TEGNOLOGIESE VOORUITGANG

 

SOSIALE AGTERUITGANG

 

 Vir diegene van ons wat in die veertigs die lig gesien het, is die hedendaagse tegnologie waarmee ons gebombardeer word soms ʼn nagmerrie en die ergste van alles is hoe onsimpatiek ons kinders is as mens hulp vra. (Ai, die oumense is so lastig!) Jan, dis nie toepassing op jou nie!

 

Tydens ons grootword jare het kommunikasie tegnologie bestaan uit handsentrales en plaaslyne. Vir ons ouers was dit wonderlik. Baie huishoudings op die platteland het nie eens ʼn telefoon besit nie.

 

 

 

Deellyne of plaaslyne was die orde van die dag met ʼn hele paar gebruikers op een lyn, elkeen met sy eie luitoon. As die telefoon lui moes jy mooi luister en mag slegs optel as dit jou luitoon is, bv. twee kortes en een lange. Ons nommer was 1822, dus twee korters gevolg deur twee langes. Afluister was ʼn gewilde tydverdryf en ou Fanie Carstens, met wie ons ʼn lyn gedeel het, het gereeld afgeluister maar sy teenwoordigheid is verklap deur sy swaar asemhaling en dikwels gesnork. Nou ja, dit was ook ʼn manier van sosiale interaksie en seker die voorloper van Facebook. Die telefoon het altyd in die voorportaal teen die muur gehang en die latere modelle op ʼn tafeltjie met ʼn lekker gemakstoel vir lank sit. Al die telefone het ʼn slinger gehad wat jy eers moes draai om die sentrale te kontak. Sy of hy het dan die nommer gevra en jou deurgesit.

 

 

 

In daardie jare het meeste goed met slingers gewerk. Die ouer model karre moes mens met ʼn slinger ‘start’, so ook ʼn Lister enjin. Wil jy musiek maak met ʼn grammofoon draai jy eers sy spring styf met ʼn slinger en as ou Bing Crosby begin stadig sing moet jy weer die slinger draai anders maak ou Bing dit nie tot die einde nie. ( ʼn Platejoggie is al ʼn ou ding). ʼn Roomafskeier het met ʼn slinger gedraai met ʼn klokkie wat ritmies lui. Om botter te maak het jy ʼn slinger gedraai. Maak jy wors of maalvleis draai jy die meultjie se slinger. ʼn Petrolpomp het met ʼn slinger gewerk. So, ons kon slinger draai!

 

 

 

Die koms van ʼn nuwe telefoondiens en instrumente sonder slingers met jou eie private lyn, het dinge baie verander en vertroulike gesprekke kon gevoer word.

 

 

 

Dit was vir ons nog steeds ʼn wonderlike stuk tegnologie en toe ons as jong manne in die sewentigs in Pretoria begin werk, het ek baie belangrik gevoel want op my lessenaar het my eie telefoon gestaan. ʼn Swarte. Dit het ook ʼn nuwe speelding geword en Junior Ferreira se tydverdryf was om Vrydagmiddae die telefoonboek te neem en waar sy vinger op ʼn nommer val dit te skakel. Dan het die gesprek soos volg geloop : “Middag mevrou. Het jy ʼn yskas? “Ja”. “Ag mevrou gaan kyk tog gou of hy nog loop”. “Ja hy loop”. “Nou gaan maak toe die deur dat hy nie wegloop nie!”

 

 

 

Die publieke telefoon het bekend gestaan as die ‘Tiekieboks’ want die meeste van die tyd moes jy ʼn tiekie ( twee en ʼn halwe sent) by sy gleuf ingooi om te kan bel. Baie ouens het ʼn ‘lang tiekie’ gebruik om verniet te bel. (dis ʼn tiekie wat aan ʼn draad vas was en wat jy weer terugtrek nadat die oproep deurgegaan het). Dit was moeite om iemand te bel. Om oorsee te bel was n helse ding en ook baie duur en ʼn spesiale operateur moes dit hanteer.

 

 

 

Dit was opvallend hoe hard mense gepraat het as hulle ʼn telefoon gebruik het. (dis vandag nog ʼn tendens). Daar was ʼn oom met die naam Frikkie ‘Hardskree’ van Velddrif wat as hy winkel toe bel het hulle die gehoorbuis op die toonbank neergesit sodat almal kon luister wat hy sê. Dan het die gehoorstuk so lê en bewe soos hy praat. “Speaker phone” van daai tyd!

 

 

 

Die eerste faksmasjien was ook ʼn tegnologiese wonderwerk en niemand kon verduidelik hoe mens ʼn stuk papier in ʼn masjien kan indruk en dit kilometers verder op ʼn ander plek uitkom nie.

 

Dan was daar die eerste elektriese optelmasjiene. Voor dit was dit die Facit handmasjien met ʼn slinger (alweer!) wat ʼn klokkie laat lui soos jy hom vorentoe en agtertoe draai om op te tel, deel of te vermenigvuldig. In ʼn biometrie eksamen op universiteit was dit ʼn nagmerrie. Die Landbou- ekonomie afdeling van Natal Universiteit het ʼn elektriese optelmasjien gekry wat die Prof in sy kantoor gehou het met ʼn boek wat studente moes teken as jy dit wil gebruik!

 

 

 

Toe kom die selfone. Ek kan goed onthou toe ek die eerste keer een gebruik het. Die foon het aan ʼn advokaat met die besonderse naam van Ploos von Amstel behoort en hy het dit vir my tydens ʼn middagete geleen om die kantoor te bel. Dit was ʼn groot statussimbool om ʼn selfoon op jou heup in ʼn houer te dra waar almal dit kon sien. Jy het beslis gearriveer met so ʼn stuk tegnologie op jou heup en as jy die foon boonop in jou motor laat inbou, was jy ʼn ‘Buka Mina’. ( Zulu vir kyk vir my). Later het die selfone algemeen bekend geword en jou status is bepaal oor hoe klein die instrument is. Toe my tuinjong eendag opmerk : “Oubie, ma daai ismossie nie ha foun nie, dis ah weapon!”, het ek besef die tegnologie het my ingehaal.

 

 

 

Selfone het op snaakse oomblikke en tye begin lui, bv. tydens ʼn kerkdiens of in ʼn fliek. Dan soek daai antie darem die foon in haar deurmekaar handsak! Mense het ook die fone op ongewone plekke gebêre. Ek het eendag gesien hoe ʼn groot vrou dit hier tussen haar borste uithaal. In die Mall sien ek eendag twee ou balies met ʼn foon aan ʼn lang silwer ketting om die een se lyf vasgemaak terwyl die ander een op sy knieë voor hom staan en praat--- die ketting was te kort dat hy regop kon staan. Almal het ook die grappie geniet van die stem wat sê: “ Druk daai knoppie! Druk daai knoppie!!! Druk daai f....n groen knoppie!!!!”

 

 

 

ʼn Ander stukkie tegnologie wat die wêreld verander het, was die koms van die bankkaart of kredietkaart. Daar is vandag nog van my vriende wat eerder hul vrouens laat geld trek by ʼn OTM want hulle is bang vir die ding. Die dae wat jy by ʼn bank of poskantoor kon instap en geld trek is verby. Met my eerste bankkaart in my sak land ek op JHB lughawe en stap ewe kordaat na die OTM om geld te trek. Alles werk mooi totdat die masjien ʼn pin vra en net daar kry ek my eerste knou. Tot vandag toe kan ek nie daai kode onthou nie en het die kaart somer weggegooi.

 

 

 

Rekenaars was maklik en miskien nog steeds, die mees frustrerende stuk tegnologie. Dit was wonderlik as jy ʼn sekretaresse gehad het wat alles kon doen maar met aftrede het dinge by die huis met jou tuisrekenaar begin lol. Eendag het my rekenaar net besluit tot hier en nie verder nie. Ek laat toe ʼn

 

rekenaarkundige kom maar na ʼn halfuur het hy ook tou opgegooi met die woorde: “Oom jy het die ding so opgef...k dat geen mens iets hiermee kan uitrig nie!” Ek het die ding net so in die asdrom gegooi en ʼn nuwe een gekoop. Die probleem met ons ouer garde is die vrees dat ons iets sal breek en miskien die rede hoekom ons so onbeholpe met die nuwe tegnologie is. Hoe dan anders, ons is in ʼn era grootgemaak waar die oumense ons gedurig vermaan het om tog nie iets te breek nie!

 

 

 

Vandag besit ek ʼn laptop en ʼn ipad en werk altwee sommer gelyktydig! Lekker man,lekker! ( Dis soos toe ek vir ou oom Hennie Oukop gevra hoe speel mens ʼn konsertina was sy antwoord : “ Ou seun jou linkerhand moet net nie weet wat jou regterhand doen nie!”)

 

 

 

Dinge raak ook nie beter nie. TV’s met PVR’s, musieksentrums met ‘remotes’, navigasiestelsels in jou motor , noem maar op. Toe ʼn vriend van my nou die dag ʼn nuwe raakskerm radio/navigasie/agtertoeloer kamera/ blue tooth....... en goeters in sy motor laat insit vra die verkoopsman of daar nog kinders of kleinkindres by die huis rond is. Blykbaar moet hulle so 10 of 12 jaar oud wees anders is jy verlore!

 

Terug by selfone. Die nuutste is ʼn slimfoon. Nou is ʼn klein foontjie wat jy in jou broeksak kon hou uit die mode. Nee Boeta, dis nou ʼn groot plat ding wat jy met twee hande moet werk. Die hele wêreld lê opgesluit in daai ding as jy al die knoppies kan werk. Dit is egter die mees antisosiale stuk tegnologie wat nog ooit uitgevind is. Kyk maar rond. Mense sit en staar tydig en ontydig in die foon. Niemand praat meer met mekaar nie want almal staar af. Ek ry met besoekers al langs die kus en die omgewing is beeldskoon maar wat doen hulle? Hulle kyk in hul slimfone. In die gym hou ek hulle dop: elke nou en dan stop hulle om eers in die foon te kyk. Ons sit om ʼn tafel en kuier. Die helfte van die mense kyk in hul fone. Mense ry in motors en kyk in hul fone terwyl hul bestuur!

 

 

 

Moet ons goeie maniere opoffer ten koste van tegnologiese vooruitgang? Miskien moet die vervaardigers van die wonderlike instrumente instruksies saamgee hoe om dit meer sosiaal beskaaf en aanvaarbaar te maak.

 

 

 

Tog bly die nuwe tegnologie wonderlik en kan ek my nie indink dat my eerste ervaring met ʼn foon ʼn slinger was wat ek moes draai nie!