juwele van die Karoo op sy dae. Die kerk se toring is skeef. Hoe het dit gebeur ? Die dorp spog egter met die mooiste volsruispaleise en ander indrukwekkende geboue . Die landroskantoor is een van die geboue wat mens se verbeelding aangryp. Daar loop ʼn storie dat die gebou vir Cradock bedoel was maar dat ʼn amptenaar Aberdeen verkeerdelik aangewys het en eers nadat dit klaar gebou was die fout agtergekom het.

 

Carmen Villa en Pagel House is twee van die volstruispaleise wat uitstaan en is om en by 1897 gebou. Frank Wilke ( nie die sirkusbaas nie), ryk besigheidsman van Aberdeen, koop destyds die sirkus diere van die bekende sirkusbaas William Pagel toe hy in 1947 tot sterwe kom en maak een van die grootste privaat dieretuine in die land. Wilke koop die bekende Claremont House en verander dit na Pagel House ter ere van sy vriend , William Pagel. Aberdeen het selfs sy eie busdiens gehad , bedryf deur GM Schmolle.

 

Graaff Reinet bly ʼn indrukwekkende plek met die pragtige NG kerk in die middel van die dorp. Ons het nie tyd om rond te loop nie en vat die pad Cradock toe. Die Oos Kaap het seker van die mooiste natuurtonele. Die pragtige NG kerk van Cradock is iets wat ek nog graag wil gaan besigtig maar die son trek water en Queenstown lê nog vêr.

 

Op Tarkastad hou ons stil om bene te rek en dit word nou sterk skemer. Ek vra daar vir ʼn jong boer van die omgewing waar die Valschfontein is waar ons gaan oorstaan. Nee sê hy, nog nooit van so ʼn plek gehoor nie ! Toe weet ek sommer ons het nou moeilikheid en dit word donker. Ek het later agtergekom die plek lê 60 km noord van Queenstown op die N6 in die rigting van Sterkstroom. Na ʼn gesoek en gesukkel oornag ons op karavaanplek met die naam Suntsani sewe km buite Queenstown op die Dordrecht pad. Ek het nooit die eienaar persoonlik ontmoet nie en is ingelaat met ʼn hekkode en die R150 oorstaantarief onder ʼn stukke seep in die badkamer gelos. Die ablusiegeriewe was splinternuut met baie warm water. Die nagtemperatuur het by minus drie gaan draai !

 

Ons gooi die volgende oggend brandstof op Dordrecht in. Alles is verlate. Tot die pragtige NG kerk. Dis nou ʼn dorp wat mens weemoedig maak. In die 1970’tigs het ek eendag ʼn boerevergadering bygewoon en alles was toe nog mooi. Dis ʼn pragtige oggend en ons roete neem ons oor Indwe, Elliot, Ugie, Maclear, al langs die Drakensberge af. Dis seker een van die mooiste gedeeltes in ons land. Ongelukkig is daar padwerke op die roete en dis elke paar kilometers stop en ry. Oor drie jaar sal dit ʼn mooi pad wees. Die dorpies het ook baie agteruitgegaan. Duskant Maclear trek ons van die pad af om ontbyt te maak en koffie te drink.

 

By een van die stoppe praat ek met ʼn omie wat ook op pad Port Shepstone toe is en hy sê daar is verdere padwerke anderkant Maclear tot in Matatiele en dat hy oor Tsolo ry om by die N2 uit te kom wat hom direk Kokstad toe neem. Ons maak toe ook so. Dis ʼn pad wat ek baie jare laas gery het met seker een van die langste bergpasse op ons hele roete. Dis nog ʼn ou Transkeipad en mens ry tussen die landerye en klein dorpies deur. By Kokstad trek ons af vir koffie. Dis Sondagmiddag en almal is op pad êrens heen. Dis woelig. Meer as twintig jaar gelede het ek baie in die Mount Currie Motel geslaap maar toe was dinge anders.

 

Ons ry verder met die N2 deur die pragtige natuurlike woude van Ingele met sy inheemse geelhout bome, verby Harding in die rigting van Port Shepstone. Dis Suid Natal op sy beste met die diep klowe en die baie Zoeloe gehuggies. Ons ry Port Shepstone binne en hou Noord al langs die kus tot by Banana Beach totdat ons die ingang van Lalanathi karavaanpark sien. Hier bly ons vir twee nagte oor. Dis ʼn familiebesigheid en die mense dra ons op hul hande. Tipies Suidkus met sy welige subtropiese plantegroei en die warm Indiese oseaan wat mens in die agtergrond hoor brul. Vanaand sal ons net een kombers nodig hê teenoor die drie van gisteraand op Queenstown. Die oggendsonnetjie skyn warm en ʼn T-shirt en kortbroek is voldoende. Ek verneem na ʼn plek waar ons lekker tuisgemaakte Natalse Indiese kerrie kan gaan koop. So sewe kilometers teen die pad af is “Indian Delight” waar die vrou vir ons ʼn goeie porsie Indiese skaapkerrie in ʼn bak uitskep. Vanaand is dit kerrietyd ! Haar samoesas , gemaak met die fynste deegbeslag, is so lekker dat ek weer terugdraai om nog te koop nadat ek die eerste een geproe het.

 

Ons besluit om vir ʼn paar dae op Port Edward te gaan staan. In ons jonger dae het ons gereeld met die kinders daar gaan kamp. Net drie kilometers duskant Port Edward is die afdraai na die TO Strand Karavaanpark. Dis ʼn vyfster park met die pragtigste inheemse bome en spog ook met die mooiste strand aan die Suidkus. Dis buite seisoen en ons en sewe ander kampeerders het die hele plek vir onsself. Ek het eers die volgende oggend besef dat die trop uitgeslape apies ons bewegings fyn dophou en dat ʼn familie kolganse ons bure is. Dan is daar ook nog so twaalf wilde mak katte wat rondhang vir ietsie om te eet. Baie voëls ook. Ons moes egter eers gewoond raak aan die skemerte wat al hier van vyfuur se kant begin toesak.

Foto links: Port Edward se strand.

 

So ʼn entjie weg staan een van daardie kampeerders wat sommer vir drie maande op ʼn slag kamp en die hele land deurkruis. Hy het sy huis op Dwarskersbos verkoop omdat die maandelikse munisipale heffings op sy eiendom onbekostigbaar geword het. Nou bly hy hier vir R2300 per maand , alles ingesluit. Ons sou nog baie sulke seniors raakloop. Die volgende dag waag ek om te gaan swem maar die seewaters van Natal is te sterk vir my bene en vir Australië sien ek nie kans nie.

 

Daar is baie om te doen in die omgewing van Port Edward. Die Beaver Creek Coffee Estate is die mees suidelike koffieplaas in Afrika en lê hoog in die heuwels agter Port Edward. Daar kan mens lekker vars koffie gaan drink. ʼn Entjie aan op dieselfde pad draai jy links af na die plaas Clearwater van die Abbot familie. Die plaas grens aan die Umtavuna rivier, die onderste gedeelte van die bekende Oribi Gorge asook die 3257 ha Umtavuna natuurreservaat ( hierdie reservaat is wêreldbekend vir sy plantegroei en bevat blykbaar ʼn groter verskeidenheid plantspesies as die Kaapse fynbosstreek ). Orals is staproetes langs die Gorge af met sy fantastiese uitsig. Ons kom ʼn groot trop wilde bobbejane teë en dis interessant hoe hulle vir ons wegkruip agter die plante maar ons nooit uit die oog verloor nie. Die Abbotts het ʼn klein restaurant en ons eet die heerlikste tuisgemaakte sop en ʼn koue Hansa.

                  Foto's bo:   Vissermanne by Bazley Beach en die MacNicols karavaanpark.

Die pad na die ou Transkei loop oor die ou geboogde staalbrug, hoog oor die Umtavuna rivier. Nostalgie oorval my as ek dink hoe ek en Chris Steyn in Desember 1968 met my blou 1966 Beetle oor hierdie brug die Transkei se grondpaaie aangedurf het op pad Port St Johns toe. Ook hoe ek en Martie met ons twee klein seuntjies, Jan en Francois, ʼn dagpiekniek op die strand onderkant die huidige Southern Sun Casino maak. Dit was ongekunstelde oop strande in ʼn vergange tydperk van ons land.

 

 

 

Na sewe dae by die heerlike TO Kamp besluit ons om by MacNicols  karavaanpark  by Bazley Beach langs die Ifafa lagune te gaan staan. Dis ʼn familiebesigheid wat deur Angus MacNicol en sy vrou begin is en vandag bekend staan as een van die beste karavaanparke aan die Suidkus. Die pragtige boomryke park is veral vir families ingerig en oor naweke is daar baie jong kinders. Elke oggend 10h30 word gratis vars skons met room en tee langs die swembad bedien. Dis waar jy almal ontmoet en stories uitruil. Dis buite seisoen maar daar staan heelwat senior mense wat vir ʼn maand of meer kamp.

 

 

Daar is natuurlik ook apies wat gedurig rondkyk om iets te gryp. Dan is daar kolganse wat die kamp opgedeel het, elkeen in sy eie gebied : tot ʼn kat word weggejaag ! Ons het daagliks ʼn wilde makou en ʼn wolnekooievaar wat kom kuier. Glad nie bang vir mense nie en die makou het sommer later langs die stoel in die son kom lê. Met die lagune aan die een kant is daar baie watervoëls.

 

 

 

Dis ʼn groot oop strand en gewild onder vissermanne. Die Natalse strande het mos growwe sand, anders as die Kaap se wit sagte sand. Die ander ding is dat die see sommer skerp afval teen ʼn sandbank en die see onmiddellik bloudiep word. Dis gevaarlik om daar te swem en dis hier waar die vissermanne hulle lyne sommer net hier waar die branders breek, ingooi. Een oggend sien ek  ʼn klompie Indiër vissermanne , dis naweek en hulle het gekom om sommer deurnag vis te vang. Hulle het ʼn windskerm en ʼn vuurmaakplek ingerig. Ek stap nader want ek sien een ou met ʼn oranje hemp is daar doenig met ʼn nommer ses driebeenpot op ʼn vuur. Hy het drie hoenders opgesny en is besig om kerrie te maak. Ons gesels oor kosmaak en hy nooi my om oor so twee uur te kom proe.

 

 

 

 

Verder aan sit ʼn vrou op ʼn kampstoel met kosmandjies en goeters. Ek gaan stel my voor : sy is Lovey Govender met haar man Krish en hulle is van Chatsworth in Durban. Die gesprek gaan weereens oor kos en spesifiek die maak van Indiese kerriegeregte. Eers haal sy vir my ʼn toebroodjie uit een van haar Tupperware bakke : dis gevul met ʼn kerrievulsels wat my smaakkliere laat bollemakiesie slaan so lekker is dit. Toe deel sy haar kerrieresep met my asook die mengsel van hoe dit aangemaak word. Ek noem dit “ Lovey Govender’s Best Indian Curry Recipe” en as iemand dit wil hê sal ek dit aanstuur !

 

 

 

Ek stap later weer om te gaan kyk hoe lyk die hoenderkerrie in die nommer ses pot. Daar word ʼn porsie vir my uitgeskep. Ek is verbaas om te proe dat dit glad nie uitermate sterk is nie maar die geure is heerlik. Ons gaan goeie vriende uitmekaar en kry sommer die orige potjie kerriepoeier om huis toe te vat. Die Indiër mense is geweldig vriendelik en baie behulpsaam en dis iets wat ek altyd sal onthou van my werksdae in Pietermaritzburg.

 

 

 

Aan die Suidkus is daar heelwat gholfbane en die lekkerste plekke om te eet is by die klubhuis. So besoek ons Scottburgh gholfklub maar die uitstaande een is Umdoni Buiteklub by Pennington met sy 70% see-uitsig op ʼn 200 ha inheemse woud. Daar eet ek die geurigste Indiese skaapkerrie. Vriende van Umtizini vanaf  Zoeloeland kom eendag kuier en ons gaan eet weer lekker sterk kerrie by die Sugar Barron restaurant net langs die Rocky Bay karavaanpark. Die wind het daardie dag sterk suid gewaai en toe kom ek agter dis nie net in die Kaap waar die wind waai nie.

 

 

 

So kom ons vakansie aan die Suidkus tot ʼn einde en die Sondag ( Vadersdag) vat ons die pad Pietermaritzburg toe om by vriende te gaan oorslaap. Ons het al vergeet hoe baie mense in die groter Durban omgewing bly en die verkeer word ook nie beter nie, veral die besige N3 noordwaarts. Dit was weer lekker om die bekende bakens van die dorp te herken waar ek sedert 1968 tot 2002 woonagtig was. Ons ry by ons ou huis in Davenport 5, Montrose verby en ek merk dat die East African Mahogony wat ons dertig jaar gelede op die sypaadjie geplant het en wat klein genoeg was dat die agtjarige Francois los bo-oor kon spring nou onlangs afgesaag is en sy stam amper ʼn meter in deursnee is! Pietermaritzburg bly ʼn pragtige plek met sy groot bome en tuine en het seker die lekkerste klimaat in die land. Die mense lyk egter anders as die Kaapse spesies !

 

 

 

Maandagoggend vertrek ons noordwaarts maar ry eers by Hilton aan ,al met die ou pad verby die Cross Ways Hotel , af met Emmerentia laan tot by ons ou huis wat ek destyds as eienaar bouer staangemaak het. Baie nostalgies en die buurt het min verander.

 

 

 

Ons klim weer op die N3  grootpad noord, verby Cedara, Merrievale en Howick en trek af by die Ultra City anderkant Estcourt vir koffie. Verder aan draai ons af Winterton toe waar ons weer stilhou om biltong  koop. Deur Bergville en op met die Oliviershoekpas verby Little Switserland. Die pas is pragtig geteer en die pad al langs die Sterkfonteindam is oorgebou. Dit bly darem een van die indrukwekkende damme in die land en sy watermassa lyk soos Valsbaai hier in die Kaap. Links op die R712 na Golden Gate verby Phuthaditjhaba. Die geel kranse van Golden Gate bly indrukwekkend en pragtig. Ons merk daar is niemand in die karavaanpark nie – seker die koue. Op Clarens ry ons by ʼn ou vriendin aan vir koffie en koek. Om elke hoek en draai is daar ʼn eetplekkie of kunsgalery en die plekkie straal ʼn lekker atmosfeer.

 

 

 

Donkeraand sleep ons Ladybrand binne en soek die Little Rock ontspanningsoord. Ons is die enigste mense in die kampterrein, alles is mooi skoon en die water warm en met sonop die volgende oggend is ons verras om te sien hoe mooi die plek is. Daar wei ʼn paar mak ponies en hulle kom vra iets om te eet, hulle is gewoond aan mense. Hulle kom eet die oorskiet brood uit my hand en gaan keer die vullisdrom om vir nog iets. Dis ʼn lekker fris vyf grade toe ons daar wegry.

 

 

Ons ry so dertien kilometers op die N8 voor ons links afdraai op die R26. Ons sien die afdraai links na die Armenia dam maar besluit om nie te gaan kyk nie want die pad is nog vêr maar ons draai tog af om deur Hobhouse te ry. Dis ʼn klein verwaarlose dorpie uit vervloë dae. Nes mens oor die Caledonrivier gaan draai die R26 links. Dis pragtige wêreld met die Lesotho grens aan jou linkerkant, al langs die berge af. Eers draai ons af om deur Wepener te ry.

 

Ek wens ek weet meer van die geskiedenis van die ou dorpie wat na ou Generaal Wepener vernoem is. Voor die stadsaal (foto links) is daar ʼn bronsbeeld van die ou boeregeneraal, so tussen die rommel en die lang gras. Die stadsaal, in 1929 gebou, is in ʼn toestand van uiterse verwaarlosing , die regterkanse vleuel deur ʼn brand verwoes. Dit was ʼn pragtige gebou op sy dae en mens wonder hoe was dit moontlik om so ʼn grandiose gebou op ʼn plekkie soos Wepener te regverdig. Die deure hang skeef en ek stap die gebou binne en verwonder my aan die kandelare wat uit die geperste staal plafon hang. Op die verhoog hang nog stukke van die groot blou gordyn. Agter is die galery met die trappe op na die kloktoring. Hoeveel konserte en gebeurtenisse het nie oor die jare hier plaasgevind nie? Die houtvloer is nog pragtig behoue. Is dit dan moontlik dat ʼn gemeenskap so ʼn bate net so kan los om agteruit te gaan en dit nie self gebruik nie al kom dit uit ʼn kultuurgroep uit die vorige bedeling.?

 


 

Ons ry deur die dorp maar sien nie een blanke persoon nie. Harde musiek stroom uit sekere klein besighede. Ek sal nie weer hier aanry nie want die agteruitgang is net te ontstellend. Ek voel bedruk.

 

 

 

So 29 km verder links wys die bordjie : Van Stadensrus. Ek sien die Caledon Natuurreservaat en die Welbedachtdam is nie vêr daarvandaan nie. Die ou gehuggie bestaan hoofsaaklik uit ʼn paar huise en ʼn polisiekantoor. Wat my egter fassineer is die ou Van Stadens Hotel , gebou in 1929 (foto onder).

Dit is baie verwaarloos maar moes ʼn pragstuk op sy dae gewees het. Wie het so ʼn mooi gebou daar opgerig en hoekom ? Die oorspronklike hoofingang en portaal is nou ʼn begrafnisonderneming.

 

 

Ons ry by Zastron verby maar draai by Rouxville in. In die hoofstraat is kafee en eetplekkie met ʼn groen geverfde 1939 boggelrug Ford as deel van die blomtuin.

 

Waar het daai Ford in sy dae rondgehardloop en hoe het hy binne geruik toe sy eienaar die eerste keer op sy nuwe leerbekleedsels agter die groot stuurwiel inskuif ? Het die antie ʼn wyerand hoed opgehad ?

 

 

 

Aliwal-Noord lê voor ons. Ons ry oor die ou brug, oor die magtige Oranje, op met die bultjie, die dorp se hoofstraat binne. Ons kry slegs een plek waar dit lyk of mens kan koffie drink. Waar is die dae toe mens in die pragtige warm swembaddens kon ontspan en saans in die kampplek om ʼn braaivleisvuur kon staan. Dis ʼn besige plek maar verwaarloos. Nee wat, ons stoot maar aan in die rigting van Burgersdorp met sy pragtige ou kerke. Terwyl Martie voorrade aanvul by die Spar sit ek in die Camper die wêreld en bekyk. Orals sien jy mense doelloos rondstaan  terwyl sommige jong mense in ʼn vullisdrom rondkrap. Dinge gaan hier swaar soos maar orals op die platteland. Hierdie is nie goed vir ons land nie.

 

 

 

Ons neem die R391 en draai later regs op die R56 en ry deur Steynsburg. Vroeër dae kon mens die lekkerste pasteitjies by ʼn tuisnywerheid koop. Ons ry al met die hoofstraat langs en draai regs op pad Middelburg toe. Die Groot Karoo maak voor ons oop en berge en koppe is pragtig. Dit raak laat en ons stop nie in Middelburg nie. Oor die pragtige Loodsbergpas ry ons, af in die uitgestrekte vlakte. ʼn Week nadat ons oor die pas is, het dit met die groot koue toegesneeu. Ons slaap in die Profcon Country Cottage karavaanpark in die middel van Graaff-Reinet en vertrek vroeg die voggende oggend om op Aberdeen ontbyt te eet. Daar is net een plek in die hele dorp met ʼn eetfasiliteit, die Blue Door. Ons sit op die stoep. Langs ons is harde steurende musiek. Ek stap oor en ontmoet ʼn man van Ethiopië wat sy broer se winkel bestuur. Hy verkoop komberse, skoene en allerhande snuisterye en bly in ʼn kamer agter die winkel. ʼn Heel aangename ou, hy vertel die meeste mense van daardie land is Christenmense.

 

 

 

Aberdeen het nie eens ʼn ordentlike groot winkel nie en oral staan mense rond. Die vrou by die eetplek vertel snaakse mense kom bly daar want behuising op die dorp is goedkoop en hulle kry gewoonlik ʼn maatskaplike toelaag. Die pragtige ou wonings van vervloë dae is egter iets besonders. Hoe kan so ʼn eens vooruitstrewende dorp so agteruitgaan.

 

 

 

Duskant Willowmore ry ons by die Beervleidam verby. Ek het nog nooit daar water gesien nie. Ons ry hierdie keer Willowmore mis maar draai af en ry deur Uniondale. Mooi skoon en pragtig met heelwat eetplekke. Verby die skoolkoshuis waar ek en Danie Lombard altyd die aand geslaap het voor die Karoo to Coast bergfietswedren na Knysna. ( Danie is die ou wat al die meeste hierdie wedren gery het, al vyftien van hulle !)

 

Duskant Middelburg (foto links) is dit mooi wêreld.

 

 

Die Outeniqua bergpas bly maar indrukwekkend met George wat daar doer onder uitstrek. Oor die jare het George in ʼn baie mooi plek ontwikkel. Ons is lus vir koffie en ry eers by die De Bakke restaurant daar onder langs die rivier op Grootbrak aan. Nie ʼn plek wat ek sal aanbeveel nie behalwe as jy dit in die aand besoek sodat mens nie kan sien hoe slodderig dit is nie. Dis altyd ʼn mooi stuk pad van Mosselbaai Kaap toe. Die N2 is in ʼn goeie toestand. Ons stop weer by Riviersonderend se nuwe fasiliteit soos jy die dorp van daardie kant af inry. Toe ons by Caledon kom word dit skemer en oor Grabouw ry ek moeilik. Dis darem altyd ʼn lekker gevoel as mens bo-op Sir Lowryspas kom en jy kyk so oor Valsbaai. Dis 21 Junie en ons is weer tuis !