In die jare vyftigs het die Amerikaners pragtige motors ontwerp waarvan meeste vandag klasieke versamelaarsstukke is.

 

Studebaker was ʼn privaat maatskappy wat vanaf 1948 die mooiste motors gebou het. In 1950 was Studebaker se karre die topverkopers in Amerika weens hulle futuristiese ontwerpe.

 

Met die goeie visvangste aan die Weskus in die jare vyftigs en sestigs het van die mooi Amerikaanse karre ook hul weg gevind na ons wêreld daar aan die Weskus.

 

Tydens my studentejare in die vroeë sestigs het ek dikwels vanaf Koperfontein na Stellenbosch geryloop. Daarvoor het ek spesiaal vir my ʼn Matiebaadjie aangeskaf. Daai baadjie met sy rooi en geel strepe kon mens nie miskyk nie en min motors het by jou verby gery.

 

So staan ek een Saterdagoggend met daai rooi streepbaadjie en ʼn toksak langs die pad. My eerste geleentheid vanaf Koperfontein was net tot bo op die bult waar die pad links afdraai Moorreesburg toe. Oom Paul Rust se plaas Sandvlei is aan die oorkant van die pad.

 

Die verkeer is min. Ek hoor hom aankom maar kan hom nie sien nie want dit is afdraande daar na Karbonaatjieskraal se kant toe. Dit klink soos iemand wat skerp deur sy tande fluit soos die wind deur die aankomende kar se “grill” ruis. Skielik is hy hier by my. Dis ʼn blou 1951 Studebaker Campion Bullet Nose ! Die man is haastig. Ek wil nog my duim uitgooi toe begin hy al briek.

 

Nou daai Studebakers het vinnige enjins vir hul tyd gehad maar hulle remme was nooit goed nie. Ek moes ʼn entjie hardloop om by die kar te kom. Die ander ding van daai karre was dat sy voorste suspensie so bietjie begin uitsak het na ʼn paar jaar. As so ʼn Studebaker van vooraf aankom lyk dit kompleet soos iemand met “knock knees” soos sy voorwiele ondertoe uitstaan.

 

Ek klim vinnig in want die man agter die wiel sê hy is van Velddrif en moet Kaap toe. Hy is haastig. Sy tipiese visserman hoed is so effens skuins getooi. Swart kruisbande hou ʼn garbedine broek in plek en in sy linker bosak van ʼn mooi wit hemp bult sy pakke Cavalla. Sy hemsmoue is tot bokant sy elmboë opgerol en sy fris bruingebrande bo- arms wys hy is gewoond aan harde werk. Hy sê wag, hy wil eers vir my wys hoe werk sy musiekgoeters want ek moet die musiek maak. Daar sien ek vir die eerste keer ʼn platespeler in ʼn kar! Die besigheid is aan die “dash board” vas en die draaitafel lê op vier springe om dit horisontaal te hou asook om die skokke te absorbeer. In ʼn boks op die sitplek lê ʼn stapel “seven singles”.

 

Hy steek ʼn vars Cavalla op en trek weg. Die Studebaker sing deur die ratte en toe die man hom in sy “overdrive” gooi toe loop daai Bullet Nose dat jy net telefoonpale sien verbyflits. Ek het vir Little Richard se “Lutcia” op en ons sing saam. Die man van Velddrif ken sy musiek van daaityd. Cliff Richard, Pat Boon , Louis Armstrong en natuurlik die koning Elvis Presley. Toe ons daar by Rust Stasie se afdraai verbyflits, kom lê Elvis se “Are you lonesome tonight” die kar vol. Die pad maak mos so ʼn effense links afdraande ondertoe na waar die treinspoor oor die pad loop net langs die plaas Rondomskrik se indraai. Elvis is nou op “Jail House Rock” en die Studebaker tel spoed op teen die afdraande. Die spooroorgang is so effens opgebou en ʼn man moet spoed verminder as jy daar wil oor. Die Studebaker slêk nie af nie. Met Elvis wat gil voel ek hoe daai Bullet Nose nou nie meer op die teerpad is nie want ek sien net die bopunt van Kiessenbos se hoogte bo die bonnet uitsteek. Toe ons weer anderkant grondvat wonder ek hoe gaan daai Studebaker se “knock knees” nou lyk! Die Bullet Nose hardloop eers so ʼn entjie dwars teen die pad af maar die visserman laat hom nie intimideer nie en pluk hom gou weer reguit. Ek het skoon ʼn hol gevoel op my maag.

 

Wat my egter die meeste beïndruk het, was die platespeler. Nie een keer het die naald gewip nie en Elvis het ongesteurd voortgerock. Die visserman was net so min gepla. Al wat hy sê is: “ Sit daar vir ons ʼn Cliff Richard op”. Hy druk sy hoed so effens met sy linkerhand vas, steek ʼn vars Cavalla aan, blaas ʼn bolling rook deur sy neus en toe vat ons Kiessenbos se hoogte.

 

Dis die vinnigste wat ek nog ooit Stellenbosch toe geryloop het.