Almal vertel mos ʼn mens moet fiks bly as jy ouer word veral as daardie pens sommer so van nêrens af begin aansien kry. “ Ry fiets man! Het jy gehoor van die 80 jare ou ballie wat elke jaar die Argus ry?”

 

Ek kan nie onthou dat my pa-hulle ooit fietsgery het nie want hulle het hoede gedra en hoe ry jy ʼn dikwiel Herculus met een hand terwyl jy met die ander hand jou hoed op jou kop vasdruk.

 

So koop ek ook destyds vir my ʼn bergfiets met al die goeters wat daarmee gepaardgaan. Wat ʼn belewenis om die eerste keer een van daai stywe broekies met die ingeboude “pad” op die gat aan te trek. Eerstens is jy onseker of jy jou onderbroek moet aanhou of nie en of jy dit moet vryebalbeleid vat. Onthou daar moet nog plek oor wees vir ʼn smeersel Blue Seal Vaseline waar dit skaaf. Die oggend toe ek vir die eerste keer opsaal kom die probleem met die opsit van die valhelm: watter kant is voor en watter kant is agter? Ek bel vir Nic Mostert en al antwoord wat ek kry is die kant met die minste windweerstand moet voor wees. Ek is toe daar weg sonder die helm want sê nou net ek het die verkeerde kant voor. ʼn Mens raak later gewoond aan die Zulu anties langs die pad wat vir jou lag en die bure wat agter die gordyne loer. Almal van ons lyk nie soos Lance Armstrong nie, veral as jou pens hier oor die dwarsbalk skuur en die stywe broek nie alles toemaak nie. So word ek ʼn ervare fietsryer met 10 ‘Argusse’ agter die blad en ʼn paar ‘extreme’ veldwedrenne met my bergfiets.

 

Fietsry is nie sonder ongelukke nie en daarvan kan ek getuig: twee keer ribbes afgeval, skouer se ligamente geskeur asook harsingskudding opgedoen. Toe my vriend Jan Beukes van Pietermaritzburg my nou die dag vertel dat sy swaer Chris Hattingh van Pongola op sy oudag ook begin baaisiekel ry, het ek gewonder of ek vir Chris moet laat weet van die gevare van fietsry. Nee dink ek, wie sal nou beter weet as Jan Beukes self, hy het mos die ervaring.

 

Jan en Martha Beukes was jare ons bure in Pietermaritzburg en het later verhuis na ʼn kompleks aan die oorkant van die dorp aangrensend aan die ou Roy Hesketh motorrenbaan. In my studentejare in PMB het ons dikwels gaan kyk hoe Basil van Rooyen en Koos Swanepoel sake uitspook met “Anglia”s en Alfa”s. Vandag is die baan in onbruik en gebruik mense dit vir allerhande soorte ontspanning veral draf en fietsry. Omdat Roy Hesketh teen ʼn heuwel lê is daar opdraandes en afdraandes met skerp draaie wat dit nie ideaal maak vir fietsry nie maar linksom is makliker as regsom. Op die baan se onderste punt is daar ʼn skerp draai na redelike steil afdraandes vanaf teenoorgestelde kante. Dis waar die Alfa die Anglia ore aangesit het. Ek het jare later vir Koos Swanepoel ontmoet en hy het dit beaam. Jan Beukes sal ook later met daardie draai kennis maak maar op ʼn heel ander manier.

 

Die kleiner tuin van Jan se nuwe meenthuis het veroorsaak dat hy begin uitsit in plekke waar vantevore spiere was en Martha spreek hom aan dat hy moet begin oefen want hulle kan nie elke maand nuwe broeke koop nie – hulle is nou pensionarisse. So word daar besluit dat Jan moet begin fietsry om gewig te verloor en Martha sal stap. Om ʼn braaivleisvuur oorreed Jan vir Frans Muller om ook te begin fietsry terwyl die vrouens saam kan stap. So sal hulle saam-saam die vetjies afwerk.

 

By Jowetts Cycle Shop in Victoriastraat koop Jan en Frans vir hulle elkeen ʼn bergfiets met 27 ratte. Met die aanpas van die fietsryklere ontstaan daar toe ʼn klein probleempie. Fietsryklere is stywe goed en met diè wat hul lywe so uitgeswel het wil die ‘sizes’ nie lekker uitwerk nie. Kry jy ʼn stywe broek wat om jou pens pas hang die pype onderkant die knieë. Trek jy jou maag in sodat die pype bokant jou knieë pas, spring die rek af as jy weer uitblaas! So probeer hulle alles (terwyl die jong assistente van die winkel agter hul hande giggel) maar niks werk nie. Eenkant staan so ʼn maar ou omie, bruingebrand van jare in die saal in wind en weer. Hy kom nader en sê vir Wally, die eienaar, hy het die oplossing: kruisbande! Pas ʼn broek aan waar die knieë reg sit en knip dan die rek af en hou die broek op met kruisbande! Die fietsryhemp kom bo-oor en niemand sien die kruisbande nie behalwe as iemand anders jou hemp uittrek (wat onwaarskynlik is maar toe wel gebeur het).

 

Wally maak hulle mooi touwys hoe om al 27 ratte te gebruik, veral teen bulte. So begin Jan en Frans fietsry. Vroeg soggens nog voor sonop is hul op die fietse terwyl die vrouens stap. Eers ry hulle net op die gelyktes in die straat bokant die kompleks en soos hulle meer ervaring opdoen met die balans en die ratte besluit hulle om die Roy Hesketh te vat. Die steil bulte neuk maar hulle kom gou agter hoe om dit in laagste rat uit te ‘spin’. Die afdraandes is ʼn plesier en vreesloos word dit met spoed afgejaag.

 

Hulle kom elke tweede oggend bymekaar. Op ʼn sekere oggend besluit Jan hy sal sommer op sy eie gaan ry en neem die maklike roete met die steil afdraand. Dis voor sonop en hy vlieg met ʼn vaart teen die bult af dat die Hadidas al skreeuend moet padgee. Hy wonder of Koos Swanepoel destyds so moes gevoel het in sy Anglia. Die gras langs die baan is lank en belemmer die uitsig om die draaie. Toe Jan daardie laaste draai vat is hy op vol spoed en hy lê eintlik so vooroor op die ‘handles’ om nog spoed te kry. Halfpad deur die draai gewaar hy ʼn beweging van voor af maar die gras is te lank om behoorlik te sien. Te laat my broer! Skielik doem Frans hier voor hom op, ook op volle vaart! ʼn Mens sien mos altyd daardie TV advertensie waar die twee bokke met die lang horings so teen mekaar vashardloop. Hierdie keer was dit egter twee ou bulle op fietse! Jan sê die laaste wat hy kon onthou, is Frans se mond wat so groot oop was dat hy sy kleintongetjie kon sien.

 

Die vrouens het ook die betrokke oggend gaan stap en toe hulle om die draai kom sien hulle die twee lê. Uit soos kerse! Nie een roer nie. Hulle is histeries, deurmekaar en bekommerd van skok want dit lyk sleg. Eers toe die paramediese hulle in die ambulans laai kom hulle by. So is hulle sy aan sy hospitaal toe met versteekte kruisbande en al. Frans met ʼn gebreekte kakebeen, vyf van Jan se ribbes is af of gekraak en dis net bloeiende nerwe waar jy kyk. Albei doen harsingskudding op met geheueverlies.

 

Hulle het eers lank daarna vrede gemaak want dit is nogal moeilik om jou self uit te druk met ʼn kakebeen wat met drade aanmekaar gebind is en die ander ou kan nie sy arms optel om te beduie nie. Dis wonderlik hoe ʼn ou skaaptjoppie oor die kole weer vriendskapsbande kan smee, ʼn man moet net nie fietsrystories gesels nie.

 

Danie du Toit

 

Januarie 2015