TANDETREK IS NIE KINDERSPELETJIES NIE
Die afgelope tyd het ek deur diep waters met my tande gegaan. Daar is gewortelkanaal, uitgeslag, uitgetrek en weer in die vorm van implantate teruggesit. Tussenin moes ek maar tevrede wees met sagte kossies en rooi jellie.
Nou is dit mos so dat ʼn mens eers iets werklik waardeer as jy dit skielik verloor. So is dit ook met tande, as jy skielik nie meer kan hap daar waar jy altyd kon gehap het nie, dring die werklikheid deur. Is daar dan iets van ʼn mens meer pyn en ongemak kan verskaf as ʼn seer tand? Die geweeklaag van ʼn babatjie wat tande sny – dit moet erg wees as die goed so deur die tandvleis beur, net om later in jou lewe weer met dieselfde pyn uitgetrek te word. Toe my oudste seun op ses maande tande sny en so aanhoudend huil, gee iemand die raad dat brandewyn help. Ek het egter sleg geluister en in plaas van om dit aan sy tandvleis te smeer, gee ek hom sommer die hele teelepel in. Het eers rooi geword, toe blou en toe skree hy dat die bure aangehardloop kom. Maar nie vir lank nie, want toe knik sy kop en hy slaap vir twee ure.
In my kinderdae onthou ek hoe die plaasmense met ʼn doek om die gesig hier vanaf die onderkant van die kennebak tot bo – oor die kop met ʼn knoop vasgemaak, geloop het. Die pyn is dan met naeltjies en brandewyn gedokter.
Tydens ons kinderdae in Hopefield aan die Weskus was mondhigiëne maar gebrekkig en menige aand het jy met ʼn soetdingetjie in jou mond gaan slaap. Tandeborsel was ook nie ʼn prioriteit nie. Tandartse was skaars en Dr. Wynand Malan het een dag in die maand vanaf Vredenburg na Hopefield gekom waar hy in ʼn sykamer van die stadsaal ʼn spreekkamer ingerig het. Vir hom was ons banger as vir Antjie Somers. Dit was regtig ʼn vreesaanjaende ervaring om tandarts toe te gaan want bangmaakstories het jou kop laat draai. Die dik naald wat tot hier by jou mangels ingedruk word en die bore met die groot ronde koppe wat tot duskant jou brein boor! Boetie Rooikoos vertel die tandarts het so diep geboor dat daar later water uit se een oor geloop het!
My eerste besoek aan Dr. Malan op ʼn warm Woensdagmiddag in 1958 kon ek nog goed onthou. Wat my die eerste opgeval het, was die ruik van amper iets soos gemaalde naeltjies en dan die snaakse tange en goeters wat op die tafeltjie in ʼn ronde plat glasbord gerangskik lê. Die snaakse blou stoel met roomkleurige insetsels het onder amper iets soos ʼn voetpomp gehad waarmee die tandarts die stoel hoër of laer laat gly het. Die boormasjien het my beïndruk –ʼn kontrapsie met dun belde wat oor poelies loop met die lang arm waaraan die boor vas is. Op die vloer was ʼn pedaal wat die tandarts trap om die boor se spoed te beheer. Buite het ʼn kompressor geloop want die hele kontrapsie het met lugdruk gewerk.
Saam met die tandarts was daar ʼn verpleegster tante met ʼn stywe wit uniform en die kappie op die kop wat met spelde vasgesteek was. Haar moue was ook hier van die elmboë met ʼn vou boontoe getrek. Sy was opgelei om mense te kan vasdruk wat wil afspring !
Waar meeste ouens ʼn knou gekry het, was met die inspuiting, tot vandag toe! Dit was ʼn groot blink spuit met ʼn handvatsel waar die wys – en middelvinger deur sulke ringe gesteek word om lekker te kan vat en die duim het dan die silinder met verdowing ingedruk. Die silinder van die spuit het oopgeklap sodat die tandarts ʼn glasbuis vol verdowingsmiddel, met sulke rooi proppies aan elke kant, ingedruk het. As hy hom toets met die straaltjie wat so by die dik naald uitspuit moet jy weet jou einde is nou naby. Die bitter smaak van die verdowingmiddel en die naald wat al hoe dieper ingedruk word en soms ʼn senuweetjie raak wat jou uit die stoel laat rys, is blywende indrukke.
Die boordery was erg. Eers met sulke klein boortjies al in die ronde. Dan skroef die man ʼn boorpunt aan met so ʼn groot ronde kop. Dit klink soos n stomp vleismeul hier in jou verhemelte en jy loop draai baie naby harsingskudding soos dit vibreer. ʼn Mens ruik gebrande been en later die smaak van naeltjies voordat die vulsel ingewerk word.
Tandetrek is gewoonlik deur die plaaslike dokter gedoen. Ou dokter Smit het oorkant die Soutrivier in ʼn pragtige Victoriaanse huis gebly met ʼn spreekkamer wat op die groot stoep uitgeloop het. Hy was kort van draad en met min simpatie. Tande is sonder enige verdowing getrek. My ma vertel hoe hy eendag haar tand moes trek en dat sy so geskree het dat die mense aan die anderkant van die rivier by Gabie se winkel uitgestorm het om te kyk wat aangaan.
My oupa Koos wat eens op ʼn tyd veldskoene gemaak het, moes ook soms ʼn tand trek omdat hy sulke lekker tange gehad het. Ek het hom uitgevra en hy vertel as jy ʼn tand lekker vas kan vat met ʼn krombek tang is dit net so goed jy trek ʼn ou sesduim spyker uit ʼn balk. Jy moet blykbaar agter die man staan sodat hy jou nie kan raak skop of slaan nie. Agterna gee jy hom asynwater om sy mond uit te spoel. Hy vertel van die ou plaasmense het geweldige diep tandwortels gehad weens die baie harde kosse wat hul kleintyd moes eet. Hoe harder ʼn mens byt hoe dieper groei die wortels die kakebeen in. Dis amper soos ʼn bloekomboom wat sy wortels al hoe dieper instuur om te gaan water soek. As jy so ʼn tand moes trek is dit nie een man se werk nie want daar moet omtrent vasgehou word en twee mense moes alkant die man se arms vasdruk. So ʼn slagoffer is darem altyd met ʼn slukkie brandewyn getroos.
ʼn Mens hoor baie stories van hoe sterk party mense se tande is. Daar het ʼn oom op Portugeesfontein gebly wat baie lief vir vaaljapie was en omtrent enige iets sou doen vir ʼn kannetjie. Van die ondeunde plaasmense het dan ʼn kompetisie gehad : die man wat die vinnigste ʼn pruimpie van ʼn rol tabak kon afbyt kry die kan vaaljapie. Hulle steek dan ʼn draadjie in die pruimtabak wat oom Klaas moes afbyt. Hy het elke keer gewen!
Wie kan ʼn Wilson toffie onthou ? Daar was nie nog ʼn ding wat ʼn tandvulsel so maklik kon uithaal nie !
Vandag se tandheelkunde is so gevorderd dat niemand meer vir ʼn tandarts hoef bang te wees nie. Tog, dis ʼn goeie langtermynbelegging om mooi na jou tande om te sien.