Ek is mal oor die winterweer aan die Weskus. Die beste tyd is net voor of net na ʼn kouefront. Ek hou Yr dop en sien die week van 27 Junie is mooiweer. Maandagoggend vertrek ons hier uit Somersetwes. Die wêreld is nat na die goeie reën en daar anderkant Klipheuwel wemel dit van die kolganse soos hulle in die poele water baljaar.
Ry mens Malmesbury binnery van Klipheuwel se kant af draai jy slap links by die eerste robot by die brug en net oorkant die straat regs, koop jy die beste vis en chips in die Weskaap. Vars gebakte vis met kraakvars chips is koningskos. Die Portugese eienaar vertel my hy besit die viswinkel al 43 jaar. Dis al elfuur en tyd om oggend te maak. Die aroma van varsgebakte vis en chips lê die camper vol en ek bly sluk aan die kwyl. Bo op die bult waar die pad afdraai Hopefield toe, trek ons af op ʼn dienspad sodat ons nie so teenaan die hoofpad staan nie. Met die camper ry jy mos jou eetkamer saam en ons sit aan. Hoe sing David Kramer : “Ennie honne heil !” Ja dis lekker.
Ons ry by Koperfontein aan. Die klein plekkie het skielik lewe gekry want van die eiendomme het hande verwissel en daar word gebreek en gebou. Die Copper Kettle en Miss Girlie se gastehuis het die dorpie op die kaart gesit.
Op Hopefield stop ons by Simply Bee vir koffie en wortelkoek. Die kerk en kerksaal is pragtig gerestoureer en oud Hopefielders van oor die land het mildelik bygedra. Koos Louw en Izak Rust was die dryfvere agter hierdie projek. Op 29 Julie 2022 is daar ʼn Dankfees met musiek om die geleentheid te vier.
Die kerk, in 1852 gebou, en is ʼn sieraad met sy splinternuwe dak en witgeverfde mure. Selfs die haan het nuwe vere. In November 1985 is die kerk ook oorgeverf. Dis toe dat Quin Laubscher en sy maat Hannie met die hulp van die kontrakteur se stellasie, om middernag die kerktoring uitklim met ʼn blik donkerblou verf. Hulle verf die hoofletter “L” op die haan se stert. Dit staan glo vir ‘Local is lekker”. Jan Kotze het onder staan en waghou om alarm te maak as die polisie sou verbykom.
Ek stap die kerksaal binne. Die reuk van vars verf en terpentyn hang in die ruimtes. Hoe kan ek ooit die plek vergeet wat vir soveel jare van my grootword, deel van my opvoeding was ? Kerkbasaars, skoolkonserte asook my heel laaste besoek in 1961. Op ʼn warm Desemberoggend het ek hier my laaste vraestel van my matriek eksamen geskryf. Ons was maar 26 in daardie jaar se matriekklas, vooroor gebukkend, al worstellend met die Engelse vraestel. Net Johan Smal was Engels magtig. As daar gevra is om ʼn opstel te skryf het jy altyd probeer om “Camping at the seaside” in te bring. Ons het dit uit ons koppe geleer maar daai oggend het dit nie gewerk nie. Daardie Engelse vraestel het twee van my klasmaats laat sneuwel. Hulle kon darem met ʼn hereksamen weer probeer en het dit toe gemaak.
Van die baie konserte wat dikwels daar gehou was, was die jaarlike “grootmenskonsert” altyd die lekkerste. Die talentvolle mense van die gemeenskap het self die toneelstukke geskryf, dus die karakters was mense wat jy geken het. Martinus Bontheuwel en Ant Zusie Baard was sterre en die opvoerings was deur hulself geskryf. Ant Zuzie het dikwels die rol van die huishulp gespeel en haar pittige sêgoed het die gehoor laat skaterlag. Sal ek dan ooit haar liedjies vergeet as sy kamma staan en wasgoed was nie :
“O tamatie , tamatie , tamaatie! Vanaand hou onse paartie !”
“Die groen komkommer ! Die groen komkommer ! Jan Patat ry alweer met ʼn anner baaisiekel nommer!”
‘Die pakkie borrie ! Die pakkie borrie ! Op Langfontein se heuwel staan ʼn army lorrie !”
“Die pap tamatie! O! die pap tamatie ! Heel nag by die oumeid geslaap en niks gemaakie ! “
Dan lê die mense soos hulle lag. Oom Jas Basson verloor glad sy hoed!
Die middag met entjie son, maak ons kamp staan in Dwarskersbos se karavaanpark. Dis 24 grade en windstil. Die see lê spieëlglad en op die strand loop mense met hul honde. Dis skoolvakansie en daar is ʼn paar families wat kamp. Ek sien iemand maak ʼn groot vuur en ek stap nader. ʼn Lekker groot staanrib staan met ʼn bruin lyf en drup. Dis sitrusboere van Citrusdal. Ek kry ʼn langglas met witblits en limonade. Die ou sê hy stook dit self en gebruik net die lekker soet natrosse van sy druiwe wat hy self met die hand uitsoek. Hy vertel my hy wag totdat die bobbejane uit die berg kom om die lemoene te pluk voordat hy begin oes. ʼn Bobbejaan maak nie ʼn fout nie.
Ek lê in my bed en luister na die gesuis van die see. Of is dit die witblits?
Die volgende oggend het ek ʼn afspraak met Lokkie van Zyl. Sy bly aan die bopunt van bokkomlaan en haar broer Stephan Tredoux was my klasmaat en ons het baie om oor te gesels. Dis een van daardie idilliese oggende langs die Bergrivier. Ek stop om bokkoms te koop maar alles is nog nat. In ʼn vishuis sit vier vrouens op rooi plastiek kratte rondom ʼn groot hoop vars bokkomharders. Hulle vingers werk die toutjies vernuftig deur die vissies se oë. In die Weskus kom jou daaglikse brood van vis.
Lokkie is ʼn merkwaardige vrou en op 83 is sy nou eers op stryk. Die geskiedenis van bokkomlaan word uitgelê asook die dinge van vroeëre Velddrif. Sy is nog steeds besig met navorsing en skryf. Ek ry daar weg maar sal moet terugkom want daar moet nog baie gepraat word.
Aan die voet van die brug aan die Velddrifse kant is ʼn klein vishuis. Ek ry daar aan. Die man en twee vrouens wat daar werk is jolig en ons skerts en jil dat my vrou later die toeter druk om vir my te laat weet ek moet nou end kry. “ Wat issie Antie dan nou so haastig?” Ek koop daar vir my ʼn braaisel vars lagoonharders en kry ʼn kardoessak met growwe sout saam. “ Oubie moet hulle lekker in die sout rol voordat jy hulle braai gahog.” Ek ry daar weg, al waaiende. Wat is die Weskus sonder sy mense ?
Op Laaiplek koop ek kerrievis en slapchips. Oorkant die viswinkel is daar mos so ʼn stukkie oop veld teen die see. Ek trek die camper parallel met die see, haal die stoele en tafel uit en draai die awning net genoeg uit sodat ek met my bolyf in die koelte sit en my onderlyf in die son. Dis windstil. Die seemeeue staan nader vir ietsie om te aas. Die kerrievis is soet en geurig, die chips met asyn en sout balanseer die smake. Weskus magic !
By Leentjiesklip gaan staan ons onder teen die see. Daar is nie baie mense in die kamp nie. Koos Louw kom vir my kuier. Nog ʼn seun van Koperfontein. Die legendariese storieverteller van die Sandveld, Oom Sollie Bester, is sy oom. Die gene val nie vêr nie! Ons maak vuur om die harders te braai terwyl die son stadig aan die oorkant van die baai oor Malgaskop sak. Die lagoon lê stil en word getooi met die sagte rooi strale van die sonsondergang. Later word die hele baai geseën met pers skakerings. Die harders lê doodstil in ʼn ry op die rooster. Hulle is nie haastig nie en die growwe sout slaan wit uit op hul skubbe. In ʼn pot op die stoof staan ʼn paar patats en sweet. Nodeloos om te sê dat ek dit net tot vyf voor nege gemaak het. Eers met ligdag kom ek weer by. Hierdie keer was dit net die geklots van die branders sonder witblits en limonade.
Ons ry Saldanha toe om by ou vriende te gaan kuier. Daar kry ek ʼn vyftienmansnoek (bokwa) persent. Eers ry ons by Charlies aan om te kyk wat se lekkernye daar in sy viswinkel is. Ongelukkig is die gerookte makriel uitverkoop en moet ek maar met gerookte Engelvis tevrede wees. Ek sorg ook vir repies gerookte sweetsnoek – my gunsteling.
Ons vat die pad huis toe. Duskant Saldanha Staal gooi ʼn lorrie ʼn klip teen my voorruit. Ja, elke sport het sy beserings! Net anderkant Oupos se afdraai knak my nek. Oorkant die plaas Drostersnes staan daar ʼn bloekomboom aan die oorkant van die pad. Ek trek af en kry my lê agter in die camper terwyl Martie tee maak. Dit vat net vyftien minute om myself wakker te snork. Na koffie en beskuit vat ons weer die pad. Toe ons by die ou Stellenboschpad hier bo in Somersetwes afry, lê Valsbaai soos ʼn spieël.
Ek sit op my stoep en kyk oor die baai en verwonder my aan die sonsondergang. Ek wonder, vlieg die seeduikers daar by Langebaan nou laag oor die see op pad huis toe ? Toemaar. In my koelboks het ek ʼn stukkie van die Weskus saamgebring !