Vir my wat van Hopefield kom, was Velddrif altyd n besonderse plek. Die mense het anders gepraat en ook soms anders aangetrek. Dan natuurlik die reuk van vis wat so in die windjie hang.

 

Ek gaan kuier een naweek saam met Groeimeel Mostert op Nuweplaas , so ʼn ent weg op die Aurora pad. Dit was die jaar 1958 en ons is in standerd agt.

 

Die Saterdagoggend laai Oom Sypie Mostert sy navyblou Hudsen bakkie vol groente en ek en Groeimeel ry saam om te help smous.

 

Dis die eerste keer dat ek op Pampoengat kom. Ek het nie eens geweet daar bestaan so ʼn plek op Velddrif nie en kry die indruk die mense daar kry swaar. Daar kom ʼn antie met ʼn lang swart rok aangestap om ʼn kop kool te koop. Sy het ʼn vreeslike hees stem, so asof sy ʼn borskwaal kan hê. Ek kry haar jammer en ek sien Oom Sypie gee ekstra groente.

 

Ek hoor later dat sy twee seuns gehad het. Die een se naam was “All” of so iets. Ek kon nie die ander seun se naam onthou nie.

 

Die storie loop dat die twee seuns stry gekry het oor wie die eienaar van ʼn roeibakkie was wat hul by hulse pa geërf het. Op die ou einde kry hulle die slim plan om die bakkie in twee te deel. Hulle het lank gesaag en op die ou end lê die bakkie netjies middeldeur. Hulle het ʼn pennie opgeskiet sodat een eerste kan kies. “All” kon eerste kies en vat toe die voorkant.

 

Is daar nog meer sulke stories oor daaityd se Velddrif mense ?